Ultrasatyn 2 in 1. Elsa Winckler

Ultrasatyn 2 in 1 - Elsa Winckler


Скачать книгу

      Ultrasatyn 2-in-1

      Reëls van die spel - Collette Berg

      Sophie en Sophia - Elsa Winckler

      Ultrasatyn

Reëls van die spel

      Een

      Hy raak liggies aan haar ribbebene toe hy haar hemp oor haar kop lig. Haar donker hare val sysag oor haar kaal skouers en ’n senuagtige tinteling gaan deur haar lyf. Dis die eerste keer dat sy só voor ’n man staan. Weerloos en op die randjie van oorgawe.

      Hy streel oor haar skouers. Dan maak hy die knippies van haar bra behendig agter haar rug los. Die stukkie materiaal val langs haar voete en haar borste trek uitnodigend saam. Die puntjies is gevoelig toe sy vingers vlindersag aan hulle raak voor dit laer af tot by die ronding van haar heupe gly.

      Sy aanraking ontketen ’n veldbrand op haar vel. Daar is begeerte in sy blou oë. Dit lê so vlak, so vreesaanjaend eerlik, sy kan sy honger na haar vóél. Hy soek haar – net vir haar. Nou. Op hierdie oomblik bestaan niks anders vir hom nie. Net sy begeerte om haar syne te maak. En sy gaan gee – alles wat hy vra. Want die begeerte wat so fel ontbloot in sy oë lê, brand ook in haar. As sy nie uiting daaraan gee nie, gaan sy van haar kop af gaan. Sy wil hom voel. Hier teen haar, in haar.

      Sy vat sy hand in hare, soen die punte van sy vingers liggies en laat hulle dan die pad tot by haar broekie vind. Sy probeer hom aanjaag, hy moet nóú besit van haar neem. Haar lyf raak ongeduldig. Maar daar is geen sin daarin om aan hom voor te skryf nie. Hy is in beheer en hy weet wat hy doen. Sy vingers glip onder die kant van haar broekie in. Stroop dit van haar lyf voor sy vingers weer stadig teen haar bene opkruip en die pad tot by haar borste vind. Sy snak na asem toe sy lippe om die rosige punt van haar linkerbors sluit. Sy tong terg liggies oor die gevoelige vel en sy vleg haar vingers in sy hare.

      Hy ken passie en hy dryf dit hoër en hoër in haar tot sy byna breekpunt bereik.

      Toe lig hy sy kop en streel weer laer af. Oor haar heupe en om haar naeltjie. Haar maag maak ligte rukbewegings toe sy duime laer glip tot in haar lieste. Haar onderlyf neig na hom, maar sy hande soek geduldig verder oor haar lyf sodat sy die hittige saamtrek daar met onverwagse intensiteit ervaar. Toe lig hy haar effens tot teen hom sodat sy die hardheid van sy liggaam kan voel. Opnuut dringend druk sy teen hom, maar hy lag sag. Lig haar net hoër sodat sy haar bene om sy middellyf kan slaan. Sy mond sluit warm oor haar een tepel en dan die ander. Die soen is hierdie keer dieper, intenser. ’n Elektriese stroom kartel liggies van kop tot tone deur haar lyf. Sy lig haar onderlyf op na hom toe hy haar op die smal enkelbedjie neerlê en sy die harde manlikheid teen haar voel. Sy mond sluit honger oor hare en sy hande vou besitlik oor haar borste. Saam met die warm bloed stu emosie deur haar lyf toe sy hande laer af gly tot sy duime haar ontvanklike vrouwees vind.

      Hy druk haar sagkens plat op die bed. “Moenie haastig wees nie,” fluister hy teen haar lippe terwyl sy duime liefkosende sirkelbewegings oor die sagtheid tussen haar bene maak. Sy sper haar bene wyer om hom vrylike toegang te gee.

      Als om haar is verlore toe hy harder teen haar aandruk en sy die hitte van sy lyf opnuut teen haar voel. Haar borste kneus teen sy borskas en hy kreun sag – die eerste teken dat daar agter sy fasade van selfbeheersing ook weerloosheid skuil.

      Sy mond soek hare met ’n dringendheid wat haar vrouwees beantwoord. Sy laat hom toe om die dieptes daarvan te ontdek, daar waar ’n onvoorspelbare vulkaan begin roer. Weer beur sy teen hom, maar hy is steeds geduldig. Byna tydsaam. Dis asof hy elke sentimeter van haar lyf geniet en elke reaksie van haar die passie in hom hoër dryf.

      “Ek kan nie meer nie,” kreun sy teen sy oor en sy voel hoe sy lippe in ’n glimlag trek.

      “Geduld, my liefste.” Albei sy hande sluit om haar borste voor hy eers die een tepel en dan die ander liefkoos.

      Toe skielik, voor sy weer kan pleit, gebeur dit. Verligting en begeerte spoel tegelyk deur haar lyf toe hy tot diep in haar indring en die vasgekeerde passie in haar vrygelaat word.

      “Lukas.” Sy naam is skaars hoorbaar onder haar asem toe sy haar kop agteroor gooi en haar rug hol trek.

      Die gehamer aan haar deur ruk haar tot nugterheid. Vervaard sit sy regop in haar bed. Liewe vader tog. Wat makeer haar? Om so in die vroeë oggendure iewers tussen slaap en nugterheid te lê en fantaseer. Dít terwyl sy agter haar lessenaar voor haar boeke moet sit. Haar lyf bewe steeds by die herinnering aan sy aanraking wat so werklik vir haar gevoel het.

      “Leila! Waar is jy? Ons is heluit laat. As ons nie nou ry nie, gaan jy nie betyds vir die toets wees nie.”

      Die horlosie op haar lessenaar bevestig haar huismaat se rede vir haas. In een beweging spring sy uit die bed en gryp sommer gister se klere wat oor die stoel hang.

      “Trek my motor solank uit die motorhuis, ek kom! Ek moet nog tande borsel.”

      “Oukei, maar roer jou.”

      Vervaard hardloop sy in die gang af na die badkamer. Vuil klere is een ding, maar ’n vuil mond is iets heeltemal anders. Genade, wat besiel haar om so oor die man te fantaseer? Sy kan haar gedagtes eenvoudig nie hokslaan nie, veral nie snags wanneer sy nie beheer oor haar denke het nie.

      Lukas Strauss is buite haar bereik en ’n goeie tien jaar ouer as sy. Buitendien het sy in hierdie stadium van haar lewe nie lus of energie vir ’n man nie. Dis haar vyfde en finale jaar op universiteit. As alles volgens plan verloop, voltooi sy haar meestersgraad aan die einde van die semester. Dis hoog tyd dat haar loopbaan rigting kry.

      Ná skool is sy Engeland toe en in die drie jaar wat sy daar deurgebring het, het sy baie geleer. Haar eerste ernstige verhouding was met ’n Suid-Afrikaner wat sy ontmoet het by die Londense bank waar sy gewerk het. Hulle verhouding van bietjie meer as ’n jaar het misluk toe sy by die Kersfeesparty besef het bykans al die vroulike kollegas wat saam met die man in haar lewe gewerk het, het al sy bed gedeel. Tóé het sy besef waartoe mans in staat is.

      Sy, Leila Viviers, ’n plattelandse Vrystater van Ficksburg, gaan nie maklik weer in dieselfde strik trap nie. Die tyd in die Engelse hoofstad het van haar ’n geëmansipeerde vrou gemaak. Sonder twyfel weet sy wat sy uit die lewe wil hê. Haar beroep, ofte wel die beroep wat sy binnekort gaan beoefen, is in hierdie stadium al wat belangrik is.

      Vyf jaar gelede het sy haarself verwyt omdat haar verhouding skeef geloop het. Gedink dis omdat sy hulle fisieke verhouding nie wou voltrek nie. Maar iets het haar altyd daarvan weerhou om ten volle oor te gee aan sy eise. Dis asof daardie aspek nie vir haar nodig was nie. Op pad terug Suid-Afrika toe het sy besef hoe gelukkig sy was dat sy die verhouding nooit toegelaat het om verder te ontwikkel nie.

      Daarom verstaan sy nie hoekom haar gedagtes en hormone soos ’n wegholperd is elke keer wanneer sy aan Lukas Strauss dink nie. Dis nie asof hy haar enige aanleiding gee nie. Miskien is dít juis die rede hoekom hy haar so interesseer.

      Karla trek weg die oomblik toe sy die motordeur toeklap. Sy en Karla was kleintyd al beste maats. Toe sy ná skool Engeland toe is, het Karla geweet wat sy wou doen en dadelik in ’n joernalistieke rigting begin studeer. Met haar meestersgraad agter haar naam, is Karla die afgelope twee jaar ’n junior dosent by die departement vir tale. Soggens ry hulle saam universiteit toe. Karla se vriend is ’n gimnasiumfanatikus en laai haar ná werk op om saam met hom te gaan oefen. Leila wonder hoe lank die verhouding nog gaan oorleef. Veral met dié dat die man haar so laat oefen. Karla verwissel mansvriende gewoonlik teen dieselfde tempo as was sy die vorige seisoen se klere uit haar kas gooi.

      Uitasem hardloop Leila by die deur van die lesinglokaal in. Hulle is net drie studente wat beleggingsbestuur nagraads studeer. Die honneursstudente skryf ook vanoggend toets en hulle deel dieselfde lokaal.

      Haar donker hare is wanordelik om haar kop en haar blou oë vanoggend sonder ’n titsel grimering. Seker nie die toonbeeld van verleidelikheid nie, maar ten minste is haar glimlag vars.

      Haar gedagtes spring rond en in haar haas hou sy nie rekening met die man net binnekant die deur nie. Sonder meer stamp sy die vraestelle uit sy hand. Hulle wapper tot by haar voete en sy buk vervaard om te help optel. Lukas Strauss buk langs haar en meteens is haar vingers dom sodat hy


Скачать книгу