Die hart se tweede lente. Ettie Bierman
>
ETTIE BIERMAN
Die hart se tweede lente
Jasmyn
1
Kara is laat. Sy draf om haar woonstel se vensters toe te maak en haar potplante oplaas nat te gooi. Haar bak goudvissies gaan by ’n vriendin bly vir die week wat sy op haar eerste internasionale vlug weg sal wees.
Sy dra die bak en die houer kosvlokkies af na haar motor toe en stut dit met opgerolde koerante op die voorste sitplek. Daarna gaan haal sy haar tas en kajuitsak.
Sy neem haar sleutels en sit die pers pet van Jakaranda-Lugdiens oor haar lang, blonde hare op haar kop. Dan trek sy die voordeur agter haar toe.
“Lekker vlieg!” roep die opsigter haar agterna toe sy in die gang verbykom. “Moenie by die venster uitval nie! Sê groete vir Windhoek en Zürich!”
“Dankie, Olga.”
“Bring vir my ’n berg vol sneeu terug!”
“Ek sal die Jungfrau bring,” belowe Kara. “As ek hom in my tas kan kry.”
Lugdiensvervoer het die oggend gebel om te sê hulle het probleme met voertuie en bemanningslede moet van hulle eie vervoer gebruik maak vir onder meer vlug JA 313. Kara hoop net haar Noagse Volkswagen vat en doen wat van hom verwag word. Volkie was die afgelope tyd vol nukke en grille; die koppelaar en die remme lol.
As sy laat opdaag, sal die roosterklerk die junior waardin van die noodbemanning in haar plek laat vlieg – en dan moet sy tuisbly. Ná al die uitsien. Ná ’n jaar van swoeg en sweet op binnelandse vlugte. Die klimtol Durban toe en terug, en weer soontoe en weer terug. Die melkskommel om die kus, en die blomkoolroete Upington toe; so genoem vanweë die laatmiddag-wolkmassas wat soos geil blomkoolkoppe lyk en veroorsaak dat die vloer plotseling onder jou voete wegsak nes jy met ’n volgelaaide skinkbord in die gang staan.
Volkie besluit om hom te gedra. Die enjin vuur onmiddellik toe Kara die sleutel draai.
“Dankie, ou vriendjie,” bedank sy hom en druk ’n soen op die stuurwiel. “Jy kan na dese sewe dae lank uitspan terwyl ek weg is. Daarná sal ek jou ’n lekker skuimbad gee.”
Die vroegaand-spitsverkeer is druk. Kara vergeet van Namibië, van die Alpe en Lugano en kaasfondue in Switserland en konsentreer op die ratte en remme, wat nie heeltemal reg voel nie. By Spartan kry sy die verkeer van fabriekswerkers wat haastig is huis toe, en op die Kemptonpark-pad honderde voertuie in die rigting van die lughawe.
Skuins voor haar ry ’n rooi sportmotor. Toe Kara sien hoe skoon die uitlaatpyp gebrand is, besluit sy die eienaar weet wat hy doen en sy versnel effens om hom te volg. Dan skuif sy agter hom in die regterbaan in, wat vinniger vloei. Dit sal haar hopelik ’n paar minute spaar.
Het sy ooit genoeg klere ingepak? In Windhoek bly hulle net een nag en sy het ’n koel rok vir die volgende dag saamgebring, maar vir die sneeuweer in Switserland het sy net drie warm langbroeke, ’n paar truie, ’n baadjie en ’n paar dik stewels ingepak. Sy het ’n sambreel. Miskien moes sy ’n reënjas ook gevat het …
Ag, nou ja, soos ’n reisgids wat sy gelees het vir voornemende reisigers sê: “As jy vir ’n oorsese rit inpak, sit alles wat jy wil saamneem op die bed. Dan pak jy die helfte daarvan in die kas terug – tensy jy genoeg geld het om oral vir portiere wat jou tasse dra, fooitjies te gee.” Sy het nie geld vir fooitjies nie en ook nie vir oorgewig bagasie by die inweegtoonbank op die lughawe nie.
Die sportmotor se remligte brand skielik rooi voor haar en haar regtervoet soek werktuiglik na die rempedaal. Dan onthou sy van die bak goudvissies en lig haar voet weer haastig, maar besef net die volgende oomblik sy moes dit liewer nie gedoen het nie.
Volkie se momentum dra hom vorentoe. Kara kan nie sy spoed betyds verlaag nie, want dis asof die remme nie dadelik wil vat nie. Sy bots met ’n geknars van metaal en die geluid van glas wat versplinter agter in die sportmotor vas. In haar haas het sy vergeet om haar sitplekgordel vas te maak en haar voorkop tref die ruit met ’n slag wat haar sterretjies laat sien.
Kara is vir ’n oomblik heeltemal verdwaas. Haar hartklop dawer in haar ore en sy voel afwisselende vlae van koue en hitte oor haar spoel terwyl sy asof versteen agter die sportmotor van die pad aftrek. Pleks dat sy uitgeswaai het of ’n groter volgafstand gehou het! Of die remme laat versien het!
Sy sien met ontsetting hoe ’n gestalte uit die motor voor haar klim en doelgerig met lang hale na haar toe aangestryk kom. Genade, hy gaan haar verbrysel en haar …
Die vissies! tref dit haar skielik. Sy kyk na die sitplek langs haar. Dit sou beter gewees het as sy hulle op die vloer neergesit het. Die opgerolde koerante het nie veel gehelp nie. Van die slag het die bak omgekantel en al die water uitgestort. Die drie goudvissies lê op die matjie na asem en hyg.
Dit was ’n geskenk van Fanie en haar eerste prioriteit nou is om hulle te red. Die vent sal net eenvoudig met sy beskuldigings en dreigemente moet wag tot sy tyd het om te luister.
Kara pluk die deur aan haar kant oop en strompelval na buite. In haar haas om by haar spartelende troeteldiere te kom, stoot sy die bestuurder van die sportmotor half uit die pad uit.
“Genugtig, vroumens!” roep hy vererg uit. “Eers probeer jy my van die aardbodem af ry, en nou stamp jy –”
“Moenie net daar staan en raas nie,” val Kara hom in die rede terwyl sy om die motor sukkel. Sy pluk die passasiersdeur oop en gaan sit dwars op die sitplek. “Kom help my met die vissies!”
“Die watse goed?” Hy sluk ’n slag, skud sy kop en knipper sy oë.
Sy kyk oor haar skouer en sê bytend: “Die vissies! As hulle doodgaan, is dit jou skuld.”
“Vissies?” eggo hy.
Die skepsel is nie net ’n swak bestuurder nie – hy is blykbaar nog doof ook!
“Moenie maak asof jy nie die eerste keer gehoor het nie,” antwoord sy koel. “Jou motor sal nie weghardloop nie – los hom en kom help my! Jy kan later om verskoning vra en verduidelik waarom jy so uit die bloute gerem het.”
Hy frons. Sý skuld? Het sy nie die hond gesien wat reg voor hom ingehardloop het nie?
“Wou jy hê ek moes hom doodry?”
Sy frons onbegrypend. “Wie?”
“Die wolfhond.”
Kara het geen benul waarvan hy praat nie. Sy druk haar palms teen haar kloppende slape om die hamerslae te laat verdwyn. Sy het net genoeg tyd om te sien hoe sy mond ’n aks of twee groter oopval voordat sy haar aandag by die drie waaiersterte bepaal.
Die glasbak het wonder bo wonder nie gebreek nie, maar daar is niks meer water in nie …
Die drie vissies lê half onder die voorste sitplek en spartel flouerig. Kara trek die voetmatjie onder hulle uit en wring dit oor die bak vir ’n bietjie nattigheid. Sy tel die visse versigtig op en dompel hulle een-een in die paar millimeter troebel klammigheid.
Toe kyk sy op … en sien hoe die aantreklike donkerkop by die oop deur oorkant haar met ’n vreemde uitdrukking op sy gesig na haar staan en kyk. Hy het breë skouers en groen oë met bruin vlerkies.
Nogal glad nie onaardig nie … Onder ander omstandighede sou sy graag vir die mansmens haar flikkers gegooi het en gehoop het hy nooi haar vir koffie. Net jammer hy lyk soos ’n donderwolk wat ’n plek soek om uit te sak …
Op skool het Kara in skaak geleer aanval is die beste verweer as jy in ’n hoek gedryf is. Omdat sy skuldig voel en nog nie gedink het hoe sy haarself gaan verdedig nie, is sy aggressief.
“As jy met só ’n kar rondry, het jy seker geld vir versekering, so waaroor die bohaai?”
Hy was nie bewus daarvan dat hy ’n bohaai gemaak het nie. Trouens, al was die botsing háár skuld, het hy nog nie ’n enkele woord daaroor geuiter nie.
“Of vir bestuurslesse,” voeg sy by.
Niemand kan stry die blondinetjie met haar viooltjieblou oë en lang