Die geheim van Hercule Cordier. Ena Murray
Die gespanne swye wat ’n oomblik lank op die dek geheers het, word nou verbreek deur ’n geskarrel van voete wat in alle rigtings snel, skel bevele wat rond en bont geslinger word en die geskree van die wag in die kraaines wat verslag lewer oor die aankomende skip.
“Beslis die Franse vlag. Groot skip, ’n vierhonderdtonner, skat ek. ’n Bietjie lomp en moeilik hanteerbaar. In baie goeie toestand. Ek wed my enigste oog dat daar ’n goeie buit te kry is,” babbel Haan aanmekaar.
Kaptein Pierre frons. Hy weet nie hoekom hy vandag so ongeneë is om ’n geveg met die ander skip aan te knoop nie. Dis tog waarvoor hy op see is – ’n seerower moet buit wat daar te buit is. Sy blik val op sy dogter langs hom en skielik weet hy waarom hy so voel. Dit is wel waar dat hulle al baie gevegte saam agter die rug het en nog altyd as oorwinnaars uit die stryd getree het. Jare lank al tart hulle die noodlot uit, maar daar kan ’n dag kom … en daardie dag kan ook vandag wees …
Die tweede keer binne ’n paar minute word die kaptein in sy somber bepeinsings gesteur – weer deur Haan.
“Kaptein! Dit lyk of … ja, sowaar, die skip verander koers in ons rigting!”
“Wat!”
Haan se stem klink uiters opgewonde uit die kraaines op.
“So wragtie, kaptein! Kyk, dit stuur reg op ons af! Het jy al so iets gesien?”
Daar is verbystering op almal se gesigte te lees. Kaptein Pierre gryp na die lang verkyker onderwyl Zonika fronsend nader staan. Dis die eerste keer in haar lewe dat ’n ander skip reg op hulle afpyl. Gewoonlik maak hulle so gou moontlik spore wanneer hulle die Seekat gewaar. Dat hulle nie altyd daarin slaag om weg te kom nie, daarvan getuig kaptein Pierre se skatkamers.
“Dit pyl regtig op ons af,” laat haar vader langs haar hoor.
“Sulke verwaandheid! Besef hy dan nie dat hy reg op sy dood afstuur nie? Of weet hy nie hoe lyk ’n seerowervlag nie?” sê-vra Zonika vererg.
“Mon enfant, dit kan ook óns dood wees waarop op ons afstuur,” antwoord haar vader stil.
“Mon père! Wat gaan aan? U … u is tog nie bang nie?” vra sy reguit, en kyk hom vinnig, verbaas aan.
“Ja, ek is – maar nie waarvoor jy dink ek is nie. Daar is nie nou tyd vir gesels nie.” Hy draai sy rug op sy verslae dogter en bulder dit uit: “Maak slaggereed! Kort die seile in – almal!”
Die daaropvolgende halfuur is daar nie tyd om verder aandag aan haar vader se vreemde houding en woorde te gee nie. Soos ’n ou matroos wat al baie seegevegte agter die rug het, spring Zonika aan die werk, sy aan sy met haar vader se ruwe bemanning, om die Seekat slaggereed te kry.
Die Seekat kom tot stilstand. Dit lê nou wagtend op die ander skip wat nog doelgerig op hulle afstuur. Daar bestaan geen twyfel nie. Die Hercule, soos die naam op die romp verraai, is klaarblyklik aan ’t skoorsoek. Zonika kners op haar tande onderwyl sy, vuil en natgesweet van die inspanning, ’n rondte by die kanonniers doen om te kyk of alles daar in orde is. Sulke vermetelheid! Sulke dwase vermetelheid! Vir haar is dit ’n belediging dat hierdie skip, in teenstelling met al die ander, blykbaar geen vrees vir ’n seerowervlag koester nie. As die Hercule se bemanning vandag fyngekerf word, sal dit sy kaptein se skuld wees. Hoe durf hy sommer so roekeloos sy manne na hul dood stuur?
Op die Hercule is dieselfde bedrywigheid aan die gang. Op dieselfde plek waar kaptein Pierre op die Seekat staan, staan die jong kaptein Hercule Cordier op sý skip bevele en uitbulder. Toe hy gewaar dat die Seekat sy seile inkort, glimlag hy. Hulle het dus gesnap wat die Hercule se bedoeling is. ’n Tinteling gaan deur hom. Hier voor hom lê nou waarna hy al baie lank soek. Binne die volgende paar uur sal hy weet wat hy wil weet. Net soos by Zonika is daar by Cordier ook geen twyfel oor wie die oorwinning gaan behaal nie. Dit is tog vanselfsprekend dat dit die Hercule sal wees. Die skip is toegerus met die nuutste oorlogstuig, dit beskik oor ’n ervare stuurman en matrose wat ervaring het van seegevegte. Die verouderde Seekat het geen hoop om die stryd te wen nie.
Uiteindelik kom die Hercule binne trefafstand van die Seekat tot stilstand. ’n Oomblik is dit doodstil, asof die twee skepe mekaar opsommend beskou en die een wag dat die ander die eerste beweging moet maak. Hercule Cordier glimlag. Hy vertolk die stilswye van die Seekat as verbasing. Hy kan glo dat hulle verbaas is! Wat die Seekat se kaptein nie weet nie, is dat die Hercule nie hierdie geveg aanknoop net omdat veg veg is nie. O, nee! Daar is ’n besliste rede voor.
By hierdie gedagte verstrak die glimlag om Cordier se lippe en hy blaf ’n bevel uit. Die volgende oomblik skuif die kanonpoorte van die Hercule oop, byna gelyk met dié van die seerowerskip. Weer klap die kaptein van die Hercule se stem oor die dek en die volgende oomblik knal die eerste skote.
Sommer uit die staanspoor weet kaptein Pierre dat hy vandag sy storie sal moet ken. Die Hercule se kaptein weet blykbaar heelwat van seegevegte af, maar tog is daar dié dingetjies wat net die ervaring, die persoonlike ondervinding van baie jare in hierdie soort lewe, ’n aanvoerder kan leer. En hy besef dat hy hierdie geveg slegs sal wen indien hy die voordeel wat hy bo sy teenstander geniet ten volle benut.
Maar daar is nog iets in die Seekat se guns waarvan kaptein Pierre nie eens bewus is nie. Die kaptein van die Hercule is gretig om die geveg so gou as moontlik verby te kry – en oorhaastigheid het al baie skepe na die bodem van die see gestuur. Hercule Cordier is eintlik ongeduldig dat die geveg moet klaarkry sodat hy ’n privaat gesprekkie met die kaptein van die ander skip kan voer. En dis hierdie oorhaastigheid wat maak dat hy te gou die Hercule se romp langs dié van die Seekat laat verbyskuur om die vangysters te gebruik.
Kaptein Pierre lag hardop van skone genot toe hy die ander man se flater merk. Sy oë glinster terwyl sy blik oor die netjiese uniforms van die Hercule se matrose dwaal. Uit ervaring weet hy dat hierdie manne goed opgelei is in die teorie van seegevegte. Hulle weet presies hoe die nuutste wapentuig werk en hoe dit gebruik moet word; hulle kan lieflik in gelid marsjeer en pragtig salueer, maar hulle weet so te sê niks van handgemeengevegte met swaarde of kapmesse nie.
Ook Zonika glimlag, haar kapmes gereed in haar hand. Om haar het ’n paar van hul makkers reeds handgemeen geraak met die aanvallers wat nou in hul tientalle oor die kant van die Seekat stroom. Haar oë soek rond waar hulp nodig is – en dan sien sy hom …
Met die een voet op die reling van die Hercule en met die ander op een van die vangysters moedig hy sy manne aan om vinniger na die seerowerskip oor te klim. Hy is beslis ’n indrukwekkende figuur met sy lang, lenige liggaam en breë skouers in ’n pragtig geborduurde uniform. Zonika pluk haar dolk uit en ’n oomblik later flits dit deur die lug. Asof hy intuïtief bewus raak van gevaar, koes Hercule Cordier vinnig en die dolk seil onskadelik bo-oor hom. Hy kyk vinnig rond en dan val sy mond letterlik oop toe hy sien wié die dolkgooier is. Ergernis, afgewissel met geamuseerdheid, flits oor sy gesig onderwyl hy vinnig op die dek van die Seekat afspring en reg voor Zonika tot stilstand kom.
“Gaan speel met jou poppe. Jy kan dalk seerkry.”
Zonika snak na asem en die oë wat na die groot man opflits, skiet kanonvuur.
“Jou …” ’n Woord ontval haar lippe wat Hercule Cordier, ’n bekende aan die Franse hof, ’n oomblik verslae laat. Dis die eerste keer in sy lewe dat hy dit so pront oor die lippe van die teenoorgestelde geslag hoor. Hy frons kwaai. Hy het lus om haar verder te ignoreer en aan die geveg deel te neem, maar hy kan ook nie toelaat dat dié kind hier tussen die vegtendes bly nie. Sy kan dalk seerkry. Die gesiggie waarop hy neerkyk, is so vuil en vol roet dat hy eintlik net bewus is van ’n paar blitsende oë en die lang hare wat verwaaid en deurmekaar oor die skraal skouertjies tuimel.
“Gaan na die ruim en bly daar totdat die geveg verby is. Dié is nie ’n plek vir jou nie –”
Zonika voel tot in die grond toe verneder. Hoe durf hierdie sot haar so beledig! Haar stem bewe van woede terwyl sy hom in die rede val: “Monsieur, ek neem deel aan hierdie geveg. Verdedig jouself, of is jy bang?”
“Parbleu! Luister wat ek vir jou sê! Ek het nie nou tyd om kinders op te pas nie! Gaan na benede. Dis ’n bevel!”
“Jy