Elza Rademeyer Omnibus 8. Elza Rademeyer
Peet kyk na Alet. “Wat sê jy? Sal ons ook huis toe gaan?”
“Ek val in by wat julle ook al besluit,” sê sy en kyk hom vol aan, verwonderd dat haar stem so normaal klink. Dat sy haar blik nie ruk nie. Dit moet die doodsheid in haar wees. Die lugleegte waarin sy hang.
“Dan ry ons,” sê hy.
“Ek gaan pak,” sê Bets dadelik en verdwyn by die tent in.
“Lyk my nie ek het ’n sê nie,” merk Jan lakoniek op. “Vir my is dit lekker hier. Maar as julle wil ry, maak ons so. Ek ry nie voor ek nie vir oulaas lyn natgemaak het nie.”
Sy wil ook tent toe, maar Peet vat haar aan die arm en dwing haar ’n entjie weg. “Sal ek maar wag tot ons by die huis is voor ek haar sê van ons twee?”
Sy woorde verbyster haar. Sy’t nie gedink hy sal sy speletjie met haar langer wil voortsit nie. Maar natuurlik, hy weet mos nie Bets het haar vertel van hulle nagtelike eskapades nie. Hy glo seker sy is nog dieselfde naïewe meisietjie met wie hy na hartelus kan mors! Goed, laat hy so dink. Sy kan ook toneel speel. Maak asof sy van niks weet nie, tot die tyd en plek reg is om hom met die waarheid te konfronteer!
“Ja,” mompel sy binnensmonds.
“Ek is baie lief vir jou.”
“Ek moet gaan inpak.”
“Ja, hoe gouer, hoe beter. Ons gesels vanaand verder.”
Sy loop haastig van hom af weg en gaan die tent binne waar Bets fluks aan die inpak is.
“Ek is bly Peet het gesê ons kan teruggaan,” sê Bets. “Dit gaan nie lekker wees hier sonder die ander nie.”
“Ja, dit sou maar stil gewees het,” sê sy. Net om iets te sê, om Bets nie te laat agterkom sy’s ontsteld nie.
“Ek hoop nie jy vertel vir iemand van verlede nag se dinge nie.”
“Ek het jou al vantevore gesê ek is nie ’n skinderbek nie.”
“Ja, maar jy kan dalk net jou mond verbypraat.”
“Sal dit saak maak? Jy’t tog gesê jy’s klaar met Peet.”
“Ja, maar hy hoef nie nou al te weet nie. Ek sal hom sê wanneer ons terug is by die huis.”
“Ek sal stilbly.”
“Mensig, maar jy’s vinnig klaar,” sê Bets toe Alet haar tas toeknip. “Ek is nog nie eers halfpad nie.”
“Dis net tydmors om die klere op te vou. Alles moet tog gewas word wanneer ons by die huis kom.”
“Dit is so, maar dan gaan ek nooit my tas toe kry nie. Met die inpakkery het Peet my ’n hele klomp goed laat uithaal. Ek neem mos altyd ’n spul onnodige klere saam as ek iewers heen gaan.”
Alet is dankbaar toe dit tyd raak om die ander wat agterbly te groet. Sy wil by die huis kom. Haar kalmte gaan nie lank duur nie, dit weet sy. Dis te onnatuurlik. Wanneer haar opgekropte emosies skietgee, wil sy alleen wees. Toe hulle eindelik in die pad val, gee sy ’n gaap, krul haar op in ’n bondeltjie en maak of sy slaap.
“Nou wat het die twee meisies dan laas nag aangevang?” hoor sy Peet ná ’n paar kilometer vra. “Bets slaap, én Alet slaap. ’n Mens sal sweer hulle was die hele nag wakker.”
“Dis seker die stappery wat Alet uitgeput het,” hoor sy Jan antwoord. “Sy moes ver gestap het, want toe ek opstaan, was sy al klaar weg. Wat Bets oorgekom het, weet ek nie. Dis seker maar die klimaat wat haar aantas.”
Teen wil en dank kan Alet nie die hele dag lank voorgee sy slaap nie. Veral nie nadat Bets wakker geskrik het en naderhand vir Jan vra of sy siek is nie. Toe hy sy hand teen haar voorkop lê om te voel of sy koorsig is, moet sy noodgedwonge haar oë oopmaak.
“Jy’s ’n mooi een om te lê en slaap, en alles te mis wat jy nog nie in die Richtersveld gesien het nie,” beskuldig Peet haar nadat hy in die truspieël gesien het sy’s wakker. “Nou is dit te laat. Ons het al die reservaat verlaat.”
“Ek kan nie help ek is vaak nie. Dit voel vir my ek kan die hele dag omslaap.”
“Vergeet daarvan! Wat het jy dan laas nag gedoen?”
Op daardie oomblik begin haar selfoon lui, en word dit haar gespaar om hom te antwoord. Dis haar ma. “My kind, jou pa is in die hospitaal. Die dokters sê dis ernstig.”
“In … In die hospitaal! Wat het gebeur?” vra sy geskok.
“Beroerte-aanval. Ek het vir hom gesê hy moenie die swaar meubels skuif nie, maar hy wou nie luister nie. Jy moet dadelik huis toe kom.”
“Ons is op pad huis toe. Maar hoe en wanneer het dit gebeur?”
“Minder as ’n uur gelede. Hy’s met die ambulans hier weg. Ek wag nou vir sus Stien om my te kom oplaai hospitaal toe. Alles is so deurmekaar. Die meeste van ons meubels is al na die ander huis toe. Die res kom hulle môreoggend laai, en hier is nog goed wat ingepak moet word. Hoe laat gaan jy by die huis wees?”
“Dis moeilik om te sê. Seker vanmiddag laterig eers.”
“Kan jy nie vinniger hier kom nie? Ek is so bang jou pa gaan dood! Hy’t baie sleg gelyk.”
“Mamma moenie so negatief wees nie. Die dokters weet wat hulle doen. Sulke dinge lyk partykeer erger as wat dit is.”
“Hier hou sus Stien nou net buite stil.”
“Bel my weer wanneer Mamma-hulle by die hospitaal kom. Sal jy?”
“Goed, ek sal so maak. Dan groet ek nou maar eers.”
“Klink vir my jou pa is in die hospitaal,” sê-vra Jan toe sy die selfoon bêre.
“Ja. Hy’t ’n beroerte-aanval gehad en is ’n rukkie gelede met die ambulans hospitaal toe.”
Sy kom agter Peet ry vinniger. Dis lank sit in die voertuig. “Ek hoop nie jou pa se toestand is ernstig nie,” sê Bets ná ’n tydjie. “Wat gaan van jou ma word? Sy’s dan so afhanklik van hom?”
Sy haal haar skouers op. “Ek weet nie.” Selfverwyt knaag aan haar. Miskien sou dit nie gebeur het as sy by die huis gebly het nie. Of dan was sy ten minste daar om haar ma by te staan. Haar hospitaal toe te neem, met die trekkery te help …
Nadat haar ma gebel het om te sê haar pa is in die hoësorgeenheid opgeneem, ry Peet nóg vinniger. Sy kom agter hy oorskry die spoedgrens, maar sê niks nie. As haar pa moet sterf … Sy wil nie daaraan dink nie. Sy voel half skuldig oor Peet so jaag maar eintlik is sy dankbaar daaroor.
Sy kan aanvoel Bets is op haar hoede, dat sy elke keer vinnig die gesprek in ’n ander rigting stuur wanneer Peet of Jan iets ophaal van die vakansie. Hoekom het Bets dit aan Peet gedoen, wonder sy telkens. Hoekom het sy hom nie net gelos nie. Dan sou sý hom gevat het, soos Bets dit gestel het. Of, nee, dis beter só. Peet sou tog steeds ander weivelde gaan soek het. ’n Ander meisie soek om mee te mors. Dat haar oë so toe kon wees! Die aand by Springbok moes sy al van beter geweet het. Toe Bets aangeklam die kamer binnegekom het. Peet se kamtige maagpyn oor iets wat hy geëet het … Nee, sy behoort dankbaar te wees teenoor Bets. Eintlik het sy haar ’n groot guns bewys.
8
Toe hulle eindelik voor haar ouerhuis stilhou, sê Bets verlig: “Dankie tog ons is veilig hier. Ek het gewonder of ons heelhuids hier gaan aankom.”
“Ja,” sê Jan, terwyl hy die deur vir Alet oophou om uit te klim. “Ek het nie gedink hierdie voertuig van Peet kan so vinnig loop nie.”
Die twee mans help om haar tasse aan te dra voordeur toe. Sy haal die voordeursleutel uit haar handsak, en draai na hulle toe. “Baie dankie vir alles. Ry maar, julle is moeg. Ek sal regkom.”
“Moet ons nie eers jou bagasie binnetoe neem nie?” vra Jan.
“Dis