Lamplig teen die seile. Louisa du Toit
ction>
LOUISA DU TOIT
Lamplig teen die seile
Jasmyn
1
“Uitspantyd,” sê Rudolf Viljee agtertoe, na waar die twee vroue in die wakap sit. Hy sit voor op die kis, breërandhoed vorentoe getrek om sy oë teen die laatson te beskut. Kinnie kan ongestoord kyk na die digte, ligbruin hare in sy nek. “Dit was ’n lang skof vandag. Julle twee is seker moeg.” Dis baie woorde vir hom. Hy praat verkieslik met die taal van sy oë en hande.
Weke lank is hulle reeds op pad vanaf Werfkraal naby Colesberg, diamantveld toe. Josefien se brief, gedateer 17 September 1871, het hulle twee maande gelede bereik. Josefien Meyer, buurdogter en vaste nooi van Rudolf, skilder die delwery as ’n towerwêreld voor. Julle moet nou roer, moenie te lank wag nie.
“Jy is reg, my kind, ons is moeg,” antwoord Lenie de Villiers, kortweg Viljee. Sy wou nie regtig die vreemde in nie. Rudolf ook nie, maar hy het hom deur Josefien laat oorreed. Net tydelik, ’n vinnige fortuin tot voordeel van die boerdery. Maar vir hom om alles in gehuurde hande te los, veral in droogtetyd, was nie maklik nie. En Lenie Viljee kon nie anders as haar seun ondersteun nie. Sy het in haar veertigs die lewe aan hierdie enigste kind gegee, en daarna is haar man dood.
Die meisie wat langs Lenie op die plat riempieskatel sit, swyg. Die ruimte is beknop en hulle voete rus bo-op volgepakte sakke en blikke. Maar vir haar, Kinnie Rigter, was die lang reis ’n stille vreugde. Sy kon naby Rudolf Viljee wees sonder om skuldig te voel. Maar sy onthou altyd dat Rudolf eintlik behoort aan Josefien, haar ouer en soveel kleurvoller niggie, bevoorregter ook as die weesmeisie wat in haar skaduwee en half as haar lyfeiene grootgeword het.
Die Meyers van Tweefontein, oom Tysie en tant Mynie met hulle kinders Josefien en Frikkie, is reeds vooruit. Dat Kinnie toegelaat is om in Lenie Viljee se sorg agterna te kom, is sekerlik omdat hulle spasie min was. Al het die Meyers met twee rytuie vertrek, is hulle meer siele en besittings. Josefien is duidelik nie bang dat Kinnie in haar slaai sal krap nie. Kinnie is net die aanlapkind uit Jan Disselsvlei naby Clanwilliam, wie se sukkelende pa haar nie kon versorg toe hy wewenaar word nie. Sy vrou is met tweeling en al tydens ’n bevalling dood. Die Meyers, Kinnie se peetouers, het haar gaan haal toe sy agt was. En daarna is haar pa ook dood. Kinnie is die afgelope twaalf jaar by die Meyers.
En Josefien het inderdaad niks te vrese nie. Kinnie vermoed Rudolf sien haar nie eers behoorlik raak nie, al het hy eenkeer ’n swaar emmer putwater uit haar hand kom vat by die Meyers se agterdeur. Hy is wel seker bly omdat sy ’n goeie hulp vir sy ma is. Dit was sy ook, op die lang skommelreis oor steiltes en deur laagtes. Kosbaar was die aande langs die kampvuur, met speldepuntjies vuurlig wat in Rudolf se turende oë weerkaats. Die laaste nagte was dit heldermaan, die veld vol skadu’s.
“Hoookaaai!” roep hy nou in sy fors stem. Die osse gehoorsaam dadelik. Sy langgerekte bevel bly oor die kaal aandveld hang. Hoe erg dat die veld al so gestroop is. Hulle moet elke keer verder van die ruwe wapad af stilhou om weiding en hout te vind. Wild is daar ook nie meer nie, daarvoor het fortuinsoekers van oor die hele aardbol gesorg. Af en toe slinger ’n haas voor die wa uit, of ’n meerkat staan waaksaam op sy dik dye voor die gat orent. Saans hoor hulle jakkalse huil, maar goeiste weet of hier nog kos vir die goed is. Hier en daar is die songebleikte gebeente van blylê-trekdiere. Plaasvee is nie meer te sien nie, opstalle lê verlate soos almal agter die blink klippies aan stroom. By verlate plaasputte kon hulle soms watervaatjies vul. Trekdiere wat los rondloop, is waarskynlik die eiendom van delwers.
Kinnie kyk na Rudolf, soos altyd wanneer sy dit veilig ag. Kyk na die neersit van die sweep, die span van sy skouers onder die oophangende dra-onderbaadjie toe hy liggies op die wakis druk en grond toe spring. Dan kom sy agter dat tant Lenie haar ongemerk dophou. Haar wange word warm, en sy hoop dat die kappie se rand dit verberg. Maar groter as haar verleentheid, is haar sekerheid dat tant Lenie sal stilbly. Al is sy net ’n gewone boerevrou, is sy fyn van aanvoeling en wys van hart.
Toe die osse staan, laat Jakob die leitou los en raak besig met stroppe en jukke. Die moeë diere loei smagtend, want hulle het water geruik. Rudolf is in sy skik dat hy groenigheid en ’n oop veldwaterjie gevind het, wat getuig dat dit onlangs hier gereën het. Kinnie help vir tant Lenie afklim voordat sy die nodigste goedjies aflaai. Driebeenpot, swartgebrande keteltjie, drievoet, vuuryster. Die roetine is al so bekend en gelief.
Rudolf het sy hoed nou weer agtertoe gestoot, soos altyd wanneer hy besig raak. Net as hy ingedagte raak kom die hoed vorentoe, asof hy daarmee die gedagtes in sy geelbruin oë wil wegsteek. Vandag ry die hoed wipplank. Dis omdat die reis einde se kant toe staan. Hulle is reeds dae lank in Griekwaland-Wes, met rantjies wat beurtelings oopmaak of toemaak om die uitsig te versper. Die rytuie wat hulle verbysteek, word meer. En hoeveel ander paaie en rigtings is daar, oor land en see? Dis ’n verontrustende gedagte. Kinnie het nie maklik grootgeword nie en moes dikwels growwe werk doen; tog was haar lewe by haar aanneemfamilie ’n beskutte klein bestaan.
Sorgsaam ondersoek Rudolf die beseerde poot van Donkerland, die haaragteros. “Swelling het begin sak,” sê hy tevrede vir Jakob en, terloops in die rigting van die bedrywige Kinnie: “Dit lyk of jou smeerdery met die kasterolie gehelp het.” Donkerland het eergister in die loop gestruikel en seergekry. Hulle moes gevolglik die pas vertraag. Daar is die gevoel dat hulle te laat kan aankom, soos by ’n kerkbasaar waar al die koek verkoop sal wees. Waarom lyk al die reisigers so desperaat, sonder dat hulle eers stop om te groet? Trekdiere word geslaan om hulle tot ver bo hulle vermoëns aan te spoor.
Nadat Kinnie met die dringendste werkies gehelp het, loop sy met ’n streepsak dieper die aandveld in om vuurmaakgoed te soek. Sy moet ekstra optel, want dit lyk of daar reën in die lug is. Sy weet Rudolf sal solank die vuur aan die gang kry met wat daar is. Dis sy werk. Vuurmaak is heelmaak, sê sy ma altyd, en dit lyk of hy dit ook glo.
Kinnie is alte bly om onder andere ’n paar droë beesmiskoeke te vind. Dit maak die beste en warmste vuur. Die vars mis wat hulle eie osse op die pad laat, sal weer latere verbygangers help. Sy skuif haar kappie agtertoe sodat dit teen haar rug hang, lig haar los vlegsel op sodat die koel aandwind haar nek streel. Water vir harewas is daar nie, maar sy sal môre haar hare deeglik borsel, vars vleg en die vlegsel om haar kop draai en vassteek. Sy het nie die selfvertroue om haar hare op te kam soos Josefien en ander jong vroue nie. Sy dink vlugtig aan haar jonger neef Frikkie, wat sê haar oë en hare het die kleur van swarthaakheuning. Hy is die enigste een van die Meyers na wie sy verlang, liewe ou Frikman.
Sy geniet die oefening, ook om die gewone draai te loop, in ’n vlakkerige sloot. Sy glimlag oor hoe sy geleer het om, wanneer tant Lenie behoefte het, ’n stukkie seil te staan en vashou waaragter die ouer vrou haar behoefte kan verlig. Maar sy vind sononder bowendien altyd die genadigste tyd van die dag, daardie fluister-uur nadat die werk bedaar het en voordat die lampe opgesteek word om soos ou juwele te gloei. Ja, daar is ’n lamp of twee ingepak … maar sal hulle dit kan gebruik, in wat na ’n soort pioniersbestaan klink? Die son sak agter die rantjies weg, en die gegirts van die lae bossies aan die soom van haar rok klink gerusstellend. Dis soos ’n fluistering van wesens wat net so ontwortel soos sy voel.
Sy is al moeg vir die twee regaf sisrokke wat sy om die beurt aantrek, beskerm met ’n voorskoot. Sy dra nie soos Josefien wye oorrompe en boesels, nie eers vir beste nie. Sy vermoed dat dit ook net ’n onnodige lastigheid sal kan wees.
Sy besluit om môre haar uitgespaarde tweedebeste aan te trek, die ligte hoënekbloes en donker linneromp. Tant Lenie het haar die romp help kleur sodat die soom nie so gou vuil wys nie. Eintlik het tant Lenie die afgelope weke vir haar meer gedoen en beteken as tant Mynie deur die jare, al is laasgenoemde eintlik haar oorlede ma se suster. Tant Mynie is ’n snaakse vrou vol bygelowe, soos dat jy ’n spook kan sien as jy tussen ’n perd se ore deur kyk. Maar dis waar, tant Mynie en oom Klasie het vir haar ’n dak en kos gegee, en Josefien en Frikkie het haar laat voel dat sy deel van ’n gesin is, in plaas van weeshuis toe te moes gaan.
Toe Kinnie terug by die wa kom, het Rudolf reeds vuurgemaak. Tant Lenie buk om sagtevet uit ’n blik in die driebeenpot te skep. Daar is nog ’n soutribbetjie om te potbraai, en meel vir vetkoek. Tant Lenie vee oor haar oë weens die rook. Is daar dalk trane by? Dit wat voorlê, is so aartsvreemd