Lamplig teen die seile. Louisa du Toit

Lamplig teen die seile - Louisa du Toit


Скачать книгу
lug. Die klank van konsertina en kitaar klink op, erg weemoedig. ’n Valserige manstem sing iets sonder wysie.

      “Kyk daar, julle,” roep Kinnie opeens uit. Sy wys na die maan wat groot en geel bo die tentedorp verrys.

      Frikkie lag en skud sy kop. “Hier kyk mens nie boontoe nie, ou nig, net grond toe. Kyk eerder of jy nie die maanlig op iets sien blink nie.”

      Hulle moet tot stilstand kom toe ’n muilkar reg voor hulle groot teenspoed tref. Die drywer wou uitswaai vir ’n ruiter wat onverskillig van voor af kom. Die verskrikte muile storm teen ’n gruishoop vas sodat die disselboom vassteek en die drywer met gruisvrag en al vorentoe tuimel. “Hierjy!” skreeu hy agter die verdwynende ruiter aan. “En dis nog ongesifte gruis, aans verloor ek ’n fortuin.”

      “Oom reken?” lag Frikkie. “Toemaar, ons help oom gou. Ons sal mooi kyk of daar nie ’n klippie in die maanlig vir ons knipoog nie.” Die grawe wat bo-op gelê het, is nou onder, en hulle moet grou om dit uit te kry. Terwyl Rudolf en Frikkie die gruis teruglaai en die oom steeds stoom afblaas, staan Kinnie voor die muile, hou hulle aan die trense vas en praat sag en aaneen totdat hulle ophou beur en tril.

      “Ek hoop maar ek kan julle ’n guns terugdoen; veral jy wat ’n muil se skrik verstaan, niggie. Jy is ’n muiletrooster,” sê die delwer wat hom bekendstel as Davel van die Bonteboksvlakte naby Queenstown. Sy groethand is geëelt. “Hier het ’n man net jou hande,” sê hy by wyse van verskoning aan Kinnie. “Daar moet soveel gruis moontlik op een dag deur hierdie hande gaan. Loskap, uithys, sif, sorteer, wegry. Elke godlike dag. Kry jy die grote, kan jy oppak en teruggaan na jou vrou en kinders toe.” Daar is hunkering in sy stem en die oë wat dof in sy stofoorlaaide gesig blink.

      Frikkie is duidelik haastig toe hulle verder stap, tot hy sê: “Nou ja, hier is ons plek.”

      Kinnie eien dadelik die Meyers se wa. Waens is soos mense, elk met ’n eie gees en gestalte. Sy is byna blyer om die wa te sien as vir oom Klasie, wat langs die bekende kombuistafel in die lamplig sit en pyp skoonmaak. Hy dra ’n ferweelbroek en kruisbande by ’n flanelhemp met afgerolde moue. Die tentklappe is oop en die woondeel van die afgeskorte tent is ’n redelike warboel. Vuil skottelgoed staan op die tafel. Dan kyk hy op, en lyk bly. “O, het Frikman julle toe gekry?”

      “Ja, oom.” Kinnie buk en soen hom, terwyl sy ongemerk rondkyk.

      “Waar is Josefien en tant Mynie?” vra Rudolf pas na die groetery en hoe-gaan-dit.

      “Rudolf, jong, Josefien het gevra as julle kom, moet Frikkie julle bring. Dis ’n plesierigheid by Du Toits Pan, sy en die vrou is vooruit.”

      Kinnie wonder hoe verwag Josefien dat hulle, vuil en moeg en vreemd, moet gaan jol? En is die bygelowige tant Mynie nou ’n plesierbok? Ja tog, Kinnie se ore het eenkeer ’n storietjie opgevang dat tant Mynie in haar jonger dae bietjie loskop was.

      Een oomblik vrees sy dat Rudolf kan instem, maar dis met diepe teleurstelling in sy stem dat hy antwoord: “Nie vanaand nie, oom. Ons is moeg en onklaar. Jy hoef ons nie terug te vat nie, Frikkie, ons sal regkom.”

      Want dit word nou duidelik hoe haastig Frikkie is; hy begin reeds sy vuil hemp losknoop om te gaan klaarmaak. Dat hy tog vir hulle gewag het, bevestig wat Kinnie hoeka weet: dat hy ’n hart vir haar het. Hy het altyd haar kant gekies as sy pa haar beknor oor ’n taak. Hy het al gesê dat, as hy ouer was, hy by haar hoed sou ophang, familie of te nie.

      “Maar jy bly tog seker hier by ons agter, Kinnie?” vra oom Klasie. “Die tante het gevra as jy dalk opdaag, moet jy tog solank bietjie regvat, hulle het vasgedraai.” Hy beduie met sy pypsteel na die algemene deurmekaarspul rondom hom.

      Kinnie staan onbeslis, asof oom Klasie se bevelerige stem nog die ou mag oor haar kan uitoefen. Dan praat Rudolf, dalk eerder uit ligte wraak as om Kinnie te beskerm: “Kinnie is moeg, en daarby het my ma haar self nog te nodig, oom.”

      Hoe Rudolf kon dink dat hulle die pad alleen terug kan vind, is ondenkbaar. Tog kry hulle dit reg, met wat albei onthou. Dis diep skemer toe hulle aankom by die wa, waar ’n vuurtjie reeds brand. Tant Lenie lyk onmenslik verlig. Die osse is onrustig, en Jakob raadop. “Hulle moet veld toe, Dolfman.”

      “Ja, maar hulle moet ons eers môre by ons staanplek bring. Hulle het vandag goed genoeg gewei en gesuip om tot môre te hou.”

      Dit word ’n vreemde aand, met hulle vier soos hoenders skroppend om stellasie te maak, soos tant Lenie dit uitdruk. Maar laataand kom Kinnie agter tant Lenie se breë, moederlike rug tot rus. Rudolf besluit om half sittend teen Donkerland se lyf te slaap. Vir die vuil grond sien hy nie kans nie. Gelukkige Donkerland, dink Kinnie. Dis net Jakob wat, kop toegetrek, langs die halfdooie vuurtjie lê.

      Kinnie het gewanhoop dat die lawaai rondom hulle tot laatnag sal aanhou, maar dit raak nogal vroeg stil. Dan onthou sy dat almal seker moeg is. Frikkie sê dat die hotelle en biljartplekke teen die naweek besig raak.

      Eindelik word sy vaak. Môre is nog ’n dag. Die gedagte hou egter meer onsekerheid as troos in.

      Hulle slaap nogal redelik, daarvoor het die moegheid gesorg. Hulle is lank voor sonop by die oggendvuurtjie besig, wagtende op Frikkie, toe Kinnie bewus raak van ’n gestalte wat naby hulle talm. Die man se delwersklere is skoon, sy uiterlike so versorg soos wat jy kwalik hier kan verwag. Hy is duidelik nie van die “skuim” nie. Hy dra ’n seilbaadjie teen die knyp van die vroemôrelug. Behalwe ’n bietjie wangbaard, is hy gladgeskeer.

      Kinnie maak eers of sy hom nie sien nie. Sy keer die roosterkoek op die kole om, vies omdat sy die onderkante bietjie geskroei het. Dis omdat die man haar dophou. Hoewel sy nie direk na hom kyk nie, is daar iets wat aan haar herinnering krap. Sy het hom iewers voorheen gesien, hoewel dit so vaag is dat sy haar dalk verbeel.

      Eindelik staan hy doelbewus nader en maak liggies keelskoon: “Ek het net gedink … ek het gehoor Rigter.” Hy sê Riégter, en die effense Engelse aksent wil-wil haar iets laat snap. Dis waar, hulle moes hulle sedert gisteraand kort-kort bekendstel, en hy kon die naam “Rigter” opgevang het. Toe praat hy egter weer: “Is dit nie dalk Santjie nie?” Hy sê Sankey. Toe weet sy, en ’n groot vreugde vul haar. Sy gaan regop langs die vuur staan, vee haar hande aan haar voorskoot af, die halfvuil een wat sy reeds dae gebruik.

      “Seph,” sê sy sonder twyfel. “Sephton Butler.”

      Seph, die Engelse speelmaat van haar kinderjare in Jan Disselsvlei. Sy pa, Uncle Duncan van die buurplaas, ’n kind van Britse Setlaars wat in Clanwilliam gevestig het, was as buurman altyd ’n steunpilaar. Hy en sy vrou was by haar ma se sterfbed. Hoe lekker het sy en die klein Butlertjies tog gespeel. Hulle het haar net so goed Engels leer praat as wat sy hulle Boerehollands leer praat het. Sy glimlag ingenome: “Wat maak jy hier?” vra sy.

      “Ek maak wat almal maak: ek soek … ah … daaimans,” lag hy.

      Hy groet haar met die hand, hoewel sy haar moet bedwing om hom om die hals te val. Hy is so ’n liewe stem uit die ver verlede, toe sy nog haar eie ouers en plek gehad het. Dis egter ’n lang, talmende handdruk, en sy voel verleë. ’n Meisie praat mos nie sommer met vreemde mans nie. Maar Seph is geen vreemdeling nie, en dis die wonderlikste geskenk op hierdie rokerige oggend tussen skamele tente en skuilings.

      Voordat hy haar hand los, draai hy dit om en kyk na die hardgewerkte palm. Die skaduwee van ’n frons glip oor sy voorkop. Terwyl sy hom aan die Viljees voorstel, vertel sy van hulle aankoms die vorige aand, en moet hoor dat hy hulle agtervolg het omdat sy toe reeds bekend gelyk het.

      Sy weet nie wat die Viljees dink nie, want hulle het haar sekerlik nog nooit so opgewek gesien nie. Sy merk wel op dat Rudolf verskoning vra en hom besig hou met die terugpak van alles wat vir die nag se oorstaan afgelaai was. Hy red ook half verwytend die roosterkoek, waarvan sy skoon vergeet het.

      “Weet jy wat my ma vir my pa gesê het toe jy weg is? ‘We should have taken Sankey.’ Maar jou familie wou jou hê.” Sy blik dwaal weer na haar hand met die eelterigheid binne-in. Dit behoort hom haar lot by die Meyers te kenne te gee. Hy antwoord ’n klompie vrae: dat hulle water per emmer by die puthouers kan koop, hout en ander voorraad by die


Скачать книгу