Louisa du Toit Omnibus 9. Louisa du Toit
’n vennoot van hom maak sodat hy nie as hansie-my-kneg in die familie instap nie? Of twyfel hy aan homself? Miskien nie sonder rede nie. Hy het nie oop kaarte met die Nothnagels gespeel nie. Hulle glo sy storie dat hy sonder familie is. Dalk dink Senior dat hy, sonder familiebande, ook noodwendig sonder morele bande sal wees, daarom dat hy so sterk laer trek rondom sy dogter.
Noudat Jonathan sy probleme by Nothnagel en Vennote op ’n afstand sien, besef hy dat dit eintlik groot is. Hy het ’n meisie van wie hy nie sy hande kan afhou nie, en sy het ’n pa wat letterlik beveel dat hy sy hande tuis hou. Kom hulle ooit agter dat hy oor sy familie gelieg het, steek Senior hom stellig in die pad. Nie oor die familie nie, maar oor die leuen. Hy’s nie ’n outoppie wat met hom laat mors nie. En vind hulle nie uit nie, wat ’n lewe sal dit wees om nooit volkome jouself te kan wees nie? Selfs in die dieptes van Jeannie se arms sal hy hierdie gespletenheid van hart behou.
En nou, sy onbesonnenheid om teenoor Katrien Tosen iets van sy Isaacsdamse familie te laat glip. Dit word ’n tartende refrein in sy gemoed: Katrien weet. Hoe vas staan haar belofte om niks te sê nie? Kan Dormehl se aard en arms haar laat vermurwe? En as hy self nie ’n oop pad loop nie, durf hy dit van ander verwag?
Hy is stomverbaas toe die einste Katrien Tosen hom die tweede oggend op kantoor kom sien. Hy kan maar net dink, en dis sy eerste gedagte, dat dit iets in verband met Gileam Dormehl en die rusie oor die standplaas moet wees.
Dis egter nie dit nie. In elk geval nie uit die staanspoor nie. Dis ’n helder môre, met die wind na dae eindelik stil. “Dis ’n verrassing,” sê hy toe Katrien na ’n ligte klop en sy “Binne”-roep inkom. Die woorde klink lomp. Sy weet tog dat dit nie eintlik is wat hy wou gesê het nie. Hy sou eerder moes vra: Jy? Wat soek jy hier? Het Gileam jou gestuur?
“Wil jy sit, juffrou Tosen?”
“Dankie, maar ek bly nie lank nie. Jy lyk verstrik in die werk. Nie gedink Lilliput kan ook komplikasies hê nie?”
“Dit voel vir my glad nie meer na Lilliput nie,” erken hy.
“Hm. Dan is ek ook nie meer ‘juffrou Tosen’ nie, hoor.”
“Dankie, Katrien. En jy weet ek is Jonathan.”
“Ek dag ‘Gulliver’ vir jou vriende.”
“Moet my liewer nie so noem nie. Dit het sekere assosiasies. Kom ons skep ’n nuwe assosiasie.”
“’n Winderige somer in Isaacsdam, nie waar nie?”
“Nie te sleg as jy deel is daarvan nie,” vlei hy so ligweg. Senior Nothnagel het darem nog nie ’n muis van hom gemaak nie. Man is hy, en man sal hy bly.
“Dankie. Jy sal maak dat ek jou verdedig as die ander Lilliputters jou op jou rug aan jou hare wil vasbind.”
“Soos Gileam, nie waar nie? Dan het jy oor hom gekom.”
“Later, miskien. Intussen: Wat hét daar eintlik tussen julle gebeur? Hy wil jou teer en veer.”
“Met alle respek vir jou gevoelens, Katrien, ek dood nie oor hom nie en ja, goed, ek weet dis wederkerig.”
“Ek verwag ook nie dat jy sal nie. Hy’s eintlik ’n diamant. En ’n diamant kan nie deur ’n klomp mense besit word nie.”
“Ek dink jy verhef hom bo verdienste, maar toe maar. Is hy, ek bedoel, is julle privaat verloof, gaan julle trou?” ’n Ring dra sy nie.
“Nie wat ek van weet nie.”
“Verskoon as ek voortvarend is, maar ek het die idee gekry dat dit algemeen aanvaar word.”
“Gileam beteken oneindig baie vir my,” ontwyk sy.
“Hm. Maar jy het ook gesê daar is dinge wat jy nie kan vergeet nie, as ek reg onthou.”
“Ek weet nie waarom ek dit vir jou gesê het nie.”
“Dieselfde vraag kwel my – waarom ek sekere dinge vir jou gesê het. Dalk het ons veilig gevoel met mekaar se vreemdheid.”
“Ag, ek weet nie. Maar dit is so dat daar iets ekstra tragies in my lewe gebeur het, waaroor ons nie nou hoef te praat nie. Kom ons praat liewer oor jou kwelling; dis waarom ek gekom het.”
Daar kom ’n krieweling van onrus in hom op. “Laat ek hoor?”
“Ag, dis dalk sommer niks. Maar oom Koos Coetzee was vanoggend by my in die winkel en het indringend oor jou uitgevra. Oor waarom ek jou juis na hulle toe gestuur het. Jy sien, dit is helaas so dat die tante slordig is, en niemand sal sommer ’n loseerder soontoe aanbeveel nie. Ek het maar vir hom gesê ek weet dat tant Malie ’n ruim hart het.”
“O, ek … dankie, maar …” Hy spartel reddeloos rond om ’n verklarende woord te vind, maar dit ontwyk hom.
“Jy moet verstaan dat dit baie moeilik is. Ek weet nie of jy dalk iets wegsteek, of waarom jy so geheimsinnig optree nie. Word jy gesoek?”
“Deur die gereg, byvoorbeeld? Vaderdank, nee.” Skynbaar was dit sy oorlede pa se terrein.
“Hy het skynbaar nie helderheid oor wat jou van is nie.”
“Ja, dalk het ek my nie alte duidelik voorgestel nie.”
“Ek het ook maar gesê ek is nie seker nie. Maar hy kan maklik genoeg uitvind as hy regtig wil, of hoe?”
“Ja, hy kan.” Hy speel met ’n pen, maar die spanning lê soos ’n harde kabel onder die oppervlakte. “Dit klink seker vir jou na onnodige geheimhouding oor niks.”
“Nee, ek aanvaar volkome dat jy jou redes moet hê. Bietjie eiewaan of so. Ek vat jou woord dat jy geen voortvlugtige is nie. Maar dat jy wel vir iets vlug …” Sy roer haar skouers.
Hy kan net in magteloosheid luister.
Sy praat eerste verder: “Hoekom gun jy hulle nie die vreugde van ’n familiekind nie? Hulle het eintlik niemand nie. Hulle lewe taamlik eksentriek en word nie maklik begryp nie. Hulle moet bitter eensaam wees. Oom Mampoer en tante Varkie.”
“En dan reken jy nog ek moet my met hulle vereenselwig?” vra hy opeens galsterig.
“Dit is dan soos ek dink,” sê sy. “Jy is bo hulle verhewe.”
“En is Isaacsdam nie ook nie? Jy erken hulle word nie in die dorp aanvaar nie.”
“Hulle is niemand hier se familie nie,” kap sy terug.
Ek het genoeg hiervan gehad, roep sy ganse wese uit, maar hy pers sy lippe verbete op mekaar vas.
Dit lyk of sy wil afskeid neem. Sy ontkruis haar bene en verskuif op die stoel. “Ek wou dit maar net noem, dat jy kan weet ek het my belofte gehou as …”
“As my afkoms uitlek?” bars hy uit met ’n drif wat nie langer wil binne bly nie. “As my ganse bestaan geruïneer word?” Laat sy dit hoor, laat iemand dit uiteindelik hoor. Laat dit dan boemerang, laat sy buitentoe praat, laat alles tevergeefs wees … sy huisverlating toe hy eintlik nog deur ’n moeder moes toegemaak word saans, sy ontberinge as verbete student toe ’n grapjas vir hom gesê het: “Lyk my jy het ook net een paar skoene.” Toe hy wel net een paar skoene gehad het, maar altyd blink gepoets.
En Jeannie, wat van Jeannie?
“Sjjjj …” maan Katrien Tosen. Sy blik deur toe om vas te stel of dit toe is. “Ek voel ek moet jou waarsku, Jonathan, dat jy al weer besig is om dinge uit te lap waaroor jy gou spyt sal wees. Swyg liewer. Ek wil nie hoor nie. Ons is niks van mekaar nie. En ons het maar almal ons pynlike geheimpies.”
Skaamkwaad staar hy voor hom op sy tekeninge vas, sy asem swaar van ontstemming. Waar is sy swaar verworwe onbewoënheid, die gesig en stem wat niks verklap nie? Is hy besig om van sy trollie af te raak? Is dit hoe graag hy vir Jeannie Nothnagel wil hê, en ’n vennootskap met haar pa, dat hy innerlik verskeurd raak daaroor? Of is dit ’n bars wat verder deurloop? Hy het homself tog altyd nog gelukgewens met sy prestasie, sy suksesvolle wegbreek van ’n uitsiglose verlede.