Elza Rademeyer Omnibus 8. Elza Rademeyer
Hulle twee kom al ’n lang pad saam. Saam op skool gewees, en saam op universiteit. Bets se geaardheid maak dat jy nooit lank vir haar kan vies wees nie. Waar sy gaan, vrolik sy die lewe op. Op universiteit was sy voortdurend in die sop oor die dinge wat sy aangevang het. Soos om in die middel van die nag aan ’n laken by die koshuisvenster uit te hang om avokadopere van ’n boom af te pluk. Of perskes uit die dekaan se tuin te gaan steel. En al het hulle ná universiteit by verskillende hospitale gaan werk, kuier hulle nog gereeld oor en weer.
Die volgende oggend daag Bets-hulle omtrent ’n uur vroeër op as wat sy gesê het. Gelukkig het Alet klaar gepak. Toe sy die voordeur oopmaak en die twee mans sien, glo sy dadelik sy weet wie is wie. Die aantreklike blondekop sal Peet wees, en die minder opvallende man met die vaal hare Bets se broer, Jan. Groot is haar verbasing dus toe Bets hulle aan haar voorstel en sy moet hoor dis net andersom. Dat Jan die aantreklike een is. Nie dat Peet uitgeskel kan word as lelik nie, dink sy by haarself, maar in teenstelling met al Bets se vorige kêrels, lyk hy baie gewoon.
“Wil julle eers koffie drink, of is julle haastig?”
“Ek het nog nie kans gehad om koffie te drink nie,” sê Jan. “Dankie, ons sal beslis van jou aanbod gebruik maak.”
Eintlik het sy gehoop hulle wil liewer nie binnekom nie. Want met haar ma in die nabyheid, weet jy nooit wat sy alles gaan kwytraak nie. Hulle is dan ook skaars aan haar ma voorgestel, of sy sê reguit vir Jan hy moenie trouplanne in sy kop kry met Alet nie. “Sy’s my enigste kind. Die man wat haar wil hê, sal moet wag tot ek dood is, want wie gaan vir my sorg as sy uit die huis moet trek?”
“Vrou, hou op nonsens praat,” keer haar pa. “Wie kyk bedags na jou wanneer Alet in die hospitaal werk?”
“Ja, maar jy kan nie álles vir my doen nie.”
“Hoe is dit dan dat tannie in ’n rolstoel is?” vra Jan.
“Nee, dis hierdie hardkoppige man van my se skuld! Ek het vir hom gesê ons moet by my suster op Worcester oorslaap toe dit begin sneeu. Maar hy wou nie na my luister nie, toe loop foeter hy met die motor van die bergpas af, en hier sit ek nou. ’n Volslae invalide.”
“Die motor het aan die gly geraak op die sneeu,” verduidelik Alet ongemaklik. “En my ma is darem nie ’n volslae invalide nie. Sy’t net die gebruik van haar bene verloor.”
“Wat is dit anders as ’n invalide? Ek kan niks meer doen wat ek voorheen kon doen nie.”
Alet verwens haarself dat sy hoegenaamd ’n koffiedrinkery voorgestel het. Wat moet die vreemde mans van haar ma se houding dink? Gelukkig neem haar pa die res van die tyd die geselskap oor. Sy voel nogtans verlig toe Peet ná die koffie sê hulle moet dadelik vertrek, want die res van die toergeselskap wag vir hulle buite die stad.
In die motor kom sy gou agter Bets was reg toe sy gesê het Jan is ’n maklike mens om oor die weg mee te kom. Sy voel van die begin af tuis in sy geselskap. Sedig is hy bepaald nie, daarvoor lag en gesels hy te lekker. Maar oor Peet is sy verwonderd. Van waar sy agter hom sit, kan sy ongemerk sy gesig in die truspieël bestudeer. Sy oë bly op die pad, sy gesig uitdrukkingloos. Hy is beslis nie die geselserige soort nie. En die trekkie om sy mondhoeke wanneer sy en Bets dit uitskater van die lag vir Jan se snaakse sêgoed, sou sy beswaarlik ’n glimlag noem.
Nadat hulle buite die stad by die res van die groep aangesluit het, en oor en weer aan mekaar voorgestel is, sit hulle die reis voort. Die man wat as Ben aan hulle bekendgestel is, en wat as toerleier gekies is omdat hy al voorheen in die Richtersveld was, trek eerste weg. Peet se motor is laaste in die konvooi. Toe hulle ’n grondpad bereik, en Peet stadiger ry sodat hulle nie onder die vier motors voor hulle se stof toegegooi moet word nie, wil Bets weet hoekom Peet nie die ander verbysteek sodat hulle voor kan ry nie.
“Ek is mos nie die toerleier nie.”
“Toerleier se voet! Hoekom is Ben beter as ons? Ons is mos nog lank nie in die Richtersveld nie. Hierdie stof maak my klaar. Ek sal hooikoors kry! Toe, steek hulle verby!”
Hy trap skielik rem en vra duidelik vererg: “Moet ek jou by die huis gaan aflaai? Want dis al waarop jy die volgende tien dae gaan ry. Stofpaaie.”
Sy steek vinnig haar hand uit om hom agter in sy nek te kielie. “Moenie so gou omgeëllie raak nie, man. Ry maar, ek sal dit darem seker oorleef.”
Algaande deur die dag is Alet meer en meer verstom dat Bets so verlief is op Peet. Haar vorige mansvriende was almal ekstroverte. Die soort wat aandag trek, grappe vertel, jolige ouens. Peet is presies die teenoorgestelde. Amper sonder tong en blykbaar geen sin vir humor nie. Maar nou ja, dis seker juis hul verskillende geaardhede wat hulle na mekaar toe aantrek. Sy, Alet, sal maar wyd om hom hou. Sy’s nie lus om haar vakansie te laat vertroebel deur ’n kortgebakerde mansmens nie.
Toe sy op ’n keer weer in die truspieël kyk, word haar blik op heterdaad betrap. Sy draai haar kop so vinnig weg dat sy haar verbeel sy hoor nekwerwels klap. Dit ís so dat hy besonderse oë het. Wakker oë, en lang swart wimpers wat enige meisie hom sal beny, maar netnou glo hy sy beloer hom opsetlik en raak nog boonop iets kwyt daaroor.
“Waar slaap ons vanaand?” vra Jan op ’n keer.
“By De Mond, langs die Doringrivier,” gee Peet antwoord.
“Wanneer gaan ons die Richtersveld binne?”
“Oormôre. Ons slaap môreaand op Springbok.”
Teen laatmiddag draai die voertuie voor hulle af na links op ’n smaller grondpad.
“O, aarde,” sê Bets. “’n Nóg slegter pad!”
Alet hou haar asem op. Vir wat sê Bets so iets? Dis mos moeilikheid soek! Maar tot haar verbasing hoor sy Peet ewe besadig sê dis darem net ’n klein entjie. Hulle is amper by De Mond.
By die kampeerterrein aangekom, kyk Alet verras om haar rond. “Wat ’n lieflike plek! ’n Ware oase, ná al die vlaktes en dorheid waarlangs ons gekom het,” sê sy, menende dat dit Jan is wat skuins agter haar kom staan het.
“Ja, dis mooi hier,” gee Peet egter antwoord. “Jy moet sien hoe mooi is dit in die aand wanneer die maan se strale oor die rivier val.”
Ben kom sluit by hulle aan. ’n Atleties geboude, baie aantreklike man. Sy kan nie anders as om dit raak te sien nie. En so tussen die geselsery deur, kom sy agter hy was al ’n hele paar keer in die Richtersveld, nie net een keer nie. Sy meisie, Elsie, is lank, skraal en vriendelik. ’n Mooi gesig ook, dink Alet by haarself, al dra sy nie grimering nie.
Die mans raak doenig met die tente se opslaan, en toe hulle daarmee klaar is, hoor Alet Peet sê hulle moet ’n entjie gaan stap. Menende dat hy met Bets praat, neem sy op ’n kampstoel plaas sodat sy die uitsig oor die rivier kan bewonder.
“En nou?” vra Peet. “Kom jy nie saam nie?”
“Ek? O, ek het nie geweet jy praat met my ook nie. Waar is Jan? Gaan hy ook saam?”
“Ja, hy gaan saam. Hy’t net gou iets in die tent gaan haal.”
Toe hulle die kampeerterrein verlaat, merk sy Peet is een van die weinige mans wat ’n langbroek aanhet. Sy wil glo hy sal seker maar skaam wees om ’n kortbroek te dra, en sien in haar verbeeldingsoog twee maer bleek bene. Syself het ook ’n langbroek aan, maar dis oor sy nie gedink het die dag gaan so warm word nie.
Hulle bevind hulle spoedig op ’n rowwe terrein langs die rivier. Die mans moet kort-kort handgee wanneer sy en Bets van die een rotsblok na die ander moet spring. Toe sy weer ’n keer teen ’n steilte moet uitklouter, kom sy agter Bets en Jan is hulle vooruit en dis Peet wat sy hand na haar uithou. Sy aarsel ’n oomblik, sien dan dat sy nie alleen gaan regkom nie, en laat half onwillig toe dat hy haar help.
Toe hulle verder loop, wonder sy of haar verbeelding haar parte gespeel het, en of daar regtig iets soos lag in sy oë was toe hy haar boontoe getrek het? So asof hy haar huiwering gesien het en weet sy’s lugtig vir hom. Wel, sy’t goeie rede om skrikkerig te wees. In die eerste plek oor sy kortgebakerdheid, en in die tweede plek oor Bets se jaloerse