Baas van Babilon. Ena Murray

Baas van Babilon - Ena Murray


Скачать книгу
Hy behoort tog te weet dat antieke meubels nie in haar sfeer val nie. “Maar selfs ’n leek soos ek kan darem iets egs eien wanneer ek dit sien. Is dit alles erfstukke?”

      “Net party. Dit was eintlik my ma wat so ’n liefde vir die ou goed gehad en toe met die versameling begin het. Ná haar dood het ek daarmee voortgegaan, want sy het die liefde vir die egte en die tradisieryke in my gekweek. Elke stukkie wat jy in hierdie huis sien, het ’n klein geskiedenis.”

      Salome let op dat sy stem heelwat sagter klink en dat ook sy oë die veraf koelte verloor het terwyl hy van sy ma praat. Dan kyk hy na sy stiefma wat nog steeds net oë vir haar eie seun het. “Ma hou nie veel van die ou goed nie, maar gelukkig het Pa gekeer dat dit alles uitgegooi word en deur moderne dinge vervang is. Babilon se herehuis en wat daarin is, is deel van my erfenis, en nie ’n enkele ding sal hieruit verwyder word nie.”

      Dis weer die baas van Babilon wat praat, en Salome besef dat hy sy baasskap ook teenoor sy stiefma handhaaf. Joey de Ridder het die reg om solank sy lewe op Babilon aan te bly, maar dit is al. Ook binne die huis is Calvyn se woord wet, en Salome voel opnuut die beklemming op haar toesak.

      Dis ’n verligting om eindelik hul kamer aangewys te word en onder haar skoonfamilie se oë weg te kom. Hoewel haar skoonma haar openlik ignoreer asof daar nie so ’n mens bestaan nie, betrap Salome tog soms haar blik onverwags op haar. Elke keer kan sy die uitdrukking daarin so duidelik lees. Hoewel Deon in sy ma se oë net niks verkeerds kan doen nie, is sy beslis hierdie keer nie tevrede met haar seun nie. Maar sy sal dit nie op haar witbroodjie uithaal nie. Salome sal die een wees wat dit sal ontgeld, dit voel sy instinktief aan.

      Kort nadat hulle tee gedrink het, vra Calvyn verskoning en verdwyn na buite. Skielik is dit vir Salome asof sy heeltemal alleen agtergelaat is in ’n leeuhok, hoewel dit seker verspot is om te voel dat Calvyn haar in die steek laat. Op stuk van sake het hy nie gehuiwer om sy gevoelens oor sy halfbroer se troue te lug nie. Dit is geen geheim nie dat hy net so gekant teen haar teenwoordigheid hier op Babilon is as die ander twee.

      Die res van die teetyd sit sy soos ’n soutpilaar op haar stoel totdat haar skoonsuster eindelik aanbied om haar na haar kamer te vergesel.

      “Ek hoop jy is tevrede,” sê Ria toe hulle binnestap, en Salome se mond trek wrang. Wie is sy om kritiek uit te spreek oor die kamer wat haar aangewys is in die deftige herehuis van Babilon? Calvyn sou hulle tog ingelig het oor wie en wat sy is en dat sy – in haar eie woorde – ’n kerkmuis was toe sy met Deon getroud is.

      “Dis baie mooi. Baie dankie.” Haar stem is kalm, emosieloos, en die eerste keer beskou Ria haar broer se bruid met meer aandag. Deon se vrou mag alles wees wat Calvyn haar genoem het nadat hy van sy besoek aan die stad teruggekeer het, maar dat sy ’n mooi mensie is en beslis nie voorbarig en opdringerig of kruiperig nie, sal selfs hy nie kan ontken nie.

      Ria ervaar skielik die ongewenste drang om haar arms om die skraal skouertjies te slaan en die fyn gestaltetjie ’n oomblik teen haar vas te druk. Sy is self ’n fris meisie, en Salome vertoon nog fyner langs haar. In haar hart kry Ria de Ridder hierdie vroutjie jammer, want sy weet, beter as wat Salome self ooit kan vermoed, wat werklik op haar wag.

      Tussen haar skoonma, Calvyn en Deon gaan hierdie mensie fyngemaal word – en dít wens Ria selfs haar grootste vyand nie toe nie. Sy ken hulle so goed, omdat sy self deur die jare heen in hierdie meul was, rond en bont geslinger deur haar stiefma se uiterste snobisme en ongesonde liefde vir haar eie seun. Deon se selfsug en Calvyn se wil van staal … Toe sy jonger was, het sy in opstand gekom, maar mettertyd het sy geleer om nie teen die prikkels te skop nie. Jy maak jouself net seer. Nou aanvaar sy gelate dat haar lewe deur hierdie drie mense se wense en grille beheer word omdat sy op dertigjarige ouderdom reeds geklassifiseer word as ’n oujongnooi vir wie die lewe geen beloftes van vervulling meer inhou nie. As daar nog geheime drome in haar hart oorgebly het, weet net sy daarvan.

      Haar oë rus nou op die nuwe familielid, en meteens is sy bly dat Salome na Babilon gekom het. Vir haar beteken aansien en status nie soveel as vir die res van die De Ridders nie, omdat sy ook al daarvoor moes ly en haar offers moes bring. Vir haar is Salome ’n mens – iemand met wie sy vriendskap kan sluit omdat sy vriendskap so nodig het. In hierdie pragtige ou herehuis is daardie soort gevoelens maar skaars. Maar sy sal dit versigtig moet doen, sodat niemand agterkom dat sy nie omgee om met die ongewenste bruid van Deon bevriend te raak nie.

      Sy glimlag skielik, en Salome kan die verbasing nie uit haar oë hou nie.

      “Welkom op Babilon, Salome. Ek hoop …” Sy swyg vinnig. Sy wou sê: “Ek hoop jy sal baie gelukkig hier wees.” Aangesien sy weet dat dit tog nie moontlik sal wees nie, verander sy haar sin: “Ek hoop jy sal vir my sê as jy enigiets nodig het.”

      In die dae wat volg, leer Salome haar skoonfamilie ken. Aan die einde van die eerste week kan sy al ’n baie raak opsomming van elkeen gee en weet presies wat om van elkeen te verwag. Sy weet, onder meer, dat sy absoluut niks van haar skoonma moet verwag nie; dat sy geen hoop in haar hart moet koester dat hierdie hooghartige vrou haar ooit as haar enigste seun se vrou sal erken en aanvaar nie. Waar sy enigsins kan, maak Joey de Ridder asof sy eenvoudig nie van ’n mens soos Salome se bestaan bewus is nie. Wanneer sy soms verplig is om na Salome te kyk of met haar te praat, is haar oë en stem ewe ysig en minagtend. Salome verkies om liewer heeltemal geïgnoreer te word.

      Ria de Ridder kon sy nog nie heeltemal plaas nie. Soms is haar skoonsuster heeltemal vriendelik teenoor haar, maar Salome kom agter dat dit net gebeur wanneer hulle alleen is. Sodra van die ander bykom, kruip sy in haar dop en hoewel haar oë geen vyandigheid inhou nie, raak sy weer ’n totale vreemdeling.

      Calvyn sien sy min. Hy is blykbaar ’n baie besige man en is bedags net aan eettafel te sien. Ook saans sien sy hom maar min, want hy trek hom meestal terug in sy studeerkamer, waar hy blykbaar besig is met die geldsake van die boerdery. Die kere dat hy wel in die geselskap is, is hy beleef vriendelik teenoor haar, maar nog altyd op daardie veraf, koel manier wat geen vriendskap of vrymoedigheid van watter aard ook al moontlik maak nie. Beleefde vreemdelinge, dis wat sy en haar swaer is, en so sal dit blykbaar bly, besef sy teen die einde van die eerste week.

      3

      Maar daar is iets anders wat Salome veel meer hinder as haar skoonfamilie se kille, afsydige houding. Deon het skielik vir haar ’n vreemdeling geword. Pleks daarvan dat die eerste huweliksmaande hulle nader aan mekaar gebring het, het dit ’n stelselmatige verwydering tussen hulle veroorsaak – ’n kloof wat sy reeds in die stad agtergekom het, maar wat hier op Babilon elke dag al opmerkliker en groter word. Sy durf dit nie langer ignoreer en aan haar verbeelding toeskryf nie.

      Hy kom en gaan gedurig sonder dat hy iemand, selfs vir sy vrou, sê waarheen en waarom. Hulle is nooit meer alleen nie, en wanneer hulle saans eindelik privaat in hul kamer is, is daar skielik niks om oor te gesels nie. As die ander huismense Deon se gedurige afwesigheid opmerk, sê hulle niks nie.

      Op ’n dag merk Ria terloops op dat Deon ’n geweldige groot vriendekring in die omgewing het en steeds baie gewild is onder die jong mense. Hy soek seker maar almal weer op. Salome het niks daarop te sê nie, want dit is onnodig. Albei dink dieselfde: ’n man vat sy vrou saam en stel haar bekend wanneer hy sy vriende van weleer opsoek.

      In die stad sou Salome miskien nog met Deon hieroor gepraat het, maar dis of sy, sedert hulle op Babilon aangekom het, nie meer die vrymoedigheid het om met haar man te gesels oor dinge wat haar hinder nie. ’n Wye poort skuif stadig maar seker tussen hulle in. Hoe groot daardie gaping reeds is, laat Salome verslae teen die einde van haar eerste week op Babilon. Daar is niks wat sy daaraan kan doen nie, besef sy bitter. Sy staan heeltemal magteloos. Nie net het sy geen voeling met Deon se mense nie, sy het ook heeltemal kontak met hom verloor.

      Wat soek ek hier op Babilon? is die vraag wat telkens by haar opduik. Hoekom bly ek hier?

      Sy is net ’n vyfde wiel aan die wa hier. Haar skoonma wil beslis geen skoondogter hê nie. Die baas van Babilon ignoreer haar bestaan. Deon toon duidelik dat hy nie werklik ’n vrou nodig het en beslis ook nog nie ryp vir die getroude lewe is nie. Dis net Ria in wie Salome ’n moontlike vriendin sien, maar sý is ’n nietige, minder belangrike ratjie in


Скачать книгу