Helene de Kock Omnibus 4. Helene de Kock
afgewitte mure van die kamer hom vasdruk. Hy gooi die venster wawyd oop en teug aan die drukkende lug. Dis Januarie in die Noordweste en dis ongenadiglik warm. ’n Stil, loom hitte wat jou laat voel jy moet daardeur waad. En toe weet Pietman: as hy nie nou weghol nie, sal hy dit nooit doen nie. Al is dit net vir ’n paar uur. Want terugkom, sal hy moet. Waar de hel moet hy in elk geval heen gaan?
Hy stoom die kamer uit, verby sy oupa en sy ma en het nie eens die moed om na hulle kant toe te kyk nie. Hulle roep hom vreemd genoeg ook nie terug nie. Oupa skree net luiters agterna: “Vat die fiets – dis vinniger!”
Hulle weet hoe hy voel, flits dit deur sy kop en vir ’n oomblik maak dit hom redeloos vies. Maar toe steek hy in sy spore vas en draai om om Oupa se antieke dikwielfiets uit die buitekamer te gaan haal. Toe hy weer verby die stoep ry, verwerdig hy hom darem om oor sy skouer te roep: “Ek’s later terug!”
“Als reg!” hoor hy sy ma antwoord.
“Trap hom, Pieta, tráp hom!” skree sy oupa.
En toe hy Tomstraat vat, maak hy so. Sjwiep-sjwap, sjwiep-sjwap trap hy dat die ketting sing en die wiele suis. Hy ry onder die eikeskadu’s uit verby die manskoshuise Veritas en Patria, verby die Botaniese Tuin en oor die brug, verby die rektor se imposante ampswoning tot by die dam. Hy betaal sy laaste, letterlik sy lááste munt om toegang te verkry en toe jaag hy die straatjies tussen die vakansiehuisies plat. Hy ry totdat hy amper nie meer asem het nie en sy kuif plat gepleister is van die sweet. Toe stoot hy Oupa se fiets tot onder ’n wilgerboom langs die oewer en sak op die gras neer, sy een hand op die stang en die ander onder sy kop. Hy kyk na die welige lang takke wat roerloos bo sy kop hang en wil nog sy gedagtes mooi agtermekaar kry, toe sleep die slaap hom weg.
Hy moes ure lank weg gewees het, want toe hy sy oë lig, is die takke donker en die son lê rooi gesmelt in die dam. Sy lyf voel seer en sy kop dik. Hy kom met ’n sug orent, skrik hom besimpeld toe hy iemand met opgetrekte knieë anderkant die fiets sien sit. Oomblikke lank staar hy na die skemer figuur – en toe tref dit hom.
“Keppie . . .” adem hy verstom. En toe driftig: “My magtie, Keppie! Waar de joos kom jy vandaan?”
“Ag, my ou,” glimlag Keppie en stoot sy vingers deur sy welige bos krulle, “waar mense gewoonlik vandaan kom. Van elders af.”
Maar Pietman is nou helder wakker en hy kom orent, staan hande in die sye en afkyk op sy vriend. “Nie goed genoeg nie, swaerie. Ek wil weet hoe jy hier kom en wat jy hier maak en waarom jy nie meer teruggaan Tuks toe nie!”
Keppie maak ’n gebaartjie dat hy moet sit en toe Pietman weer gemaklik is, sê hy: “Dis eintlik voor die hand liggend, my ou. Ek het nie gepaas nie, soos wat jy seker ook weet. Terloops, geluk met jou graad. Dis mooi, Pieta.”
Geduldig wees, maan Pietman homself en knik sy dank aan Keppie. Toe tuur hy oor die rooipers vlak van die dam tot by die anderkantste wilgers. “Dis nie die eerste maal dat jy nie paas nie, swaerie. Ek wil weet wat jy hier op Potch maak. Of het dit jou ontgaan dat dit die tuisplek van die Pukke is?”
“Wat’s fout met die Pukke?” vra Keppie vies en gluur hom aan met sy brandende swart blik.
“Niks,” antwoord Pietman onverstoord. “Ek gaan immers ook nou een word. Maar wil jy my sê jy gaan óók?”
Keppie knik plegtig. “Netso. Ek gaan ’n Puk word. Van Tukkie na Pukkie, hoe klink dit vir jou?”
“Wees vir eenmaal ernstig!” erg Pietman hom. “Jy gaan tog asseblief nié weer Fisika loop nie, gaan jy?”
Keppie gooi sy hande in die lug en sy wit tande flits in die bruingebrande gesig. “Hoe’t jy geraai? Nee, toe maar Pietman, ek weet die wêreld van die wetenskap sal my breinkrag mis, maar ek gaan nou eerder my hart gebruik.”
“Gaan jy dan trou, swaerie?” vra Pietman spottend en leun terug op sy arms. Hy is totaal onvoorbereid vir sy vriend se reaksie. Keppie is met een veerkragtige beweging op sy voete en hy praat met arms wat wild swaai. “Nou’s dit jy wat verspot is, Pieta! Ek sal nóóit so . . . so stejóépid wees om my aan ’n vroumens vas te bind nie! Mag al wat leef blou kappietjies dra as ek óóit toelaat dat ’n vrou my vang!”
“Sjoe . . .!” is al wat Pietman uitkry. En toe skiet hy ’n skoot in die donker: “Sou jy jou nie eens deur Grace Kelly laat vang nie?”
Keppie versteen, sy ooglede sak laag. “Kyk,” fluister hy hees, “ek het nou genoeg gehad van jou gekskeerdery. Dit eindig hier en nou. Ek wil nooit weer daardie naam hoor nie. En ek het nooit so ’n plakkaat bo my bed gehad nie, gehoor?”
Pietman staar hom verstom aan. “Oukei, oukei,” sug hy en staan ook op, tel die fiets orent. “Maar ek het nooit iets leliks bedoel nie, swaerie.”
“Ek weet, Pieta. Maar onthou dit nou vir die toekoms: Keppie Fourie is klaar met vroumense!”
“Raait. Maar sê my eers, wat gaan jy swot?”
Keppie kyk doer oor die rooipers dam, sê toe saggies: “Jy kan maar lag . . . maar ek wou nog altyd ’n meneer geword het, weet jy. My oorlede ma was ’n juffrou en ek gaan nou ’n meneer word. “
“Onderwys?” vra Pietman verstom en toe hy sien hoe Keppie hom weer begin opwerk, keer hy haastig: “Maar dis eintlik oulik, my ou. Manne soos jy is baie nodig in die opvoeding van ons jeug.”
Keppie kyk hom bedug aan, maar toe Pietman hom doodernstig bly betrag, sug hy verlig. “Nou ja, koebaai,” sê hy net. “Ek moet gaan.”
“Waarheen?” glip dit uit voordat Pietman kan keer. Maar tot sy innige verbasing antwoord Keppie sonder slag of stoot. “Huis toe. My pa . . . e . . . het ’n ou plekkie hier. Ek bly voorlopig daar totdat ek plek kry in ’n kommune, of so.”
Toe stap hy weg deur die bome en Pietman moet trap om voor pikdonker tuis te wees. Dié nag lê hy brandoog wakker. Met elke uur wat wegtik, groei sy verstomming oor Keppie. ’n Ou plekkie op Potch . . . Hoe lank al sou sy pa die plek hier hê? Enne . . . wat sou Grace Kelly aan die man gedoen het? Maar hy gee later op. Wat help dit om oor Keppie se wel en wee te wonder as sy eie sake so chaoties is. Hy sal so gou moontlik na Surita toe moet gaan. Mooi vra of hy die geel kombi kan leen. En dan sal hulle moet praat soos wat hulle nog nooit gepraat het nie. Tot op die been.
Oupa Murray knik wyslik toe Pietman half stotterend verduidelik dat hy groot asseblief die kombi net vir die naweek wil leen. Sy ma wil nog walgooi, maar hy sit sy voet dwars. “Mams, ek móét met Surita praat. Dinge het te veel verander en ek moet weet of . . .”
“Wel,” haak Anita de Waal af, “as sy jou los omdat jy nie meer geld het nie, beter sy dit sommer gou doen!” Haar wangbene het rooi kolle op en Pietman sien aan die blink van haar oë dat sy bitter naby trane is. Ook oupa Murray wys vir hom met ’n wip van sy woeste grys wenkbroue dat hy liefs moet swyg. Daarom kom vat Pietman haar maar net aan die skouers en druk haar ’n oomblik teen hom vas. “Toe maar, Ma . . .” fluister hy net omdat hy nie naastenby weet wat om anders te sê nie.
Die middag ry hy Brits toe. Dis nogal ’n aanpassing met die geel broodblik vergeleke met die plat rooi wa – maar toe hy Brits uitry op pad na Goue Kring, is hy opeens gelate kalm. Nou moet kom wat wil. Maar hy is tog nie heeltemal voorbereid vir die ontmoeting toe hy voor die deftige opstal stilhou nie. Surita staan op die stoep en staar na die geel kombi asof dit ’n vreemde voorwerp uit die ruimte is. Toe hy uitklim, kom sy stadig met die trappies af, haar ma kort op haar hakke.
“My aarde, Pietman!” roep die vrou en lag effens kortasem. “julle studente darem! ’n Mens sal my moet betáál om in so ’n ding te ry!”
Die woorde kom nog voordat Pietman dink. “O, dit werk eintlik andersom. Ek moes my oupa betáál vir die voorreg om dit te kon leen!”
Surita trek vir hom groot oë agter haar ma se rug en die vrou glimlag onseker, haal toe skouers op: “Nou ja, dis soos ek gesê het. ’n Student maak ook ’n grap van enigiets! Kom binne en maak jou solank tuis. Ek en Surita gaan gou dorp toe.”
“Mag ek saamgaan?” vra Pietman