Verliesfontein. Karel Schoeman
wees, dink hy; dog die vlag wat daar wapper, is die Union Jack, en ook hierdie anachronistiese toespeling is vir hom onduidelik. Weerkaats deur die wit stof van die plein slaan die hitte van die middag hom tegemoet waar hy op die veranda van die hotel bly staan. Hy voel die tekstuur van die verandapaal onder sy hand en sien die barste in die goedkoop hout en die kwasmerke en blase in die rooibruin verf waarmee dit geverf is, en waar dit in die voeë saamgeklont en gestol het, kan hy dit met ’n vingernael loskrap. As hy beweeg, moet hy sy hand doelgerig uitstrek, bewus van die inspanning en koördinasie wat vir die gebaar geverg word, en die een voet oplig om voor die ander te plaas; op sy horlosie draai die sekondewyser met gebruiklike reëlmatigheid. Dit is geen droom waarin tyd en werklikheid opgehef is nie en insidente van op ’n afstand beleef word nie soos die opgetowerde skimme op ’n doek of skerm, maar werklikheid waarin tyd, ruimte, hegtheid, gewig en tekstuur hul onderskeie waardes ongeskonde behou het en wat slegs onderskei word deur die feit dat sy eie aandeel of deelname daaraan, voorlopig in elk geval, beperk moet bly en hy nie kan ingryp om die gang van sake te probeer rig of stuur nie.
Wat is dus die som van sy ervarings tot dusver en tot watter gevolgtrekking kan hy op grond daarvan kom: vlag, lintjie, die man op die stoep en die hinkende man op straat? Hy sal teruggaan na die huis agter die roosheining, dink hy, hy sal teruggaan na die huis met die sonneblomme in die tuin, en opnuut probeer, want moontlik sal ’n hernieude poging slaag: by een van hierdie twee mans, die enigste mense wat hy tot dusver nog op hierdie uitgestorwe dorp gesien het, sal hy dalk inligting kan bekom, iets wat sal dien om die gebeure van die laaste paar uur in ’n voorlopige perspektief te plaas en die onbekende reëls van hierdie afsydige klein gemeenskap te verduidelik. Hoe vaag of ontwykend die antwoord op sy vrae ook mag wees, of hoe ver verwyder selfs van dit wat redelikerwyse as ’n antwoord beskou sou kan word, sal dit in elk geval meer bevredigend wees as hierdie onbegrypende dooltog deur die verlate dorp. Hoe niksseggend die woorde op sigself, deur die stemme sal die stilte ten minste gebreek word.
Vinniger en meer doelgerig as wat hy tot dusver nog beweeg het, stap hy dus terug in die rigting van die twee huise waar hy eerder vertoef het, dog hy het slegs die hoek van die straat bereik wanneer hy bewus word van ’n vreemde lae gedruis soos wind in die verte wat des te meer opvallend is in die haas volslae stilte wat hom tot dusver omgewe het. Anderkant die bome en dakke van die dorp swel dit al hoe sterker op tot ’n soort onreëlmatige polsing of dreuning, asof dit besig is om ongesien nader te kom, alhoewel hy die oorsprong daarvan nie kan raai en dit selfs nie duidelik is uit watter rigting dit kom nie. Dit is die gedreun van perdepote, besef hy dan, kloppend deur die los stof van die pad, dit is die gedruis van die groot perdeskaar wie se spore hy met sy aankoms op die dorp gewaar het en wat nou van hul onbekende bestemming terugkeer. Die probleem van die verlate dorp is opgelos en die tydelik ontvolkte strate sal weer tot lewe kom, en hy draai terug teen die helling na die markplein om die stoet daar in te wag terwyl die onsigbare ruitery nader galoppeer. Die dwarsstrate wat hy kruis, strek egter leeg aan weerskante van hom weg en eindig in die leë veld en die markplein lê nog onverstoord voor hom uitgestrek; daar is geen teken van perde of ruiters nie, en selfs wanneer hy voor die kerk gaan staan om uit te kyk langs die lang pad wat dwarsdeur die dorp voer, die pad waarmee hy dit self binnegekom het, kan hy niks bespeur nie. In die verte sterf die gedreun weer anderkant die bome en dakke weg.
Dit is tog nie moontlik nie, dink hy: op so ’n klein plekkie soos hierdie – drie strate in die lengte, vier in die breedte, wat almal saamkom op die plein en met die omringende veld aan die uiteinde van elkeen sigbaar – op so ’n klein plekkie is dit nie moontlik dat so ’n aansienlike stoet in die nabyheid verbygaan sonder dat mens van een of ander kruispunt of uitsigpunt ten minste ’n deel van die kavalkade kan sien nie; dit is nie moontlik dat die stof van hul deurtog reeds gaan lê het nie nog voor die naklank daarvan weggesterf het in die lug. Die stof van die strate is egter roerloos en ongerep, en hy staan alleen voor die kerk waar die leë pad oor die leë plein verbyloop. Was dit die wind, die klank van verre onweer, hallusinasie, wensdenkery, bedrog? In die gegewe omstandighede sou elkeen van hierdie alternatiewe seker ewe goed moontlik kan wees en is geeneen daarvan as hipotese bo die ander verkiesbaar nie. Dan is die laaste weerklank stil, en geen geluid is meer waarneembaar nie behalwe dié van die golwende vlag aan die vlagstok wat onreëlmatig uitwaai in die wind, nie meer die Union Jack wat hy skaars tien minute gelede nog hier gesien het nie, maar die helder oranje-en-wit bane van die Vrystaatse Vierkleur.
Lank bly staan hy voor die kerk terwyl hy die trae, droomagtige deining van die vlagdoek waarneem. Iemand het die sluise van die watervoor oopgemaak, iemand het die lintjie voor die deur van die hotel laat val, iemand het binne die laaste tien minute hierdie vlag op die toring gehys, dog geen verdere teken van menslike aanwesigheid is vir hom merkbaar nie. Die verf, die hout is eg, die vlagdoek plooi in die wind en bied weerstand met hoorbare gedruis, en binne die relings van sy ringmuur staan die wit kerk solied op sy fondament van bewerkte klip; dit is moontlik om beslissings te neem en hulle uit te voer, om oor die plein te stap en terug te keer na die huis met die sonneblomme in die tuin, dog iéts bly in hierdie situasie wat herinner aan die onbeheerbaarheid en onvoorspelbaarheid van ’n droom, asof hy hom bevind in die tussenruimte van bewussyn en onbewuste, werklikheid en skyn. ’n Stap terug, so kom dit voor, en hy sou die realiteit wat hy tot dusver geken het, kan herwin; ’n stap vorentoe en hy sal vermoedelik die eie, verborge werklikheid van hierdie dorp kan betree, om die laaste ruiters in die verte in die stof van die pad te sien verdwyn en ’n onbekende wat besig is om die vlag wat so pas gestryk is werktuiglik op te vou. Die insig dien egter hoogstens om sy onduidelike posisie nader te presiseer sonder om enige praktiese voordeel te bied, want om vooruit of agteruit te beweeg, is nie in sy mag nie. Slegs tot sywaartse beweging is hy in hierdie beperkte tussenruimte nog in staat, heen en weer langs die leë wit strate en kruis en dwars verby die blinde huise van die verlate dorp.
Om na die huis met die roosheining of die huis met die sonneblomme terug te keer en daar inligting te probeer inwin, is nuttelose moeite, besef hy, en dit is trouens twyfelagtig of hy die mans wat hy eerder vanmiddag gesien het daar sal terugvind, selfs al sou hy by die tuinpaadjie opstap en by een van die deure aanklop: as hy vrae wil formuleer of antwoorde soek, is hy op homself aangewese. Watter vrae is daar dus wat hy met enige sinvolheid sou kan stel terwyl hy afwagtend en verkennend binne die grense van hierdie noukeurig afgebakende ruimte rondbeweeg?
Hy was op pad gewees na Fouriesfontein, onthou hy, maar niks bevestig dat die dorp waar hy so onverwags aangekom het inderdaad ook Fouriesfontein is nie. Waaraan sou hy dit by gebrek aan enige ander inligting kan uitken? ’n Veldslag, ’n monument, ’n graf – watter hiervan is voldoende om uitsluitsel te gee? Geeneen nie, besef hy. Voor die kerk met sy skoongeskoffelde en -geveegde perseel is daar baie duidelik geen monument binne die relings nie, maar op sigself hoef hierdie feit natuurlik ook niks te beteken nie, want hy het reeds die verganklikheid van marmer en graniet leer ken en vasgestel hoe onbestendig ’n ewige nagedagtenis kan wees. Die graf hou egter meer belofte in, want die verwaarlosing van ’n ou begraafplaas verseker soms die voortbestaan van gedenktekens wat op meer prominente posisies die vernieling van tyd en vooruitgang nie sou oorleef het nie, al is die grafskrif verweer of die kruis of engel geknak of van sy voetstuk gekantel. Hy sal gaan soek na die wit ringmuur en sipresse wat hy met sy aankoms vroeër dié middag teen die rant effens eenkant van die dorp gewaar het, want die son het intussen begin daal en die skadu’s word langer, die felste hitte van die dag getemper.
Hy stap verder langs die pad wat voor die kerk en die landdroskantoor verby oor die markplein voer. En as hy die graf opspoor, wonder hy, wat sal dit bewys behalwe die feit dat hy hom inderdaad op Fouriesfontein bevind, inligting wat in die gegewe omstandighede van geen besondere nut kan wees nie? Hy onderdruk die vraag egter soos dit by hom opkom. As hy ’n antwoord kan vind, sal dit ten minste ’n enkele onbetwisbare feit wees in ’n situasie waar alles ontwykend of onseker skyn te wees. En as hy die graf nie vind nie, as die antwoord uitbly? Dan maak dit seker ook nie saak nie, dink hy gerusstellend, en sal hy eenvoudig so goed soos wat hy kan sy sydelingse beweging in ander rigtings voortsit binne die afgebakende ruimte waarin hy hom bevind, verkennend na hierdie kant en na daardie totdat hy daarin geslaag het om die omtrekke daarvan proefondervindelik te bepaal.
In hierdie rigting rafel die dorp gou uit in ’n paar eenvoudiger huisies op groot erwe, groentetuine en lappe mielies, met effens eenkant van die pad ’n afgeslote struktuur met hoë mure waarvan hy vermoed dat