Louisa du Toit Omnibus 9. Louisa du Toit
“Ja, toe maar, jong. Ek gaan deur na haar toe, hoor.”
“Ja-m.”
Met hoed in die hand loop Gileam op sy tone deur die huis. Dit sê veel vir hom, vir wie ’n mens altyd op ’n afstand kan hoor loop, praat, asemhaal. Hy loer by die ouman in, maar dié slaap. Gelukkig ook maar, die ou drelkous. Dis nog ’n ding. Wat maak ’n mens met ou Tippie as alles volgens plan verloop? Hom in ’n tehuis sit? Anders ’n oppasser huur om hom hier in die ou huis op te pas. Dalk gaan hy voor die tyd heen. Na ’n beroerte verwag ’n mens maar dikwels ’n verdere, dalk noodlottige aanval. Gileam reken nie dat hy ongevoelig is nie. Hy is net ’n natuurmens, en hy weet dat die natuur homself van swakhede skoonmaak.
Voor Katrien se halfoop kamerdeur huiwer hy. Hy weet dat hy nou haar privaatheid oortree, maar daar is nie omdraaikans nie. Hy sien haar in ’n ou leunstoel sitlê, maar sy staar in die niet. Dit lyk werklik of sy nie eers van hom bewus is nie.
Hy tik liggies teen die deur.
“Katrientjie?” ’n Onbekende skroomvalligheid oormeester hom.
“Kom maar in, Gileam.” Dan weet sy hy is hier, maar haar blik bly nog leeg in die niet gevestig.
“Hoesit dan, ou meisie?” Hy bly op ’n veilige afstand staan, soos altyd bedug vir praatjies, boonop onseker in hierdie situasie waar hy nie die hef in die hand het nie.
“Martiens Levink sê jy’t ’n brief gekry wat jou ontstel het. Is dit geldelike moeilikhede?” Hy neem ’n halwe tree nader, meer seker van homself. “Jy moet jou nie kwel nie. Alles sal nou gou verander. Ek is besig om Bergman uit die pad te kry. Ek het die dorpsraad op my hande, en ek het sy baas ook gebel.”
Waar sy op die punt was om hom van die brief te vertel – die brief wat, soos iets aansteekliks, daar eenkant op die wastafel met die marmerblad lê, weerhou Katrien haar daarvan toe hy Bergman se naam noem. “Jy het wat? En hoe bedoel jy, hom uit die pad kry?” onthou sy die een stukkie van sy mededeling wat haar dadelik as betekenisvol getref het.
“Net wat ek sê. Wat tannie Varkie my nou die dag vertel het, het my twee en twee bymekaar laat sit. Hy’s nie verniet so glibberig en ontwykend nie. As my vermoede reg is, is hy die seun van ’n skurk.”
Katrien kom orent in die stoel. Die doodsheid in haar blik word verplaas deur ’n ontsettende vermoede: “En jy het sy baas gebel om hom dit te sê?”
“Einste,” grinnik Gileam.
“Jy reken nie dis agteraf en onderduims nie?”
“En hy dan? Bergman self? Praat van agteraf en onderduims. Sy lyf hier kom rondswaai.”
“Jy het nie die reg gehad nie, Gileam.”
“Hoekom nie? As sy baas reeds alles van hom weet, het Bergman mos niks te vrese nie. As sy baas nie weet nie, wys dit net Bergman is ’n bedrieër, en dan’s dit tyd dat hy aan die pen ry. Reken, om só iemand uit te stuur Isaacsdam toe. Dan wil hy nog eerlike mense se planne in die wiele ry.”
Stadig staan Katrien op. Sy kom tot by hom. Haar spikkelgrys oë blits hier naby sy gesig. “Ek het altyd geweet jy kan mense uit die pad loop, Gileam,” sê sy. “Maar ek het nie gedink jy kan so laag wees nie. Om iemand agter sy rug te beswadder. Probeer ruïneer.”
“Ek? Waarvan praat jy, mens? Hy ruïneer homself,” stuif Gileam ook nou op. Hy is nie gewoond aan teenstand, veral wanneer dit van ’n vrou kom nie. Daarvoor was Noekie eens te onderdanig en gedwee. Selfs van Katrien sal hy dit nie duld nie. Sy moet liewer vroeg leer om sy leiding te respekteer.
“Jy weet waarvan ek praat. Trap hier uit, Gileam.”
“Jy jaag my weg?”
“Jy’t buitendien seker vergeet dis my slaapkamer hierdie.”
“Jy’t gesê ek kan inkom. Maar orraait, ek wag vir jou in die voorhuis.”
“Jy wag nêrens vir my nie. Jy’s ’n stukkendmaker. Jy het vir Noekie gebreek. Jy is jou kinders aan ’t breek met jou dominering. En vir wie almal nog? Nou vir Bergman ook. Is ek die volgende een? Nee, dankie.”
“Môre voel jy weer beter,” verseker hy haar. Net hy weet wat dit hom kos om so kalm te bly. O, hy durf ’n vrou met soveel vuur nie verloor nie. Solank haar vuur net nie syne probeer oortref nie.
“Hoe sal jý weet hoe ék môre sal voel, Gileam Dormehl?”
“Want ek weet jy is ontsteld oor ’n brief wat jy gekry het. En ek sê mos ek sal dit hanteer. Gee hier, ek sal die duurste prokureur kry.”
“Alles in die lewe gaan nie oor geld nie. So jy kan my nie met hierdie brief help nie, Gileam. Nie jy nie. Dis ’n brief om te sê dat Kirsten de Villiers nog lewe.”
Lank nadat sy ontslae geraak het van die verbysterde Gileam sit Katrien nog en staar na die brief van professor Andrews. Dan raak die aandrang te sterk en sy gaan nader om dit weer eens oop te vou. Sy wou dit nie teen haar lyf hê nie, daarom het sy dit netnou daar eenkant neergesit.
Ek hoop nie ek dien jou nou die skok van jou lewe toe nie, Katrien. Toe ek jou nou die dag bel, het ek nog niks geweet nie. Toe kom my vriend die registrateur vir my sê Kirsten de Villiers was by hom. Wou weet of, as hy weer inskryf, hy krediet sal kry vir die kursusse wat hy reeds voltooi het. Hy het glo verneem na jou, of jy weer vanjaar Frans doseer.
Daarom skryf ek nou dringend vir jou. Ek wil nie bel nie en ek wil ook nie hê jy moet dit oor ’n paar dae in die koerant lees nie. Verskoon dat ek voordeel probeer put uit hierdie skokkende gebeure, maar kan ons jou nou terug verwag in jou pos? Ons val nog baie rond, hoor, en jy weet mos ek wil graag so gou moontlik oorsee vertrek.
Die kamer is bedompig. Katrien kom agter dat haar hande sweet en die skryfpapier kreukel.
Kirsten is nie dood nie.
Geheueverlies, skryf professor Andrews. Sy kop teen ’n rots gestamp en iewers uitgespoel. Sy weet dis ’n leuen. Hy het opsetlik verdwyn om uit die moeilikheid met Janie Wilken te kom, en daarna terug te keer na haar, Katrien. Sodra die koerante met hom klaar is en die stof gaan lê het, sal hy weer toenadering soek. Sy weet dit onfeilbaar.
Dink hy werklik hulle kan die duisende skerwe van hulle planne weer las? Hulle sou trou; hy sou studeer en sy sou klasgee. En toe sien hy kans om soveel leed en smart te veroorsaak, willens en wetens, net om aan sy verantwoordelikhede te ontkom.
Sy voel lus om histeries te lag. Teruggaan na Kirsten? Oor haar dooie liggaam. Sy het te swaar hierdeur gekom. Soveel pyn kan nie reggestel word deur dit in trurat te gooi nie. Sy sal teruggaan om klas te gee, ja. Sy het nou geen herinneringe meer te vrese nie. Martiens Levink se ma is bereid om weer in te staan vir die versorging van haar pa. Die Levinks het ’n ekstra geldjie ook maar broodnodig. Hier raak die wêreld vir haar te klein. Sy moet wegkom van Gileam af, hy sal haar nie ’n oomblik met rus laat nie.
En tog het sy op die oomblik ’n groter probleem: Bergman. Hy reken teen hierdie tyd waarskynlik dat sy hom verraai het. Hoe kon Gileam doen wat hy gedoen het? Skep hy dan behae daarin om mense te breek, te vernietig? En om te dink dat sy amper self in die slagyster getrap het. Net so asof wyle Noekie Dormehl se lewe nie ’n groot genoeg les was nie; daardie bleek, siellose gesig.
Die wind … ag, genade, die wind het weer opgekom. Dit ruk aan die ruite en sug deur die akkerboom. Sy sal nou, voordat die nag met sy slapelose ure toesak, vir Bergman moet gaan opsoek en hoor of daar nog iets te redde is. Sy moet hom oortuig dat sy nie oor sy familie gepraat het nie, dat haar woord haar eer is.
Maar eers moet sy aandete maak en haar pa versorg. Die bekende take is vanaand meer as welkom, ’n terapie vir haar dolende gedagtes. Die skok oor Kirsten, die kommer oor Bergman. Terwyl sy doenig raak, word laasgenoemde kwessie oorheersend.
Katrien het nie ’n motor nie, en haar pa s’n is kapot. Toe sy teen skemer haar hare vasbind en die winderige strate te voet aandurf, is dit met een verterende dryfveer: om by Bergman te kom. Hy moet haar glo. Hy móét