Ultrasatyn 2 in 1. Elsa Winckler
sluip sy uit die kamer uit. Sy kry die kombuislig maklik genoeg en skakel dit aan. Haar klere hang oor die rugleuning van die stoel. Hy het dit seker vroeër opgetel toe hy hulle sap kom skink het.
Op haar handsak lê ’n besigheidskaartjie. Haar vergoeding? Die gehalte van die papier val haar op, maar sy laat dit op die vloer val sonder om te lees wat daarop staan. Lukas Strauss kan sy inligting hou. Sy sal werk kry sonder sy hulp en sonder om haar pad oop te slaap.
Karla antwoord haar selfoon byna onmiddellik en Leila slaak ’n sug van verligting.
“Hei, waar is jy?” Leila kan hoor haar vriendin is goed die hel in. “Jy is halfvyf hier weg om ’n dosent te gaan sien en dis die laaste wat ek van jou hoor. Weet jy hoeveel keer het ek vanaand al uitgefreak? Dis ná twaalf. Jy kon ten minste laat weet het dat jou planne vir vanaand verander het. Ek het die polisie amper laat weet jy word vermis.”
“Jammer, Karla. Ek het jou niks gesê nie omdat ek self nie geweet het ek gaan uit nie. Maar ek sal later verduidelik. Ek kan nie nou praat nie. Ek wou net weet of jy my asseblief kan kom oplaai.”
“Praat harder. Ek kan skaars hoor wat jy sê. Waar is jy?” Agterdog kleur Karla se stem en sy weet sy gaan nie wegkom sonder om te verduidelik wat vanaand gebeur het nie.
“By Lukas Strauss se huis. My kar is nog by die fakulteit.”
“Goeie donner. Hoekom bring hy jou nie terug nie?”
“Omdat hy slaap. Hy het vroeër gevra of ek terug huis toe wil gaan, maar ek het intussen van plan verander en wil hom nie wakker maak nie.” Onverklaarbaar voel sy verplig om verskonend namens Lukas te wees.
Sy gee die aanwysings vir Karla en hoop dié kan alles hoor, want sy fluister in die telefoon omdat sy bang is sy maak Lukas wakker. Dit sal ’n rukkie duur vir Karla om tot hier te kom en sy gaan sit op een van die stoele om te wag. Nou weet sy wat mense bedoel wanneer hulle sê hulle voel leeg. Dis asof haar hart en siel uit haar geruk is. Hoe kon sy tog gedink het hy voel oor haar soos sy oor hom?
Karla behoort nou amper hier te wees. Sy staan op en stap na buite. Die voordeur gaan met ’n sagte klik agter haar toe. Dis warm en die paar minute wat sy buite wag, is nie onaangenaam nie. Net die doodsheid in haar is. Die aand is so vars in haar geheue dat dit haar seermaak al probeer sy aan ander dinge dink. Sy hoor die aankomende voertuig en begin na die uitgang stap. Die sekuriteitswag kyk haar vreemd aan toe sy verby hom loop, maar sy groet met ’n glimlag wat so aangeplak is soos die verloorders s’n by ’n skoonheidskompetisie.
Karla stop langs haar. Verligting bring die trane die eerste keer die aand na die oppervlak. Sy moet veg om kalm te bly. Sy haal eers diep asem voor sy die deur oopmaak en langs Karla neersak.
Karla gee haar een kyk en skud haar kop dan simpatiek. “Moet ek vra?”
Leila skud haar kop woordeloos en Karla knik net voor sy wegtrek.
“Sal jy asseblief by die fakulteit omry sodat ek my motor kan kry?” vra sy saaklik toe hulle by die eerste verkeerslig stop.
Sy klim in haar motor en ry terug huis toe. Karla wag vir ’n verduideliking toe hulle die huis instap, maar sy is nie nou lus vir gesels nie.
“Lekker slaap, Karla.” By die deur draai sy om na haar vriendin. “Dankie dat jy oor my welstand bekommerd was en my kom haal het.”
In haar kamer kry sy haar slaapklere. Onder die stort was sy haar sistematies, droog haar af en borsel haar tande. Sy voel nie juis beter toe sy terug na haar kamer stap nie. Wat het haar besiel om te dink hy voel ook iets vir haar? En sy het tog geweet hy vertrek môre Johannesburg toe. Dis alles haar skuld. Sy kan nie vir Lukas kwaad wees nie, want hy het haar geen rede gegee om te glo hy wil iets meer hê as een aand tussen die lakens nie. Boonop was sy maar te gewillig. Het nie eens ’n oomblik gestop om oor die gevolge te dink nie.
Karla torring tydens ontbyt aan haar sodat sy nie anders kan as om haar vriendin in haar vertroue te neem nie. Sy vertel net die breë trekke sonder om besonderhede te gee.
“Die bliksem,” vaar Karla onmiddellik uit. “Tipies mansmens. Dis hoekom ons nie emosioneel betrokke raak nie, Leila. Ek het jou dit tog al gesê. Vry in die bondel. Gebruik mans wanneer jy hulle nodig het en beweeg aan. Anders gaan jy net seerkry.”
“Dis nou te laat. Ek het gedink ek het my les in Londen geleer, en dat ek nie weer dieselfde fout sou maak nie omdat ek weet hoe dit is om gebruik te voel. Nou is dit soveel erger. Wat ek tóé gevoel het, is ’n fraksie van die teleurstelling wat ek nou ervaar. Ek het gedink dié keer is anders omdat ek ouer en meer volwasse is. Dat ek Lukas reg opgesom het. Jy is reg, ek moes geweet het mans soek eintlik net een ding: seks sonder enige verbintenis.”
Karla vryf simpatiek oor haar rug. “Toemaar, vriendin, oor ’n paar weke groet jy die plek finaal en dan wag daar ’n nuwe wêreld op jou. Jy gaan Johannesburg rooi verf. Het hy jou toe die kontaknommers van die maatskappy gegee?”
“Ja, maar ek het dit nie gevat nie. Ek het hom nie nodig om werk te kry nie. Ek sal self regkom.”
Конец ознакомительного фрагмента.
Текст предоставлен ООО «ЛитРес».
Прочитайте эту книгу целиком, купив полную легальную версию на ЛитРес.
Безопасно оплатить книгу можно банковской картой Visa, MasterCard, Maestro, со счета мобильного телефона, с платежного терминала, в салоне МТС или Связной, через PayPal, WebMoney, Яндекс.Деньги, QIWI Кошелек, бонусными картами или другим удобным Вам способом.