Boer kry ’n Vrou. Jan van Staden
neem plaas in die kuiervertrek tussen al die jagtrofeë, wat wissel van ’n leeu tot ’n kameelperd. Alida en Freddie neem alles belangstellend waar, en die kameraman en sy assistent lê alles op film vas.
“Juan, vir die program moet ons meer van jou agtergrond en van jouself as mens hoor,” sê Freddie. “Alida het ook ’n paar vrae om te vra. Ons sal die proses vorentoe aan jou verduidelik. Daarna gaan ons al tien boere in die program voorstel, en die aantal briewe wat jy van meisies kry, sal bepaal of jy onder die laaste of eerste vyf gaan wees. Die program het ’n klein bietjie verander. Waar almal voorheen in ’n gastehuis in die Kaap bymekaargekom het, gaan die tien meisies nou na die plase self. Ons voel hulle en die boer moet hul keuses maak in die omgewing waaraan hulle blootgestel word. Het jy die vorige programme gevolg?”
“Ja, ek het,” antwoord Juan.
“En hoe het jy dit gevind?” vra Alida.
“Om die waarheid te sê, my gevoel was dat die manne en meisies net vir die jol daarvan ingeskryf het.”
“En hoekom het jy ingeskryf? Wat wil jy daaruit hê?” vra sy.
“Ek is moeg van alleen wees. Ek het baie vriendinne, maar die regte een het nog nie op die horison verskyn nie. Ek soek ’n vrou, ’n maat en ’n sielsgenoot. Iemand wat kan aanpas in my omgewing,” antwoord hy.
“Vertel ons van jouself,” sê Freddie. “Wie is Juan van Wyk?”
Juan begin van toentertyd se dae vertel, van sy liefdesteleurstelling op universiteit tot waar hy vandag is.
“Is die liefdesteleurstelling die rede hoekom jy nog nie getroud is nie?” vra Alida. “Jy is aantreklik en welvarend vir iemand wat maar net 26 is. Sien jy jouself as ’n joller, of kan jy jou tot ’n vrou in ’n vaste verhouding verbind?” Sy kyk hom stip in sy oë.
“Die dae van speel is verby, Alida. Ek is ernstig as ek sê ek soek ’n vrou.”
“Wat is vir jou belangrik, die innerlike of die uiterlike?” vra sy.
“As sy soos jy lyk en optree, is die antwoord vanselfsprekend,” skerts hy met haar. “Ek gaan jok as ek moet sê die innerlike of die uiterlike. Daar moet ’n goeie balans wees. Ek hou van ’n mooi vrou,” antwoord hy eerlik en kyk na haar.
“Die vereistes vir ’n vrou wat jy opgestel het is ’n bietjie … hoe sal ek sê? Ontoegeeflik?” sê Freddie.
“Wel, dit is my volledige vereistes,” antwoord Juan.
“Niemand is volmaak nie, Juan, en ek dink jy stel baie hoë eise. Ek sien ook jou seksuele vereistes is baie duidelik en reguit. Maar geen direkte vrae oor die meisies se seksuele behoeftes mag tydens die keuringsproses gevra word nie. Veral nie soos jy dit op jou inskryfvorm gestel het nie. Dit sal uiteindelik net ’n gesprek wees tussen jou en jou keuses,” waarsku Freddie.
“Jy besef dat van die meisies jou gaan kies omdat jy welaf is,” sê Alida. “Uit my ondervinding kan dit negatiewe reaksies ontlok by die vyf meisies wat saam met jou op die plaas gaan agterbly. Wat ek bedoel, is dat jaloesie dinge vir jou baie moeilik kan maak. Sal jy dit kan hanteer? Is jy baie emosioneel of humeurig, as ek dit reguit mag vra?”
“O gaats nee, Alida, ek het baie respek vir enige vrou. Julle is vir my ’n rare spesie, en ek bedoel dit nou nie lelik nie. Ek sal nooit ’n vrou aanrand of sleg behandel nie. Ek draai altyd die ander wang as hulle moeilik raak. Dit kan seker gesien word as ’n swakheid van my,” antwoord Juan.
“Kan ons jou plaas besigtig en op film vaslê terwyl jy ons rondlei?” vra Freddie. “Jy moet ons vertel wat jou boerdery alles behels en ons wil ook weet wat jou passies en toekomsplanne is. Ons moet dit doen terwyl dit nog lig is buite.”
“Jy moet ook dink wat jy gaan sê in die persoonlike opname wat ons gaan gebruik om jou aan die dames bekend te stel,” kom Alida tussenbeide.
Hulle val in die pad en Juan neem hulle deur die verskillende fasette van die boerdery en vertel wat hy alles doen.
“Die lodge waarin ek bly, is vir jagters of vakansiegangers wat luuksheid soek en bereid is om daarvoor te betaal,” verduidelik hy as hulle verby die ou opstalle, krale en skure ry. Julle sal sien dat die hooflodge verwyder is van die plaasaktiwiteite. Die rede daarvoor is dat daar altyd baie vlieë en insekte in die beeskrale en perdestalle is. Dan het ek ’n chalet en tentkamp vir jagters sowel as vakansiegangers. Die ou plaashuis en nuut geboude huis is waar my voorman bly. Die werkers se huise is daar teen die rantjie regs van die opstal. Die plaas bestaan uit vier en ’n half duisend hektaar wat in kampe opgedeel is. Ons boer hoofsaaklik met wild en beeste.”
Die rit is seksueel tergend, want Alida sit langs hom en waar die pad op plekke rof is, beland sy teen hom. Sy is baie mooi en sexy en sy moet hom nie eers ’n halwe kans gee nie.
“Ek het ook ’n aanloopbaan vir privaat vliegtuie en het self ’n agtsitplek-dubbelskroef-Cessna waarmee ek charter,” verduidelik Juan wanneer hulle by die vliegveld kom. “Soos julle kan sien, het ek ook ’n Robertson R44-helikopter en ’n mikroligte vliegtuig waarmee ek wildtellings doen en lugdekking verskaf wanneer wild gekwes word en ons moet spoorsny. Die buitelandse jagters wat buffels, elande of leeus kom skiet se skootplasings is nie altyd goed nie. Die resultaat is gekweste diere. Buffels en leeus is baie gevaarlik as hulle gekwes is, en dit stel die jagters se veiligheid in gevaar.”
Hulle ry verder na die kamp waar die leeus, luiperds en tiere is. Die span is gaande oor die wild. “Hierdie kamp is slegs vir die roofdiere,” verduidelik Juan. “Hier is ook hiënas en ons voed hulle uit die natuur deur hulle rooibokke te laat jag.”
Daarna ry hulle vlugtig deur die buffel- en renosterkamp, want daar is nie genoeg tyd om alles op die plaas vir die span te wys nie.
“Daarby het ek natuurlik my eie paradys geskep,” gaan Juan voort. “Dit bestaan uit ’n berghut langs die fontein wat in ’n waterval na ’n natuurlike swemgat afstort. Daarvandaan het ek ’n goeie uitsig oor die hele plaas. Dit is my private wegbreekplekkie en net ek het toegang daartoe,” sê hy geheimsinnig.
“Jy sal seker eendag jou groot liefde soontoe vat, of hoe?” vra Alida hom nuuskierig.
“Oukei, ek sal jou eendag gaan wys,” sê hy.
“Wishful thinking, Mr Casanova,” piepie sy behoorlik op sy battery en lag te heerlik.
Die aand kuier hulle lekker. In ’n stadium gaan haal Juan sy kitaar. Alida is baie verbaas. “Ek het nie geweet jy kan kitaar speel en sing nie?”
“My ma was ’n kunstenaar en ek het dit by haar geërf,” sê hy. “Ek het nog ’n kitaar. Kom ons maak musiek. Is jy lus?”
Hy gaan haal die ander kitaar en dit raak gesellig om die kampvuur as hulle ’n paar liedjies saam sing. Alida vermy sy oë gedurende die liefdesliedjies. Hy besluit om vir haar ’n Italiaanse minnelied te sing, en sy speel en neurie saam. Hy weet dit skep ’n spesiale oomblik tussen hulle.
Die klomp baljaar later in die binnenshuise swembad en jacuzzi, maar Alida is nie lus daarvoor nie. Juan vind dit teleurstellend, want hy sou haar graag in ’n baaikostuum wou sien.
Toe breek die oomblik aan waarin hy voor die kamera moet gaan sit en vertel wie en wat Juan van Wyk is. Dit voel amper soos ’n werksonderhoud.
“My naam is Juan van Wyk en ek boer hoofsaaklik met wild en beeste. Ek het as siviele ingenieur gekwalifiseer. Kort nadat ek graad gevang het, is my ouers in ’n vliegongeluk oorlede en ek het die plaas geërf. My passie was nog altyd om te boer. Ek het ook ’n kommersiële vlieglisensie en het my eie vliegtuig en helikopter wat deel van die besigheid is. Ek doen wildtellings en charter ook met die Cessna. Ek het my eie private vliegveld op die plaas. Ek cater hoofsaaklik vir buitelandse jagters, maar Fort le Clos is ook ’n vakansiebestemming vir mense wat van die natuur hou. Ek is 26 jaar oud en dink dit is tyd dat ek ’n vrou kry. My vrou moet my vennoot wees en deel vorm van die besigheid en dieselfde passie as ek hê vir die natuur