bladspieël. Marlise Joubert
die lekkende vlamme van ’n wind
na ganse en eende wat keelskraap
na voëls wat brom in wolkerige bome
ons luister
asof ons wandelslaap
asof alles behoort aan ons
net soos niks aan ons behoort nie
later loop ons terug met die voetpad
tussen roosbome deur
ons hoor die laaste witringkelkiewyn se roep
onverwags skraap jy jou knie
en ek word droef
omdat jy nooit sal leer van dorings nie
omdat jy so maklik leeg
uit elke oomblik bloei
4 [aand]
(a)
buite stil dit
al hoe stiller nou
in die kamer skakel
ek die bedlig af
in die kamer word dit blind
die donker sien my nie
ek vloei daardeur
asof ek lig is
sonder liggaam
(b)
nooit sluit ons hier ’n deur nie
en die stoep reik wyer
soos hande op ’n klawerbord
hier laat sak die maan
haar swaar klip
in water
sink onsigbaar
saam met ons
dieper
die wegland in
(januarie 2014)
by die lees van
ek lees jou baie lang gedig
oor die afwesigheid van berge
ek word eufories daarvan
op die dak van my huis
spat hael oorverdowend oraloor
op die stoep spring hulle
soos patroondoppies uit ’n magasyn
aan die einde van jou bundel
kyk ek uit op die stilte
die gras is wit soos ’n laken
en toe die son deurbreek
word alles weer water
straatspieël. vir adonis
ek het jou gedig verloor op ’n middag
toe die skadu van ’n roofvoël oor my skuif
maar ek onthou jy het iets geskryf
oor ’n straat in beiroet wat ’n vrou is
hier is my straat ook ’n vrou
wat geluidloos alle klanke vertaal
dikwels dwalende met veraf fluisteringe
as die reën teen haar wange spat
hier is glasriviere wat deur haar lag
snags is die lamppale van haar bene
nakend totdat die son haar weer bedek
met die geel geluide van ’n vink
ek hoor haar soms ligweg dwarrel
om die hoeke van donker huise in my buurt
sy vertel haar kinders het alles hier verlaat
miskien ontmoet jy hulle in beiroet
deesdae sterf honger honde
in haar arms al om die ander uur
die straat en die bome loop leeg
maar ek bly gelukkig hier –
josé ángel valente
nou is die liggaam van min belang
as my dagreis deur jou gedigte klief
selfs lorca is nie meer in die visier nie
ek het my opgehang aan jou luike
omdat jy sê die gedig
begin in die woord
ek sou onder jou venster
aan die slaap wou raak terwyl jy sing
jou bedags deur spaanse parke
en stegies agtervolg sodat jou stem
my gesig soos die liefde tref
daar is ander wat toevallig my ure kruis
soos die splintertaal van plath
wat ontplof uit ’n kuberdoderyk
klokhelder en bloots teen my oor
dan is daar neruda, jare lank al saamgesleep
soos ’n blok graniet waarteen ek leun
om opeens die koel gloed
van ’n droom in te neem
al is die liggaam van minder belang
hiermee ook ’n mymering in die grond waar jy rus
om miskien te transendeer na enige substansie toe
sonder eindigheid en sonder bloedverwant
niks anders as ’n noot in die lied
van die woord valente nie
om die blinde vlinderagtige reis in skerwe te breek –
een woord
een gedig
uit jou landskap
vol stotterende vergeelde voëls
’n dag in die lewe van ’n digter
vir die estlandse digter, jaan kaplinski
is ’n dag in sy lewe heel gewoon
selfs vervelig soos ’n somervlieg
wat voortsleur teen ’n dowwe ruit
’n dag in my eie lewe weerspieël
ook min of meer dieselfde afdruk
met soms ’n ruimtelose ontsporing:
anders as kaplinski
– met apologie aan sy gedig –
begin my dag met suikerkoffie
om stoornisse tot rus te lê
en die werfson in te nooi
meestal begin die oggend soos die jag
van ’n seevoël in die lou vaarwater
van my langlynboothuis
met opstaan/aantrek
tandeborsel/bedopmaak
en kombuis opruim
soms gaan ek spar toe om proviand te koop
soms gaan ek woolworths toe om klere uit te snawel
en ’n koppie cappuccino by mugg & bean te sluk
maar meestal gaan ek spar toe
daarna kajak ek etlike ure rond
op die flikkergolwe van die internet