Ontsnap!. Albert Blake

Ontsnap! - Albert Blake


Скачать книгу
Britse sensor het daar ook verhoed dat die volle waarheid vertel word. Uit vrees vir vergelding teenoor helpers is sensitiewe inligting oor ontsnappingspogings gevolglik vermy. Selfs in publikasies wat kort ná die oorlog verskyn het, is die identiteit van burgerlike meewerkers wat ontsnappers behulpsaam was uit vrees vir vergelding verswyg.8

      Sommige krygsgevangekampe soos Deadwood op St. Helena en Diyatalawa in Ceylon het ’n groot aantal dagboeke opgelewer, terwyl daar oor minder bekende kampe (veral in Indië en in ’n mindere mate Ceylon en Bermuda) skrapse inligting is. As daar ontsnappingspogings vanuit daardie kampe was, het daardie inligting waarskynlik verlore geraak. Waar oudkrygsgevangenes dekades later hul herinneringe opteken, het die outeurs se geheue hulle dikwels in die steek gelaat en moes die ware feite met moeite ontrafel word.9

      Ure se vrugtelose gesoek in die argiewe na nuwe inligting kan vir die ongeduldige navorser baie frustrerend wees. Gelukkig bied moderne tegnologie en die internet wonderlike geleenthede vir die historikus om verdere inligting op te spoor. Nie net vergemaklik dit toegang tot die onontbeerlike databasisse van bewaarplekke soos die nasionale en provinsiale argiewe en die Oorlogsmuseum van die Boererepublieke nie, maar dit maak ook ’n magdom inligting beskikbaar soos berigte wat gedurende die oorlog in buitelandse koerante verskyn het, wat ’n mens andersins dalk nie onder oë sou kon kry nie.

      Die publisiteit wat die Boere se ontsnappingspogings destyds in koerante in alle uithoeke van die wêreld ontvang het, was ’n openbaring. Verhale wat vandag in Suid-Afrika grotendeels vergete is, het destyds wêreldwyd opslae gemaak.

      Krygsgevangenes se ontsnappingsverhale word natuurlik deur ’n sekere mate van romantiek omgeef, wat beteken dit word maklik aangedik. Dit bly uiteraard die historikus se plig om tussen verdigsel en feit te onderskei en dus skepties te bly totdat genoegsame verifikasie vir alle aansprake gekry is. Tog is die ou bekende gesegde dat die waarheid soms vreemder as fiksie is, dikwels hier van toepassing. Die wedervaringe van sommige van die burgers wat probeer ontsnap het, klink inderwaarheid na verbeeldingsvlugte uit fiksieverhale, maar dit is waar.

      Die doel is nie net om suksesvolle ontsnappings te beskryf nie, maar ook pogings wat misluk het. Sommige van die mislukte ontsnappingspogings is net so aangrypend as dié wat geslaag het. Ander weer was desperate en soms naïewe pogings, wat dikwels op die oog af aangepak is sonder enige ontsag vir die moontlike gevolge daarvan. Tog bly dit ’n toonbeeld van die mens se onblusbare strewe na vryheid.

      In die onnatuurlike omstandighede wat oorlog meebring, kom die slegste van die mens na vore, maar ook gereeld die beste. Dié kontras vorm ’n sentrale tema van hierdie werk. Enersyds is die ontsnappingspogings van die Boerekrygsgevangenes inspirerende ware verhale van durf en moed. Die verhale van Boerekrygsgevangenes se ontsnappings ontbloot andersyds ook die mens se feilbaarheid, want die mislukking van talle ontsnappingspogings was nie weens die gevangenes se onvermoë nie, maar as gevolg van verraad in eie geledere.

      Die mensdom sal waarskynlik altyd gefassineer wees deur verhale van gewone mense wat buitengewone dinge doen en van die onbreekbare gees van party. Dit het inderdaad uitsonderlike eienskappe van krygsgevangenes geverg om te probeer ontsnap, ongeag of hulle suksesvol was of nie. Dié boek stuur nie af op eensydige of onverbloemde heldeverering nie, maar ’n ewewigtige vertelling van historiese gebeure wat ons wel vandag nog kan inspireer. Dit is merkwaardige geskiedenis wat nie verlore behoort te gaan nie.

      1

      DIE EERSTE ONTSNAPPING

      Terwyl die HMS Penelope die nag van 18 Desember 1899 met gevange Boere in die baai van Simonstad geanker lê, klim die 20-jarige Kepler de Meillon deur ’n patryspoort van dié Britse oorlogskip, waarna ’n paar burgers hom help om ongemerk met ’n skeepstou na die water te sak. Op die skeepsbrug trek ’n ander krygsgevangene die Britse wag se aandag af van wat die eerste ontsnapping van ’n Boerekrygsgevangene vanaf ’n Britse skip sal wees.1

      Toe die oorlog net meer as twee maande vroeër op 11 Oktober 1899 uitgebreek het, het die leiers van sowel Groot-Brittanje as die twee Boererepublieke naïef geglo dit sou teen Kersfees reeds verby wees. Die uitgerekte en verwoestende oorlog wat sou volg, is nie voorsien nie. Gevolglik het geeneen van die partye aanvanklik behoorlik voorsiening gemaak vir die oprigting van aanhoudingskampe vir duisende krygsgevangenes nie.2

      Met die bloedige nederlaag op 21 Oktober 1899 by Elandslaagte in Natal word die eerste Boerekrygsgevangenes deur die Britte geneem. Kepler de Meillon word ook gevange geneem nadat albei sy perde in die geveg doodgeskiet is.3 Saam met 186 ander krygsgevangenes word hy na Durban vervoer, van waar hulle per skip na die Britse vlootbasis by Simonstad aan die Kaapse Skiereiland geneem word. Op 2 November 1899 word dié groep krygsgevangenes na die HMS Penelope oorgeplaas.4 Ander Boere wat tydens die eerste fase van die oorlog gevange geneem is, is ook op Britse vloot- en transportskepe in Simonsbaai aangehou, terwyl die Britse owerhede rondgeval het om krygsgevangekampe op land by Simonstad en Groenpunt in Kaapstad op te rig. Die situasie het al hoe meer onhanteerbaar begin word.5

      Dit was ’n tyd van onsekerheid en ontbering, maar ook verveling vir die krygsgevangenes op die skepe. Met die terugslae wat die Britse magte in die beginfase van die oorlog op al die fronte gely het, was gerugte in omloop dat die Boerekrygsgevangenes vir Britse krygsgevangenes uitgeruil sou word.6 Nie al die krygsgevangenes was gediend daarmee om met die frustrerende onsekerheid, eentonigheid en swaarkry op die skepe saam te leef nie.

      Copernicus Kepler de Meillon was een van daardie uitsonderlikes wat hom deur niks en niemand sou laat inperk nie – ’n individualis met ’n sterk wil en ’n hardekwas en roekelose streek. Dit is waarskynlik ook hierdie uitsonderlike eienskappe wat op die lange duur tot sy dood sou bydra.

      Voor die oorlog het die jong De Meillon ’n suksesvolle klein melkery en konstruksieonderneming in Johannesburg bedryf. Sy ouers was vooraanstaande en welgestelde Afrikanerinwoners van die stad. Sy pa was kommandant van Johannesburg, maar het weens siekte nog voor die oorlog van die amp afstand gedoen. Te oordeel na al die geskrifte in Pretoria se argief oor geskille waarby De Meillon sr. in die 1890’s betrokke was, moes hy na alle waarskynlikheid ’n moeilike man gewees het.7

      Met die naderende oorlog is Kepler de Meillon reeds voor die einde van September 1899 saam met die Johannesburgse kommando na die Natalse front, terwyl hy sy onderneming in sy pa se sorg gelaat het.8

      Nadat De Meillon se makkers hom vanaf die Penelope in die water neergelaat het, slaag hy daarin om ongesiens na ’n verlate skuitjie te swem wat halfpad tussen die skip en die land aan ’n boei vasgemeer is. Daar rus hy ’n rukkie in die skuitjie, waarna hy na die land swem. Op die strand gee hy ’n laaste teken aan sy makkers op die Penelope dat hy veilig is voordat hy in die nag verdwyn.9

      Die volgende oggend kom die Britse wagte met die aflees van die naamlys (roll call, of spottenderwys “roukool” deur die Boere genoem) agter een van die krygsgevangenes op die Penelope is weg. ’n Kat-en-muis-speletjie volg tussen De Meillon se makkers en die wagte. Om tyd te probeer wen, noem sy neef Henry de Meillon10 dat een van hulle by die dokter is. Nadat vasgestel is dit is nie die geval nie, is die skip haarfyn deurgesoek.

      Intussen het De Meillon se groepbevelvoerder, adj. Johannes Smith11, sy gemaakte besorgdheid teenoor die Britse offisier uitgespreek dat De Meillon dalk oorboord geval en verdrink het omdat hy nie kon swem nie. De Meillon sou kwansuis die afgelope tyd baie neerslagtig en afsydig gewees het. Twee ander gevangenes dik nog aan en vertel hulle is die vorige nag deur ’n geskreeu wakker gemaak. Nadat hulle uit hul hangmatte geklim en ondersoek ingestel het, kon hulle niks vind nie en het hulle die lawaai afgemaak as iemand wat in sy slaap geskree het.12

      ’n Tyd lank sluk die Britse bevelvoerder die versinsels en hy ontbied ’n duiker vanaf die Britse kruiser HMS Doris13 wat van naby af ’n wakende oog oor die Penelope gehou het. In sy dagboek skryf die krygsgevangene Leendert Ruijssenaers14 die Boere het oor die relings van die Penelope geleun en die spektakel met gemaak strakke gesigte aanskou. Nietemin moes die duiker met sy boaardse duikpak van daardie tyd vir hulle ’n vreemde skouspel gewees het toe hy die dieptes ingelaat is. Nadat hy ’n paar uur om die Penelope beweeg het, kon die duiker net ’n paar ou skoene en onbelangrike artikels op die seebodem vind totdat hy sy soektog weens uitputting moes staak. Die Britse bevelvoerder het begin vermoed De Meillon


Скачать книгу