Louisa du Toit Omnibus 9. Louisa du Toit
sewe, agt maande lank terug op Isaacsdam. Sy is seker gans en al te haastig met haarself. ’n Mens kan nie so gou vergeet nie. Veral nie as die herinnering gevlek is nie. Die suiwer diamant van hulle liefde het toe op die ou end ’n barsie getoon, ’n vlek, wat die hele kosbaarheid deurklief het. Dit nadat hulle reeds oor die diamante in verloofringe gepraat, voor juweliervensters getalm het. Miskien is dit nog die grootste remming in haar poging om te vergeet: dat dit só moes gebeur.
Middernag op Isaacsdam is laat om aan die slaap te raak; maar dis nie te versmaaie nie. En daarom is Katrien dankbaar vir die rukkies van sluimering tussen die gedagtes deur.
Sy is nietemin vroeg op. Soos middernag ’n late uur is om op Isaacsdam bed toe te gaan, so is sewe-uur, eintlik sesuur, ’n late uur vir opstaan. Daarom staan sy om halfses op. Gileam kom etlike dae per week sy eerste koppie koffie hier drink. En vanmôre sal hy beslis vroeg op die been wees. Hy gaan, in sy eie woorde, hom vandag aangord om die toekoms te oorwin. Hy het onwrikbaar besluit op ’n presiese kolletjie waar hy twee nuwe persele wat teen mekaar lê, wil koop. Tussen sy plaas en die rivier.
Dat hierdie planne haar insluit, is vir Katrien ’n vae kommer. Gileam is van plan om op te tree as haar “vennoot” in die nuwe winkel. Of geldskieter, of adviseur, of wat ook al. In die praktyk kom dit op een en dieselfde neer: sy kan dit nie sonder Gileam aanpak nie. Hulle albei weet dit. Nie finansieel en ook nie andersins nie. Sy is in wese nie ’n sakemens nie. Dis net dat sy gevoel het sy wil iets aanpak wat bokant haar vuurmaakplek is. Alleen so het sy enige hoop om uit haarself te kom. Sy moet opleef na iets toe. Iets wat haar op haar tone sal hou. Sy moet saans te moeg wees om die een voet voor die ander te sit. Beslis te moeg ook om wakker te lê.
En as sy dan naby genoeg kan wees om haar pa te versorg, is dit ’n bonus. So het haar planne vir ’n nuwe, uitgebreide winkel op Isaacsdam vorm aangeneem. Gileam moes daarby betrokke raak. Daar draai nie ’n windpomp op Isaacsdam sonder dat hy betrokke is nie. Daar kraai nie ’n haan, poer nie ’n motor, lui nie ’n klok op Isaacsdam sonder dat hy betrokke is nie. So is dit nou eenmaal.
As kind reeds het sy die naam Gileam Dormehl as ’n instelling ervaar. Toe was hy ’n jongman met barstende liggaamsbou, gul stem, drafstapbewegings. Die mense sê hy het sy vrou doodgeleef. Katrien wonder deesdae sterk daaroor. Was dit eerder Noekie Dormehl wat te stadig vir hom geleef het? Sy was altyd ’n stil, sieklike vrou, groot gebou soos haar man, maar sonder lewensdrif.
Katrien onthou haar wit gesig in die kerk; nie wit vanweë ’n vleklose gelaatskleur nie, maar weens ’n gebrek aan goeie, gesonde sonlig op haar vel. Katrien onthou dit alles nie met nyd nie maar eerder met stille begrip, ’n late mededoë met die ontslape vrou. Sy weet nou, ja, dat Gileam nie die mens is waarvoor jy hom maklik aansien nie. Die keersy van sy dryfkrag, sy haas onbesonne ambisie, is ’n milde koestering, ’n perkelose meedeel van sy inherente krag. Hoekom het Noekie nie toegelaat dat sy krag haar ook binnesypel nie?
Ek sou hom kon liefkry, dink Katrien voor die kombuisvenster, waar sy kyk hoe die son oor Isaacsdam opkom. Die wind kan steeds nie tot lê kom nie en die groot, blaarbelaaide takke langs die strate swenk driftig heen en weer.
Sy sou hom kon liefkry, as sy hom nie dalk reeds aan ’t liefkry is nie. En as … o, as sy net kan vergeet. Katrien staan langer en staar as wat sy beoog het. Ook was sy nie spesifiek op die uitkyk vir die verbyry van … van … wat was sy naam toe op die ou end? Berg of Bergman? Die eerste weergawe was seker die korrekte. Jonathan Swift, Gulliver in Lilliput. So het hy daar voor die toonbank gestaan en praatjies maak. En, ontsteld soos sy was, het sy seker ewe veel gepraat sodat hy nie moet agterkom hoe sy verwaaide binnekoms haar ontstel nie.
Nou gebeur dit tog so dat sy hom sien ry, heel vroeg vir ’n stadsjapie, en sy kan hom nie eintlik miskyk nie. Daarvoor is die motor te goed gebou en die man self kan jy deur ’n ring trek. Goeie versorging is op ’n afstand en in ’n oogwenk sigbaar, veral sy gestileerde bos donker hare. Sy windverwaaidheid gister het haar nie mislei nie.
Katrien wag, ietwat gespanne, dat hy ook in haar rigting moet kyk. En tog, toe hy dit wel doen, draai sy vinnig en impulsief van die venster af weg.
5
In die grys môrelig het Jonathan Bergman sy strategie lê en beplan. Hy sal vandag onvermydelik met Gileam Dormehl te kampe hê. Al raad is om hom aanvanklik te ontwyk; op die lange duur sal dit wel onmoontlik wees in ’n plekkie soos Isaacsdam.
Hy sal maar vroeg-vroeg sy riete roer, sê byvoorbeeld sesuur. Dormehl sal ’n vroegopstaner wees, maar hy sal ten minste nie die stadsjapie so vroeg in aksie verwag nie. Om saam met die hoenders van die nagstellasie af te spring, is skynbaar een van die erkende deugde hierlangs. Ook die Coetzees se huishouding het reeds douvoordag begin roer, toe die klein varkies op die agterstoep soos mensies aangespreek en gepamperlang is.
Dis so anders in sy gewone lewe. Laat uit saans, swaar uit die bed soggens. As jy onder die Nothnagels se vlerk is, moet jy maar soos hulle piep. Vanoggend voel hulle vir hom na verre, vreemde mense. Selfs Jeannie … daar is altyd ’n koors in hom ter wille van haar. As hy haar ’n tydjie nie gesien het nie, skyn alles tussen hulle vervlietend en onseker te wees, en verlang hy opnuut na die sekerheid van haar nabyheid. Sy is soos ’n droom wat jy net nie kan vasvat wanneer jy wakker word nie.
Hy moet haar skakel, een of ander tyd vandag. Hy wil nie hier uit die huis uit bel nie, sal maar sien as hy eers by sy werkplek nesgeskop het. Daar is ’n tydelike kantoor vir hom gereël.
Hy wil ook weer hotel toe gaan. Daar moet tog iewers ’n plekkie wees. Hy wonder of die eienaar hom nie net snaaks hou nie. Die vreemdeling uit die stad het dalk te haastig in sy keel afgeklim.
Beswaard trek Jonathan aan. By gebrek aan ’n stortbad, waarop hy versot is omdat dit hom na behore opkikker, het hy gisteraand ’n koel bad geneem. Hier is nie warm water in die badkamer nie. Hy wonder wat Jeannie sal sê – ook as sy weet dat hy, sedert sy aankoms hier, nog nie eers een drankie geneem het nie. Sy sal sê: “Gully, is dit ’n uitdrogingskursus, of wat?” Die ete gisteraand moes maar so droog-droog afgaan, te midde van mampoerpraatjies. Daar is glo ’n bottel deeglik verouderde voggies iewers, maar dit kan waarskynlik nie op ’n vreemdeling gemors word nie.
Daar woel ’n onrus in sy gemoed. Koos en veral Malie Coetzee is kriewelrig. Sy vra knaend uit na familie en verlede, terwyl Koos hom stip dophou. Hy het blindweg dieselfde paadjie binnegestrompel as met die Nothnagels en vertel dat hy geen familie het nie. As Katrien Tosen nou net nie … Wat het hom besiel? Watter geheime krag was daar in haar, om ’n bekentenis uit hom te kry sonder dat sy gevra het? Sonder dat sy wou weet?
Of is dit juis die rede: dat die dinge wat lankal in hom woel, uitgebars het juis teenoor ’n vreemde? Soos die barbier van koning Midas, wat sy geheim in ’n put gefluister het; en toe daar ’n rietbos oor groei, het die riete knaend in die wind gefluister oor die eselsore van koning Midas. Goeiste, mog hier nooit so ’n rietbos op Isaacsdam woeker om Jonathan Bergman se armsalige geheimpies te verklap nie.
Katrien Tosen het gelukkig gisteraand belowe om te swyg.
Met ’n belofte aan Malie Coetzee om terug te kom vir laat ontbyt, ry Jonathan daar weg. As hy net eers die terrein self besigtig het, sal hy grond onder sy voete hê om Dormehl te konfronteer.
Die logiese pad na die westekant van die dorp is met die hoofstraat langs. Dit bring mee dat Jonathan weer voor Isaacsdam Kontantwinkel verby moet ry. Dit sal seker nog dig toegesluit wees, besluit hy. Hy kyk met aandag na die huis teenaan die winkel, ontdek dan tot sy verrassing dat Katrien Tosen voor ’n oop venster staan. Of sy hom gesien of geëien het, is moeilik om te sê, maar sy draai weg voordat hy nog kan dink om te reageer.
Dit hinder hom. Was sy hoeka besig om weg te draai van die venster af, of het sy dit gedoen toe sy hom gewaar? Was sy vir Dormehl op die uitkyk, so vroeg? Kan hy haar vertrou? Miskien is hy oordrewe besorg. Die feit dat hy ’n wit leuen oor sy familie aan die Nothnagels vertel het, kan tog nie so ingrypend wees nie, en hoef nie noodwendig gevolge vir hom te hê nie.
Toe Jonathan die buitewyke van die dorp bereik en die terrein voor hom sien lê waar die ontwikkeling beplan word, kry hy ’n onaangename gevoel op die krop van sy maag: oop