Die hart se tweede lente. Ettie Bierman
hier. Ek wou al die polisie bel om jou te gaan soek,” kla hy.
Sy vertel hom kortliks wat gebeur het.
“Onnosele swaap,” stem hy saam. “Sy soort hoort nie op die pad nie.”
Fanie is min gepla oor die vissies; hy is baie meer bekommerd oor háár wat harsingskudding kon opgedoen het. “Sodra ons aan boord is, sal ek ys op daardie knop pak. Dit sal die swelsel laat sak.”
“Ek is piekfyn,” keer sy. “Net ’n bietjie skok opgedoen, dis al.”
“Drink ’n kalmeerpilletjie.”
“En raak halfpad deur die vlug, tydens ’n drankbediening, aan die slaap? Nee, ek is reg. Die hoofpyn sal nou-nou bedaar.”
Dít laat haar skielik weer van die omkopery onthou. “Dis heerlik om jou saam op my eerste oorsese vlug te hê. Ek sal die helfte van die kas bier betaal.”
Hy skud sy kop. “Dis nie nodig nie. Ek is nie ’n kerkmuis nie.”
“Maar jy moet jou universiteitsgeld betaal én nog studieboeke koop.”
“Ek hét ’n beurs, en daar’s altyd iets oor vir ’n paar bottels bitterwater.”
Dis al wat haar soms van Fanie pla: dat hy te lief is vir die “bitterwater”. Hy studeer BSc, wat ’n stywe kursus is. ’n Vorige keer, op die vooraand van die semestereksamen, het hy tot laataand by vriende gekuier, waar die “water” vrylik gevloei het, pleks van by sy boeke sit. Die gevolg was dat hy nie die volgende oggend plantkunde gaan skryf het nie. Hy het ’n hele halfjaar vermors en nou ’n ekstra vak wat hy volgende jaar sal moet neem.
Kara stoot dié gedagtes opsy. Fanie is ’n oulike ou, maar soms baie koppig. Dit sal nie help om te preek of aan hom te karring nie.
“Ek hoor ons is vol vanaand,” verander sy die onderwerp.
“Soos sardientjies ingepak. Dis altyd so op ’n tussenstasievlug. Maar jy sal gewoond raak daaraan. En in Zürich het ons vyf dae vry. Ek wil jou gaan wys hoe lyk Luzern en dan kan ons met ’n sweefspoor opgaan na die Jungfrau toe.”
“Heerlik. En in Zürich self wil ek graag die museums en teaters sien. En die hoofkwartier van die VN.”
“Daar’s ’n casino ook – in Montreaux – waarheen ek jou sal neem.”
“Ek is nie eintlik ’n dobbelaar nie.”
“Dis omdat jy tot dusver altyd verloor het. Wag tot jy begin wen en die gogga jou byt, dan sal jy nie van die tafels af kan wegbly nie.”
“Soos jy? Hopende jy wen die boerpot?”
Hy lag skuldig. “Net omdat ek tot dusver niks beter gehad het om te doen nie. Maar nou is jy hier. Dis beter as ’n sak vol geld.”
Fanie steur hom nie aan regulasie 247 (iii) in die Blou Boek van Jakaranda-Lugdiens wat bepaal dat personeel wat in uniform is, geen fisieke kontak hoegenaamd met lede van die teenoorgestelde geslag mag hê in die openbaar nie, hetsy op die grond of in die lug. Hy leun vorentoe en soen Kara op die punt van haar neus. “Weet jy hoe onweerstaanbaar is jy as jou oë so groot gerek is?”
“Dis omdat ek nie wil hê jy moet jou geld mors of jou werk verloor nie.”
“As ons twee die dag getroud is, gaan ons ryk wees,” belowe hy haar. “Jy sal ’n pelsjas kan koop met die kleingeld in jou agtersak.”
“Geld is nie alles nie,” maan sy.
“Maar dit help. En daar is ’n gesegde wat sê: As armoede by die deur inkom, vlieg liefde by die venster uit.”
Kry eers jou graad, dink sy. En ’n vaste werk. En vergeet van die perde en dobbelmasjiene. Maar sy wil nie preuts klink nie en sê niks nie.
“Het ek al vir jou gesê ek is lief vir jou?” vra Fanie.
“Nog nie vandag nie,” speel sy saam.
“Ek is baie lief vir jou.”
“En ek vir jou,” eggo sy.
“Liewer as vir roomys en aarbeie, biltong en sjokolade?” terg Fanie.
“Liewer as vir dou op ’n varsgesnyde grasperk en ’n uitverkoping by ’n supermark,” beaam Kara.
Maar daar is ’n verskil tussen lief wees en liefhê, besef sy. Wat voel sy vir Fanie? Is dit net verliefdheid, wat sal oorwaai?
Sy onthou die dag toe sy hom ontmoet het. Hy was ’n passasier op ’n vlug van Kaapstad na Johannesburg. Reeds op Kaapstad se lughawe het sy die aantreklike, blonde ou in die verbleikte denimbroek en T-hemp opgemerk. Hy het ’n skouersak by hom gehad en soos ’n branderplankryer gelyk.
By die inweegtoonbank het hy haar op en af bekyk en ’n lang wolwefluit laat hoor. Eers wou Kara haar vir die voorbarige ou vervies, maar toe het sy die blink liggies in sy oë gesien en geglimlag.
“Dankie. Dit laat my sestien jaar oud voel.”
“Hoe oud ís jy?” wou hy weet.
Wat het dit met hom te doen? het sy gedink. Sy behoort die voorbarige mansmens kort te vat en op sy plek te sit en dan koelkop weg te stap sodat hy die boodskap kan kry dat sy attensies onwelkom is.
Maar Kara het nie. Sy het bly staan. En hom nie ’n dwars antwoord gegee nie. “Drie-en-twintig. En jy?”
Hy het verlig gesug. “Vier-en-twintig. Darem een jaar jou meerdere.”
“Meerderwaardigheid meet ’n mens nie in jare nie,” het sy astrant gesê. “Jy moet dit verdien.”
“Dis wat ek beplan, ja,” het hy belowe en haar tas op die skaal getel. “Sien, ek het meer spiere as jy. Punt een in my guns.”
Die ontvangsklerk het haar tas ingeweeg en die vluginligting aan haar oorhandig.
“Ek hoop nie jy gaan Timboektoe toe nie – vlieg weg uit my lewe uit en verdwyn nie?” het haar nuwe vriend gesêvra.
“Nee.” Sy het die etiket aan sy kajuitbagasie gesien: JNB, die afkorting vir Johannesburg. Vlug JA 304. “Sien jou nou-nou aan boord,” het sy belowe.
Dit was ’n direkte vlug en hulle moes middagete bedien. Fanie het toe al blykbaar ’n paar biere ingehad, want hy was vrolik. Bokant Carnarvon, toe hulle pas met die bediening van die ete begin het, het hy by een van die kelners twee servette gebedel of gesteel, een soos ’n sjef se hoed gevou en op sy kop gesit, en die ander een soos ’n voorskoot bo by sy broek ingedruk.
“Assistent nommer een is paraat om julle met die werk te help,” het hy aangekondig.
“Moenie dink jy gaan afslag op jou reisgeld kry nie,” het Kara gewaarsku.
Hy wou nie afslag hê nie. Ook nie bene rek of die twee uur vliegtyd omkry nie. Al wat Stefanus Terblanche wou hê, was om naby haar te wees.
Nadat die koffietrollie weggepak was en die kombuis opgeruim is, het hy die bemanningsbankie in die gang uitgetrek, haar daarop laat sit en toe vir haar ’n skinkbord met kos daarop gebring.
“Jy weet nou wat my naam is, hoe oud ek is en dat ek in Edenvale by my ouers bly. Maar ek weet niks van jou af nie,” het hy gesê en na haar naambordjie gekyk. “K. Verster. Waarvoor staan die K?”
’n Mens kon nie anders as om van die blonde student te hou nie, maar Kara was gewoond daaraan dat manlike passasiers hulle flikkers vir die lugwaardinne gooi en het hom nie ernstig opgeneem nie. Hy het by vriende in Houtbaai gaan kuier en sy was deel van die vakansiepret. Hy het seker hordes nooiens. Môre sal hy haar nie eens meer onthou nie.
“Karretjies,” het sy ligweg geantwoord. Dit was haar bynaam op skool en die naam wat sy gebruik het om lastige ouens mee af te skrik.
Fanie Terblanche het langs haar op die bankie gaan sit, gewag tot sy klaar geëet het en haar skinkbord gaan bêre. Toe het hy haar hand in syne geneem. “Karretjies, sal jy asseblief