bladspieël. Marlise Joubert
snipperete
gaan nuttig dit voor die tv met skynews en cnn
soms pik ek aan discovery world of crime
dan spelonk ek in vir ’n droom of twee
totdat my geliefde terugkom van die werk af
en ons gaan sit op die ommuurde stoep
hang woorde om verweerde polse van mekaar
teen seweuur eet ons en kyk afrikaanse nuus
al is dit nie so heilsaam om te weet
watter sirkusse oral plaasvind nie
meestal gaan nestel ons
vroeg in die bed om te lees
ek met twee tot drie digbundels
en hy met ’n speurroman
of iets soos how to stop smoking
teen middernag vlieg ek op
indien ek nie kan slaap nie
gaan hurk verpiep voor die rekenaar
en broei op ’n gedig of twee
meestal skryf ek nie ’n gedig
in die middel van die nag nie
al is daar soms ’n verskil
in die ontwoording daarvan
verloop my dag maar net so gewoon
soos ’n dag in die lewe van die kroon-
digter kaplinski
dagleef
Each of us is alone on the heart of the earth
pierced by a ray of sun:
and suddenly it’s evening.
– Salvatore Quasimodo
ná al die reise deur verskeie wonings
die loutering deur stede en afskeid van vriende
is ek weer tuis en ingebed soos ’n mangopit
in sy goue vlees
my hele haard tregter ’n vertroude skil om my
en word met één sonbaan omkring
waar ek is dagleef ek
waar ek dink word ek
waar ek asem is ek
terwyl die eekhorings oor die teëldak
opnuut fabels dikteer en afrond in ’n neutedop
terwyl die verdwaalde spinnekop die plafon betree
om sy rubriek tot stand te bring en die vinke
hulle haikoes saad vir saad weglê in die krop
hoe is dit dan dat die vertes so kan lok
die gesig ongesiens skoon kan lek
jou dan meteens sonder vel verloor
asof jy eintlik nêrens hoort
behalwe hier
waar slakke strofes teen ’n muur vleg
die mierkolonie lang swart reëls loslittig
oor die tuinpaadjie verf
my skelet verbleik tot vraag en tekens
en op dié manier bly ek hoopvol leef
dat die vlees van hierdie gedig
nog ’n dag sal herhaal
voor die einde van die reis
hotel. hermanus
om ’n gedig te skryf op die balkon
van die windsor hotel reg voor die see
is minder werd as die vlug van ’n meeu
want hoe vertaal jy dié uitgedopte rots
wat branders elke dag trotseer
die skuim soos roomwit lakens
geskeur teen ’n verwronge kus
op die horison is die see ’n swarter ink
en slegs ’n reduksie van land sigbaar
duskant gansbaai in die verte
geen boot te sien nie
kliptande hap na die see
en die uitsig word altyd versteur
soos die groepie toeriste
met rugsakke en pette
al kletterende
om die oggend toe te eien
so is die lewe dan net ’n dag oud
en die digter ’n vlietende woord
wat agterbly, is die afdruk
van ’n vallende vlerkskelet
in sy vlug gestuit
om te dig
op ’n selfoon
is nie maklik nie.
dis boonop onromanties.
vingers poot ’n skilpad
letter vir letter voort.
skemer stik haar
kwilt teen die berg
soos ’n oranje karapaks
en las oor ’n donker rif.
skemer vloei die kaal
nag in. die maan skub
verby die venster op my foon.
my lyf spat reeds sewe are oop
om die jare aan te meld.
dieselfde bloed se roesgeheue
word nou daagliks
in gebreekte taal versend.
agenda
die gestringde gedig
moet ’n lang gedig wees
’n rankplant teen ’n wit
ringmuur aan die een kant op
en aan die ander kant soos slingers
webbe om jou voete af
sodat jy nie kan beweeg nie, vasgevang
om die enkels van begeerde ontroering
so moet die gedig jou mettertyd tot
stilstand bring, tot absolute stilte laat basuin
sodat jy die woorde word, self die klank
en die ritme van ’n verlore tyd, die afstand
van vrugwater na sloot
en later slegs ’n hartklop
wat jou opraap ver verby
die stingelende dood
’n snit uit sappho de mytilene
soms wil ek ’n gedig skryf
vroeg op ’n saterdagoggend
terwyl verbeelding nog onder
lakens vasgepen lê en my erf
klipwit ’n eiland word
waar ionatos haar lirieke skryf
teen kobaltspieëls van see en lug
wanneer die son eenoogruite
in ou mure