Seisoen van die skimmelson. Helene de Kock
sweem van ’n verwyt in haar stem. “Dis goed dat jy uiteindelik besef waar jou heil lê.”
Madel lag meteens.
“My heil lê nou in die bed, Mamma. Ek is so moeg dat ek dubbel sien, glo my.”
“Ons sal môre gesels,” sê haar pa, en aan sy strak gesig kan sy sien dat sy hom nie ’n oomblik om die bos gelei het nie. Hy weet dat sy die een of ander geheim in haar omdra.
Toe sy eindelik lê, wil die slaap nie kom nie. Sy rol rond, kry warm en gooi oplaas die komberse af. Dit is ’n besonder warm somernag. Daar moet reën aan die kom wees. Later staan sy suutjies op, trek net ’n ligte japon aan en gaan op die systoep aan die oostekant van die huis sit.
Die wêreld is maanverlig en die werf lê silwerwit voor haar. Deur die donker stamme van die laning hoë populiere kan sy die sandsteenkoppies se kamme teen die helder naglug sien. Sy sit ’n rukkie en laat toe dat die soel vreedsaamheid van haar besit neem. Toe eers gewaar sy die kooltjie van haar pa se pyp soos dit glim en dof word. Hy moet lankal hier sit. Dit is sy ou dinkplek, soos hy dit altyd noem – ’n verweerde ou stoel in die hoek van die stoep.
Hy lag saggies toe sy opstaan en nader aan hom op die stoepmuurtjie kom sit.
“Ha, ek het geweet jou sondes sal jou die een of ander tyd vannag hierheen uitdryf!”
“Darem nie sondes nie, Pa,” sê sy gedemp.
“Nou wat dan, my kind?”
“Pa . . . Pa, ek wil nie meer die dertiende Desember trou nie.”
’n Stilte daal tussen hulle neer, byna tasbaar so intens is dit. Toe sug haar pa lank en diep.
“Ek het dit sien kom, Madel. Ek begryp dit nie, maar ek sê jou ek het dit sien kom.”
Madel voel hoe warm trane agter haar ooglede opstoot. Dit is nog erger as wat sy gedink het dit gaan wees. Sy kan aan haar pa se stem hoor wat haar besluit alles gaan meebring – verslaentheid, hartseer, woede.
“Is dit Wiam, kind?” vra hy reguit.
“Nee, Pa, hy het niks verkeerds gedoen nie. Ek . . . dink ek voel waarskynlik nog dieselfde oor hom, maar . . . maar ek wil nie nou vasstel of dit so is of nie. Eers het ek gedink ek moet hom so gou moontlik weer sien, maar nou wonder ek daaroor. Pa sien, ek het ’n wonderlike beurs gewen om ’n jaar lank in München sang te gaan studeer. Dis ’n baie gesogte beurs, Pa.”
Hy sug weer en swyg lank.
“Ek glo dit,” sê hy oplaas. “Baie geluk, Madel, baie geluk. Ek is waarlik bly dat jy so presteer.”
“Is . . . is dit dan al wat Pa gaan sê?” vra sy versigtig, tuur in die halfdonker na sy gesig.
“Dis al wat ek graag sou wóú sê, Madel, maar daar is ’n paar dinge wat ek móét sê . . .”
“Ek weet, Pa,” antwoord sy tam, en dit is weer ’n rukkie stil voor haar pa die gesprek voortsit.
“Jou ma gaan haar hewig verset teen jou planne, want ek neem aan dat jy klaar besluit het om te gaan.”
“Ek het, ja.”
“Nou ja, sien . . . dan gaan ons moeilikheid hê. En meer nog, oom Kasper van Vinkvlei het klaar die fondament vir jou en Wiam se huis laat grawe. Ek skat hy is al taamlik ver met die lê daarvan; binnekort sal hy begin bou. Wat gaan jy vir hom en tant Nella sê? En, nog belangriker, wat gaan jy vir Wiam sê?”
“Ek weet nie,” sê sy. “Ek weet nie hoe om aan hom te verduidelik dat . . . dat ek in hierdie stadium liewer vry wil wees nie.”
“A, om vry te wees,” sê Piet Vermeer sag, en Madel verbeel haar dat sy ’n trilling van emosie in sy stem hoor. Dit is egter weg toe hy weer praat. “Wanneer ’n mens jonk is, lyk dit asof vryheid haas onbereikbaar is, ek weet. En geen mens kan ’n ander leer dat dit eintlik in homself geleë is nie. Gaan dan maar Duitsland toe, Madel-kind, en ontdek dit self.”
Daar kom baie woorde in Madel op, maar dis kompleet asof sy hulle nie gesê kan kry nie. Sy wil protesteer, sy wil haarself verdedig, maar sy weet dat hy reg het. Sy weet dit, en tog, sy móét gaan . . . nes ’n swaeltjie wat die roep van die somer in die ander halfrond hoor en instinktief vertrek. Net, dit gaan winter wees wanneer sy daar aankom.
“Nou ja,” sê haar pa eensklaps, “dis tyd dat jy vir Wiam sê. Kom ons gaan bel hom.”
“Nóú?” wil sy verskrik weet.
“Ja, nou,” sê hy ferm. “Ek sal nie toelaat dat Wiam du Preez ’n oomblik langer onder die indruk verkeer dat hy nog ’n verloofde het nie.”
Hy staan doelgerig op en loop in die halfdonker na die stoepdeur wat na die studeerkamer lei. Madel volg hom stilswyend. Hy het reg . . . soos altyd. Sy durf dié gesprek nie langer uitstel nie. Dit is ook beter dat sy nou skakel, want môre sal Wiam stellig by die hospitaal wees. Boonop slaap haar ma nou, en die studeerkamer is ver van die slaapkamers af. Sy sal dus in vrede kan praat.
Vrede . . . ’n wrang laggie vee oor haar gesig. Soos dit nou vir haar voel, sal daar nooit weer vrede wees tussen haar en die mense vir wie sy lief is nie. ’n Oomblik speel sy met die gedagte om alles net so te laat vaar, maar sy weet dat hierdie ding deel van haar is net soos die bloed in haar are. Sy sal dit nie kan prysgee sonder dat iets binne-in haar doodgaan nie.
Haar hand beef toe sy die hoorbuis optel en begin skakel. Onlangs het Verresig ook ’n outomatiese telefoon gekry. Gelukkig ook, anders het ’n hele rits mense ingeluister . . .
Sy voel ’n lamheid in haar bene opslaan toe sy sy stem aan die ander kant hoor. Soos altyd verstom dit haar dat ’n mens so maklik met iemand ver in die vreemde kan praat – so asof hy op ’n buurplaas is.
“Wiam . . .” Haar stem klink skor.
“Hallo . . .”
“Wiam, dit is ek.”
“Madel!” Sy hoor die blydskap in sy stem, en haar hart krimp ineen.
“Ja . . .” sê sy, “dis ek.”
Skielik klink hy bekommerd.
“Wat makeer? Dis . . . dis al middernag hier in Londen.”
“Hm, en hier is dit nog later, Wiam.”
Daar volg ’n stiltetjie.
“Het jy verlang, Madel?” vra hy, en die woorde dra die warmte van sy eie verlange.
“Ja,” sê sy sonder huiwering, “ja, ek het verlang . . .”
Daar is weer ’n stilte waarin sy hom byna kan hóór dink . . . en wonder. En sy weet meteens dat sy nie ’n sekonde langer kan uitstel om hom te sê waaroor sy eintlik bel nie.
“Wiam, daar . . . daar het ’n belangrike ding met my gebeur – iets wat alles gaan verander.”
Dit is of sy in ’n oogwink kan voel presies hóé ver hy van haar is.
“Wat het gebeur?” vra hy.
Sy haal ’n slag diep asem, en sy vertel hom alles . . . ook hoe sy voel. Dit is makliker as wat sy gedink het dit sou wees. Miskien is dit omdat sy nie in sy oë hoef te kyk nie. Sy hoor die sagte klik van die studeerkamerdeur soos wat haar pa uitgaan. Hy het gehoor wat hy wou gehoor het; sy het haar sê gesê.
“Madel,” vra Wiam toe sy klaar gepraat het, “wat wil jy eintlik vir my sê?”
“Dat . . . dat ek . . . dat ons nie meer die dertiende Desember kan trou nie. Wiam, ek moet München toe gaan . . . ek móét net.”
“Madel . . .” Sy hoor hom asem skep. “Jy moenie oorhaastig besluit nie, my lief.”
Paniek dreig om haar te oorweldig.
“Nee, jy begryp nie . . . ek is nie oorhaastig nie. Ek is net oortuig van my saak. Ek het ’n groot talent ontvang, Wiam, of julle dit nou wil weet of nie,