Louisa du Toit Omnibus 9. Louisa du Toit
nie. Daar was studente wat sou kom. Dit was immers die begin van die jaar, ’n mens moet skouer aan die wiel sit. Dit het haar gehinder dat hy so maklik erns met ’n saak verloor. En hulle het tog veel gehad van mekaar die vakansie, die eerste deel waarvan hy saam met haar Isaacsdam toe was.
’n Vinnige romanse was dit. Onverstaanbaar vir die ouer garde, want die vorige vakansie was daar nog g’n so iets nie. En sy studentehumor het ’n bietjie oor hulle koppe heen gegaan. “Maerlant en Boutens” vir ’n vet en ’n maer persoon is verlore op mense wat nie die Nederlandse digkuns ken nie. Ook Kirsten se gevatte stukkies Shakespeare, met sy eie vertaling van “Willem Wikkelspies”.
En dat “die mannetjie wat in Desember saam met Katrien hier was” toe ’n paar maande later verdrink het, was abstrakte kennis. Dat “Katrientjie baie hartseer is” was ’n bietjie meer konkreet, want sy het opgehou om “les te gee” by die universiteit en het hier op Isaacsdam kom inval agter die winkeltoonbank en by ou Tosen se siekbed. Nou het sy meer bereikbaar geword vir hulle, en kon hulle die hand na haar uitsteek in troos, noudat sy vir hulle suiker afgemeet en spesiale dinge by die reisigers bestel het.
Hulle troos was nie altyd teer en veelwoordig nie, maar eg vanweë die grondige aardsheid daarvan: ’n eetdingetjie, ’n skaapnek, ’n gemoedelike grappie voor die toonbank oor die Boer, die Engelsman en die Jood.
En tussen hulle was daar Gileam, wat haar nog die beste troos gebied het deur die voorbeeld van sy daadkrag. As hy ’n matroos op ’n seilskip was, sou hy die oseane oopgeklief het met sy volharding en sy dryfkrag. As die wind nie wou waai nie, sou hy self die boot aanblaas met sy klipharde stem. Of as hy, meer plaaslik gesproke, ’n windpomp was, sou al die damme oorgeloop het.
Uiteindelik, nadat sy ’n tyd daarmee in haar hande gesit het, vou Katrien die briefie van die meisie oop. Dit is na die universiteit toe gestuur en is in haar hokkie geplaas. Daar staan nie veel, nie in woorde nie. Maar in draagkrag beslaan dit boeke vol. Die styl is nie verfynd of die woorde geskool nie. Maar wat daar wil staan, staan daar:
Beste dame
Ek sien die koerant sê jy en Kirsten was van plan om verloof te raak voor die ongeluk gebeur het, en die koerantmanne het jou gaan sien en alles. Nou wil ek net sê, ek dink Kirsten het hom aspris in die branders gegooi, want wat maak ’n man as hy twee meisies het en hy wil aan die grênd een verloof raak en die ander een het hy in die moeilikheid? Ons ouers is vriende en sy pa en my pa sou hom doodmaak as hy nie met my trou nie. Die hemel alleen weet wat nou van my moet word, maar dis jou naam wat in die koerant is. My pa en ma sê hulle sal my nie verstoot nie, maar my ma hou aan met sug dat trane haar brood is. Ek hoop jy is nou tevrede. Janie Wilken.
Ek hoop jy is nou tevrede. Woorde wat ’n weg gebrand het tot diep in die hart, waar dit nog steeds leed aandoen. Want onwetend sondig tog immers nie, so sê die spreekwoord. Kirsten het wel die naam van hierdie Janie genoem, maar nie in erns nie. Hy het gesê hulle vriendskap kon nog nooit op stryk kom nie. Tog het sy alle rede om te aanvaar dat die meisie nie in die briefie gelieg het nie. Wat kon sy daarby baat? Dit sou Kirsten nie terugbring nie. Sy het ook nie geld probeer eis, wat in elk geval nie sou werk nie.
Dis hierdie tweede, knellender ellende, wat Katrien maar alleen moes dra. Nie eers Gileam weet daarvan nie. Sy het nog nooit genoeg vertroue in enigeen gehad om dit oor te dra nie. Maar dit brand steeds in haar om te weet hoe dit dan moontlik was. Wanneer was Kirsten met die meisie doenig? Nadat hy vir ’n paar weke op Isaacsdam was, en daarvandaan na sy ouerhuis toe? Dan is dit niks minder as verraad nie. Teenoor haar, Katrien, was hy so oortuigend liefdevol en getrou. Sy glo nog onwrikbaar dat hy haar liefgehad het. Was Janie dus maar net die beskikbare een om ’n ledige tydjie tydens ’n laaste stuk vakansie te verdryf?
Katrien bêre die koevert weg en wonder waarom sy dit weer moes lees, waarom sy dit hoegenaamd bewaar. Is dit omdat sy vanaand by Gileam gaan eet en omdat sy verwag dat hy haar in ’n hoek sal dryf? Wou sy haar opnuut probeer oortuig dat Kirsten voete van klei gehad het? En haar by die hernude besef hiervan in ’n verbintenis met die sterke Gileam begewe?
Met tam hande pak sy die middagskof aan. Die stuk breiwerk word ongemaklik swaar om op te lig. Daar is origens nie genoeg te doen in die winkel om haar van ledigheid en frustrasie te vrywaar nie. Die nuwe winkelkompleks, soos Gileam dit sien, sal tog iets dinamies wees, iets wat bruis en stimuleer. Met hom wat die meeste van die laste dra, terwyl sy maar net besig kan wees met die opbou, die skeppende deel. ’n Toekoms, vas en geborge. Een van die vroue van Isaacsdam kan sy word, wat laggend in ’n bakkie klim met ’n kleintjie op die skoot, wat ’n groot ontbyt op tafel sit en ingelegde vrugte op die skou, wat heerlik lag voor die agterdeur en soms, net soms, met bepeinsing in die wintervuur staar.
Sy is vanmiddag ingedagte. Elke keer moet die Levink-seun haar aandag vra met ’n “tánie” dit en ’n “tánie” dat. Hy is o, so stadig, nes haar eie pa, maar dra tog alte gedienstig die inkope aan na die voertuie wat buite onder die akkerboom ingetrek staan.
Die mense van Isaacsdam gesels hier in die winkel nou oor ’n kokende nuwe onderwerp: die uitbreiding wes van die dorp. Bergman het met ’n groot genoeg fanfare hier saam met die wind aangedruis gekom sodat almal van hom sal weet. En nou, dink Katrien met ’n stil glimlag, het hy skielik ondergeduik. Iets moes gebeur het, nou of lankal, wat hom so onseker gemaak het. Want oortollige selfversekering dui meestal op onsekerheid.
Skynbaar iets met sy familie, soveel het hy te kenne gegee. Gesê sy toekoms kan geruïneer word, gepraat van herkoms wat kan uitlek. Sy weet ook nie wat sy woorde presies was nie. Hy het gesê dat hy dalk te veilig gevoel het in die vreemdheid teenoor haar, en dat hy toe iets gesê het wat hy nie moes nie.
Sy wens sy kon hom gerusstel, vir hom sê dat sy nie sy onheil beoog nie. As Gileam ’n stryd met hom aan die gang het, is dit tog steeds nie iets wat sy persoon aantas nie. Nou ja, sy het vir hom ten slotte gesê dat elke mens maar sy pynlike geheimpies het, en so is dit. Sy sal haar nie met hom bemoei nie. Tog voer sy in haar gedagtes gedurig gesprekke met hom, is sy glad nie onbewus van sy teenwoordigheid hier op Isaacsdam nie. Iewers in haar agterkop bly sy knaend weet dat hy hier naby rond is, en dit laat haar nie onbewoë nie.
Dis soos wanneer sy as kind geweet het dat haar ouers die Kersgeskenke reeds gekoop het en dit iewers in die huis weggesteek hou. Aangesien jy die huis van hoek tot kant ken, weet jy eintlik waar dit is, en by geleentheid sien jy ’n veelkleurige punt van die geskenkpapier wys – maar jy hou jou dom en wag op die openbaring.
So, min of meer, voel sy oor die teenwoordigheid van Jonathan Bergman, die man wat sy in sekere sin kwalik ken, maar wat in ’n ander sin meer van hom laat ken het as waarvoor enigeen van hulle twee ryp was.
Martiens Levink willig in om die aand by haar pa te bly. ’n Pak toffies, puur verniet, is meer as wat hy ooit ontvang het vir so min inspanning. Op skool was dit ’n ander storie, worstel en sweet met ’n spul strafwerk as beloning. Maar hy bly graag by oom Tippie.
Katrien huiwer oor wat om aan te trek. Met Kirsten sou daar geen vraag eers wees nie. Vir hom sou sy steeds weet wat om aan te trek, jonk en ontspanne om by hom te pas. Maar vanaand liewer iets meer konserwatief. Asof sy bang is om die balans na een of ander kant toe te laat oorhel. Sy kies ’n sober romp en ’n bloese wat die toets van die tyd deurstaan het. Almal op Isaacsdam ken dit, niemand sal kan sê dat sy haar vir Gileam fyn uitvat nie.
Bril. Sy wil nugter en prakties lyk. Miskien ook ter wille van die twee kinders in hulle vroeë tienerjare. Sy wil nie na een of ander kant toe ’n vals beeld by hulle skep nie. ’n Oordrewe moederlike tipe is sy nie, maar ook geen vlinder of fortuinsoekster nie. Sy begeer dat hulle haar sal aanvaar soos sy is.
Die twee kinders aard, helaas, nie een juis na Gileam nie, maar eerder na hulle stil, sku moeder. Tog is hulle nie sonder talente nie. Tala het ’n goeie singstem, hoewel nog ongevorm. Lourens begelei haar soms met die kitaar as sy op dorpsbyeenkomste sing. Eenvoudige liedjies wat die toets van die tyd deurstaan het. Hoewel sy geen sterk verhoogpersoonlikheid het nie, is daar tog ’n vreemde patos in die stemmetjie wat nie altyd die hoogste noot bereik nie, maar nogtans ontroer.
Sy sal maar vanaand probeer om die twee kinders te laat optree. Dis nogal goed as mens ’n situasie van afsondering wil vermy.