Agter die berge. Tryna du Toit
nooit ernstig nie – altans, so het ek gedink. Maar die eintlike moeilikheid het gekom toe ek Elma, wat twee keer ná mekaar longontsteking gekry het, op die dokter se advies Suidkus toe moes neem om gesond te word. Dawid kon nie saamgaan nie en ek was verplig om alleen met die kinders te gaan. Ek was ses weke weg. Dawid was eensaam, hy het die meisie elke dag op kantoor gesien, en glo my, die klein Jesebel het nie gras onder haar voete laat groei nie. ’n Tyd lank nadat ek teruggekom het, het hulle die verhouding geheim gehou, maar uiteindelik het sy ’n kind verwag en alles het op die lappe gekom. Dawid het my vir ’n egskeiding gevra sodat hy met haar kon trou en ek was natuurlik so geskok en verslae dat ek, aangemoedig deur my ma en ander vriende wat dit goed bedoel het, ingewillig het om hom sy vryheid te gee.”
“Arme Adèle. Ek kan dink dit was ’n bitter slag. Maar ek sien nog nie wat jy anders kon gedoen het nie.”
“Ek kon vir hom gesê het: ‘Ek is jammer, Dawid. Jy is ’n getroude man en jou eerste verpligting is teenoor jou vrou en jou kinders. Ek is jammer vir die meisie en ons sal haar help sover ons kan, maar ek gaan nie van jou skei nie. Ek sal by jou staan en ons sal hierdie ding saam deurmaak.’ En ek is seker hy sou diep in sy hart baie verlig gewees het. Dawid was lief vir sy huis en sy kinders en ek is seker hy het nooit bedoel dat die verhouding so ver moes ontwikkel nie. Maar toe ek hom in die steek laat, kon hy, om so ’n bietjie van sy selfrespek te behou, niks anders doen as om met haar te trou nie.”
Veronica dink ’n rukkie, dan sê sy: “As jy nog jou man liefgehad het, as jy kans gesien het om hom te vergewe, moes jy natuurlik nooit weggegaan het nie. Maar ek wonder of jy werklik gelukkig sou gewees het? Dit kon daarna tog nooit weer dieselfde gewees het nie?”
“Natuurlik sou dit nie dieselfde gewees het nie. Iets was vir altyd verlore. Maar ek sou nog my huis en my kinders en my vriende gehad het. As Dawid se vrou het ek ’n sekere status in die gemeenskap gehad. Ek het sekuriteit gehad. Ek, en my kinders ook. Vandag het ek niks. ’n Uitgeworpene, ’n geskeide vrou na wie ander vrouens met agterdog kyk, en mans – nou ja, jy weet net so goed soos ek wat die meeste mans se houding teenoor ’n geskeide vrou is. Ek is nie net van my man geskei nie, ek is ook van my kinders geskei: vir Elma sien ek vakansies en naweke wanneer sy afkry, en vir Kallie sien ek miskien een keer per jaar vir ’n week of so. Ek het geleer wat eensaamheid is … en vrees. Ek word nie jonger nie, ek het geen besondere kwalifikasies nie, en as ek dink aan die jare wat voorlê – aan die dag wat ek sal moet terugstaan vir ’n jonger persoon – is dit of my keel wil toetrek. En sý, sy wat die skuldige is – wat my huis vernietig en my lewe verwoes het – sy het alles. My huis, my man, my vriende – die sekuriteit en gerief en gemoedsrus wat ek nie het nie. Verstaan jy nou as ek sê daar is dinge wat belangriker is as jou trots en jou selfrespek?”
Sy druk haar sigaret in die asbakkie dood en staan op. Op heeltemal ’n ander toon sê sy: “Ek is jammer, Veronica, ek het nie bedoel om jou met my probleme te verveel nie. Wat ek eintlik vir jou wou sê is dit: As jy jou man nog liefhet, moenie te koppig wees om dit te erken nie, of te trots om vir jou geluk te veg nie. Berou en verwyt is slegte geselskap op die lang pad wat voorlê.”
“Wat laat jou dink dat ek nog lief is vir Emile?” vra Veronica verbaas.
Adèle haal haar skouers op.
“Jy is jonk en mooi en aantreklik. Daar moet ’n rede wees waarom jy nie weer trou nie.”
“Daar is ’n rede: die beste mans is teen dié tyd reeds almal getroud of verloof, en om te trou net om getroud te wees – daarvoor sien ek nie kans nie. Nou is ek my eie baas, ek kan kom en gaan soos ek wil, ek kan my lewe inrig soos dit my pas …”
“Dapper woorde wat niemand glo nie – minste van almal jy self. Daarom sê ek, as jy hom kan terugkry …”
“Nooit. Hy is ’n onmoontlike man! Ons pas glad nie by mekaar nie. Ons het gedurig rusie gemaak. Selfs vanmiddag – ná vyf jaar – het ons nie tien minute lank gesels nie of ons was weer aanmekaar.”
Adèle kyk na Veronica se roesbruin hare. “Hulle sê dis nie so maklik om saam met ’n rooikop te woon nie. En as sy daarby nog ’n kunstenares ook is …”
“Ek is nie ’n rooikop nie en ek is ook nie ’n kunstenares nie,” antwoord Veronica warm. “Maar hy is ’n onmoontlike man. ’n Engel uit die hemel sal dit nie langer as ’n week saam met hom uithou nie.”
“Ek verstaan: ’n monster,” sê Adèle simpatiek. “Die soort man wat sy vrou en kinders slaan, wat drink en agter ander vrouens aanloop, wat al sy geld uitdobbel …”
“Dis nie nodig om sarkasties te wees nie,” sê Veronica gesteurd.
“Wat doen hy dan wat so onmoontlik is? Ek wil eerlik baie graag weet.”
“Hy is sommer net onmoontlik: selfsugtig, eiegeregtig, hardkoppig, foutvinderig – daarby is hy nog suinig, sonder humor en sonder ’n greintjie verbeelding.”
Adèle skud haar kop.
“’n Argitek sonder humor – dit is sekerlik moontlik; ek dink daar is min mans wat kan lag as dinge tuis verkeerd loop – maar ’n argitek sonder verbeelding? Ek het nie gedink so iets is moontlik nie.”
“Ek praat van ’n ander soort verbeelding – jy kan dit simpatie ook noem,” verduidelik Veronica koel. “Die vermoë om jou in ’n ander mens se plek te stel, om sy kant van die saak ook te sien.”
Adèle kyk haar ’n oomblik stilswyend aan.
“Daar is maar min van ons wat daardie gawe besit,” sê sy uiteindelik. “Die lewe sou andersins baie meer draaglik gewees het. Maar ek moet gaan. Dankie vir die ete en die geselskap. Alleen eet kan op die lang duur maar bra vervelig word.”
“Ek is bly jy het gekom,” sê Veronica en voeg ’n bietjie moedswillig by: “Ek hoop jy is môre in ’n beter bui!”
Adèle glimlag onverwags.
“Môre kom my kind, dan lyk die wêreld sommer weer anders. Tot siens dan – ons verwag jou môreaand tensy jy iets beters het om te doen.”
Veronica staar nog ingedagte na die deur toe dit skielik weer oopgaan. Adèle steek haar kop om die deur en sê: “Ek sou hom tog graag wou ontmoet. Hy klink vir my na ’n baie interessante monster!”
Die deur klap toe en dié keer bly dit toe. Veronica sit dit op slot en stap terug woonkamer toe. Adèle se kuier het nie vanaand die gewenste uitwerking gehad nie. Sy voel meer ontsteld en rusteloos as toe sy tuisgekom het.
Sy haal haar skoolboeke uit en probeer haar aandag daarby bepaal, maar die werk wil nie vanaand vlot nie. Sy dink aan Adèle se verhaal en voel opnuut jammer vir die ouer vrou. Ten spyte van haar effens dramatiese voorkoms is Adèle in wese ’n huisvrou en ma, met geen ambisie vir ’n eie loopbaan nie. Sy wil niks meer hê as die liefde van man en kind nie, haar geluk lê daarin om hulle gelukkig te maak. Die egskeiding was vir haar ’n wrede slag en ná wat sy vanaand gesê het, dink Veronica ook sy moes nie so haastig gewees het nie. ’n Halwe eier is beter as ’n leë dop. En om so alleen te woon, ver van almal wat vir jou dierbaar is, is maar net ’n bestaan, nie ’n lewe nie.
Haar geval was natuurlik heeltemal anders. Dit was nie ’n ander vrou of man wat tussen haar en Emile gekom het nie. Die grootste probleem was dat hulle albei te jonk en te onvolwasse was vir ’n ernstige saak soos die huwelik. Vir haar was die lewe ’n heerlike speletjie, alles was net maanskyn en rose. Sy het die voorregte van haar getroude status geniet, maar sy was nog nie gereed vir die verantwoordelikhede – en die opofferings – wat dit meegebring het nie. Vir Emile was die lewe ’n ernstige saak wat ernstig benader moes word. Hy het geen geduld gehad met haar tekortkominge nie; hy was onverdraagsaam en te gereed om fout te vind en te veroordeel.
Ai, die bitter rusies wat hulle gehad het! Die spanning wat hoër en hoër opgelaai het totdat dit uiteindelik met hulle baba se geboorte breekpunt bereik het. Was sy miskien te haastig? En daarna te trots en te koppig om te erken dat sy verkeerd was?
Noudat die gedagtes eenmaal begin het, kan sy hulle nie weer stop nie. In haar gedagtes herleef sy weer