Ver bo korale. Susanna M Lingua
“Niel is reg, doktertjie,” hoor sy oubaas Jacques sê, “dis ’n man se werk om agter siek mense aan te ry en hulle gesond te dokter. Ek dink dis sommer nonsies dat Daan en Gerda jou so ver laat leer het. ’n Vrou se plek is in die huis, voor die kospotte en by haar kinders; dis wat jy moes geleer het.”
Elaine ruk haar dadelik op en kyk die oubaas effens uitdagend aan.
“Daardie gedagte is oudmodies en lankal uitgedien, oubaas,” weerspreek sy hom. Sy het moeite om haar ergernis te bedwing, maar gaan nietemin voort. “Die hedendaagse professionele vrou kan enige tyd net so ’n bekwame huisvrou soos enige ander vrou wees.”
“Nou kyk, ek wil nie met jou stry nie, doktertjie, want jy klink vir my alte glad van tong,” sê die oubaas, “maar Niel is reg. Jy is gans te tengerig om dag en nag agter siek mense aan te ry. Jy sal maar die mense in ou Swanepoel se ondersoekkamer moet regsien. Op dié manier sal die ou sy verskyning hopelik gouer op Bordeaux maak wanneer ek en Niel hom nodig het.”
Elaine kyk die oubaas met ’n blik aan wat duidelik sê dat hy oningelig is, haar hartlik irriteer en dat sy hom net duld omdat hy haar ouers se gas is.
“Ek mag miskien volgens jou mening te tengerig wees, oubaas, maar ek verseker jou dat ek glad nie so pieperig is soos wat ek lyk nie. Dit lyk my jy is geneig om ander mense te onderskat, maar ek sal jou aanraai om nie daardie fout met my te begaan nie.”
Gerda kyk haar uitgesproke dogter bestraffend aan, en besluit dan om maar liewer te gaan koffie maak. Dit is vir haar baie duidelik dat Elaine op die oorlogspad is en haar nou aan geen vermanings sal steur nie.
“Ek het flussies vir Elaine gesê dat omstandighede my dwing om Boskloof te verkoop,” begin Daan, maar Elaine gee hom nie kans om meer te sê nie.
“Pappa het dit seker nie ernstig bedoel nie,” sê sy, nou met ’n sagte blik in haar groen oë. “Ek kan nie glo dat my ou paps, wat altyd so verstandig is, so ’n verskriklike ding sal aanvang nie. Boskloof is my en Pappa se geboorteplaas, en vir my was die ou plaas nog altyd ’n veilige hawe waarheen ek kon terugkom . . . Nee, ek kan my nie met die gedagte vereenselwig dat Boskloof aan iemand anders moet behoort nie. Ek sal die nuwe eienaar nooit vriendelik gesind kan wees nie. Ek sal hulle altyd as my vyande beskou, mense wat my van my geboorteplaas beroof het . . .”
“Elaine, kindjie, moenie so onverskillig praat nie,” vermaan haar pa haar met ’n moeë stem. “Die nuwe eienaar het geen skuld daaraan dat ek die plaas moet verkoop nie!”
“Niemand het die reg om Boskloof te koop nie, Pappa,” hou sy ontsteld vol. “Dit is ons familieplaas en my nageslag moet ook nog op Boskloof grootword. Dit is hulle erfenis. Sal Pappa graag wil sien dat my kinders eendag in ’n stad of . . . of op ’n dorp grootword? Sonder die ou plaas sal ons heeltemal ankerloos wees. Ons Enslins sal nooit in ’n stad of op ’n dorp aard nie, Pappa.”
“Ek weet, kleintjie. Ek weet ook hoe lief jy ou Boskloof het, maar ek het die afgelope jare te veel teenspoed met die boerdery gehad . . . Ek het uitgeboer, Elaine.” ’n Moedelose sug ontsnap oor Daan se lippe, ’n sug wat Elaine se hart na hom laat uitgaan. “As daar net nie so ’n groot verband op die plaas was nie . . .”
“Ek het nie geweet Pappa het ’n verband op Boskloof geneem nie. Het Pappa dit gedoen om vir my studie te betaal?” Daar is ’n groot hartseer in haar stem wat nie een in die vertrek se oor ontgaan nie.
Daan skud sy kop. “Jou oupa het die verband ’n jaar of wat voor sy dood geneem, Elaine. Ek het alles in my vermoë gedoen om hom van sy wilde plan te laat afsien, maar jy weet self hoe koppig jou oupa soms kon wees. In elk geval, al sy wilde skemas het deur die mat geval. Net die denneplantasie het oorgebly.”
“Kan Pappa nie die bome saagmeule toe stuur nie?” Elaine kyk haar pa hoopvol aan, maar weer word haar hoop verpletter.
“Die bome is nog te jonk, my kind,” sê hy moeg, “en die diere is ook te maer vir die mark. Nee, ek het aan alles gedink en daar is net een uitweg; ek sal Boskloof moet verkoop.”
Elaine se groen oë dwaal na die oop venster. Sy kyk na ’n paar wit wolkies in die blou, na die gesigseinder waar die berge in hul afsonderlike bloutes inmekaar vloei.
Na ’n rukkie sê Elaine weer: “Ek hoop nie Pappa gee die ou plaas vir ’n appel en ’n ei weg nie. Daar sal baie aasvoëls wees wat ou Boskloof half verniet sal wil hê . . .”
“Gelukkig sal dit nie vir my nodig wees om Boskloof vir ’n appel en ’n ei weg te gee nie, kleintjie,” lig Daan haar in. “Niel het my ’n redelike prys aangebied en my ook gevra om hom met Boskloof se boerdery te help . . .”
“ ’n . . . ’n Bywoner?” Sy kyk haar pa geskok aan, maar dan tref ’n ander gedagte haar meteens en sy vervolg onomwonde: “Het ek Pappa reg verstaan? Gaan Paps ons plaas aan . . . aan . . . hierdie man verkoop?” Sy knik in die rigting van Niel Durandt, en die intonasie in haar stem sê duidelik dat ’n Durandt glad nie haar goedkeuring as nuwe eienaar van Boskloof wegdra nie.
Niel snap dadelik wat sy met “hierdie man” bedoel, maar hy is gelukkig nie ’n man wat hom maklik van stryk laat bring nie.
“Mag ek vra waarom jou pa nie julle plaas aan mý mag verkoop nie, dokter Enslin?” vra hy.
Elaine kyk die jong man onthuts aan en haar stem bewe effens van ergernis toe sy sê: “Omdat ek van plan is om Boskloof later terug te koop, maar ek ken julle Durandts. Julle sal al wat ’n plaas hier in die omtrek is, inpalm as julle maar net die kans kry. Ek weet ook dat, sodra Boskloof in jou besit is, die plaas vir die Enslins vir altyd verlore sal wees. Daarom, meneer Durandt, sal ek alles in my vermoë doen om te verhoed dat Boskloof in jou of jou pa se hande val.”
Niel se donker oë helder dadelik op by die aanskoue van Elaine se gramskap. Haar opstandige gesiggie is inderdaad die oulikste wat hy nog gesien het, en wanneer haar groen oë so vlam van ergernis, is sy vir hom onweerstaanbaar mooi.
“Ou rooikoppie,” glimlag hy goedig, “jy gaan net jou tyd verkwis.”
“Meneer Durandt,” val sy hom onthuts in die rede, “ek het geen begeerte om familiêr te wees met jou nie. Ek is dokter Enslin vir jou, onthou dit, asseblief.”
“Wel, ek moet sê jy is vervlaks oulik as jy kwaad is, groenoog,” laat Niel terglustig hoor. “Ek sal beslis ’n punt daarvan moet maak om jou knaend in ’n slegte bui te hou.”
Elaine stik byna van woede. Sy sluk ’n paar maal en voeg hom dan skerp toe: “Jy is glad nie snaaks nie, meneer Durandt. Ek sou eerder sê jy is onuitstaanbaar . . .”
“Dis maar net omdat jy my nog nie goed genoeg ken nie, nooientjie,” weerspreek hy haar, nog steeds in ’n terglustige bui. “Maar jy sal wel die geleentheid kry om my beter te leer ken, rooikop . . . e . . . dokter Enslin, want sien, niemand sal die prys vir Boskloof betaal wat ek jou pa aangebied het nie.”
“So!” Sy kyk die jong man met openlike afkeer aan. “En waarom is jy bereid om ’n hoër prys vir Boskloof te betaal? Is dit uit skone inhaligheid, of koester jy planne om die grondbaron van die distrik te word?”
Elaine se asem slaan byna weg van skone verontwaardiging toe sy die onmoontlike man met ’n terglustige stem hoor sê: “Nie een van die twee nie, groenoog. Ek doen dit uitsluitlik sodat jou kinders ook hier op Boskloof kan grootword soos hulle ma.”
“Jy . . . jy is seker van jou wysie af, of probeer jy om sarkasties te wees, meneer Durandt?” val sy hom kwaai in die rede. Geen mens het haar nog ooit so die harnas in gejaag soos hierdie jong man nie, en sy het ook nog nooit so positief lus gevoel om ’n man se nek om te draai soos wat sy op hierdie oomblik voel nie.
Maar Niel is salig onbewus van Elaine se moorddadige gevoelens en sê met ’n sagte laggie: “Nog nooit nie, groenoog! Mintig, kyk hoe skatlik lyk jy op die portret daar teen die muur. Dink jy ’n man sal dit ooit oor sy hart kan kry om met so ’n oulike nooi sarkasties te wees?”
“Ek weier om langer na jou onsinnige praatjies