Ettie Bierman Keur 10. Ettie Bierman
of diamante ontdek. Wie stel nou belang in ’n motgevrete ou boek wat deur Johannes van Wyk geskryf is? Wie was hy in elk geval? Dis ’n skrywer van wie niemand nog seker gehoor het nie.
Donnie is versigtig dat Hennie nie moet agterkom hy is nie ook so ’n fanatieke biblioteekmens soos sy nie. “Dis interessant. Het jy al op nog boeke afgekom wat deur hierdie Van Wyk geskryf is?”
“Jou bobbejaan! Die boek se naam is Johannes van Wyk. Het jy nog nooit van Jan Hendrik Hofmeyr de Waal, skrywer, politikus, voorvegter vir Afrikaans en een van die stigterslede van die Afrikaanse Taalvereniging gehoor nie?”
“E … Natuurlik het ek,” smeer Donnie gou sy flater toe. “Ek is seker hy het baie ander boeke geskryf, maar … e … ek kan nou net nie onthou nie. Ek lees ook so baie boeke dat ek nie al die name kan onthou nie.”
“Die tweede Grieta, Oupa en sy kleindogters …”
“Ja, natuurlik. Hierdie laaste een het my altyd so aan jou laat dink,” maak Donnie ’n flou grappie. Hy besluit om so gou moontlik van die dun ys af te kom en hom op meer bekende terrein te begeef. “Ek het toe ’n motorhawe geskakel en die simptome van die siek enjin beskryf, maar Joe Els reken ek moet die pasiënt inbring garage toe.”
“Hoe, as Vollie vierwiel vassteek en verseg om te ry?”
“As ek hom nie tydelik kan regdokter nie, sal ek jou met die bakkie insleep Dendron toe.”
Hennie onthou van daardie senutergende sleeprit gisteraand en lyk nie baie ingenome met die voorstel nie.
“So van boeke gepraat … Ek kan jou soos ’n boek lees, aster, en ek weet wat jy dink. Jy hoef egter nie bekommerd te wees nie. Ek is ’n geduldiger man as my ouboet. Ek sal nie met jou raas as jy die sleeptou nie styf kan hou nie. Sal ons ry?”
“Môre sal beter wees, Donnie. Dis al so laat en ek sal eers gou my inkopielys wil opstel voor ek dorp toe gaan.”
“Ek het gehoop ons twee kan vanaand op die dorp gaan eet,” sê Donnie teleurgesteld.
“As jy wil, sal ek vanaand hier in die woonstel vir ons kos maak, om die stoof wat weer in werkende toestand is, te vier.”
Vir dié voorstel is Donnie dadelik te vinde. Hy help Hennie opruim en kom dan op ’n stoel in die kombuis sit terwyl sy biefstuk en ertappelskyfies bak.
“Donnie …” sê Hennie versigtig. “Jy het gesê jy is neutraal, jy het nie kant gekies in die vete tussen my oupa en die Meirings nie. Reg?”
“Reg. Maar sedert ek jou ontmoet het, weet ek nie meer of ek so danig neutraal is nie. As die vete weer uitbars, kies ek dalk jou kant.”
“Dit sluimer op die oomblik en dit sal beslis weer oorkook. Maar daar is ’n paar vrae wat ek jou wil vra sodat ek my feite kan regkry. Of voel jy dis dislojaal om jou pa en broer met my te bespreek?”
“Geensins. Ek het te veel respek vir my oukêrel om hom openlik te kritiseer, maar Carl het jou arme oupa baie swak behandel.”
“Ek is bly jy erken dit. Jou broer sal natuurlik nie so grootmoedig wees nie.”
“Nee. Maar moet Carl nie te kras oordeel nie, Hennie. Anders as ek, is hy ’n boer in murg en been en hý gaan Koedoespoort eendag erf, nie ek nie. Daar is twee redes waarom hy gisteraand so onvriendelik teenoor jou was. Eerstens, omdat jy ’n vroumens is.”
“Wat het dit daarmee te doene?”
“Carl is ’n vrouehater. Hy het allerhande komplekse en ’n diepgewortelde renons in al wat rok dra.”
“Hoekom?”
“Ag, dis eintlik ’n hartseer ou storie, maar as ek dit nie vir jou vertel nie, sal jy wel een of ander tyd met ou tant Lettie Jansen kennis maak, en sy sal jou daarvan vertel. Sy is ’n dierbare ou siel, maar ’n bietjie lief vir skinder.”
“Ek het reeds met haar kennis gemaak. Sy is tien minute gelede hier weg, ná sy die hele dag help skrop en skoonmaak het. Ek was van plan om vir jou dankie te sê omdat jy haar opgespoor en na my toe gestuur het.”
Donnie lyk ’n oomblik uit die veld geslaan. “Hoekom vir my dankie sê?”
“Tant Lettie het gesê meneer Meiring het haar gestuur. Ek het aanvaar dis jy.”
Donnie hou niks van die gedagte dat sy broer Carl ’n helpende hand na hulle buurvrou uitgesteek het nie. Die gedagte maak hom jaloers, maar hy wil nie dat Hennie dit agterkom nie. Sedert hy haar gisteraand weer gesien het, het hy geweet hierdie rooikoppie gaan ’n baie spesiale plek in sy hart inneem. Sy is die mooiste astertjie wat hy in sy lewe nog gesien het. As sy glimlag of lag, is hy lus en neem haar in sy arms en soen daardie sagte, rooi mond en blinkgroen oë. Dis nog te gou om seker te wees, maar hy dink hy is besig om halsoorkop verlief te raak op Hendrikus Bernardus Jakobus Vermaak. Ouboet Carl moet net wegbly …
“E … Ja, indirek was dit seker deur my toedoen. Ek het die sentrale gevra om, wanneer daar weer ’n oproep vir tant Lettie Jansen deurkom, haar te vra om met jou in aanraking te kom. Ek is net verbaas dat die ou tannie so vinnig reageer het en vandag reeds by jou opgedaag het. Het sy ingestem om by jou te loseer?” Donnie hoop nie so nie, want hy weet nie of hy altyd lus gaan wees vir ’n praatsieke derdemannetjie elke keer wanneer hy vir Hennie kom kuier nie.
“Van volgende week af, ja. Sy voel sy moet ’n week kennis gee by die mense by wie sy op die oomblik werk.”
“Dan sal sy jou gou genoeg inlig dat my ma haar twee kinders en haar man gelos het om met ’n ander man weg te loop. Of weet jy dit reeds?”
“Tant Lettie en ek het vandag hoofsaaklik oor die teekamer gepraat. Ek glo in elk geval nie sy sal oor julle skinder nie.”
“Jy ken haar nog nie … Sy sal met lus vir jou vertel dat my ma ’n tweede Sylvia Kirsten is, wat haar veel ouer man verlaat het toe daar ’n ander man met meer geld op die horison verskyn het. Ek weet nie of my ma dalk intussen al weer met ’n derde man getroud is toe sy agtergekom het Reenen van Wyk is nie so skatryk as wat hy haar wysgemaak het nie. My pa en sy het heeltemal kontak met mekaar verloor. Ek was heeltemal tevrede met die sagmoedige tant Nellie wat toe vir ons kom huishou het, maar my ouboet was baie verbitterd omdat my ma ons in die steek gelaat het. Carl was destyds in standerd vyf en seker op ’n moeilike stadium. Meer emosioneel en ontvanklik as ek, wat toe maar agt jaar oud was. Tant Nellie was vir my ’n tweede moeder, maar Carl wou haar nie in ons huis aanvaar nie. My ma se optrede het hom ’n haat in vroue gegee – ’n kompleks wat hy nooit ontgroei het nie en wat nou veroorsaak dat hy nie in ’n nooi belangstel nie en seker nooit sal trou nie.”
Donnie glimlag verleë. “Daar het jy nou die geraamte in die Meirings se kas en ook een van die twee redes waarom Carl jou so swak behandel het.”
“Nou verstaan ek hom heelwat beter. Maar ek glo steeds nie hy het reg gehad om sy komplekse op my uit te haal nie. Ek was moeg en ek het hoofpyn gehad en ek was hartseer oor my oupa se dood en bekommerd oor my stukkende motor …”
“Ek weet, astertjie. Ek soek nie verskonings vir my onmanierlike broer nie. Ek het jou maar net die tragiese ou storie vertel sodat jy nie sleg moet voel oor Carl se houding nie. Jy is ’n vroumens en … natuurlik die eienares van Sesdorings.”
“En dit bring ons by die tweede rede?”
“Korrek.”
“Die dam wat hy so graag wil bou omdat daar onvoldoende water op Koedoespoort is?”
“Dis jammer dat jou elf hektaar nou juis tussen die twee rantjies lê. As dit op ’n ander plek was, sou Carl jou oupa, en nou vir jou, in vrede gelaat het. Maar daar is geen ander plek op Koedoespoort, of op die gedeeltes van Sesdorings wat Carl opgekoop het, waar mens ’n dam kan bou nie. Dis die ligging van die koppe wat hierdie stukkie grond ideaal geskik maak vir ’n damwal tussen daardie twee plat rantjies. Dis ’n natuurlike opvanggebied wat maklik tot teen die Lotterings se plaas, Klipput, sal opstoot en vir talle boere in die distrik verligting bring as die reëns laat is. Jy weet mos ou Noord-Transvaal