Debora en seuns. Helene de Kock
tion>
Debora en seuns
Helene de Kock
Human & Rousseau
Vir Jos
Proloog
1946
Tussen weggaan en terugkom lê daar ’n kloof. En tuiskoms is nie gewaarborg nie. Dit weet Margot nou vir seker.
Haar hart sit in haar keel toe hulle die dorp binnery. Alles vertoon min of meer dieselfde – en tog ook nie. Sy herken ’n paar gesigte op sypaadjies maar hulle merk nie werklik die vreemde kar op nie. Te toegespin in hul eie bestaan. Daar is tant Sina wat ouer geword het, die mond diep ingekeep. En Trudie wat ’n babawaentjie stoot. Nou toe nou. Hulle ry verby Debora en Seuns en sy wonder wie op die oomblik in die winkel is. Erik dalk … of net Debora en Elisa. Maar sy raai net. Sy staar oor ’n kloof in ’n skemerte in. Sy sal geduldig moet wees. En bereid om verandering hier te aanvaar. Al het syself ook tot verandering bygedra. Maar die oorlog was die grootste oorsaak dat baie dinge onherroeplik verander het. Só troos sy haarself, maar die gevoel dat sy onder iets of iemand gaan deurloop, wil nie wyk nie. Dit ís so dat sy weggeloop het. En nou rol die jare terug en sy word bang.
Vasgevang deur klein paniek loer sy na die man agter die stuur en sien die effense keep tussen die wenkbroue. Hy probeer ook bo-oor die kloof kyk, weet sy intuïtief. En sy draai om na die slapende kind op die agterste sitplek. ’n Weekheid kom oor haar. Liewe Vader, laat alles tog wel wees. Sy sug verlig toe hulle die binnedorp uitry, die buurte in.
Halfpad teen die bult uit hou hy in die stofstraat stil, trek die handrem van die Morris Minor knarsend op. Agter hulle in die straat hang die stof roesbruin in die laatlig. Hulle kyk na die huis met die wit mure en Victoriaanse traliewerk heel aan die bopunt van die straat. Die digte ry sipresse wat aan weerskant die erf beskut. Dit lyk nog nes altyd. En herinnering vang haar met ’n koel en skokkende suiwerheid – vars soos die Oos-Vrystaatse lug om hulle. Sy herroep tot die geure van die huis. Die botter-en-vanilla van die kombuis, die delikate fyngeur van die laventelbosse in die dubbele dorpserf, die soet geur van hope gedroogde roosblare wat Debora in seep gegooi het. En die vrou se heserige stem wat tussen die werkery deur opklink.
Sy sluk aan die stramheid in haar keel. Sy het dit so amper alles verloor. Dat sy dit op hierdie oomblik so helder kan oproep, is klaar ’n mirakel. Haar oë drink elke klein besonderheid van die huis in.
Die laaste sonstrale het die ryk helderheid van marmelade. Dit glim op die hoë spitsdak en tussen die stewige vrugtebome wat geil in drag weerskant van die huis staan. Die soel skemer dra die dag se hitte nog voelbaar sodat Margot haar welige krulhare oor haar skouers terugstoot.
’n Byna vergete deernis wel in haar op. Daardie huis met sy verskuilde geskiedenis is in haar bloed.
Nou, by die aanskoue daarvan, kan sy dit nie ontken nie.
Selfs in die tyd toe sy so woedend en radeloos van verlange was, was hierdie plek háár plek.
“Sien jy kans?” vra hy, raak vlugtig aan haar knie. Sy kan die onrustige stuwing van sy gedagtes aanvoel soos wat mens die koers van die wind kan peil. En sy dink bedug: Hoe mooi moet mens trap.
“Vir Debora of vir jou?” vra sy nietemin speels.
“Vir albei. Jy weet dit so goed soos ek.”
Sy vang die onderliggende angstigheid in sy stem op. Hy is steeds so behoedsaam. So intens ernstig. Bly maar bang vir die lewe se byt. Dit vat so aan haar dat sy haar lippe opmekaar moet klem. Hoe kwesbaar is hy. Nes ’n klein dier wat wie weet wanneer seergekry het en steeds maklik sal wegskarrel.
Sy draai dwars op die sitplek, haar oë op die strak mond. “Natuurlik weet ek dit. Wat is daar van jou wat ek nie weet nie?” Sy leun oor en neem sy gesig in haar hande, voel in haar palms hoedat hy begin meegee. Uitreik na haar. Hierdie uiteindelike en volkome oorlewering van homself. Hoe lank het dit hom geneem. Hoe lánk.
Sy kyk in sy oë, soen hom op die punt van sy neus, toe op albei gladgeskeerde wange en laastens vol op die mond. Sy voel met genoegdoening hoedat sy arms om haar vasklamp. Sy lippe verken hare met ’n passie wat haar asem vlak in haar keel laat jaag. En toe hy sy kop lig, is daar lag in sy oë. Hy glimlag sy sterk wit glimlag wat ’n kreukel in sy regterwang maak.
“Margot wat so baie weet.” Hy trek sy asem diep in: “En jou woorde is altyd so helder. Ek kan selfs die kommas en punte hoor.”
Sy sit tjoepstil in sy omarming. Weet goed hoe skaars sulke ontboesemings is. Maar sy kan dit nie weerstaan om hom te terg nie. Dis immers iets wat hy nou sal moet gewoond raak. Speelsheid.
“Hulle sê woorde kan hartstog wek.” Haar vingers speel oor sy gesig, rus lig op sy mond.
Hy vat haar vingerpunte vas, druk sy lippe daarteen en fluister: “Ja, jóú woorde maak my bene lam. Nog altyd.” Toe hy besef wat hy gesê het, stoot ’n gloed onder sy soel vel op. Toe eers merk hy die lag in haar en glimlag ook skeefweg.
“Kom, my lief,” sê sy. “Laat ons na Debora toe gaan. Ek verlang al na haar.”
Hy sug verlig en sy voel die klein prik van haar gewete.
“Regtig,” paai sy om hom verder gerus te stel, “dit was te lank.”
“Ja,” sê hy, “heeltemal te lank.”
Hoofstuk 1
Margot se gedagtes is voortdurend met die Schlagerfeldts besig, soms teen haar sin. Maar sy kan nie anders nie, kon nog nooit nie. En nou in haar matriekjaar het haar vrae nie minder geword nie, al ken sy hulle reeds so goed.
Want in hierdie dorp het Debora se storie die mense dwarsdeur die Depressiejare en die lange droogte bly fassineer. Nie eens die feit dat daar pas weer ’n oorlog in Europa uitgebreek het, maak die Schlagerfeldts minder interessant nie. So tussen die skinderpraatjies deur koop die huisvrouens deesdae koorsig die blikkies boeliebief, tee, koffie en suiker in die winkels op. In Eisenstein se winkel was die houtrakke laas Saterdag feitlik leeg. G’n konfyt of Marmite oor nie.
Opgaarders! kryt die koerante die berserkte kopers uit.
Dié optrede is uit angs gebore, so meen Margot se ma, Susan Scott. En Margot weet dis waar. Mense is bang dat iets gaan opraak. Of erger, wegraak. Hul daaglikse brood. En hul vrede. Daarom maak hulle bymekaar.
Selfs Debora se snoepgoedwinkeltjie word byna daagliks leeg gekoop. Daaroor wys die dorpenaars ook vroom vinger na mekaar. Die jaar 1939 het weer eens sulke sware tye gebring en dan ooreet mense hulle aan swiets en jêm. Om van daai vrou se sponserige brode nie te praat nie.
Margot wag vir haar ma om klaar te maak vir die biduur en voel hoedat ’n loomheid haar oorval. Sy het haar vanmiddag kaduks geleer aan die geskiedenis en Engelse letterkunde. Sy kan Macbeth wat vir matriek voorgeskryf is al amper opsê. As haar ma nie gou kom nie, raak sy net hier aan die slaap.
Haar gedagtes dwaal weer na die Schlagerfeldts. Debora se storie is op hierdie Oos-Vrystaatse dorp sowaar al van alle kante af bekyk. Vrou-uit-die-nag is die gewildste variasie op die tema. Hoe onoorspronklik, merk Susan Scott soms op. Volgens haar kan dié storie net een titel hê: Debora en seuns.
Want, beduie Susan dikwels, Debora het soveel fasette dat mens onmoontlik net een kan uitlig. Die feit dat sy en haar mense uit die nag te voorskyn gekom het, is irrelevant. As sy in daglig gearriveer het, sou die misterie presies dieselfde gewees het. Want Debora én haar seuns is uniek. Selfs al is daar sterk familietrekke op al drie die kinders se gesigte te bespeur, aard hul elkeen net na homself.
Met al haar ma se stellings kon Margot mettertyd volkome saamstem. Sy self het dikwels oor hul geheimsinnige koms gewonder. En vanaand krap-krap haar gedagtes weer op soek na antwoorde. Vrae wat voorheen net ’n gekriewel was, word deesdae vir haar dwingend belangrik.
Debora-hulle het redelik vroeg in die dertigerjare net een nag gearriveer. Nogal kort na dié Aprilmaand in 1934 wat Adolf Hitler sy vernaamste politieke opponente om die lewe laat bring het in die sogenaamde Nag van die Lang Messe. Die gemoedere was toentertyd, nes nou, opgesweep