Louisa du Toit Omnibus 9. Louisa du Toit
is dit vir haar of Kirsten net hier langs haar sit, sy stem plaend in haar oor. Sy het hom omtrent veertien maande geken, waarvan hulle die laaste sowat vyf maande in ’n verhouding was. Dat hy weg is, is nog so onwerklik. As daar nog ’n begrafnis was. Maar niks. Nie eers ’n roudiens nie, omdat sy ouers aanvanklik nog wou bly glo dat hy leef. Sy het ook nooit enige van sy mense ontmoet nie. Alles en nog meer het vir hulle heerlik in die toekoms gelê.
Toe Gileam om sewe-uur aanklop, is dit om deur ’n verwese, afgetrokke meisie in ’n roomkleur bloese by die deur ontmoet te word.
8
“Kyk,” sê Koos Coetzee tussen wolkies pyprook deur, “daardie tye was dit anders. Elkeen kon maak soveel hy wil. Toe kom die wet daarteen uit en die liksense. Hulle kon nie anderster as om vir my ’n liksens te gee nie, sien, want g’n mens sou my affêre kon afbreek nie, so goed het ek hom gemaak. Dis net daai neef van die tante, die Janmaans wat ons jou van gesê het …” Die laaste woorde het beslis ’n verskuilde betekenis.
“Hy kon so tye lank by ons kom kuier. Lê, eintlik. As jong man al, nog voor hy getroud is. Hy het ’n besondere hand vir die ambag gehad. Maar hierdie vroutjie van my was kwaai. En toe Janmaans aanhou om te wil skelm verkoop, het Malie die vuurwater laat leegloop, sien. ’n Hele oes se stooksel. Janmaans word so kwaad dat hy my ketel met die skroefhamer toetakel.”
“Nou toe nou, oom,” sê Jonathan. Hy kyk nie op nie, want Koos se blik raak by die dag vorsender. Hierdie vertellery is nie om dowe neute nie; dis by wyse van uitlokking. Die ontledende blik aan ontbyttafel die eerste oggend toe Malie die foto’s gewys het, was alte sprekend.
Jonathan is verlig toe Malie tussendeur begin seur, want ’n mens kan haar vertelstem nie juis anders noem nie. “Ek was vanmiddag by Katrientjie in die winkel,” sê sy. “Sy gaan vanaand by Gieljam eet. Ek het gehoor toe Gieljam se dogter haar bel om te vra of sy ’n sekere iets eet, ek weet nie wat nie.”
“Seker kaviejaar,” meen Koos Coetzee met sy heggeheg-laggie.
“Ag, Koos, wag nou eers met jou grappe la’k julle klaar vertel. Katrientjie sê met die landboukonferensie het sy nog heelwat ekstra klandisie gehad, maar nou is die winkel weer so leeg soos môre heeldag.”
Dit laat Jonathan weer van die hotel onthou. Teen hierdie tyd moet hulle vir hom plek hê, veral as hy baie deemoedig en beleef is. Maar kan dit waar wees dat Koos hulle gaan afpraat het? Ewe ongeërg noem hy dit. “Ek moet dan weer by die hotel gaan hoor of daar nie nou plek is nie.”
“Vir wat?” vra Malie.
“Ja, vir wat?” plaas Koos die stempel voor Jonathan nog ’n woord kan uitkry. “Jy hoef nie bang te wees dat jy op ons nekke lê nie. Om die waarheid te sê, ek het met Jaap Genis van die hotel gepraat toe ek hom sien. Vir hom gesê jy dwing hier weg omdat jy eergevoelig is. Maar dat dit nonsens is, jy bly goed hier.”
“So,” sê Jonathan verbaas en dink: Dan was Katrien Tosen reg in haar vermoede. Sy ken omtrent haar dorp se mense soos die palm van haar hand. Dis vir hom haas ondenkbaar, gewoond soos hy is aan troppe mense wat heeldag in die betonoerwoud teen andere skuur sonder om mekaar een maal reg in die oë te kyk. “Oom, hy is seker maar ’n treurige hoteleienaar as hy hom sommer laat wegpraat van klandisie af.” Want hy is taamlik seker dat oom Koos wolhaarstories opgedis het.
“Nee, maar vrugtetyd eet hy uit my hand uit, jong. Hy kry mandjies vol hier uit my agtertuin.”
“Ek dog oom hou niks van ’n hotel nie?”
“Nee, niks. Maar van Jaap Genis hou ek. ’n Seun van die dorp.”
“Hoekom is oom-hulle so goed vir my?” wil Jonathan ongemaklik weet. Hy ken geen vorige geleentheid waar iemand as ’t ware tougetrek het om sy teenwoordigheid in die huis nie. Hy, wat so te sê huisloos is. Die woonstel wat hy huur en bewoon, kwalifiseer nie as ’n tuiste nie. ’n Tuiste is immers ’n plek waar harte vir jou klop en ore die klank van jou voetstappe afwag.
“Ag, ek en die tannie is ook maar alleen,” sê Koos Coetzee. “Miskien is dit omdat jy so baie soos oorle’ Janmaans lyk, wie weet?”
Hy sê dit weer eens net te argeloos, sodat dit ’n rilling met Jonathan se ruggraat af. Wat weet Koos Coetzee, of wat vermoed hy? Het hulle al sy regte van uitgevind? Waarom is hy so direk in sy optrede en waarom laai hy elke woord so swaar met betekenis?
Ek is besimpeld, maan Jonathan hom toe hy later in die koel agtertuin ronddwaal. Hy sit op ’n walletjie wat netjies rondom ’n perskeboom opgewerk is. Die stukkie inligting wat hy kwytgeraak het, behoort ’n natuurlike dood te sterf in Katrien Tosen se gemoed, en hy sal sy taak hier afhandel en teruggaan na Jeannie toe. Hy sal haar onskadelike spot verduur oor die “uitdrogingskursus” waarop hy was, en alles sal wees soos voorheen.
Hy het gister met Jeannie gepraat en dit was ’n lekker gesprek. Tog, die oomblik toe die kontak beëindig is, het hy ver van haar af gevoel, afgesonderd, enkel.
Hy is nog besig om peinsend sy opsies te oorweeg, toe Malie hom foon toe roep. Dis jong Theunissen, die tegniese assistent, wat met hom wil praat.
“Meneer Bergman, ek voel so ’n bietjie omgekrap. Gileam Dormehl het allerhande idees in die raadslede se koppe geprop.”
“Oor daardie storie van hom? Belaglik. Hy kan nie sy sin kry nie.”
“Juis. Maar die man het ’n geweldige invloed hier. Daar is nie een mens op Isaacsdam wie se arm hy nie op ’n manier kan draai nie.”
“Ek sal môre sorg dat ek hom te siene kry.”
“Ja, liewer. Ek is ook ingevoerde bloed hier op Isaacsdam, en van sy gekonkel hou ek niks.”
Toe Jonathan klaar gepraat het, sit hy die gehoorbuis nadenkend terug. Dan besluit hy: Ek gaan hom vanaand sien. Hy wil mos juis vanaand met Katrien Tosen handjies vashou.
Daar groei ’n soort drif uit hierdie besluit, ’n verbetenheid. Hy sal hulle nie toelaat om ongehinderd in mekaar se geselskap te verkeer nie. Hy gaan die nes uitmekaar skop, dis wat. Dit sal vir Gileam Dormehl leer om koning te kraai.
“Ek moet netnou ’n bietjie uitgaan,” sê hy vir tant Malie waar sy op die agterstoep haar dierkinders versorg.
“Weet meneer wat?” vertel Malie hom met bessiebruin ogies. “Meneer het dieselfde van as wat ek gehad het, regtigwaar. Toe die mens op die telefoon praat en na meneer Bergman vra … reken, ek dag nog altyd dis Berg. Heiden, Koos,” roep sy heerlik bly toe sy die stampende voetstappe van buite af hoor inkom. “Koos, ek sê, ons is besig om agter die kap van die byl te kom. Dis nooit Berg wat die meneer is nie, dis Bergman. Dieselfde as my nooiensvan. Dan móét hy familie van Janmaans wees.”
“Ag, Malie, moet tog nie so op loop sit nie,” sê Koos ongeduldig, sodat haar volmaangesig meteens verduister. “Uit miljoene gesigte en vanne moet party soms eenders wees.”
“Maar …” Haar postuurtjie swel sigbaar uit van erns.
“Basta nou,” maak Koos sy vrou stil. “Jy neul en neul aanmekaar, en jy hoor die man sê hy’t g’n familie nie. Jy dryf hom uit hotel toe, dis wat jy doen.” Sy asem stoot met driftige teue deur sy neus, terwyl die wenkbroue tale praat. “Wie wil nou ook familie van daardie Janmaans wees,” mompel hy verlaas agterna.
“Ja, Koos,” prewel sy skoon oorbluf. Maar toe sy wegstap, hoor Jonathan haar snuif en hy sien die voorskoot se punt oë toe gaan.
Wat doen ek? vra hy hom af. Ek het hier aangekom om hierdie eenvoudige mense ongelukkig te maak, terwyl hulle tot dusver sigbaar nie aan dwarstrek gewoond was nie.
Hy huil in sy hart. Sal hy nie onthou hoe dit voel as die vrou in die huis ongelukkig is nie? O, sal hy nie? Want Dirkie van Janmaans, die vrou wat sy moeder was, het dikwels met haar rugkant na die wêreld gehuil, haar voorkant na ’n bak vol vuil skottelgoed of wasgoed. Hy onthou die sjokkesjok van die ou wasmasjien wat nie meer ’n deksel gehad het nie.
Ek wil nie onthou nie,