Ultrasatyn 2 in 1. Elsa Winckler
doen.
Hulle oë ontmoet net vir ’n stonde en sy is van voor af verlore.
“Jammer … ek is verskriklik jammer.”
“Toemaar, dis nie so erg nie, vat die toets net en gaan sit. Jy is laat, juffrou Viviers.” Hy kyk ondersoekend na haar toe hy die vel papier in sy hand na haar uithou.
As hy maar weet hoekom. Sy sterf meer as net tien dode.
In die eerste ry is ’n plek oop en sy gaan sit sommer daar. Al is dit heeltemal te naby aan hom. Elke keer wat hy beweeg, skiet haar bloeddruk die hoogtes in en dwaal haar oë soos ’n verspotte tiener s’n. Magtig, sy is ses en twintig jaar oud. Sy beter beheer oor haar emosies kry.
Die toets is ’n nagmerrie. Wat anders het sy verwag? Sy kan nie konsentreer nie en om sake te vererger talm die hitte steeds in haar lyf.
Na wat soos ’n ewigheid voel, staan Lukas op agter die lessenaar voor in die klas. Hy kom tot voor die lessenaar en leun, arms gevou, daarteen. ’n Sug ontsnap oor haar lippe toe sy deur haar wimpers na hom loer. Met die pen tussen haar tande sit sy ’n oomblik droomverlore.
As daar iets soos die god van manlikheid is, is dit sweerlik hy. Sy langerige, donker hare krul effens tot by sy kraag. Die sterk kaak met die donker growwigheid beklemtoon die lyn van sy nek. Hy het reguit skouers en smal heupe en sy weet die vrouestudente sukkel om hulle oë van hom te hou. Sy donker oë is warm en die fyn waaierplooitjies om die hoeke maak hom onweerstaanbaar.
Hy is so absoluut viriel. Hy straal dit op elke denkbare manier uit. Een van die vrouestudente het een keer taamlik hard gefluister hy laat haar aan ’n stoetbul dink. Sy het nie gewaag om te kyk wie so iets hardop gesê het nie, maar die koeël was deur die kerk. Haar oë en haar gedagtes het bly dwaal. Sy is ’n vrou en sy kan Lukas Strauss se manlikheid nie miskyk nie.
“Vyf minute.” Die stem is diep en ryk. Espresso en donkersjokolade. ’n Kombinasie wat elke smaakklier in haar mond prikkel. Haar mond is skielik so droog dat sy moet sluk. Ag, vader tog, sy is hopeloos.
Hoe proe Lukas Strauss? Hoe proe manlikheid? Sy droom oor hom. Fantaseer elke minuut wat sy kan oor hulle saamwees. Maar dit is iets wat sy nooit sal weet nie.
Die manstudente hang aan sy lippe omdat hulle wat hy sê op die prys stel. Die vrouestudente omdat hulle hoop hy sien hulle raak.
“Tyd verstreke.”
Sy stem sny deur haar gedagtegang. Ag, hemel tog, hierdie toets gaan sy mos nooit deurkom nie. Die helfte van die vraestel is nog onbeantwoord. En dit tel juis so ’n groot deel van die jaar se finale punt. Haar pa vergewe haar nooit as sy ’n module pluk nie. Veral nie nou so na aan die einde nie. Daarvoor is sy blue-eyed girl te goed.
’n Hand klop op haar lessenaar toe sy haar pen laat sak. Verstar kyk sy na die lenige vingers, donker vel en etlike donker haartjies. Sy slaan haar oë op na die eienaar daarvan.
Die oë brand in hare. “Sit ’n oomblik, juffrou Viviers.” Sy stem is sag, maar gebiedend.
Daar is ’n geritsel en geskuur verby haar. ’n Verligte gelag en ’n paar bekommerde stemme. Toe word dit stil om hulle. Die klas is leeg en dis net sy en hy.
“Ek gee jou nog die tien minute wat jy laat was.”
Tien minute! Dit sal haar nie nou uit hierdie verknorsing help nie. As hy maar weet, laat hy haar die antwoordstel sommer nou inhandig
Met haar oë op haar vraestel veins sy konsentrasie, maar die letters spring onsamehangend voor haar.
Hy neem reg langs haar stelling in. Leun nader. Hemel! Hy is te naby. Niks wat sy skryf, maak vir haar sin nie.
Sy kan hom ruik. Maar sy is te verbouereerd om naam aan die geur te gee. Onderlangs volg sy sy beweging toe hy teen die bank oorkant die paadjie van haar aanleun. Haar hande bewe, sy kan voel hy lees wat sy skryf. Is die mansmens nou simpel? Hoe dink hy moet sy konsentreer? Hy is te naby aan haar.
Sy kan eenvoudig nie meer nie.
Sonder om daaroor te dink spring sy op. Druk die papier in sy hande. Gryp haar pen.
“Ek is jammer. Ek is klaar.”
Hy frons verbaas. “Jy het nog twee vrae om te beantwoord en daar is nog bietjie tyd.”
“Totsiens.”
Sy wag nie op ’n antwoord nie. Buite die lokaal voel dit asof sy effens makliker asemhaal. Die lentegeure hang in die lug om haar. Die kampus is vanjaar mooi. Vroeg groen. Daar is nog twee weke klas oor voor die eindeksamen begin. Dis al wat oor is van hierdie semester en haar universiteitsjare. Ás sy die verdekselse toets deurkom. Dis tyd dat sy deel word van die werkersmag. Haar vlerke sprei. Die wêreld is aan haar voete. Sy is ’n topstudent. Miskien omdat sy meer lewenservaring as die gemiddelde student het en nie tyd wil verspeel om haar studie sinvol in die regte wêreld te gaan gebruik nie. Met haar voor- en nagraadse punte behoort sy êrens ’n internskap te bekom. Natuurlik is werk skaars, maar mens weet nooit nie.
Terug by die meenthuis sak sy byna bewerig op haar bed neer. Maar dan spring sy soos ’n pyl uit ’n boog weer op. Lukas Strauss is te vars in haar gedagtes om nou op hierdie bed te lê. Die drome van vroeër sal net van voor af besit van haar neem. Daar moet raad wees, daar moet iets wees wat sy kan doen om van die man te vergeet, want hy gaan net ’n droom bly. Hulle leef in verskillende wêrelde. En as hy aanhou om haar denke só te oorheers sal sy nooit die einde van die jaar haal nie. Wat nog te sê van die res van haar lewe. Elke man wie se pad hare kruis, sal tekort skiet. ’n Lewe van eensaamheid – dis wat vir haar voorlê. Tweede beste sal nie goed genoeg wees nie. Net Lukas Strauss.
Sy gaan sit agter haar lessenaar en begin haar notas sorteer. Toe haar oë nie meer wil fokus nie, staan sy op om die ketel te gaan aanskakel. Miskien sal ’n koppie sterk koffie help om haar gedagtes van Lukas Strauss af te lei.
“Hei, as jy so met jou hande in jou hare sit? Was die toets so bad?” Karla kom sit langs haar op een van die hoë stoeltjies.
“Hoekom is jy so vroeg terug? Het jy nie gaan oefen nie?”
Karla waai haar hand deur die lug. “Ek het ’n hoofpyn geveins. Die konstante geoefen maak my klaar. Maar om terug te kom na my oorspronklike vraag. Daar is ’n brokkie slegte nuus.” Karla bly ’n oomblik stil en Leila weet dis om haar reaksie te toets.
“Wat is dit?”
“As jy die jaar nie suksesvol voltooi nie, gaan Strauss nie volgende jaar hier wees om jou weer by te staan nie. Ek het ’n voëltjie hoor fluit dat hy voor die eindeksamen weggaan. Hy is blykbaar van plan om te gaan sodra sy klasse klaar is. Iets met ’n familiebesigheid of familiekwessie te doen. Hy het spesiale vergunning gekry. Ek is nie seker nie, een van die dosente by my fakulteit is met hom bevriend en het vandag so iets genoem.”
“Maar hy het niks vir ons gesê nie. Ek sien hom tog drie keer per week vir klas. Daar is net twee weke oor voor die eksamen begin.” Dit voel asof die mat onder haar voete uitgeruk is. Op hierdie oomblik weet sy sy is verlief. Heeltemal tot oor haar ore.
Twee
Dis ’n stil Sondagmiddag waarop Leila en Karla elkeen met ’n koeldrank op die tuinstoele in die meenthuis se agtertuintjie sit. Die koelteboom gooi al digte skadu na die winter en hulle verlekker hulle in die rustigheid van die middag. Elkeen is versonke in haar eie gedagtes.
Die meestergraadstudente se finale klasse was hierdie week. Sy het haar bes gedoen om haar gedagtes weg te stuur van Lukas en haar byna tasbare drome snags, maar haar pogings was vergeefs. Hoe meer sy op ander dinge probeer fokus het, hoe feller was haar hunkering na hom. Nou is haar tyd verstreke. Die komende week sluit hy sy voorgraadse klasse af en dan gaan hy weg. Waarskynlik sal sy hom nooit weer sien nie.
“Was jy al ooit verlief, Karla?”
Karla glimlag verbaas toe Leila die stilte verbreek. Miskien omdat sy die vraag absurd ag. “Natuurlik was ek al. Ek is ses en twintig.” Met haar vingers in die lug begin sy tel. “In my eerste jaar