Judaskus. Rudie van Rensburg
nie. Dis die hawe van ’n onweerstaanbare versameling boeke,” het die professor op sy hoogdrawende manier gesê.
Kassie kyk op sy horlosie. Hy’t spesiaal vroeg gery om ’n uur of wat hier te verwyl. Rooi was effe dikbek om so vroeg te moet ry. Hy’t gesê hy gaan maar in die dorp rondloop, kyk of hy iets moois vir sy girlfriend kry. Kassie glimlag. Die man is smoorverlief. Hy hoop nie die muisneste beïnvloed Rooi se werk nie.
Hemingway’s het ’n warm, gesellige atmosfeer. Tussen die Persiese tapyte, antieke stoele en tafeltjies deur snuif Kassie behaaglik aan die weergalose reuk van ou boeke. Sy oë flits oor die swaargelaaide rakke en wye verskeidenheid afdelings: Africana, Antikwaries, Anglo-Boereoorlog, Stamme van Afrika, Skeepswrakke, Jagverhale, Kuns, Reismemoirs. Elke hoekie en draaitjie lewer nuwe verrassings op: Chinese filosofie, Argitektuur, Reptiele, Insekte, Lokomotiewe, Britse adel, Rhodesiana, Cecil Rhodes, Hitler … Posseëls.
Hy sak op sy hurke af terwyl sy vingers behaaglik oor die ry seëlboeke gly. Dit voel kompleet asof hy op ’n ander planeet is. Boeke waarvan hy nog net gehoor het, staan hier reg voor hom. Hy weet nie waar om te begin nie. Hy gaan sit plat op die vloer en begin die boeke een vir een uithaal en deurblaai.
Meer as ’n uur later loop hy met stapels boeke onder elke arm na die betaalpunt. Hy sluk hard toe hy sien die dertien boeke gaan hom oor die drieduisend rand uit die sak jaag. Hy sal volgende maand maar moet sny op kruideniersware en sigarette, dink hy terwyl hy met sy kredietkaart betaal.
Hy pak die boeke in die kattebak van die polisiemotor. Hy kan beswaarlik wag om te begin lees. Dis nog ’n halfuur voor sy afspraak. Hy stap oor die klipgeplaveide pad in die rigting van die see en gaan staan by die muur waar hy op die Ou Hawe kan afkyk, steek ’n Lucky Strike aan. Hy het met Rooi ooreengekom om hom hier te kry.
Die ou hawegebou lyk nog dieselfde as destyds. Hy en Marietjie was kort getroud, toe kry sy ’n klein bonus by die werk waarmee hulle ’n naweek in die Windsor-hotel kom bly het. Dit was sy laaste keer op Hermanus … amper sewe-en-twintig jaar gelede. Hy en Marietjie het ure lank hier op die rotse liefdeswoordjies in mekaar se ore gefluister. Hy skud sy kop. Dinge het daarna vinnig skeefgeloop. Wat sou van haar geword het? Sedert hulle vier-en-twintig jaar gelede geskei is, het hulle heeltemal kontak verloor.
Rooi se stem onderbreek sy gedagtes.
“Tjek hierdie nice sonbril wat ek vir Torretjie gekoop het!” Hy wys trots sy vonds. “Hel, sy gaan dit laaik. Ray-Ban. Sy’s mál oor sonbrille.”
Kassie glimlag. Hy wonder waar Torretjie aan haar bynaam gekom het. Dalk is dit Rooi se troetelnaam vir haar? Torretjie!
Hy beduie na sy horlosie. “Ons sal moet aanstaltes maak.”
Hulle stap sommer na mevrou Knobel se woonstel in Kusweg, toevallig in dieselfde straat as die Windsor-hotel. Toe hy en Rooi verlede week en Vrydag na Knobel se Rondebosch-adres is, het die mense daar gesê hulle het dié huis drie jaar gelede by mevrou Knobel gekoop. Hulle het vertel sy het na Hermanus verhuis.
Toe hy haar gebel het, het sy nie lus geklink om met hom te praat nie.
“Dit sal net weer ou herinneringe aan my man oopkrap,” het sy gesê. “Dis tog gedane sake. Niks kan Daniel terugbring nie.”
Kassie het haar ingelig dat hulle haar man se beendere gekry het en dat hulle rede het om te glo Broeksma was nie die moordenaar nie. Sy het lank stilgebly … só lank dat Kassie gedink het sy het afgelui. Toe het sy onverwags ingestem hulle kan haar kom sien.
Sy het gesê daar was destyds iets wat haar gehinder het, maar sy wou nie oor die telefoon daarop uitbrei nie.
• • •
TJ is gatvol toe hy van die bed opstaan en sy slaapbroek aantrek. Presies dieselfde storie as gisteroggend – Daisy wat hom bespring en daarna die pad vat om te gaan shop. Sy behandel hom soos ’n vloerlap.
Hy stap kombuis toe om koffie te maak. Snake staan by die ketel, koffiebeker in die hand. Hy kyk gesteurd op toe TJ inkom.
“Jissis, julle het my v-v-vanoggend weer w-w-wakker gemaak. Is dit nodig om soos k-k-kraaie te skreeu wanneer julle k-k-kom?”
TJ kan homself nie keer nie. Hy slaan instinktief na Snake se smalende gevreet. Maar hy slaan net lug raak – Snake het sy kop blitsvinnig weggeruk. Dié gluur hom spottend aan terwyl hy sy koffiebeker op die tafel neersit. Hy beduie met sy hand na sy ken dat TJ weer moet probeer.
TJ storm vorentoe en swaai wild met ’n regter na Snake se neus. Snake buk onder die hou in, beweeg vinnig eenkant toe, steek sy been voor TJ in en gee hom ’n ligte stampie. TJ se kop tref die kombuistafel op pad vloer toe. Hy val uitgestrek op sy maag.
Snake is onmiddellik op hom. Hy gryp TJ aan die hare en ruk sy kop agteroor. Sy knieë boor in TJ se rug en die koue lem van ’n mes druk teen sy nekvel.
“Lê stil, ou g-g-grote, of my hand g-g-gly net. En ons wil nie g-g-graag ’n plas bloed op die kombuisvloer hê nie. Nie so tussen die k-k-kos nie.”
Sy warm asem blaas teen TJ se wang toe hy oorleun en fluister: “Moenie dink ek s-s-skrik vir jou omdat jy ’n p-p-paar spiere het nie. Ek het al baie groter ouens as j-j-jy op hul moer gegee. In die f-f-future hou jy jou humeurtjie in t-t-toom. Verstaan ons m-m-mekaar, Superman?”
Hy los TJ se hare en kom orent. TJ hou hom van die vloer af dop. Snake gooi doodluiters kookwater in sy koffiebeker, die flick knife nog in sy ander hand. Hy stap uit die kombuis. Sy runniklaggie eggo agter hom aan.
TJ bly nog ’n oomblik lê, druk hom dan op sy arms orent. Sy asem jaag van die inspanning. Hy swets onderlangs. Sy slaap klop waar hy die tafel getref het. Hy maak met bewende hande vir hom koffie.
Op pad kamer toe voel hy ’n warm straaltjie teen sy bors af kronkel. Hy kyk af. Bloed. In die badkamerspieël beskou hy die dun lemstreep oor sy keel. Hy spoel die bloed af en dep sy nek droog met ’n handdoek. Die wond brand soos die hel.
Hy gaan sit op die bed en vat ’n sluk koffie. Haal diep asem om hom te kalmeer en bepeins sy situasie. Hy werk vir ’n spul mense wat hy nie ken nie, voer opdragte uit wat lewensgevaarlik is. Hy speel heeltyd op die voorstoep van die tronk. Hy’s verlief op ’n vrou wat duidelik fokkol vir hom voel. En hy het ’n mal partner wat ’n flick knife in sy sak dra, hondjies in freezers prop en ou mans se nekke breek.
Skielik voel hy die drang om sy goed te pak, die pad te vat en te vergeet van die hele spul.
Nee. Nie ’n oplossing nie. Hy sal moet beplan voor hy dit kan oorweeg om ’n skuif te maak. By dié donners bedank of dros jy nie net nie.
12
Ná net drie kloppe aan die deur maak mevrou Knobel vir Kassie en Rooi oop.
Sy is ’n kort, gesette vroutjie met silwergrys hare en groot donkerbruin oë. Kassie skat sy moet naby aan tagtig wees, maar sy lyk nog op en wakker. Sy loop regop, met vinnige, kort treetjies voor hulle uit sitkamer toe.
Haar woonstel op die derde verdieping van ’n luukse blok het ’n asemrowende uitsig op die see. Die plek is ruim en sonnig, die meubels antiek, die tapyte duursaam. Teen die een muur in die sitkamer hang ’n klomp geraamde foto’s in twee reguit rye. Swart-en-wit troufoto’s, talle portrette van haar man, die groot neus prominent, en foto’s van hulle twee saam. Hy troon bo haar uit. ’n Lang man gewees, soos die lab-verslag sê. Die afwesigheid van foto’s van kinders of kleinkinders val Kassie op.
Hy en Rooi gaan sit op die groot leerbank oorkant mevrou Knobel. Sy gaan sit op die punt van ’n klein houtstoel.
“Ek is bly julle het my man se beendere gekry, nè?” Sy kug. “Nou kan ek hom darem behoorlik begrawe en …” Sy vee vinnig met haar hand oor haar oë. “Dit was maar moeilik destyds … om so sonder sy stoflike oorskot van hom afskeid te neem.”
“Ek kan dit glo, ek kan dit glo,” sê Kassie.
Rooi knik ook simpatiek.
“Hoe het julle ná al die jare uitgevind Broeksma was nie