Louisa du Toit Omnibus 9. Louisa du Toit
Nou skrik Jeannie. Hy sien haar oë soos vlaggies oopskiet. “En Pa noem dit so terloops? Kan Pa nie sien wat aangaan nie? Dormehl se meisie of vrou hou van Jonathan, en daarom probeer Dormehl hom daar wegkry.”
“So jy sal gaan?” knor Nothnagel tevrede. Hoekom het hy hierdie argument nie eerste aangewend nie? Hy het nogal groot vertroue in sy dogter se bedingingsvermoë. “Wie wil jy hê moet jou vat?”
“Los tog die chauffeur, pa. Hulle wil heelpad praatjies maak, want hulle beskou hulle as deel van die familie. Ek ry alleen. Gee my net ’n sterk motor.”
“En hy moenie weet jy kom nie.” Senior trek vreeslik baie peil op die verrassingsaspek in enige saak onder die son. As jou opponent niks van jou kant af verwag nie, het hy nie ’n kans om met die duiwel oorleg te pleeg oor sy verdediging nie. Dis hoe hy ook sy vrou en haar skelmpie betrap het.
Dan haal hy diep asem en speel sy troefkaart: “Dié Dormehl wou te kenne gee Jonathan doen hom voor as Nothnagel. Dit laat my dink. As Jonathan ná julle troue Nothnagel wil word, is dit ’n paar vlieë met een klap. Ek vergewe hom sy blapsies. Hy bind jou sterker aan die firma, want jy en jou broer is op die lang termyn te onstabiel. En, derdens, hy raak ontslae van sy skynbaar ongewenste naam.”
“Jonathan Bergman … Pa versoek dat hy Nothnagel word?” vra Jeannie verbyster.
“Eintlik eis ek dit,” besluit Senior ferm.
Malie Coetzee loop vir Gileam Dormehl in die poskantoor raak. “Gieljam, kom hoor tog hierso.” Sy lei hom om die hoekie. As sy fluister, trek dit deur merg en been. Sy moet liewer maar probeer om saggies hardop te praat as dat sy so hardop saggies praat.
Gileam moet afbuk, anders kan hy opsluit nie hoor nie. So reken tant Malie, en sy rem hom aan ’n mou. “Gieljam, jy moet tog vir niemand sê wat ek jou anderdag gesê het nie … jy weet mos, eergister toe … by die koöperasie, onthou jy, toe die oom gevra het ek moet vir die gaasdeur ’n werweltjie soek. Ten minste, nie ’n werweltjie nie, ’n grendeltjie. Toe ek vir jou gesê het van die Bergman, dat hy so sterk lyk soos my oorlede neef Janmaans, die een wat so baie in die moeilikheid was. Dit was net oor sy senuwees, ek het jou seker nie gesê nie. Ek het vir jou gesê ek is seker hierdie Jonathan is sy seun, want bloed roep bloed en waarom kom hy juis na ons huis vir losies?”
“Ek onthou, tannie Varkie,” sê Gileam vol lag. As sy maar weet watter groot guns sy hom gedoen het.
“Nou ja, ek vra jou nou vanmôre om met niemand daaroor te praat nie. Die oom het amper my kop afgebyt. Hy sê ek dryf die man onder ons dak uit as ek so aanhou.”
“Ek belowe vir tannie dat ek van hierdie oomblik af met niemand daaroor sal praat nie,” belowe Gileam plegtig.
“Dankie, Gieljam. Maar kan jy dink, tot die van, dieselfde. Bergman. Hy sê hy’t g’n familie nie. Maar ek sê jou, daar is iets. Dis so bestem. Die oom wil my nie glo nie, maar hulle sal my nog almal askies vra.”
Gileam Dormehl voel plesierig toe hy van Malie Coetzee af wegstap. Sy belofte aan haar sal hy hou. Hy sal van vandag af met niemand praat nie. Hy het trouens gister reeds Bergman se hoofkantoor gebel en met die grootbaas self gepraat. Ou renoster … geklink hy klim in die telefoon in: “Meneeg Dogmehl, Beggman is die man met wie jy oog jou plannetjies moet pgaat.”
Plannetjies. Gmf. Die ou knol het op sy neus gekyk toe hy ’n bietjie ingelig word oor “Beggman”.
Die oomblik toe Malie Coetzee, ’n paar dae gelede, gestaan en tjommel het oor Bergman en bloed en familie, het dit Gileam getref met ’n onontwykbare helderheid: Natuurlik is dit so. Sy dra die saak so op die hart dat sy selfs ’n foto of wat uit haar handsak gehaal het om vir hom te wys.
Ja, Gileam kon meteens verstaan: die man se ontwyking, die onduidelike mompeling van sy naam, die feit dat hy juis by die Coetzees tuisgaan. Natuurlik is dit sy familie. Toe hy hulle nodig gehad het, wis hy wel om by hulle aan te klop. Maar hy wil nie met hulle geïdentifiseer word nie. Natuurlik nie. Wie sal wil erken dat hy die seun van ’n aartsskelm is? Veral as jy ’n sitkamerheertjie is en as jou digte bos hare en jou baadjiepunte so windmakerig in die wind swaai.
Wat hom te doen staan, het duidelik voor Gileam oopgevou. Die dwarsboming van sy groot planne is vir hom een van die grootste frustrasies waarteen hy nog te staan gekom het. Hy kan dié Bergman gerus uit sy pad uit vee.
Die mense van Isaacsdam ken vir Gileam; hy beroem hom daarop dat hy ’n geliefde vriend is, maar ’n klipsteenharde vyand. En as sy hardheid nog met hardheid begroet word, is hy die duiwel vanself in sy lis. Nie gemeenheid nie, o, nee. Gileam Dormehl is nie gemeen nie, dit glo hy vir geen oomblik nie. Hy is net waaksaam, listig en vasbeslote. Hy het geslaag in sy doel om aandag op hoogstaande vlak te verkry en nou kan Bergman maar in sy eie vet braai. Gileam is die eerste een om met ’n groot glimlag te erken hoe hy te werk gegaan het. Hy was nie agteraf nie, net slim.
Die stigting van Dormehldorp is ’n fassinerende gedagte, en een wat by die dag in omvang groei. Dit sal ’n soort brug vorm tussen die dorp en Uitsig, een van sy plase wat aan die munisipale grond grens. Reeds voor sy vrou, Noekie, se dood, het Gileam begin planne beraam. Maar Noekie kon nooit vlamvat vir enige projek buite haar kombuis, haar huis, haar twee kinders, die klein horison van haar ingekringde bestaantjie nie. Op ’n manier het hy haar liefgehad. ’n Man se vrou is tog jou vrou.
Maar sedert haar dood het dit vir hom gevoel of hy met vleuels kon uitstyg tot ongekende hoogtes. Soveel te meer sedert Katrien Tosen sy aandag getrek het. Sedertdien het sy planne sinoniem geword met Katrien. Dit voel vir hom asof alles tussen hulle twee skipbreuk sal ly as sy planne vir Dormehldorp skipbreuk ly. As hy so dink, gryp hy maar weer na pen en papier, en stel planne op. Of gryp sy ryding en gaan na Katrien toe.
Daar by die winkel is altyd wat. Mense, geselsies, koffie. Dikwels kry die klandisie ook sommer koffie. Katrien het dit net om mense na haar te trek. Sonder ’n lawaai of gepratery, sonder dat sy drukte hoef te maak of iemand met soveel as ’n vinger nader hoef te wink. Sy sê vir hom dat hulle haar weer soek by die universiteit. Met mag en hals sal hy dit probeer verhoed. Dit sal haar buite sy bereik plaas.
Wat hy haar kan bied, moet hy haar haastig bied. Hy sal vir haar in Dormehldorp ’n huis bou soos wat Isaacsdam nie ken nie. Tot ’n binnenshuise swembad. In die winter maak hulle die water warm. En plante daar rondom; jy moet die plante en die grond en water ruik as jy inkom.
En Katrien daar in die water soos ’n nimf. Katrien aan sy tafel, in sy arms, in sy bed. Hy het nog nooit so oor ’n vrou gevoel, selfs nie oor Noekie nie. Die passie wat hy vir haar gevoel het, is soos ’n kersvlam teen hierdie vuur.
Dit alles wil hy deurdryf, langs watter weg ook. Hy sal Bergman en nog baie ander berge en manne hiervoor onderstebo loop. Soos ’n aar wat onder die vel swel vanweë ’n obstruksie, so swel daar ’n spanning in hom oor hierdie Bergman.
Katrien … sy is nie onbewus van die man nie. Nou die aand by sy huis het sy hom kwalik geneem omdat hy Bergman weggestuur het. Sy het gesê dis onbeleef. Vreemd dat dit hom moet kwel. Geen kritiek kon hom nog ooit kwel nie. Maar ten opsigte van Katrien is hy kwesbaar.
En daarna was Katrien ingedagte, half luisterend, asof sy wag op die terugkerende voetstappe van die vent. Die ete het in swye geskied, en daarna wou sy huis toe. Sy voorneme om die jawoord te kry, het misluk. Sy was net nie vir teerheid beskikbaar nie.
Van die poskantoor af, nadat hy met tant Malie Coetzee gepraat het, klim Gileam in sy bakkie en ry na die Tosens se winkel. Hy kry net vir Martiens Levink daar. “Waar’s Katrien?” vra hy vir die dowwerige maar gewillige seun.
“Die tannie voel nie lekker nie, oom Gieljam.” Hy rek die “tannie” op ’n eienaardige manier. “Sy’t gesê ek moet maar toesluit as dit tyd is. Hier’s ook nie juis mense nie. Ek dink … ek bedoel, ek weet die tannie het ’n brief gekry vandag.” Die laaste woorde is betekenisvol, sodat Gileam liggies frons.
“Jy moet ophou vir haar ‘tannie’ sê, jong. Sy’s g’n tien jaar ouer as jy nie.”
“Nou hoe moet ek dan sê, oom