Die kluisenaar van Abendruhe. Ena Murray
die tee en voeg dan by: “Ek sal julle môreoggend laat weet wat ek besluit het.”
Daardie aand sit Magriet saam met haar ouers om die kombuistafel aan vir aandete. Die gesprek gaan vanselfsprekend om Thero en haar versoek, of liewer, haar eis dat Magriet haar moet vergesel. Soos sy verwag het, is haar ouers nie daarop teë dat sy saamgaan nie. Jan en Marie Marais was nog altyd mense wat ’n helpende hand uitgesteek het waar dit nodig is.
“Die arme Thero … en die arme Estelle en Dirk,” laat haar ma nou simpatiek hoor nadat Magriet haar storie afgesluit het en hulle ook van haar vermoedens oor die werklike toestand van Thero se gesondheid vertel het.
Magriet kyk haar ma fronsend aan.
“Die ‘arme Thero’ kan ek begryp, maar hoekom die vreeslike jammerte vir oom Dirk en tant Estelle? Om die waarheid te sê, ek het op hierdie oomblik bra min simpatie vir dié twee. Ek kan net nie begryp dat hulle so blind kan wees dat hulle nie kan sien dat Thero hulle bitter nodig het nie.”
“Juis daarom, my kind, sê ek arme Dirk en arme Estelle,” antwoord haar ma sag. “Solank hulle die pas kan volhou, sal hulle dit nie agterkom nie, maar wanneer hulle eendag tot stilstand móét kom, sal hulle eers besef dat hulle die dinge wat werklik waarde in die lewe het, verruil het vir klatergoud. Eendag wanneer geld en sosiale status nie meer saak maak nie, sal hulle besef dat hulle die mooiste en teerste gawes van die lewe by hulle laat verbygaan het. Daarom is hulle meer te bejammer as Thero, want dié, dink ek, het ten spyte van haar oënskynlike oppervlakkigheid, nog ’n groter besef van dieper waardes as haar ouers.”
“Dis waar, Mams. Ek het ook al die gevoel gekry dat Thero nie werklik so oppervlakkig is soos wat dit lyk nie. Op die oog af geoordeel, lewe sy net vir plesier en gemak. Maar daar was vandag iets in haar oë …”
Jan Marais sit stil en luister na die gesprek. Hy is ’n teruggetrokke man, tevrede met sy plasie van ’n paar honderd hektaar net buite die stad; tevrede dat hy ’n redelike bestaan maak en sy vrou en kinders die nodige kan gee, hoewel nie weelde nie. Hy is nie ’n man van hoë ideale en groot ambisie soos sy swaer nie, anders sou hy seker ook soos Dirk van Zyl vir hom ’n ryk vrou gesoek het. Maar vir niks ter wêreld sal Jan Marais plekke met hom wil ruil nie. Hy praat nou die eerste keer – kalm, bedaard soos altyd.
“Thero lei ’n geweldig besige sosiale lewe omdat sy niks anders het waarmee sy die tyd kan verwyl nie. Net die feit dat sy so ’n skynbaar onversadigbare drang na plesier openbaar, bewys hoe min daardie soort lewe haar bevredig. As sy net uit daardie ongesonde atmosfeer van rykdom en ledigheid kan wegkom, sal sy kan bewys dat daar iets in haar steek. Sy het eendag iets vir my gesê wat my diep getref het …”
“So! Wat was dit, ou man?”
“Toe sy groet, het sy gesê: ‘Magriet en Kobus is twee gelukkige mense en baie ryker as wat ek ooit sal wees.’ ”
Dis ’n oomblik stil om die tafel en Magriet se gedagtes dwaal terug na haar kinderjare toe sy Thero so dikwels beny het. Haar ryk niggietjie se rokke was altyd soveel mooier en duurder as hare, haar poppe altyd soveel groter. Die tyd het verbygerol en hulle het grootgeword, en vanaand kan Magriet eerlik sê dat daar niks is wat sy haar ryk niggie nog beny nie. Inteendeel, sy het skielik vir haar ’n innige jammerte ontwikkel. Dit tref haar diep om te weet dat dit nou weer sy is wat deur Thero beny word.
“Ek gaan saam met haar, as ek julle toestemming het,” kondig sy aan.
Die ouerpaar knik asof hierdie besluit vanselfsprekend is.
Dis ’n week later toe die twee niggies in Thero se nuwe rooi sportmotor vertrek. Dis die jongste geskenk van haar pa en Magriet kan ’n uitroep van bewondering nie keer toe sy dit die eerste keer die oggend van hul vertrek sien nie. Thero is egter gewoond aan sulke duur geskenke. Sy het haar pa net met ’n koel piksoentjie bedank en half spottend na Magriet gekyk, wat duidelik in ekstase was.
“Bestuur jy, Magriet?”
“Ja.”
“Dan kan jy die eerste ent die wiel vat.”
“O, nee!” Magriet se oë rek. “Sê nou ek stamp hom in die verkeer of …”
“Wat daarvan?” is die koel vraag. “Dis net ’n motor, dis al.”
“Ja, maar …” Magriet swyg en kyk effens verleë weg.
Thero sal nie verstaan nie.
Eindelik is die twee meisies op pad en Magriet kan nie help om haar niggie stilweg te bewonder vir die knaphandige en selfs ietwat onverskillige manier waarop sy deur die stadsverkeer vleg nie. Dis duidelik dat Thero van haar kinderdae af gewoond is daaraan om groot, luukse motors te bestuur. Magriet dink aan die ou lendelam plaasbakkie waarmee sy leer bestuur het, en sug saggies. ’n Paar keer al het sy asem opgehou vir ’n botsing wat egter nie plaasgevind het nie, maar later voel sy verplig om te vermaan: “Regtig, Thero, jy moet versigtiger ry. Dit sal ’n sonde wees om hierdie pragtige motor sommer die eerste dag al te stamp. Jy lyk nie juis opgewonde oor hierdie groot geskenk van jou pa nie,” verwyt sy liggies.
Thero gee die bekende, ongeërgde swaai van haar blonde hare na agter.
“Dis nie ’n geskenk vir my nie. Dis ’n gewetenstilmaker vir Pa.”
Sy trap die petrolpedaal diep weg toe hulle die oop pad bereik en Magriet bly maar liewer stil toe die naald by honderd en sestig rond huiwer. Thero is vandag in een van haar onaangenaamste buie denkbaar. Wanneer sy so is, kan ’n mens enigiets van haar verwag. Magriet weet as sy nou ’n opmerking oor die snelheid maak, sal Thero uit skone moedswilligheid die petrolpedaal nog dieper intrap.
Dit word stil in die motor. Elke meisie is met haar eie gedagtes besig. Thero se uitdrukkinglose gesig verraai nie waaraan sy dink nie, hoewel die harde, koppige trekkie nog om haar mond huiwer. Magriet se gedagtes dwaal terug huis toe na haar ouers en bly dan huiwer by haar broer, Kobus. Onwillekeurig dink sy terug aan daardie tyd, vyf jaar gelede, toe haar ouboet en hierdie selfde niggie van haar ’n bom in die familie laat ontplof het wat amper ’n finale breuk tussen die twee gesinne gebring het.
Magriet dink nie graag terug aan daardie tyd nie, maar vandag kan sy nie daarin slaag om haar gedagtes daarvan weg te dwing nie. Wanneer die niggie-neef-verhouding tussen Thero en Kobus tot iets meer intiems ontwikkel het, weet sy nie. Sy dink dit het gebeur nadat Kobus van die universiteit af gekom het en skielik in ’n man ontwikkel het. Magriet en haar broer het van kleins af albei besef dat hierdie niggie van hulle in ’n ander wêreld as hulle lewe. Daarom te meer was Magriet en haar ouers lamgeslaan van verbystering toe Kobus op ’n dag ewe kalm aankondig dat hy en Thero op mekaar verlief is en wil trou. Miskien was die pas verwerfde ingenieursgraad die bron van selfvertroue. Hierdie feit het egter nie veel indruk op die ontstoke en verontwaardigde Van Zyl-egpaar gemaak nie.
Waar Kobus se ouers net verslae was oor die skielike wending, was Thero se ouers woedend.
Natuurlik is die eerste beswaar wat geopper is die familieband tussen die twee. Na Kobus se onomstootlike bewyse dat daar duisende niggies en neefs is wat gelukkig getroud is en welgeskape kindertjies het, is nie eens geluister nie. Vir oom Dirk en tant Estelle was net die gedagte aan ’n huwelik tussen hul dogter en haar neef iets onbehoorliks.
Thero was toe agttien en Kobus het die rype ouderdom van twee en twintig bereik. In die Van Zyl-ouerpaar se oë was Thero nog ’n blote kind so pas uit die skoolbanke. En Kobus? ’n Verwaande jong snuiter wat die graad agter sy naam as paspoort tot enige verregaande vermetelheid beskou het; ’n arm kerkmuis wat dink dat sy bietjie geleerdheid hom in staat sal stel om so vir Thero te sorg soos wat sy van haar geboorte af gewoond is.
Daar is korte mette met die twee verliefdes gemaak. Thero moes die eerste keer in haar lewe “nee” as antwoord aanvaar. Tasse is gevul met duur klere en sy en haar ma het vir drie maande oorsee vertrek in die heimlike hoop dat sy die een of ander sir of lord in die buiteland sal ontmoet wat haar van haar verspotte verliefdheid op haar neef sal genees. ’n Verbitterde Kobus Marais het ’n ingenieurspos aanvaar, so ver weg moontlik van die plek waar hy sy diepste vernedering beleef het.
Ná drie maande