Die geheim van Hercule Cordier. Ena Murray
honderdste van ’n frank werd nie. Maar daar is maniere om jou te dwing om my vrae te beantwoord.”
Hercule Cordier snap wat hy bedoel, maar die ou seerowerkaptein soek vergeefs na tekens van vrees op die manlike gesig.
“Ek is nou jou gevangene, kaptein. Jy kan natuurlik met my doen wat jy wil, maar jy moet net in gedagte hou dat daar ’n dag sal aanbreek dat die bordjies verhang sal word. Alles wat jy aan my doen, sal aan jou teruggedoen word. Miskien nie direk nie, maar wel indirek. Jy het nog ’n dogter wat jou skuld kan vereffen.”
Zonika kan dit nie langer duld nie. Hoe durf hierdie man haar vader dreig, boonop onderwyl hy ’n gevangene is! Sy bars die kajuit binne en gaan soos ’n briesende katwyfie voor die jong man staan.
Maar voordat sy nog ’n woord kan uiter, sê hy streng en kil beleef: “Sal u ons asseblief alleen laat?”
“Hoe durf jy …?”
“Mam’selle, ek versoek u die laaste keer om ons asseblief alleen te laat.”
“Jou …”
Maar voordat kaptein Pierre ’n oog kan knip, is Zonika, stewig vasgevat, op pad na die deur. Daar word sy sonder meer na buite gestamp en kortaf beveel: “Ek en jou vader het belangrike sake om te bespreek. Gaan speel solank met jou poppe.” Van sy formele en beleefde houding is daar nou geen sprake nie.
Die deur klap toe en duidelik knars die sleutel soos dit in die slot gedraai word. Die gelag van die matrose op die dek is ’n oomblik lank hoorbaar. Die twee mans glimlag onwillekeurig.
“My dogter sal jou hierna nie baie liefhê nie. Sy is nie gewoond om so behandel te word nie,” sê kaptein Pierre droog.
“Daar was van die begin af nie veel liefde tussen ons nie. Ek kan sien haar opvoeding is geweldig verwaarloos,” antwoord sy gevangene onverstoord.
“Ja.” Die ouer man roer ongemaklik, maar vererg hom dan vir homself. Genugtig! Waarom sal hy soos ’n skuldige kind voor sy gevangene staan? Hy kyk op. “Jy is ’n eienaardige man, kaptein Cordier. Ek sal eerlik erken dat jy my nuuskierigheid prikkel. Wie is jy eintlik?”
“Dit sal jy maar self moet vasstel, kaptein. En nou tot die punt. Hier naby is ’n klein eiland wat op die roete van die meeste skepe is. Jy kan my daar aflaai. Ek neem aan jy sal my skip as buit neem, nie waar nie?”
“Parbleu, Cordier! Jy is mý gevangene, nie ek jóúne nie. Ék deel die bevele uit.”
“Dit was nie as ’n bevel bedoel nie. Dit was ’n voorstel. Jy kan my natuurlik terugneem na die vasteland …”
“Jy sal my netnou vra om jou toegedraai op die trap voor die Franse hof af te lewer!” Kaptein Pierre lag en skud sy kop, amper ongelowig by die aanhoor van soveel vermetelheid.
“Dit sal my ook pas.” Hercule Cordier glimlag vriendelik en knipoog.
Die twee mans lag saam asof hulle kamerade is. Dan versober kaptein Pierre.
“Ek weet nie waarom nie, maar ek hou van jou, Cordier. As ons mekaar op ’n ander tyd en plek en in ander omstandighede ontmoet het, is ek seker ons sou groot vriende kon word. Snaaks dat so iets moes gebeur.”
Hercule Cordier se gesig is ook nou ernstig. Hy knik.
“Ja. Ek moet erken jy is nie die soort persoon wat ek verwag het om hier aan te tref nie. Dit maak my taak natuurlik moeiliker.”
“Watter taak?”
“Om jou eendag miskien te moet doodmaak as dit nodig sou blyk,” is die reguit antwoord.
Kaptein Pierre staan vinnig op en stap na die deur.
“Dit lyk my ons gesprek het op ’n dooie punt uitgeloop. Hoe gouer ons dus die takie afgehandel kry om van jou ontslae te raak, hoe beter. Kom …”
“Mon père!” Iemand ruk aan sy arm en hy kyk in sy dogter se angstige oë.
“Wat is dit, Zonika?”
“Mon père, ek … ek wil u ’n oomblik privaat spreek, asseblief.”
“O, nou maar goed. Ek wil net eers vir kaptein Cordier …”
“Dis in verband met kaptein Cordier. Ek wil u eers spreek voordat u hom …”
“Voordat ek moet sterf, mam’selle?” Die gevangene buig laag voor haar. “Dis dierbaar van u om u so oor my miserabele lewe te bekommer.” Hy het hom duidelik reggeruk en spreek Zonika nou weer baie beleef aan, asof sy ’n dame aan die Franse hof is.
Sy kyk hom kil aan.
“Ek is glad nie bekommerd oor jou miserabele lewe nie, monsieur. Ek is net bang my vader gaan jou te maklik laat sterf. Dis waarom ek hom wil spreek.”
Kaptein Pierre kyk sy dogter fronsend aan. Dis nie haar gewoonte om sadisties te wees nie, maar sy het beslis iets teen hierdie man. Hy voel spyt daaroor, maar terselfdertyd verbaas. Hy moet aan homself erken: hoewel hy hom nog net ’n paar uur ken, is hierdie Hercule Cordier die enigste man aan wie hy sy dogter sou toevertrou. Die kaptein van die Hercule is daardie soort man wat hy as skoonseun sou gekies het as hy ’n keuse gehad het. Hy kan ook nie help om die woordewisseling tussen die twee te geniet nie.
“Mam’selle, my broek bewe van vrees. Moet tog asseblief nie ’n te wrede dood vir my uitdink nie, ek smeek u! U weet, ek raak mos flou as ek bloed sien,” sinspeel hy op haar woorde van ’n paar uur gelede en dit lyk of Zonika kapabel is en gaan hom te lyf.
“Wat het jy in gedagte gehad, ma chérie?” vra haar vader ernstig.
“Hy het my beledig, mon père. Hy het my ’n barbaar genoem, vuil en vol kieme en mal!”
Kaptein Pierre kyk vinnig na die jonger man.
“Is dit waar, Cordier?”
Daar is iets in die seerowerkaptein se stem wat Hercule Cordier vertel dat hy nou versigtig sal moet trap. Zonika is hierdie man se oogappel en hy sal haar deur niemand laat beledig nie, nie eens deur hierdie man van wie hy op so ’n onverklaarbare wyse hou nie.
“Jy kan dit nie ontken nie, nie waar nie, kaptein? Jy het my al daardie dinge genoem.” Zonika se oë blink gevaarlik.
“Nooit! Hoe sal ek ooit so ’n skone, fyn opgevoede dame sulke dinge kan toevoeg?” Hy draai onskuldig na kaptein Pierre. “Ek het gepraat van daardie meisietjie, die kleintjie wat my gedurende die geveg lastig geval het. Sy was baie vuil, kaptein, dít moet jy tog self erken. En ek het eerlik die indruk gekry sy moet ’n bietjie abnormaal wees, want geen kind van daardie ouderdom sal haar tussen ’n klomp vegtende mans bevind nie. Ek erken ek het haar ’n barbaar genoem, want sy het baie verwilderd gelyk.”
Kaptein Pierre versteek haastig ’n glimlag agter sy hand. Geen wonder sy dogter voel lus om te moor nie. Niemand het nog ooit sulke dinge oor haar gesê nie! Hy plooi sy gesig terug tot strengheid.
“Hier is net een meisie op die skip, kaptein Cordier, en dis hierdie een. Ek het nie ander dogters nie.”
Hercule Cordier kyk hom geskok aan. Dan wys hy na Zonika.
“Jy bedoel … sý was … was daardie kind?”
“As jy my nog een keer ’n kind noem, dan … dan …” Zonika stotter van woede.
“Mam’selle, ek is geweldig jammer oor my flater. Ek verseker u, ek het nooit gedink … kon droom dat … U móét my verskoning aanvaar. U moet onthou dat ek net gewoond is aan die fyn dametjies van die Franse hof.”
“En ek is gewoond daaraan dat ek met agting behandel word, kaptein Cordier. Ek is die kaptein se dogter. Ek verwag dat jy my om verskoning sal vra voor al die matrose, ook jou eie.”
Binne ’n kort tydjie is almal op die dek. Ook die paar bemanningslede van die Hercule is uit die ruim na bo gebring om hul kaptein se verskoning aan te hoor. Zonika voel tevrede. Sy weet dat dit ’n vernedering vir hom moet wees om haar voor die ruwe bemanning