Die respektabele meneer Hartslief. Chris Karsten
hy’s mos nou ook ’n Ruff Rider.”
“Sy ook?”
Leo knik. “Sy’s lankal een, sy ry ook elke Sondag.”
“En ná brekfis? Wat gebeur dan?”
“Niks nie, ons ry sommer net rond, tjek die plek uit. Dis cool daar by die dam.”
“En tjek hulle die plek saam met julle uit?”
“Nie eintlik nie.”
“Hulle gaan doen hulle eie ding?”
Leo knik.
Die loodgieter skryf in sy notaboek, steek ’n Lucky aan en bestudeer die spyskaart op die swartbord wat onder die groot ROOK VERBODE-teken hang.
Bredie met rys – R35
Hoenderpastei – R35
Vis & tjips – R30
“Ek soek die bredie,” sê hy.
Leo kyk rond na die kelner, sien haar nie en gaan plaas die bestelling by die toonbank. “One stew!” skree die kroegman oor sy skouer kombuis toe.
“Wat van jou?” vra die loodgieter.
Leo sluk die laaste van sy bier en tel sy valhelm op. “Moet waai. Ander date, ’n chick by die McTavern.”
Die loodgieter kyk vraend op na hom toe hy bly staan.
“Ching-ching,” sê Leo en vryf sy duim en voorvinger.
Die loodgieter vroetel in ’n binnesak, haal ’n paar gekreukelde note uit en druk dit in sy palm.
Die volgende oggend kom hy met die ou Saab op die R512 uit die rigting van Broederstroom, draai net voor Lanseria regs op die R540 na Kromdraai, en ’n paar kilometer verder by ’n sirkel links op die M5 na Randburg en Zwartkop. Hy ry verby ’n pienk padstal regs van die pad en verder aan oor die brug oor die Krokodilrivier. Net ná die brug trek hy op die padskouer af.
Oorkant die teerpad, skaars tien tree die veld in, staan ’n geroeste windpomp met ’n haasbek-wiel langs ’n ou sinktenk op ’n betonstellasie. Teen die windpomp se raamwerk hang ’n skewe geel bordjie, Cash for Scrap onnet daarop geverf. Die loodgieter tree die afstand van sy kar op die linkerskouer oor die pad na die windpomp aan die oorkant in die veld af en skryf in sy notaboek. Nou betrag hy die staalraam. Haal sy maatband uit, loer in sy notaboek, meet ’n hoogte af, strek en krap ’n merk op die geroeste raam.
Terug in die Saab skryf hy weer in sy boekie. Op die eerste bladsy lui sy notas:
Sondag
1. Ruff Riders ry vir brekfis na The Bluenose, Hartbeespoortdam.
2. Vertrektyd van Fourways: 08:00.
3. Roete: William Nicol, R511.
4. The Bluenose na Sylvania Golf Estate & Marina.
5. Roete van Sylvania na windpomp op M5.
6. Vertrektyd Sondagaand: ± 23:00.
* * *
Antie
Sy het dit by Ester se graf vir haar belowe: dat sy die kinders sal liefhê en grootmaak soos haar eie. En dit doen sy, tien jaar al. Dit was kort ná daardie mistige droom waarin Ester en Karools haar so saam-saam kom besoek het. Hulle was altyd so gelukkig saam, het steeds hande vasgehou, tydig en ontydig, selfs ná vier kindertjies. En Ester kon so lekker lag, aansteeklik uit haar maag uit. Elie het dieselfde maklike lag as sy ma, ook haar mond en oë, amper kleurloos soos water.
Drie weke ná daardie droom ry ’n kolelorrie hulle naby Witbank dood – ironies genoeg op pad terug van die begrafnis van Karools se broer. Dis geluk by die ongeluk dat hulle alleen in die kar was. Antie het die kinders opgepas, want hulle moes skool toe.
Skielik, vier kinders wees. Daar was geen kwessie nie, sy het Elie en Rasmus en Basie en Poppie, toe net ses, soos haar eie in haar huis ingevat. Snaakse ou lewe, het sy nog gedink: hier’s ek, sonder kind of kraai, en skielik het ek vier kinders, nie een my eie nie, maar ten minste van my eie bloed.
Sy wás ’n slag swanger, op twintig; sy en Sybrand net ’n jaar getroud. Daardie nuus was die gelukkigste oomblik van haar lewe. Patrys, dit was die baba se naam. Maar Patrysie is nooit gedoop nie. Die nag ná die moeilike geboorte het sy gedroom hoe sy en Sybie by die doopvont staan met Patrysie in die vou van haar arm, die gesiggie wasig.
Ná die routyd het hulle weer probeer, en weer en weer. En berus. Sy was dertig toe die dokter ’n stoflong by Sybie diagnoseer. Die torakschirurg het op die X-strale beduie en Sybie se bors oopgemaak en weer toegemaak en hom ses maande gegee. Die dokter was optimisties; twee maande later het hy, slapend langs haar, sy verskyning in haar oureool-droom gemaak.
Toe was sy alleen, manloos en kindloos – tot die bloemen kolelorrie ook vir Ester en Karools weggevat het.
* * *
Die loodgieter
In ’n hardewarewinkel in Boskruin net buite Johannesburg bekyk die loodgieter ’n nuwe houtsteel vir ’n besem. Hy plaas dit in sy kooptrollie. Dan soek hy tussen die rolle Röslau-klavierdraad, vervaardig van ’n spesiale allooi met hoë breekkrag. Hy kies Nommer 18, met ’n deursnee van 1,02 mm en lengte van 25 meter. Volgens sy berekeninge meer as genoeg. Hy koop ook ’n U-klembout met moere en ’n stewige staalhandkatrol met ’n briekgrendel vir hoë weerstand, wat op dieselfde beginsel as ’n viskatrol werk.
Tuis bout hy die katrol agter in die bagasiebak aan die Saab se onderstel vas. Hy wen die klavierdraad aan die katrol op en heg die U-bout aan die punt van die draad.
* * *
Antie
Sondagoggend is Basie vroeg in die kombuis, sy motorfietsklere aan, valhelm onder die arm.
“Moenie so worry nie, Antie,” sê hy.
“Natuurlik moet ek oor jou worry, Basie. Nare goed gebeur met motorfietse. En met bendes.”
“Die Ruff Riders is g’n bende nie, Antie. Dis net om te chill.”
“Drink hulle as hulle so kuier? Wat van dwelms en goed? En die knaap wat jou na hulle toe genooi het, het hy ’n naam?”
“Nou klink Antie nes Rasmus: Wie’s die Ruff Riders, waar gaan julle brekfis eet, hoe vinnig jaag hulle, hoe laat kom jy terug, suip hulle? Lottie het my aan hom voorgestel. Sy naam’s Leo. Sy’t hom in die McTavern ontmoet.”
O ja, natuurlik, dink Antie met ’n sug. Lottie, wie anders? Broer Bartel se wilde loot, en parmantig. Bedags by die modelskool, saans kelner by die McTavern vir sakgeld, terwyl sy wag vir haar groot kans om model te word.
“Lottie het my niks van hom gesê nie. Is hy haar nuwe kêrel?”
“Nee, Antie, ek dink hy like haar meer as wat sy hóm like. Ons het pelle geword toe hy hoor sy’s my niggie. Nooi my skielik na die Ruff Riders toe, vra of ek ’n goeie woordjie in Lottie se oor kan fluister.”
Antie is nie oor Lottie bekommerd nie, dis oor Basie wat sy gedroom het. “En julle ry elke Sondag die hele ent pad Harties toe net om brekfis te gaan eet?”
“Ja, Antie.”
“G’n bier saam met die brekfis nie?”
“Antie weet mos ek drink nie eintlik nie!”
Sy soen hom teen die voorkop. “Ek weet. Oukei, maar gedra jouself.”
* * *
Die nagklubbaas
Dis laataand en die nagklubbaas se hemp is soos gewoonlik halfpad oopgeknoop. Hy lê met sy minnares in die waai van sy arm op ’n bank in haar tuinhuis in Sandton. Die TV is sag aan en met haar oë op die skerm krap sy met ’n rooi nael aan die goue ketting tussen sy borshare.
Hy kyk oor haar kop na die geraamde foto’s van hulle twee saam op die TV-kas: op ’n strand, langs ’n swembad,