Seisoen van die skimmelson. Helene de Kock
on>
Helene de Kock
Seisoen van die skimmelson
Human & Rousseau
1
Madel se oë raak vir oulaas aan die persblou berge toe hulle by Verresig se groot wit hekke uitry. Dit bly vir haar die mooiste mooi, en na dié berge sal sy haar lewe lank verlang as sy ooit elders sou moet woon.
Dit is ’n vreemde gedagte wat haar onmiddellik ontstem. Daar is mos nie sprake daarvan dat sy op ’n ander plek sal gaan woon nie, al trou sy met Wiam.
Onwillekeurig strek sy haar linkerhand voor haar uit en die diamant aan haar ringvinger flonker blou en wit in die laatmiddaglig. Haar pa merk die beweging en lag sy lekker oop lag wat getuig van die baie ure wat hy in vrye ruimtes deurbring.
“Nou toe nou! Verlang jy al kwaai, ounooi?” wil hy weet, en wag nie op haar antwoord nie. “Toe maar wat, Madel-kind, dié laaste ou twee maandjies sal vlieg, en dan is jy tuis. Wanneer ek weer Pretoria toe ry, gaan haal ek nie ’n student nie, maar ’n bruid. Of hoe sê ek?”
“Dit is so, Pa,” sê sy en glimlag, maar dit is of sy opgetoënheid haar nie raak nie. En sy het heelnaweek so gevoel – so asof daar ’n gewig op haar druk. Sy het dit gewaag om dit hardop te sê, maar haar ma het haar ondersoekend betrag.
“Trousenuwees,” was haar ma se diagnose, “net trousenuwees. Alle bruide ly daaraan, Madel. Dis normaal.”
En netnou weer toe sy en pa Piet vertrek het: “Steur jou nie aan dié gevoel nie . . . emosies kan ’n mens lelik omkrap, Madie. Nou moet jy kophou . . .”
Madel het haar ma gesoen en net geknik. Jare se ervaring het haar geleer om nie terug te antwoord nie. Gerda Vermeer duld nie teëspraak nie. Dat sy wat Madel is in musiek en sang kon gaan studeer, was al klaar ’n enorme toegewing. Gerda sou eerder wou sien dat Madel haar in die huishoudkunde bekwaam.
“’n Lofwaardige studierigting, dis waar, maar nie vir mý nie,” het Madel gesê.
Nooit, gedurende die paar jaar op universiteit, het sy vergeet wat dit haar gekos het om te bly by wat sy besluit het nie. Eers was daar haar ma se bot, broeiende swye waarmee sy haar dogter duidelik laat begryp het watter teleurstelling sy vir haar is. Daar was die beklemmende bedruktheid wat vakansies oor die huis gehang het wanneer Madel noodgedwonge moes oefen en oefen . . . en ook die verskonende glimlaggies vir gaste wat gewoonlik ingenome was met die Vermeer-dogter se uitsonderlike musiekaanleg.
“Aag wat, waar sý vandaan kom weet ons nie – ek en Piet is nou nie juis musikaal nie! Mý rigting was van jongs af dienend. Die verenigingslewe is my liefde en lus. Maar Madel is ’n eenling . . . van aard. Mens weet nie waar dit gaan eindig nie. Wat sal Madel nou met ’n musiekgraad maak? As toekomstige doktersvrou sou dit tog veel beter gewees het as sy liewer in die sosiale wetenskappe gestudeer het, nie waar nie? Of dalk in die huishoudkunde. Dan sou sy immers haar gewig kon ingooi. Maar nóú . . .”
Gewoonlik het Madel dit stilswygend aangehoor, innerlik te sat om haar teë te sit en net nog meer verwyte op die hals te haal. Gerda Vermeer sou tog nooit begryp hoe dit voel om te kan sing nie: om jou asem in te trek en deur jou keel glip daar ’n klank wat die soetste voëlsang oortref. Wêrelde gaan vir jou oop – Verdi s’n en Mozart s’n waar die wonder van musiek nie deur die kortsigtige selfsug van ander aangetas word nie.
Madel sug en draai die venster oop sodat die vars lug uit die veld die motor binnestroom. Sy trek die diep teue daarvan in en proe die soetheid van die lente. Haar oë gaan weer talmend oor die veld langs die pad. Hulle het die blou kruine van die Maluti’s nou agtergelaat. Oral is die sagte groen deinings van die Noordoos-Vrystaat – haar hartland, dis waar. Dit is nie dié plek wat haar beklem nie. Hierdie wêreld het sy lief. Die plaas aan die soom van die berge met die uitsig oor die oop ruimtes, is in haar bloed. Wanneer sy haar oë toemaak, skuif die laning lemmetjiegroen kerspopuliere langs die huis voor haar in en sy ruik haar ma se rose aan die bopunt van die groot tuin. As sy haar effens inspan, kan sy die gesing van die baie voëls in hul tuin hoor – die soet gekweel van die Heuglinse lawaaimaker, die opgewonde gekwetter van die mossies in die appelbome agter die huis en die getjilp van die blinkgroen suikerbekkie wat bokant die vuurpyle draai.
Ook Wiam skryf dikwels hoeveel hy dié wêreld se voëlrykheid mis. Dit en die wonderlike wisseling van die seisoene wat daar so kleurryk is. Ná ’n malse somer is dit mos of die herfs oral vlammetjies aansteek. Die populiere steek goudgeel teen die helder lug af en die veld gloei roesbruin. En kom die lente word die vaal veld oornag donsig-groen, en as jy jou kom kry, waai die oostewind saans wit en pienk blomblaartjies uit die boorde . . .
Wiam kan ’n ding so mooi sê, dink Madel loom. Sy sien dikwels hierdie wêreld opnuut deur sy oë, want hy verlang baie terug, en wanneer hy verlang, kom die woorde maklik. Dit was nog altyd so. Dit was hý wat sy gevoelens kon beskryf; sý wat glimlaggend luister. Voor sy haar kom kry, sug sy weer, en haar pa loer sydelings na haar.
“Moeg, ounooi?” vra hy sag.
“Vaak,” sê sy, maak haar oë toe en leun effens agteroor met haar kop teen die nekstut. Haar gedagtes is egter nes ’n swerm mossies in ’n vrugteboord, en van rus is daar nie sprake nie. Dit raas en fladder deurmekaar in haar gemoed. Die blote gedagte aan Wiam jaag ’n klomp ander gedagtes op sodat sy verwilderd wonder waarom sy in die eerste plek aan hom gedink het.
Wiam, haar verloofde – die man met wie sy haar lewe gaan slyt. So probeer sy die warboel gedagtes orden. Sy frons meteens.
Slyt? Is dit ’n woord wat ’n bruid sal gebruik om haar toekoms te beskryf? ’n Lewe slyt saam met die man wat sy liefhet? Sy het Wiam immers lief, of hoe?
Madel kom agter dat haar hande mekaar in haar skoot vasklem . . . asof die een bang is die ander sal wegvlieg. En die eerste maal in ’n lang tyd laat sy haarself toe om pynlik eerlik te wees. Sy begin ver terug, laat haar gedagtes suutjies met die jare langs spoorsny tot nou toe . . .
Wiam was maar altyd daar. Kleintyd het hy weggeloop na haar toe om te kom speel, want daar was nie juis ander maats vir hom in die onmiddellike omtrek nie. Hy was wel ’n hele paar jaar ouer as sy, maar op die een of ander manier het hulle dié gaping oorbrug. Miskien was dit omdat sy tog vir hom ’n soort aansprakie was. Sy kon luister na hom, maak soos hy sê en selfs vir hom intree wanneer hy kwaad gedoen het.
Later toe sy skool toe is, was dit hý na wie sy háár gewend het wanneer die koshuislewe haar beklem. En dit was hy wat haar na haar eerste koshuispartytjie vergesel het. Sy was maar toe in standerd vier en hulle het koeldrank en skyfies geniet en musiek gespeel. Hy het uit sy plek gelyk, en ook so gevoel – stilswyend teen die muur aangeleun en haar en haar maats met ’n meerderwaardige uitdrukking betrag.
“Weet jy wat,” het hy daardie naweek gesê toe hulle spruit toe stap om bleshoenders met sy windbuks te gaan skiet, “ek dink jy moet my liewer nie na jul geselligheidjies nooi nie. Ek is heeltemal te oud vir jou. Selfs die onnies het nou die aand gelag. Ou juffrou Haarlem het gesê ek gaan nog Verresig se wieg beroof.”
“Ag, bog met haar!” het Madel ontsteld gesê. “Wat beteken dit om . . . om ’n wieg te beroof?”
Wiam het geheimsinnig gelag, en haar hare deurmekaar gevryf.
“Japsnoete soos jy sal tog nie sulke dinge begryp nie. Vra in die vervolg liewer een van jou klasmaatjies na jou partytjies. Hulle is nog nat genoeg agter die ore vir jóú.”
Sy was gemaak vies vir hom, maar sy was inderdaad te jonk om lank voor te gee dat sy kwaad is. Hulle het daardie middag ’n bleshoender op ’n selfgemaakte spit op die spruitwal gebraai. Hulle kon sulke lekker dinge doen, en wanneer hulle alleen bymekaar was, het die ouderdomsverskil verdwyn. Hy het met haar gesels asof sy sy gelyke was.
Sy was die eerste mens wat geweet het dat hy dolgraag ’n dokter wou word; en nie net dit nie, dat hy wou gaan spesialiseer . . . ’n narkotiseur wou word.
“Wat’s dit?” het sy oopmond gevra, en hy het gelag.
“’n Ou wat mense aan die slaap maak net voor ’n ander ou hulle oopslag,” het hy grinnikend verduidelik, en sy het gegril.
Sy