Sluiers van die nag. Ena Murray

Sluiers van die nag - Ena Murray


Скачать книгу
“As u ooit, ooit waag om u hande op my te lê …! Ek sal bedank, dokter. Ek sal weggaan. Die verlede is dood. Daar is niks daarvan oor nie.”

      Sy gesig is ook nou strak, lyk eintlik half vreemd vir haar. “Dis daardie De Vries … Wat het jy hom van ons vertel? Wat beteken die man vir jou?”

      Meteens herwin Maryke haar kalmte. Dit is amper vir haar asof sy ’n paar blou oë stip in hare sien kyk. “Dis my persoonlike saak en u het daarmee niks te doen nie. Nag, dokter.”

      Sy stap uit, maar meteens is hy reg voor haar in die gang. “Dit sal nie help om weg te hardloop nie, Maryke. Die verlede haal jou altyd in. Ons praat later weer.”

      Dan is sy by hom verby en verdwyn om die hoek. Ralph Weideman swets saggies. Hy draai in die teenoorgestelde rigting en stap sonder ’n kopknik by oom Daan verby na buite.

      In die weke wat volg, lyk dit tog asof die nagmatrone se kil, vyandige houding die nuwe superintendent ’n bietjie afgeskrik het. Sy gewaar hom nie met ’n oog nie, en daaroor is sy innig dankbaar. Dit is nie vir die nagmatrone en die superintendent ooit nodig om mekaar te sien nie, en solank dit so kan bly, sien Maryke kans om met haar werk voort te gaan, kan sy selfs daarin slaag om die vrees in haar tot bedaring te bring en aan te gaan asof Ralph Weideman nooit weer in haar lewe verskyn het nie.

      Tog is sy op haar hoede, betrap sy haarself dat sy altyd versigtig om haar rondkyk, haar hart ’n slag mis as haar kantoordeur skielik in die nag oopgedruk word.

      Sy maak haarself oor en oor wys dat sy nie werklik iets te vrese het nie. Ralph Weideman het geen houvas op haar nie. Maar diep in haar hart weet sy dat dit nie die volle waarheid is nie. Hy het – hoewel hy nie daarvan weet nie. Sy moet net keer dat hy nooit daarvan uitvind nie, want soos sy hom ken, en ook nou weer leer ken het, sal hy nie huiwer om daarvan gebruik te maak nie. Wat haar die meeste verwar en ontstel, is hoekom hy nou skielik weer so ’n belangstelling in haar koester. Tien jaar gelede kon hy nie gou genoeg van haar ontslae raak nie. Vanwaar die skielike belangstelling nou?

      Wanneer sy by hierdie vraag kom, voel sy altyd bang, voel sy hoe ’n staalband van vrees om haar keel vou. Sou hy tog weet, vra sy haarself beangs af. Hou hy hom maar so onskuldig? Wat het hom na hierdie hospitaal gebring? Hoekom haar skielik weer uitsonder? Hoekom so bly hamer op die verlede – die verlede wat jou altyd inhaal? Is Ralph Weideman besig om tot sy eie heimlike vermaak ’n speletjie met haar te speel?

      Omdat dit nog nooit haar gewoonte was om van die personeel met ander personeel te bespreek nie, kan sy ook nie by iemand meer probeer uitvind van dokter Weideman nie. Sy weet nie eens of hy getroud is nie. Sy veronderstel hy is. Hy is al in die dertig. Dit sal baie vreemd wees as hy nie gedurende die afgelope tien jaar getrou het nie. Des te meer rede hoekom sy nie sy belangstelling in haar kan begryp nie.

      Hy het seker ’n vrou en kinders. Hoekom dan die verlede so wil terughaal? Daar is tog geen sin in nie, behalwe … Weer trek haar keel toe. Behalwe as hy méér weet van die verlede as wat hy veronderstel is om te weet …

      Onverklaarbaar smag sy skielik daarna om met iemand te praat, iemand teenoor wie sy haar vrese hardop kan lug, by wie sy kan raad soek, want dis of haar verstand in doodloopstrate sirkel, wanneer sy oor al hierdie dinge begin tob. Soms is sy op die punt om na die hoofmatrone te gaan. Maar dan besluit sy weer daarteen.

      Soms wens sy selfs dat professor De Vries hom weer in haar persoonlike sake wil inmeng, haar selfs net wil vra hoe dit gaan sodat sy die opening kan kry om met hom te gesels. Maar dan weet sy net so goed dat, as so ’n oomblik sou opduik, sy weer sal terugtrek en net stom voor hom sal staan. Want te lank het sy gewoond geraak daaraan om dinge in haar hart te hou en dit met niemand te deel nie. Sy weet nie meer hoe om haar hart teenoor ’n medemens oop te maak nie.

      Van professor De Vries sien sy egter ewe min. Net een keer het hy ’n noodoperasie kom uitvoer. Hulle het ’n paar professionele woorde gewissel, en hy het ingedagte gelyk, asof hy haar skaars raakgesien het.

      Maryke is heeltemal onbewus daarvan dat die veraf blik haar daardie nag fyn bestudeer het. Dat die blou oë gesien het dat daar weer ’n bietjie kleur in haar wange was. Dat die grys oë maar soos altyd gesluierd was met daardie veraf weemoed daarin, maar dat hulle nie meer so paniekerig gelyk het nie.

      Hy het tevrede geknik by die wete dat hy sy pasiënt in bekwame hande laat en toe weggestap. Maryke het haarself betrap dat sy hom ietwat teleurgesteld agterna gekyk het, maar hoekom sy so gevoel het, het sy nie geweet nie. Hoekom sou sy teleurgesteld wees dat die vreemdeling haar op so ’n streng professionele wyse aanspreek en nie eens die moeite doen om te vra hoe dit gaan nie? Dis verspot.

      Teen hierdie tyd weet sy dat die hele hospitaal gons oor die feit dat die altyd stil en afsydige nagmatrone goed bevriend is met die twee nuwe dokters. Juis omdat hulle so min weet van Uiltjie, kou en herkou die klomp hierdie stukkie nuus en wonder presies hoe die vurk in die hef steek.

      Miskien het die professor ook al gehoor van die gissings wat die rondte doen en besef hy nou eers waarvoor hy hom ingelaat het … Maryke glo dat hy klaar spyt is dat hy so impulsief opgetree het. Dat die twee nuwe dokters beslis gewild is onder die personeel, is seker. Albei is aantreklik op hul eie manier. Die superintendent se vrolike geaardheid en daardie geïnteresseerde, belangstellende glimlag en vonkelende oë maak hom baie besonders.

      Professor De Vries se gewildheid berus meer by sy briljante optrede as chirurg as by sy omgang met sy kollegas. Eintlik is hy taamlik afsydig, soms selfs kil. Maar dit verhoog net sy charisma en Maryke het al opgemerk hoe die verpleegsters oor mekaar val om sy geringste bevel uit te voer en hoe van die juniors se oë ’n skaapagtige uitdrukking aanneem wanneer die professor skielik verskyn. Die feit dat hy nooit toon dat hy daarvan bewus is dat hy enige uitwerking op enigeen het nie, maak hom natuurlik net interessanter.

      Dis met die wete dat sy ná byna veertien dae nog geen helderheid gekry het oor wat die regte optrede vir haar sal wees nie, dat Maryke se vry naweek aanbreek. As sy nie geweet het dat die hoofmatrone kapsie sou maak nie, sou sy nooit ’n hele naweek vry geneem het nie, want hierdie naweke is vir haar eindeloos lank. Waar die res van die nagpersoneel verlangend na so ’n naweek uitsien, is dit vir die nagmatrone ’n straf, en sou sy met graagte haar naweke onder hulle wou uitdeel. Maar daar is reëls wat sy moet gehoorsaam en dis met ’n gevoel van mismoedigheid dat sy die middag wakker word en onthou dat sy nie oor ’n paar uur aan diens moet gaan nie.

      Sy sal maar soos gebruiklik haar woonstel van hoek tot kant skoonmaak, die nodige inkopies doen en haar besig hou met herstelwerk aan haar klere. En al die tyd sal haar donker gedagtes met haar wees sodat sy, wanneer sy weer aan diens moet gaan, moeër sal voel as vóór die naweek.

      Dis met min belangstelling dat sy ’n halfgebreide trui optel toe sy daardie aand met ’n koppie tee in ’n gemakstoel sit. Dis ’n lang nag wat voorlê. Sy kan wel bed toe gaan, maar of sy op die bed wakker lê en of sy regop in ’n stoel wakker sit, is dieselfde. Slaap sal vannag nie maklik kom nie, dit weet sy.

      Toe daar meteens aan haar deur geklop word, verstyf sy onwillekeurig. Dan dwing sy haarself om te ontspan en op te staan. Dis seker maar weer ’n verkoopsman. Sy verwag beslis geen kuiergaste nie. Heel aan die begin het van haar kollegas soms kom aanklop en ’n koppie tee kom drink. Maar gou het hulle agtergekom dat Maryke Linde verkies om alleen gelaat te word en het die seldsame besoeke opgehou. Hoe kon hulle weet dat sy ook soms na geselskap verlang het, maar dat haar vrees vir vrae haar so afsydig gemaak het?

      Sy verstyf merkbaar toe die deur oopswaai en sy in sy gesig opkyk.

      Hy glimlag breed asof hy niks agtergekom het nie, en stap sommer binne. “Ek is gelukkig. Ek het gedink jy en jou professor sou dalk iewers heen wees vanaand. Dis immers Saterdagaand.” Sy blik dwaal vlugtig deur die vertrek en keer dan weer glimlaggend na haar terug. “Maar dit lyk my nie julle gaan dikwels uit nie. Om die waarheid te sê, dit lyk nie asof julle veel van mekaar sien nie, of hoe?”

      Конец ознакомительного фрагмента.

      Текст предоставлен ООО «ЛитРес».

      Прочитайте


Скачать книгу