Ontsnap!. Albert Blake

Ontsnap! - Albert Blake


Скачать книгу
van die Penelope aangebring en die wagte verdubbel. Geeneen van die gevangenes is weer toegelaat om op die dek te slaap nie – ’n vergunning wat aan sekeres verleen is om die bedompige onderste ruim te vermy. Voortaan is absolute stilte saans ná 21:00 afgedwing. In ’n poging om die Britte op ’n verdere dwaalspoor te bring, is De Meillon beskryf as ’n 40-jarige man met ’n blas gelaat en swart baard, terwyl hy in werklikheid 20 jaar oud was met ’n ligte gelaatskleur, blonde hare en grys oë. Hierdie keer laat die Britte hulle nie vang nie en ’n korrekte beskrywing van De Meillon is na die land gestuur. In die binneland is ’n grootskaalse soektog na hom van stapel gestuur.15

      Luidens ’n berig in ’n buitelandse Engelstalige koerant het De Meillon in ’n huis in Observatory geskuil.16 Waarskynlik het hy die hulp van familie gehad wat in die Kaap gewoon het. ’n Medegevangene, D.J. du Toit,17 vertel in sy herinneringe De Meillon het ’n paar dae lank by sy oom weggekruip toe ’n goedgesinde Engelse buurvrou hulle kom waarsku die polisie is op sy spoor en hy moet dadelik vlug. Voorsien van genoeg geld het De Meillon hom na die naaste stasie gehaas en op ’n trein geklim wat gereed was om te vertrek. Die geluk was egter teen hom, want die trein was op pad terug na Simonstad en daar was ’n wakker speurder aan boord. De Meillon is by Wynberg in hegtenis geneem en in die Kaapstadse tronk gestop.18

      Die Britse militêre owerhede kon nie keer dat die nuus van De Meillon se ontsnapping uitlek nie. Dit was groot nuus in die internasionale Engelse pers.19 Dit het selfs in die Britse parlement opslae gemaak waar verduidelik moes word waarom niemand vir nalatigheid aanspreeklik gehou is nie.20

      ’n Engelse verslaggewer wat ná De Meillon se gevangeneming ’n onderhoud met hom probeer voer het, het hom as ’n “well-set up young fellow” beskryf. De Meillon was egter ontwykend met sy antwoorde, hoewel hy duidelik aan die verslaggewer te kenne gegee het hy gaan weer probeer ontsnap. Op 8 Januarie 1900 is hy terug by sy medegevangenes, wat hom soos ’n held ontvang. Ook teenoor hulle onderneem hy om weer te ontsnap.21

      De Meillon het woord gehou en minder as twee maande later, op 6 Maart 1900, ontsnap hy saam met ’n groep gevangenes met die groot uitbraak uit die kamp by Simonstad. Hierdie keer is sy ontsnapping suksesvol. De Meillon het sy weg uit die vyandelike Kaapse Skiereiland waarskynlik met behulp van pro-Boere gevind en daarna aangesukkel totdat hy in die Karoo goedgesinde Afrikaners gevind het wat hom ’n perd gegee het om na die naaste dorp te ry. Daar is hy van geld en ’n fiets voorsien. Uiteindelik het hy ná vele ontberinge in Oos-Transvaal aangekom, waar hy by ’n kommando van genl. Chris Botha aangesluit het en ook onder genl. Coen Brits tot aan die einde van die oorlog as bittereinder diens gedoen het.22

      De Meillon vind ná die oorlog met sy terugkeer na Johannesburg sy ouers moes na die Kaapkolonie uitwyk en sy melkery en konstruksieonderneming het tot niet gegaan. In die naoorlogjare was dit bitter moeilik om werk in die verwoeste land te kry en hy besluit om sy geluk op die delwerye by Barberton te probeer. Volgens verskillende bronne was hy sterk anti-Brits en het hy later besluit om na Duits-Wes-Afrika (die hedendaagse Namibië) uit te wyk eerder as om onder Britse oorheersing aan te bly. Daar het hy gehelp om die Herero-opstand van 1904-’07 te onderdruk. Kort voor die uitbreking van die Eerste Wêreldoorlog in 1914 verloor De Meillon ’n hofsaak oor omstrede mynregte in Duits-Wes wat hom verbitterd teenoor die Duitsers maak. Terug in Suid-Afrika het genl. Jan Smuts hom klaarblyklik persoonlik oorreed om sy en genl. Louis Botha se beleid van samewerking met die Engelssprekendes te volg.23

      Met die uitbreking van die Eerste Wêreldoorlog in 1914 bied De Meillon sy dienste aan die Unieweermag en word hy as intelligensieoffisier in die Imperial Light Horse aangestel – dieselfde eenheid wat 12 jaar tevore die vyand was. De Meillon was op die voorpunt van die Unieweermag-troepe wat Duits-Wes in 1914 binnegeval het en was die leier van die eerste groepie Suid-Afrikaanse troepe wat Lüderitzbucht (later Lüderitz) vanaf die see beset het. Daarna neem De Meillon met onderskeiding aan verskeie skermutselinge deel, waartydens hy gewond word. Hy herstel van sy wonde, neem verder aan die veldtog deel en verwerf bekendheid vir sy waaghalsigheid. Maar sy uurglas loop uit as hy op 22 Februarie 1915 in ’n skermutseling met die Duitsers by Aus sneuwel.24

      Dat vuurvreter-bittereinders soos De Meillon skaars 12 jaar ná die Anglo-Boereoorlog aan die Britse oorlogspoging sou deelneem, het grootliks te doen met die charisma van genls. Botha en Smuts. In die geval van die hardkoppige De Meillon het sy ommeswaai waarskynlik ook te doen gehad met sy vete met die Duitsers. So ver as in Nieu-Seeland het die koerant The Ohinemuri Gazette die verandering van ’n vurige anti-Britse De Meillon in ’n aktiewe ondersteuner van die Britse oorlogspoging met die Eerste Wêreldoorlog op ’n interessante dog tipies jingoïstiese wyse in 1915 probeer verduidelik:

      Little has been heard since the Boer War of Captain De Meillon, whose tragic death in German South-West Africa is just announced. His somewhat strange and romantic life casts an interesting light on how the mind of the fighting Boer in the individual as in the aggregate is subject to fluctuation of racial passion. De Meillon fought against the British with conspicuous tenacity. The termination of the Boer War by no means brought a softening of his ill-regard of the British. Rather than take the oath of fealty, he went into German South-West Africa. Meanwhile he had a taste of German justice and equity. A little more than a year ago he returned to the Transvaal, and learned exactly what Great Britain had done for South Africa, and how the Dutch were faring under the new regime … It resulted in his taking the oath of loyalty to South Africa and His Majesty the King, and when the conquest of German South-West Africa was decided upon there was no keener in the Union forces than De Meillon … The erstwhile Boer officer [sic] and anti-Briton subsequently became Chief of Intelligence to the Botha forces. It was at Aus where he met his death: With a handful of Hottentots he was ambuscaded, and fell riddled by German bullets.25

      De Meillon is die toonbeeld van die bittereinder in die Anglo-Boereoorlog, maar sy deelname aan die Unieweermag se inval in Duits-Wes-Afrika bly ook ’n voorbeeld van die verdeeldheid wat ná die Boereoorlog onder die eens hegte groepie bittereinders ontstaan het. ’n Onwrikbare groep Afrikaners was sterk gekant teen die inval omdat dit die Britse oorlogspoging aan die begin van die Eerste Wêreldoorlog gesteun het en in wese vir hulle immoreel was. Van dié groep wou ook van die geleentheid gebruik maak om die verlore republieke te herstel. Die gevolg was die Rebellie in 1914 waarin eertydse volksbroers die wapen teen mekaar opgeneem het.26

      Met sy eerste ontsnappingspoging in Desember 1899 het Kepler de Meillon die voorbeeld gestel vir ander waagmoediges om te volg. Aan die begin was daar gereeld pogings om te ontkom, maar die Britse militêre owerhede het gou uit hul foute geleer en het dit algaande moeiliker vir die krygsgevangenes gemaak om te ontsnap.

      2

      DIE ONTEMBARES

      Die uitgelese groepie Boerekrygsgevangenes wat enigiets sou doen om weer vryheid te smaak, was nie net onverskrokke nie, maar in baie gevalle ook ontembaar. Party is vermoedelik gedryf deur die adrenalien en opwinding wat gevaarlike situasies bring, terwyl ander dit eenvoudig nie kon duld om so ingeperk te wees nie.

      Dit verg ’n besondere individu om met ontoereikende gereedskap, soms selfs met kaal hande, in die stikdonker en in stilte ’n tonnel te grawe wat enige tyd kan intuimel en jou versmoor. Dit verg uiterste waagmoed om deur skynbaar ondeurdringbare doringdraadversperrings na vryheid te hardloop met die wete dat jy deur Maxim-masjiengewere afgemaai kan word, óf om in die nagdonker alleen vanaf ’n gevangenisskip in onstuimige haaiwaters te spring en onder soekligte tussen bote met gewapende wagte op na vryheid te swem, óf om duisende kilometers van jou vaderland uit aanhouding te ontsnap en meer as halfpad om die aarde jou weg terug na die oorlogsterrein te moet vind …

      Dié mense het geen tekort aan waagmoed gehad nie. Sulke individue vind ’n mens in feitlik alle oorlogsituasies en alle volke, ook onder die Boerekrygers van die Anglo-Boereoorlog. Dit het uitsonderlike eienskappe geverg om die bykans onmoontlike aan te pak sonder enige versekering dat jy suksesvol sal wees of eers met jou lewe daarvan sal afkom. Tog was hul versugting na vryheid die een ding wat talle krygsgevangenes aan die gang gehou het.

      Om hul dryfvere te bepaal, sou ’n psigobiografiese persoonlikheidsondersoek van al die ontsnappers vereis, maar dit is weens ’n gebrek aan inligting nie moontlik nie. Op die oog af kom dit egter voor asof die Boerekrygsgevangenes wat tot elke


Скачать книгу