Die hart se tweede lente. Ettie Bierman

Die hart se tweede lente - Ettie Bierman


Скачать книгу
is lief vir jou, al skram jy heeltyd weg en soek jy verskonings. Jy en ek hoort bymekaar.”

      Kara probeer haar uit sy omhelsing loswikkel. “Daar is ’n tyd en ’n plek vir alles. Moenie. Wag nou eers.”

      “Ek wag al te lank,” fluister hy met sy mond teen hare. “Ek is ook maar net ’n man van vlees en bloed. En jy is ’n begeerlike vroumens …”

      “Nee, moenie!” herhaal Kara.

      Eers dink sy dis haar weiering en koel reaksie wat die gewenste reaksie het. Fanie los haar. Sy arms sak teen sy sye. Hy beweeg weg en staan soos ’n soldaat op die paradegrond.

      “Dis beter. Nou kan ek met my pligte aangaan,” sê sy verlig.

      “Deksels en vervlaks!” mor hy omgekrap.

      “Wat?”

      “Verduiwels! Die kaptein het pas aan boord gekom en ons twee hier gesien. Ons kan ’n brander te wagte wees, of ’n inskrywing in die vlugverslag.”

      “Die kaptein? Waar was hy?” vra Kara.

      “Hy het so pas twee meter van ons af in die gang verbygeloop.”

      Kara staan vinnig nog verder van Fanie af weg. “Dink jy regtig hy het ons gesien?”

      “Ek is bevrees hy het. As hy iets daaroor te sê het, sê dit was my skuld. Ek was voorbarig en jy het my probeer wegstoot. Anders is jou voorland terug binneland toe.”

      Kara se moed sak in haar skoene. Hulle is nog nie eens van die grond af nie en sy is alreeds in die kookwater.

      ’n Bus kom oor die laaiblad aangery en hou aan die voet van die trap stil.

      “Passasiers in aantog!” roep Sampie waarskuwend. “Aksiestasies! Sit julle pette en julle beste glimlagte op.”

      Kara sit gou ’n bietjie lipstiffie aan om haar selfvertroue te gee.

      Eerste aan boord is ’n jong ma met ’n baba.

      “Sal jy hom nóú neem of later?”

      “Ekskuus?” vra Kara.

      In antwoord oorhandig die ma die baba aan haar. “Die reisagent het gesê dis ’n diens wat by die prys van die vliegkaartjie ingesluit is: dat die lugwaardin die baba oppas.”

      “Én ’n vyfgangmaal,” sê die man agter haar.

      ’n Vyfgangmaal met 348 passasiers en ses mikroskopiese kombuise? Kara kan op die oomblik aan ’n paar baie beskrywende woorde vir wysneus-reisagente dink.

      “Aandete bestaan uit ’n vrugtekelkie, biefstuk en twee groentesoorte, Meneer,” antwoord sy, “asook slaai, nagereg, kaas en beskuitjies, wat u saam op ’n skinkbord ontvang.”

      Die man lyk skepties. “Én koffie?”

      “’n Keuse tussen koffie, tee, Milo, Ovaltine, ’n glasie likeur en portwyn.”

      “Dis te hope nadat ek die agent verseker het ek wil nie die vliegtuig koop nie – net ’n sitplek tot in Londen.”

      Kara se glimlag verslap effens, maar sy sê nie ’n woord nie. Met klein Junior op haar heup wys sy sitplekke aan, beantwoord vrae en help met handbagasie, waarvan daar ’n oormaat is.

      By sitplek 79A is ’n dubbelbespreking: twee mans met sekretarisvoëlbene wat beide ’n sitplek by die venster en by ’n nooduitgang gevra het, wat meer beenruimte bied.

      Kara gaan kyk na die passasiersplan op die rekenaarskerm op die vlugbeheerbeampte se lessenaar net onder die stuurkajuit. 35J is oop. ’n Voorlopige, telefoniese bespreking is nie bevestig nie. Dis wel ’n venstersitplek, maar regoor die vlerk, wat beteken daar is nie ’n uitsig nie.

      “Wat wil hy in elk geval sien? Die vlug is driekwartpad oor die woestyn en die see,” brom die vlugbeheerbeampte.

      “En dit in die donker,” voeg Kara by.

      “Los Bergman waar hy reeds ingegrawe is en skuif Scholtz na 35J,” gee Johan van Zyl raad. “Gee hom ’n ekstra poskaart of ’n aandenkingspeldjie of iets om hom gelukkig te hou.”

      As dit so maklik sal wees, dink Kara. Sy gee vir die baba ’n bottel en lê hom in een van die lugwiegies by sy ma se sitplek neer. “Sodra ek ’n kans het, sal ek hom weer kom haal,” belowe sy.

      “Moenie te lank wag nie. Ek is moeg vir kinders – ek wil rus.”

      Die ambulansgeval is welkome afwisseling. Oom Willemse is gaaf en vriendelik. Hy het nog nooit voorheen gevlieg nie en dit het ’n span osse gekos om hom op die “vliegmasjien” te kry om die ou lollende tikker te gaan regmaak.

      “As die liewe Vader wou gehad het die mens moet vlieg, sou hy vir hom vlerke gegee het,” kla hy. “Hoekom dit uitlandse doktertjies moet wees, weet ook nugter. Wat is verkeerd met ons eie land se dokters dat hulle nie die omlyning sommer hierso kan doen nie?”

      “Omleiding, Oupatjie,” korrigeer die verpleegster wat die pasiënt vergesel.

      Oom Willemse is effens doof. “Ja, dis mos wat ek seg, niggie. Hulle gaat vir my ’n nuwe lyn insit vir die kortasemgeit.”

      Hy is bleek en sweetdruppels pêrel op die vervalle gesig. Kara bring vir hom tee en maak seker dat die suurstofsilinder byderhand is op die hoederak. Hoewel hy sy eie medisyne het, gaan maak sy seker dat daar genoeg van die nodige kapsules in haar noodhulptas is, ingeval hy hartkloppings kry.

      “Onthou, op die noordwaartse vlug is dit jou beurt vir die papegaaibuis,” herinner Hermien haar.

      “Groentjies behoort aankondigings gespaar te word op hulle eerste vlug,” kla Kara. “Hulle lyding is reeds erg genoeg.”

      Hermien lag. “Jy sal dit oorleef, en dis goeie oefening. Vra asseblief vir die stuurkajuitbemanning wat hulle wil drink nadat ons opgestyg het. Dit sal my ’n klim met die trap bergop spaar.”

      Kara voltooi eers gou haar ronde met die silwermandjie en gaan maak kennis met Josef Truter.

      Hy is soos sy verwag het: ’n bedorwe brokkie. Nog neuroties daarby. Maar dalk met rede.

      “Ek haat legkaarte!” vaar hy uit en keer die doos wat Kara vir hom gebring het, op die vloer om. Legkaartstukkies lê die hele gang vol en oor die mense wat langs hom sit.

      Tydens hulle opleiding het die aspirantlugwaardinne in kindersielkunde geleer om met die kind te kommunikeer, hom kans te gee om sy saak te stel sodat hy soos ’n indiwidu in eie reg kan voel.

      “Hoekom?” vra Kara. “Ek glo nie ’n arme, onskuldige legkaart het iets gedoen om haat te verdien nie. Hy doen maar net sy bes om jou te vermaak.”

      “Hóékom? Omdat my ma dit altyd vir my gegee het om my besig te hou as sy ’n nuwe kêrel het en ek hulle nie moet pla nie. Dis hoekom sy en my pa geskei het: oor al die baie kêrels.”

      “Gaan jy nou by jou pa kuier?” vra sy.

      “Nee, by my ma. By haar en haar nuwe bosery. Ek bly by my pa, maar hy het ook ’n nuwe bimbo. Met sulke lang, rooi naels en geel hare. As my pa nie by is nie, knyp sy my altyd. Dis hoekom hy my vir die vakansie na my ma toe stuur – sodat hulle alleen kan wees.”

      Kara probeer weer ’n bietjie sielkunde. “As jy met haar vriende maak, sal sy van jou hou en jou nie knyp nie. Moenie haar pla nie, eet elke aand al jou kos op en sê dit smaak lekker.”

      “Ek hoef nie, want sy maak nie die kos nie. Sy koop net altyd hamburgers.”

      “Bied dan aan om die tafel te dek of die skottelgoed te was.”

      “Ons eet nie by die tafel nie; sommer op ons skote. Uit die bokse.”

      Kara ag dit raadsaam om vir eers liewer die onderwerp te verander. “Wil jy koeldrank hê?”

      “Ja.”

      Sy bring vir hom lemoensap, wat hy nie wil hê nie.


Скачать книгу