Sluiers van die nag. Ena Murray
en dertig met geen bande of verpligting teenoor enigiemand nie. As dit dus bekend word dat ons bevriend is, sal dit aan my kant niemand skade aandoen nie. En as dit u sal pas dat Weideman onder daardie indruk bly, dan laat ons dit daar. Dis vir my om ’t ewe.”
Sy is eers stil terwyl hy wag dat sy iets hierop moet sê. Dan sê sy aarselend, nog steeds pynlik selfbewus. “Dankie, professor. Dit … dis baie vriendelik van u, maar … ek wil nie van u misbruik maak nie.”
“Dis ék wat in die eerste instansie my neus ongevraag in u persoonlike sake gesteek het. En hierdie voorstel kom van mý. U het nie daarom gevra nie.”
Sy redeneer nie met hom nie, hoewel sy weet dat die saak nie so eenvoudig is as wat hy dit nou nonchalant wil afmaak nie. Weliswaar het sy geen mondelinge beroep op hom gedoen nie, maar sy weet, en hy weet ook, dat sy hom woordeloos om hulp gevra het toe Ralph Weideman skielik uit die verlede voor haar verskyn het. Sy het haar spontaan na hierdie vreemdeling gekeer en soos ’n drenkeling aan daardie blou oë vasgeklou asof sy in hulle ’n ontsnaproete gesien het. En hy het impulsief daarop gereageer.
Sy kyk moedig op. “As u seker is, professor … baie dankie. Dit sal help …” Sy laat haar blik weer sak. “Ek is u seker ’n verduideliking verskuldig …”
“Geensins. Ek het geen belang by u persoonlike sake nie. Dit het niks met my te doen nie. Net een ding, matrone …” Hy wag tot sy verplig is om hom weer in die oë te kyk. “Die oomblik dat u besluit u is weer daarvoor te vinde om ou vriendskappe te hernieu, laat my asseblief dadelik weet. Ek hou nie daarvan om vir ’n gek aangesien te word nie. Ek is nie van plan om in u privaat lewe in te meng nie. U kan kom en gaan en afsprake maak soos gewoonlik, maar solank Weideman onder die indruk gehou word dat ons twee bevriend is, is hy taboe.”
“Natuurlik. Ek … ek het nie mansvriende nie en gaan met niemand uit nie. Daar bestaan ook nie die geringste moontlikheid dat ek ooit … ou vriendskappe sal wil hernieu nie.”
Daar is niks meer om oor te praat nie en hy stap saam met haar terug na haar motor, wag dat sy terugstoot en sê dan met ’n kopknik totsiens.
Toe sy motor hare ’n oomblik later die hekke uit volg, is hy nie bewus daarvan dat hul vertrek vanaf die stoeptrap dopgehou word nie.
Ook Maryke is totaal onbewus van die loervink of dat ’n motor haar op ’n veilige afstand volg. Sy weet ook nie dat professor De Vries ’n nota in sy brein maak van haar adres toe sy voor haar woonstelblok parkeer nie.
Dis eers toe Maryke haar voordeur veilig op knip getrek het, dat sy wonder wat die professor so vroeg by die hospitaal kom soek het.
Sy voel glad nie soos iemand wat pas ’n vakansie agter die rug het toe sy daardie aand gereed maak om aan diens te gaan nie. Sy het nie veel geslaap nie. Sy het bly rondrol op haar bed terwyl die verlede weer wreed in haar gespook het. Hoekom? Hoekom, hoekom moes Ralph Weideman haar lewe ná tien jaar weer binnestap?
Wat moet sy doen? Bedank en vlug? Maar haar lewe is georden, dis die enigste wat sy ken en wat vir haar oorgebly het. Sy kan weliswaar dieselfde werk gaan doen in ’n ander hospitaal, maar sy deins terug van dié gedagte.
Hierdie hospitaal en sy personeel het haar nou al aanvaar soos wat sy is. Daar is niemand wat meer nuuskierige vrae stel of oor haar wonder nie. Sy het ná tien jaar deel van die hospitaal geword soos wat oom Daan deel daarvan is. Niemand is meer nuuskierig oor haar nie.
Maar om in ’n ander hospitaal te gaan begin … Die welwillendheid van haar kollegas sal een te veel wees vir haar. Sy weet hulle sal dit goed bedoel, probeer om haar een van hulle te maak. Hoe sal sy, sonder om asosiaal en onbeleef voor te kom, dit kan tuisbring dat sy liewer haar pad alleen stap, verkies om afgesonderd van die res van die mensdom te lewe? Nee, sy sien nie kans om van voor af op ’n ander plek te begin nie.
Maar as Ralph haar nie in vrede gaan laat nie, sal sy geen ander keuse hê nie. Die toekoms sal maar moet leer. Alles gaan afhang van Ralph se optrede en of hy gaan aanvaar dat sy klaar is met hom. Tien jaar gelede al finaal klaar was met hom.
Maar dit was eintlik hý wat tien jaar gelede met háár klaar was, onthou sy in pynlike herinnering. En skielik ervaar Maryke weer die gevoel van bitterheid van daardie eerste dae. Tien jaar is ’n lang tyd, en deur die loop van daardie jare het die bitterheid in haar getemper geraak, die laaste paar jaar totaal verdwyn. Maar op hierdie oomblik is dit meteens weer fel by haar, besef sy dat dit tesame met so baie ander emosies maar net goed gevange gehou is in daardie hoekie van haar wese waar sy al die dinge wat eens vir haar van waarde was, weggesluit het.
Maar met een enkele vraag het Ralph Weideman daardie geroeste slot oopgebreek. Onthou jy nog, Maryke? Hoe maklik is dit vir hom om te vra of sy onthou, want dit wat hý onthou, is so min, so oneindig min in vergelyking met wat sý onthou …
Dis toe die dagmatrone gereed is om te groet, dat die deur van die kantoor skielik oopgaan en hy weer voor Maryke staan. Soos ’n paar uur gelede kan sy net roerloos na die gemaklike glimlag om sy lippe staan en staar.
Matrone Lüdick lyk verbaas. “Goeienaand, dokter. Is daar iets verkeerd?”
Sy antwoord is ewe gemaklik. “Nee, matrone. Ek het net iets in my kantoor kom haal wat ek vergeet het.”
Maryke staan net stil na hom en kyk. Dis nog dieselfde man van tien jaar gelede, dieselfde man wat altyd ’n antwoord gereed het, nooit onverhoeds betrap word nie. Die man wat nog net so glad kan lieg.
“O. Ag, ekskuus tog. Ek veronderstel u en matrone Linde het nog nie ontmoet nie. Sy was mos met verlof en het maar gisteraand eers weer begin werk. Dit is dokter Weideman, ons nuwe superintendent, matrone.”
Sy mond gaan oop maar Maryke spring hom voor. “Aangename kennis, dokter.”
Sy mond klap toe en die bekende glimlaggie krul om sy mondhoeke terwyl sy wenkbroue lig. “Baie aangenaam, matrone Linde.”
“Nou ja, dan sê ek maar geruste nag aan u albei,” laat matrone Lüdick hoor en Maryke sien haar uitstap. Sy soek na ’n rede om haar terug te roep, maar die superintendent het reeds die deur agter haar toegedruk.
Hy draai om en Maryke sak met bewende knieë agter die lessenaar neer. “Is daar iets waarmee ek kan help, dokter? Ek moet met my saalrondes begin.”
Haar stem is koud en ver en die selfversekerdheid verdwyn van Ralph Weideman se gesig. Hy frons en kom nader. “Niks waarmee jy kan help nie, matrone. Maar daar is beslis iets wat jy kan doen.” Toe sy nie antwoord nie, druk hy met sy hande aan weerskante van die lessenaar en leun nader. “Jy kan gerus ophou om tot ’n standbeeld op te vries die oomblik as jy my sien. En jy kan gerus ophou om voor te gee dat jy my van geen kant ken nie, Maryke. Dis ’n kinderagtige speletjie wat …”
“Die dae toe ek deelgeneem het aan kinderagtige speletjies is presies tien jaar gelede verby, dokter Weideman.”
“Maryke, asseblief, dis waaroor ek met jou wil praat, maar jy wil my geen kans gee nie.”
“Daar is niks waaroor ek met u wil praat nie, dokter Weideman.”
“Bang, Maryke?”
Sy staan vinnig op, ’n pragtige wasbleek standbeeld. “U is die superintendent van hierdie hospitaal en my werkgewer, dokter. As sodanig is ek bereid om u te respekteer, maar ek verwag dieselfde. Wanneer u my aanspreek, is ek matrone Linde, asseblief.”
Hy sug, kyk haar met nougetrekte oë aan. “Jy gaan niks deur hierdie houding bereik nie … matrone. Jy kan aan die verlede niks verander nie.”
“Nee, niemand kan nie. Maar ’n mens kan daaruit leer.” Sy stap beslis om die lessenaar in die rigting van die deur. “Verskoon my. Ek moet aangaan met my werk.”
“Jy hardloop weg, matrone Linde – nes tien jaar gelede.”
Sy kyk hom vas aan, die grys oë ’n vaal wasigheid soos van ’n triestige, koue wintersdag. “As dit by weghardloop kom, was u wegspring honderd keer vinniger as myne.”
“Maryke, asseblief, dis nie waar nie. Goed, ek erken dit mag so gelyk