Vyf vir vreugde. Ena Murray
te sit nie. Sy weet ook nie waar sy die moed vandaan haal om hom terug te antwoord nie. “En u het geen geduld of genade met swakheid … met menslike onvolmaaktheid nie? Dis benede u?”
“Sarkasme sal jou nêrens bring nie, doktor Louw. Dit maak my net meer oortuig daarvan hoe min bevoeg jy is om Hein se probleem op te los. Maar, as jy wil weet … nee, ek het nie veel genade nie. Jy weet wat reg en verkeerd is in die lewe en as jy die verkeerde doen, is dit jou keuse. Maar een ding sê ek jou vandag: As jy Hein wil pamperlang, hom laat dink die hele wêreld is teen hom, dat sy daggarokery die skuld van ander mense is … of, laat ons maar op die man af praat, die skuld van sy pa is, wil ek net sê: Jy gaan jou vasloop! Die lewe bestaan uit veel meer as net mooipraatjies en soet woordjies, doktor Louw. Daarmee gaan jy nie die lewe se probleme oplos nie – ook nie Hein s’n nie.”
Sy sluk. Hierdie man is absoluut ondeurdringbaar en ongenaakbaar. “Hoe het u gedink, meneer Brynard, as ek mag vra, om u seun se probleem te hanteer?”
“Ek is nie van plan om dit te hanteer nie, doktor Louw. Hy is ’n groot seun van sewentien, heeltemal intelligent, ’n jong man al. Hy gaan dit self hanteer.”
“Maar hy kan nie!”
“Nie? Hoekom nie? Hy kon dagga begin rook het. Hy kan weer ophou.”
Sy kyk hom verslae aan. Maar dié man is nie reg wys nie! Weet hy dan nie …? Hy is tog self ’n geleerde, intelligente mens.
Hy glimlag skeef vir die uitdrukking op haar gesig. “Moet jou nie so ontstel nie, doktor Louw. Daardie seun van my het sy swakhede soos enige ander mens. Dit is die afgelope tyd bewys. Maar Hein het ook sy sterk punte. Hy sal deur dit alles kom, maar natuurlik op die harde manier. Hy sal nog baie foute in die lewe begaan en hy gaan sy kop nog baie keer stamp. Maar ek is nie van plan om elke keer salfies aan te smeer nie. Party mense leer net deur seer te kry en party leer nooit nie, en niks wat ek of jy of enige sielkunde-handboek sê of doen, sal die mens se inherente aard ooit kan verander nie.”
Sy kyk verslae op haar hande. Sy weet nie of sy al ooit in haar lewe so magteloos gevoel het nie. “Wat stel u dan voor, meneer Brynard?”
“Ek stel voor, doktor, dat jy nie my seun met soet glimlaggies en woordjies probeer oorhaal om nie dagga te rook nie. Ek stel voor dat jy hom liewer konfronteer …”
“Maar dit kan nie gebeur nie, meneer Brynard! Daardie kind het liefde en aandag en begrip nodig, anders gaan ons hom verder in die afgrond stoot.”
“Jy, doktor Louw, gaan hom beslis deur soet woordjies en ’n gepamperlang die bodem van daardie afgrond laat sien. Want as Hein nie nóú leer om op sy voete te staan en te weet wanneer hy nee vir iets moet sê nie, wanneer gaan hy leer? Hy is ’n seun van sewentien. Dan gaan hy in die toekoms net weer iets anders aanvang. Miskien volgende keer iets ergers.”
“Het u regtig so min geloof in u kind, meneer Brynard?”
“Ek het geen geloof in enigiemand nie, doktor Louw. Hoekom sal ek dit in my eie vlees en bloed hê? Deur die jare is daar nie aan my getoon dat hulle anders is as enige ander mens wat hierdie tranedal bewandel nie. Hulle is miskien nog slegter as die gewone mens – of swakker.”
Sy kyk hom met vernoude oë aan. Daar is ’n bitter kern binne-in hierdie man en op hierdie oomblik is dit asof sy met die blote oog daarteen vaskyk. Hy het in geen mens enige geloof nie, ook nie in sy eie nie. Êrens in die verlede moes iemand hierdie man so onbeskryflik teleurgestel het dat hy sy geloof verloor het, dat alle sagtheid, alle deernis uit hom gedreineer het.
Arme Hein. Sy begin stadigaan verstaan hoekom hy na ’n daggasigaret gegryp het.
Dit is ’n oomblik stil tussen hulle. Dan kom sy stem beleef, uitdrukkingloos: “Kan ek jou nog iets aanbied?”
“Nee dankie. Ek sal nou moet gaan.”
Hy knik, maar toe sy wil opstaan, hou sy blik haar op die stoel vasgepen. “Moet jou nie so ontstel nie, doktor Louw. Jy is nog baie jonk. Jy sal nog leer ’n mens moet die lewe nooit te ernstig opneem nie.”
“Nie eens as jou seun begin dagga rook nie, meneer Brynard?”
“Nie eens dán nie, doktor Louw. Want niks op aarde is werklik van soveel belang nie. Die lewe het ’n manier om in ’n patroon te val. Ook in Hein se geval sal dit gebeur, met of sonder jou hulp. Dit is nie goed of wys om te intens oor die lewe te raak nie.”
Sy besluit om dit te waag. Sy het reeds hierdie man teen haar. Sy het van die begin af nie sy samewerking gehad nie – wat maak dit dan tog saak?
“Praat u uit persoonlike ervaring?”
Hy grynslag. “Hoe dink jy?” Dan staan hy op, wag beleef dat sy voor hom verbystap.
Op die sypaadjie voor die restaurant kyk sy op na hom. “Dankie vir die ete, meneer Brynard.” Maar sy het nie die vaagste benul wat sy vandag geëet het nie.
Hy kyk af na haar, amper peinsend, skielik nie meer so erg antagonisties nie. Dit lyk amper asof hy ’n vaderlike houding teenoor haar wil inslaan. “Ons kan weer oor Hein gesels as jy wil. Hy gaan jou weer kom spreek, nie waar nie?”
“Ja.”
“Wel, laat my weet hoe jy vorder.” Haar strak gesig vertel hom sy is glad nie van plan om dit te doen nie, en sy stem kry skielik ’n vreemde klank wat sy nie juis kan peil nie. “Het jou handboeke jou nie geleer ’n mens moenie veroordeel voordat jy nie alles weet nie?” Sy kyk verras op na hom. “Jy ken nie die agtergrond nie. Moet dus nie te hard oordeel nie, doktor Louw. Miskien veroordeel jy my glad nie as jy eers die hele storie ken nie.”
Sy weet hy praat nie nou oor Hein nie. Dit is haar veroordeling van hóm waarna hy verwys. En skielik ontstaan ’n drang in haar om die hele storie te ken. Haar oë pleit nou onbeskaamd met hom. “Maar dis wat ek graag sal wil weet, meneer Brynard. Die hele storie. Ek is nie hier om te veroordeel nie. Ek wil begryp …”
“Ja. Miskien was ek ook te gou in my oordeel.” Hy glimlag amper onwillig. “Ons twee moet maar weer gesels. Tot siens, doktor Louw.” Die oë terg skielik. “Ek weet jy gaan nie doen wat ek jou gevra het nie. Jy gaan jou patroon volg soos jy jou voorgeneem het. Wel, alle sukses en ek bedoel dit. As jy kan bewys dat ek verkeerd is, sal ek dit erken. Ek is mans genoeg daarvoor. Maar as jy nie veel sukses behaal nie, moenie dink dit is die einde van jou loopbaan nie. ’n Mens leer algaande.”
Hy draai om, stap weg en sy sien hom tussen die mense verdwyn. Haar verstand staan stil. Sy weet nie wat om te dink nie. Waar Hein Brynard se geval maar een van talle is wat sy moet hanteer, deel van ’n lys name op haar werkprogram, het dit nou skielik, ná hierdie onderhoud, verander. Hein Brynard het ’n unieke geval geword … ’n uitstaande geval, amper iets persoonliks.
Daar is ’n vasbeslote trek in haar oë toe sy haar spreekkamer binnestap. Sy sal daardie Ruben Brynard wys hy is verkeerd. Háár metode is die regte een … want as hulle wat langs die pad val nie begrip en liefde kry, ’n helpende hand om hulle op te trek nie, wat gaan dan van die wêreld word? Wie van ons val nie minstens een keer nie?
Sou hý al hard geval het?
Sy roep die man se beeld in haar gedagtes op. Sy kan haar nie voorstel dat hy ’n man is wat kan val nie. Hy is so seker van homself, so beslis omtrent alles wat hy sê, wat hy voel, wat hy doen. En tog het sy die eienaardigste gevoel dat Ruben Brynard meer begrip en liefde nodig het as sy seun Hein …
2
“Het u sy pa reeds laat weet, meneer Smit?”
“Ja, doktor. Ek kon natuurlik niks anders doen nie. U begryp …”
“Natuurlik. Ja, ek begryp.” Louwda is ’n oomblik stil, weet nie wat om te sê nie. Wat sê ’n mens? ’n Gevoel van mislukking lê vlak in haar.
“Dankie dat u my laat weet het, meneer Smit. Ek waardeer dit.”
“Goed, doktor.” Hy aarsel ’n oomblik aan die ander kant. “U begryp dat ek niks anders kon doen nie, doktor?