Haar ma se kind. Helena Hugo

Haar ma se kind - Helena Hugo


Скачать книгу
“Ek meen, dis soos jy grootgeword het, dis die voorbeeld wat hy vir jou gestel het. Hy was spyt, dis hoekom hy by jou kom huil het.”

      Hy knik en tuur by haar verby. “Dit sneeu nie meer nie.”

      Sy wou nog vra of hy sy pa vergewe het. Dan dink sy aan Dania. Wat sal Dania sê as sy moet weet haar ma het haar weggegooi? Moet sy nie maar alles los soos dit is nie – aanhou lieg tot in ewigheid?

      “Die sypaadjies gaan glad wees,” sê sy. “Ons moet huis toe voor dit verys.”

      “Het ek jou aand bederf?” vra hy berouvol. “Het ek jou met my laste belaai?”

      Sy kyk hom reg in die oë. Sy gesigsuitdrukking vul haar hart met deernis – en, vreemd, sy neus ook.

      “Nee, jy het my raad gegee. Daar kom ’n dag van afrekening, van omdraai. Jy het dit reggekry, ék moet nog mý sondes bely. Ek is nie seker hoe dit gaan uitwerk nie. Ek kan dalk alles vererger!”

squigle.jpg

      Dis Saterdag. Dania draf al vinniger en vinniger – asof dit haar sal help om vir goed weg te kom van die huis waar antie Dora siek lê en alles onderstebo is. Antie Emma het die sopkombuispotte Vrydagaand teruggebring en antie Dora verseker dat alles onder beheer is. Mevrou Maasdorp, wat in haar jong dae blykbaar verpleeg het, help by die kliniek, en ouma Mara-hulle sorg saam vir ouma Loesie en ander wat tuis verpleeg word. Antie Dora moet in die bed bly tot sy gesond is en ook nie weer probeer koesisters bak nie.

      Antie Dora het Vrydagoggend, nadat Dania en oom Jonnie weg is skool toe, opgestaan en deeg aangemaak en heeloggend koesisters gebak. Sy was agterna so pootuit dat sy die skottelgoed net so laat staan het en die olie op die stoof gelos het met die plaat nog aan.

      Gelukkig het Dania vroeg klaar geskryf en dadelik huis toe gegaan. Toe borrel en rook dit al soos lawa in ’n vuurspuwende berg. Sy het die pot afgeskuif en al die vensters oopgemaak, maar die reuk wou nie uit nie en oom Jonnie was woedend.

      Hy is nie geduldig met antie Dora nie en antie Dora is siek. Sy humeurigheid pla Dania so, sy is lus en verkla hom by Dominee.

      Dis hoekom sy die pad gevat en gaan draf het, want antie Dora wil opstaan en oom Jonnie baklei met haar. Dania het die oggendskottelgoed gewas en die kombuisvloer gevee. Sy het die taai koesisterstroopkolle so gekyk en besluit sy sal moet vloere was, maar later, as oom Jonnie toetse merk en sy studeerkamerdeur toegetrek is.

      “Ek gaan draf!” het sy hulle in die gang af gegroet en nie gewag dat een van hulle haar keer nie. Hulle was in elk geval so ernstig aan die redeneer – soos oom Jonnie hul uitvalle beskryf – dat hulle nie in haar belang gestel het nie.

      Een van die dae is Jo-Anne hier, dan sal hulle hul beste voetjie voorsit.

      Antie Dora kan nie wag om gesond te word nie – sodat sy kan koekies bak en lekkergoed maak. Sy gee altyd Kersgeskenkpakke vir elke familielid en vir almal in die dorp saam met wie sy werk, ook vir haar pasiënte én die armes. Sy werk haar elke Kersfees gedaan. Oom Jonnie het gisteraand gesê hierdie Kersfees kan sy winkellekkers koop, maar sy staan nie weer op voor haar bloeddruk en hartklop normaal is nie. Hy wil haar Clanwilliam toe vat om die dokter te spreek, maar sy sê sy kan wag tot die reisende kliniek weer dorp toe kom.

      Sy was baie kwaad omdat hy vir Jo-Anne wou laat weet. “Ek is skaars twee dae in die bed en jy maak of ek doodsiek is. Wat kan Jo-Anne in Londen doen, behalwe om haar te bekommer?”

      “Sy kan vroeër kom en langer bly.”

      “Die huis is vuil, ek gaan nie dat Jo-Anne die huis so kry nie.”

      “Jy gaan jou nie vermoei nie.”

      “Ek sal Valery kry om te help.”

      “Dit sien ek nog.”

      “Ek het griep, Jonnie, nie hartversaking nie.”

      “Dis oorerflik.”

      “Ek het dit nie.”

      “Jou familie is vrot van die hartsiektes en jy verbeel jou jy spring vry.”

      “My hart makeer niks.”

      “Jy redeneer teen jou beterwete in. Ek loop liewer voor ek jou ontstel.”

      “Jy het klaar.”

      Dania is al ’n hele ent weg en haar kop draai steeds van die oor-en-weer-beskuldigings.

      Woorde, woorde, woorde wat steek soos bye wat uit ’n korf losgelaat is en agter jou aanvlieg en aanhou steek en seermaak. Dania wens sy kan tot in Lambertsbaai hardloop, maar haar voete volg dieselfde paadjie, altyd in die rigting van ouma Mara se roosheining en die huis waar Rodger woon.

      Dié keer hoef sy nie die hele straatblok af te draf nie, sy sien hom sit op die hoek van Negende Laan en Tweede Straat. Haar hart gaan so wild aan die klop, dit voel of sy ook die familiekwaal geërf het. Maar sy sal tog dat dit haar keer! Sy haal diep asem en verslap haar pas sodat sy by hom kan stop.

      Sy bene en krukke steek voor hom uit, reg in die straat in, en hy staar na sy selfoon se skerm.

      “Haai!”

      “Haai.”

      Slegte nuus?

      Hy prop die selfoon in sy sak en kyk weg.

      “Jou bene is reg in die pad. Wil jy hê iemand moet hulle vir jou afry?”

      “Hier ry nie karre nie.”

      “Jy dink so.”

      “Oukei – om jou te please.” Hy swaai sy bene uit die pad.

      “Jy’s ver van die huis af – met jou krukke.”

      “Jy ook – met jou kieriebeentjies.”

      Dania wil haar vererg omdat hy haar beentjies beledig, maar dalk het sy daarvoor gesoek. En dit wys ten minste dat hy haar raaksien.

      “Ek wil hulle laat rus. Kan ek sit?”

      Hy klap met sy hand op die sypaadjie langs hom en sy gaan sit so een liniaallengte van hom af.

      “Julle klaar geskryf?” vra hy.

      “Gister. En jy?”

      “Ek moet volgende jaar hereksamens doen.”

      “Dis nie reg nie.”

      “Ek wil mos my lewe in gevaar stel en verlief raak op die verkeerde meisie.”

      Jou stupid, dink Dania, hier sit die regte een langs jou en al wat jy sien, is haar kieriebeentjies. “Daar’s ander meisies,” sê sy tentatief.

      “Ek sal haar nooit weer sien nie.”

      “Het julle dit uitgemaak?”

      “Sy’t hulle adres ge-SMS.”

      Dania tel ’n stokkie op en krap daarmee in die sand. “Gaan jy soontoe?”

      “Ek besluit nog.”

      Sy gooi die stokkie dat dit trek. “Jy hou dan so van haar.”

      “Ek hou van haar, maar dis beter dat ek haar los.”

      Dania kyk na hom. Iets is verkeerd, en dit kan dalk tot haar voordeel strek.

      “Hoekom?” waag sy dit.

      “Ek’t gister gebel, toe sê haar oupa hy gaan haar nie roep nie, en ek moenie weer bel nie.”

      “Dis goor.”

      Dania is in haar skik om te hoor hoe goed sy toneelspeel. Vir haar is dit allesbehalwe goor.

      “Toe vra ek of hy my ’n rede kan gee.”

      “Oukei?”

      “Hy sê Talita maak ’n nuwe begin, sy moet die verlede vergeet en nie meer skuldig voel oor goed wat gebeur het nie, dis hoekom hy my vra om te bly waar ek is.”

      Dania


Скачать книгу