Die hart se tweede lente. Ettie Bierman

Die hart se tweede lente - Ettie Bierman


Скачать книгу
gaan kyk vlugtig in die spieël na die knop aan haar kop en gee haar romp ’n afwaartse pluk voor sy die trap na die stuurkajuit toe opklim om die besonderhede vir haar vertrekaankondiging te kry.

      Die kaptein sit met sy rug na haar toe en met oorfone op sy kop toe sy die stuurkajuit binnestap.

      “Haai, bloeiseltjie,” groet die eerste offisier. “Gaaf om jou weer te sien.”

      Dis Henk Coetzee, saam met wie sy in die binneland op 727’s gevlieg het en wat intussen na Boeing 747-makrostralers bevorder is. Altyd gaaf en gemoedelik.

      “Ja, jou ook,” antwoord Kara. “Hoe gaan dit?”

      “Stukke beter vandat ek jou weer gesien het.”

      Kara lag. “Jy is medisyne vir ’n ou se moreel: iets wat ek op die oomblik nodig het.”

      “Hoekom?”

      Kara wil nie haar skete en kwale met hom bespreek nie. “Ek sal nou-nou beter voel.”

      “Afgesien van jou, is daar enige ander proposisies aan boord?” verneem hy hoopvol.

      Dis ’n ou speletjie van bemanningslede. Kara dink na. “66A en B is nie te sleg vir die oog nie. 81F ook nie, maar sy dra ongelukkig ’n trouring.”

      “Vra vir die ander twee gesiggies of hulle nie lus is om die stuurkajuit te sien nie. Dis te sê, as jy nie beskikbaar is nie.”

      “Ek is hier om te werk. Wat van die skone Leonora?” stel Kara voor.

      Henk trek ’n suur gesig. “Ek het haar lankal uitgekyk. Sy het ’n langbroek aan en ’n donkerbril op. Dis gemeen.”

      “Dis incognito.”

      Die kaptein kyk vlugtig op. “Windrigting?” verneem hy.

      Henk soek haastig na die meteorologiese verslag, wat onder ’n stapel papiere lê, sodat hy dit nie dadelik opspoor nie.

      “Twintig knope noordnoordwes,” antwoord sy bevelvoerder. “Waar is daardie straler wat vir landing inkom, waarteen die beheertoring ons gewaarsku het?”

      “E …” Henk tuur onbeholpe na regs. “Ek is nie seker nie.”

      “Links. 37 grade na bakboord. Meneer Coetzee …” kaptein Kirsten stoot sy kopstukke af en draai na sy medevlieënier. “Die lugwaardin is aan boord om ’n diens aan die passasiers te lewer, nie om as afleiding vir die bemanning te dien nie.”

      “Jammer,” mompel Henk verleë.

      Die kaptein is grimmig en omgekrap. “Vergeet van die onderbrekings en bepaal asseblief in die toekoms jou aandag by jou werk.”

      “Reg, skipper,” antwoord Henk verleë.

      Hitler, dink Kara. ’n Gepaste bynaam …

      Hy was onbillik, besef sy. Henk het net ’n grap gemaak om haar te laat tuis voel. Hy is ’n baie goeie vlieënier; nougeset en pligsgetrou. Hy het dit nie verdien om tereggewys te word, en dít voor ’n kollega nie.

      Dit was haar eerste kennismaking met hulle bevelvoerder en Kara besluit dadelik sy hou nie van hom nie. Hy geniet dit blykbaar om sy rang te misbruik.

      “Mejuffrou wie?” vra kaptein Kirsten kortaf, sonder om om te draai of te groet.

      Hy praat blykbaar met háár … Hy hét die bemanningslys voor hom – hy kon self haar naam opgekyk het.

      “Verster,” antwoord sy, net so kort en bondig.

      “Twee, tien. Tienduisend. Vyfhonderd-en-veertig. Negedertig,” vuur kaptein Adriaan Kirsten die inligting soos snelgeweerskote af.

      Dit help nie om Kara meer positief teenoor hom in te stel nie. Ander bevelvoerders het altyd die besonderhede op ’n velletjie papier vir die waardin neergeskryf.

      “Dankie, Kaptein,” antwoord sy en wonder of sy op aandag moet kom en moet salueer. Die Gestapo-saluut moet maak. Of haar hare kort moet laat knip en haar grimering moet afwas sodat sy minder vroulik en soos een van die Adamsgeslag kan lyk.

      Die kaptein is egter nog nie klaar met haar nie. Hy draai dwars in sy sitplek en kyk oor sy skouer na haar. “Weet u waar die koolsuurgassilinders is in geval van ’n noodlanding of ’n brand aan boord, mejuffrou Verster?”

      Kara registreer net hier en daar ’n woord van die vraag. Haar keel trek toe en haar hart ruk. Dit kan nie wees nie! Maar dit is. Dit is onmiskenbaar dieselfde donker hare en bruingebrande gesig. Dieselfde skouers, oë, mond …

      Die eienaar van die rooi sportmotor.

      Sy moes geweet het ’n obskure klerk sal nie met so ’n motor ry nie! Maar hy het nie ’n baadjie aangehad of epoulette op sy skouers gedra sodat sy die vier goue rangstrepe van ’n bevelvoerder kon herken nie.

      Is dit toeval, die noodlot of die gode wat haar ’n streep getrek het dat sy juis in haar bevelvoerder se motor moes vasry? wonder sy. Dan besef Kara dit was nie so toevallig nie. Dié tyd van die aand op die Kemptonpark-pad lei alle paaie na Rome: die lughawe. Hy moes vir dieselfde vlug, dieselfde tyd as sy aanteken. Sy moes verwag het dis iemand wat saam met haar op die vlug gaan wees toe sy die pers hemp gesien het.

      Sy onthou dat sy hom uit die pad gestoot het en beveel het om haar met die visse te help. Gedink het hy is ’n swak bestuurder, en nog doof ook. ’n Onnosele swaap, ’n skurk en ’n lafaard … Sal dit as ’n verskoning dien dat sy aan skok gely het en nie haarself was nie?

      Kara weet die botsing was haar skuld. Sy moes Volksie se remme laat versien het en op die pad gekonsentreer het. Stadiger gery het. Darem agterna om verskoning gevra het en agter hom aan by die afrit afgedraai het om te verduidelik …

      Aan die flikkering in sy vreemde, groenbruin oë weet Kara dat hy haar ook herken het. Hy besef waarskynlik ook dit was sy wat in die kleedkamer saam met een van die kelners was. Wat hom betref, is haar boekie vol.

      Kara kan haar indink watse indruk hy van haar het. Jaag in hom vas, trap hóm daaroor uit, het nie die ordentlikheid om haar naam en adres te laat nie, en klou in die kleedkamer aan een van die kelners … Sy wens die aarde wil oopskeur en haar insluk.

      “Ek is jammer dat ons nie voorheen … nie vroeër ontmoet het nie,” stamel Kara.

      Selfs in haar eie ore klink dit onbeholpe en dalk selfs ’n bietjie voorbarig. Sy sluk droog en stotter verder. “Ek bedoel, daar was nie kans nie. Tyd nie. Vir … ’n kennismaking nie. Ek was laat en … en die visse was besig om dood te gaan. Ek het hoofpyn gehad en was skoon deurmekaar na die ongeluk.”

      Haar verduideliking het nie die gewenste uitwerking nie. Adriaan Kirsten frons en kyk haar aan asof sy ’n wurm op ’n komposhoop is. Of iets wat in die straat platgery is.

      Kara wens sy was op ’n ander planeet; enigeen, solank dit net ver van die aarde af is.

      Wat was dit van ’n hond? Probeer sy onthou. Hy het iets van ’n hond gesê, maar sy het nie geluister nie. ’n Worshond? Wolfhond? Sy is te bang om te vra.

      “Ek was ook laat,” sê Adriaan Kirsten.

      Moet sy sê sy het wel links afgedraai, maar kon hom nie sien nie? Die verkeer was so druk dat sy nie kon stilhou nie en toe het sy maar aangery?

      “Omdat ek vrugteloos op die afrit vir jou gewag het,” gaan hy voort.

      Daarop het Kara ’n goeie antwoord. “My eerste oorweging was om betyds vir die vlug aan te teken. Ek het jou – ú registrasienommer gesien en wou u later opspoor om om verskoning te vra en te verduidelik waarom ek nie afgedraai het om die kwessie te bespreek nie.”

      “Later?”

      Hy klink kortaf en Kara weet sy kan hom nie kwalik neem nie. Haar goeie voornemens klink nou vir haar ook asof hulle net ’n ontsnaproete was.

      “Het u e … seergekry?” probeer sy vir haar vorige gebrek aan belangstelling vergoed.

      “Nee.


Скачать книгу