Louisa du Toit Omnibus 9. Louisa du Toit
moes vanaand kom. Ek vind uit dat jy ’n yslike gekonkel op tou het.”
“Gekonkel? Jy bedoel dat ek spook om daardie terrein te bekom wat ek vir my gemerk het? Jy’t gesê jy kan my nie help nie, jy doen net jou werk. Niks belet my om op my manier te werk te gaan nie. Ek is nie agteraf nie. Ek pla jou net nie. Jy is besig om jou werk te doen, of hoe?”
“Ons is nie seuntjies in ’n speelgoedwinkel nie, Dormehl. Waarom kan jy nie by die reëls inval en ’n ander stuk grond kies nie? Ek is seker met jou geld en invloed sal jy heel eerste kan koop.”
“Dan sien jy die sakie weer ’n keer skeef, my maat. Ek is nie ’n bedorwe kind in ’n speelgoedwinkel nie. Ek mik net baie hoog, dis al. Dit verskaf my geen satisfaksie meer om te koop, of om eienaar van ’n nuwe plaas te wees, of die rykste man in die buurt nie. Ek wil ’n groot ding doen, ’n projek aanpak wat hierdie dorp ’n stoot sal gee tot daar doer. Ek wil nie net maai nie, ek wil ook weer terugploeg. Ek wil ’n nuwe aangesig, ’n nuwe status aan Isaacsdam gee. Dit sal ek doen met Dormehldorp, daar naby die rivier.”
“Ek dog jy sê dis ’n spruit,” onthou Jonathan sarkasties.
“Wat ook al. Het ek jou al gesê dat ek nou ook dink aan ’n plesieroord? Rondawels, ’n voëlpark …” Gileam Dormehl glimlag ’n bietjie simpatiek. “Hoe gaan ek hierdie dinge doen op ’n simpel erfie of twee in die middel van die dorp? Plaas my daar op die rand van die affêre, en die hinterland lê vir my oop. ’n Wildreservaat, dalk selfs die Groot Vyf,” murmel hy ingenome.
“My firma word nie betaal vir droom nie. Of selfs vir iemand anders se drome nie. Dit kan ons nagmerrie word.”
“Daaroor kan jou firma besluit, en spesifiek diegene met meer outoriteit as jy, Bergman. Sal dit al wees vir vanaand?” Die halfsirkel van Dormehl se arm huiwer weer iewers agter Jonathan om hom vinniger weg te help.
“Vir vanaand, ja.” Volgende keer sal jy vir mý kom sien, Mister Belangrik, dink Jonathan vies. Reken, om hom te behandel asof die kat hom ingedra het.
En die Groot Vyf … as die winterreën kom, mag die diere se kloue afval, wensdink hy.
Hy en Katrien Tosen sal hom nou seker verder bespreek. Dis te veel gehoop dat sy onpartydig sal bly. Gaan sy alles uitlap aangaande “oom Mampoer en tannie Varkie”?
Met donker gemoed loop Jonathan deur die tuin. Hy voel ’n gek. Hy het tog immers geweet Katrien Tosen is hier. Hy sal hom net nie verder aan die vervlakste Dormehl steur nie. Wat kan dié in elk geval doen? Hy sal hom teen ’n muur vasloop as hy teen vasgestelde reëls in dwing.
Die eensame kriek hervat sy lied iewers naby die stoep. Selfs wat die redelose insek betref, is die indringersbesoek dus afgehandel en hy kan sy voorvlerkies jubelend teen mekaar skuur.
Die huis getuig nie eers van weelde nie, dink Jonathan vermakerig. As Dormehl die rykste man in die omgewing is, sien ’n mens niks daarvan tuis nie. En tog was daar ’n begeerlike intimiteit in die doodgewone vertrek, ’n selfversekerdheid, asof niks ontbreek nie.
Jeannie … Hoe verlang hy na Jeannie, vir wie hy iemand is, ten spyte van sy halfgebaktheid. Jeannie moes tog seker kon agterkom dat hy iewers ’n groot agterstand het. Hy het waarskynlik menige faux pas begaan waarvoor sy haar blind gehou of wat ongemerk deur haar reggestel is.
Ha, darem nog ’n Franse uitdrukking wat hy ken en nogal korrek kan uitspreek. Op ’n dag, sommer binnekort, gaan hy al sy Franse frases aaneenryg en vir Katrien Tosen uit haar skoene verras. Maar hoekom sal hy hoegenaamd nog aan haar dink? Haar naam is ongesofistikeerd: sommer net Katrien, reken. Maar nou ja, aan haar sit die naam soos ’n handskoen, strelend tot op elke vingerpunt.
Daar het sy gesit in die stoel, danig geleerd met die groot bril, maar haar lippe was weerloos sag, reg om gesoen te word … deur Dormehl.
Jonathan roer onrustig agter die stuurwiel terwyl hy deur die stil strate van Isaacsdam ry. Net by die enkele kafees is daar ’n roering, asook voor die fliekteater.
Met ’n soort helderheid weet hy dat hy die dae hier nooit weer sal vergeet nie. Mens kan ’n herinnering voorsien terwyl dit nog in wording is. Die dorpsbesoek waarteen hy so opgesien het, het spoedig ’n ongekende kwaliteit verwerf, byna onaards, ten spyte van die harde sy daarvan, soos die oplaaiende botsing met Dormehl.
Maar hy sal hierdie somertyd onthou, en die wind, en die stilte. Die gietende reën tydens sy aankoms, die sonbeskynde tuine daarna. Hy sal veral vanaand onthou, Katrien in die leunstoel, die singende dogter, die nostalgiese wysie met kitaarbegeleiding.
Sy was ’n deel van daardie somer, en ek ’n eensaam digter, dromer …
Is hy ooit nog dieselfde mens wat, slegs dae gelede, opgeblase Katrien se winkel binnegestort het saam met die vallende reën? Want alreeds voel hy iets van bedelaarskap, asof hy hier iets moet ontvang wat hy nog nooit besit het nie.
Hy sluip as ’t ware die huis van die Coetzees binne. Hy wil nie vanaand verder luister na ’n lesing in mampoerstook nie, en hy wil nie kyk na familiefoto’s wat sy binneste oopruk nie.
Gelukkig is hulle reeds in die kamer. Tant Malie het hom heel vertroulik vertel dat sy en die oom maar vroegerig gaan slaap, en dan stel hulle die wekker vir die laataandnuus op die radio. Maar noudat hy hier is, het Malie gesê, is daar tog jong lewe wat hulle later kan wakker hou. Hy voel skuldig dat hy gaan rondloop het.
Tog snaaks, dis reeds ’n soort gevoel van tuiskoms wat hy ondervind toe hy die voordeur saggies toemaak. Elke huis het sy eie reuk, en so ook hierdie een. Dis anderkant mens en duskant dier, maar in elk geval ’n reuk van geselligheid en versorging. Terwyl hy met klere en al op die bed lê, sy arms onder sy agterkop, besluit Jonathan stilweg: hierdie ding moet oopbreek. Ek kan nie met Jeannie trou alvorens ek hulle alles vertel het nie.
Een of ander tyd wel, maar nie onmiddellik nie. Intussen sal hy die dae vorentoe maar een-een oopbreek soos neute waarvan jy nie weet of jy ’n dowwe pit of een vol voedsel aantref nie.
9
“A, Jeannie. Kry vir jou die lekkerste stoel, hartjie.”
Haar pa beduie na die gemaklike stoel met die uitsig. Jeannie Nothnagel gehoorsaam. Sy het nie nodig om in haar pa se kantoor rond te kyk om elke besonderheid daarvan in te neem nie. Dis op haar aandrang en onder haar leiding dat dit so mooi luuks ingerig is. As dit van haar pa afgehang het, sou dit bar gebly het.
Ten spyte van toenemende sukses, verkies hy nog steeds ’n basiese lewe. Sy en haar broer is heel anders ingestel, en sy reken dis sy en Junior wat kleur aan hulle lewe gee.
Dis nie dat Senior die gawe van geld versmaai nie. Hy kan groot dink, vooruit dink, groot bestee. Maar hy verpes enige kunsmatigheid. Sy is bly vir die teenwig wat dit in haar lewe gevorm het. Dis miskien as gevolg hiervan dat sy ’n gemakliker houding teenoor rykdom ontwikkel het, anders as byvoorbeeld haar ma, wat reeds uit die huiskring gewyk het. Uitgegooi, as ’t ware. Sy sou met haar avontuurtjie nog kon loskom, as sy meer diskreet was.
“Wat is dit, Pa?” wil sy ietwat ongeïnteresseerd weet. Sy het nog nooit haar hele hart in Nothnagel en Vennote gesit nie. Sy het hoër aspirasies. En solank sy hier bly, sal haar pa haar nie toelaat om ’n noemenswaardige sê te hê nie. Sy wil uitgaan in die groot sakewêreld, waar daar nie ’n plafon bo jou kop is nie.
Dis die konflik in Jeannie Nothnagel se lewe: dat sy voltyds sakevrou wil word, maar ook met Jonathan Bergman wil trou en huis opsit. Dat laasgenoemde ’n remskoen vir eersgenoemde sal wees, besef sy terdeë. En sy het hierdie kwessie nog nooit volkome uitgesorteer in haar gemoed nie.
“Het jy al iets van Jonathan gehoor?” vra haar pa.
Dit bring onmiddellik ’n tikkie styfheid in haar ruggraat. Sedert haar lewe gekruis het met die van Jonathan Bergman, wag sy al op ’n openbaring van haar pa se kant af, want hy het nog nooit volkome verraai hoedat hy hieroor voel nie. Sy weet wel dat hy Jonathan se talente en moontlikhede hoog aanslaan en dat hy hom as toekomstige vennoot sien.
“Hy het gebel,” sê sy neutraal.