Elza Rademeyer Omnibus 8. Elza Rademeyer
alles in hierdie konkoksie het nie, maar dit smaak nie sleg nie. Nou nie naastenby so lekker soos jou mieliepap en wors nie, maar nou ja, smaak verskil. Die ander sal dalk nie elke oggend mieliepap wil eet nie.”
“Dit gaan weer ’n warm dag word,” wyk sy van die onderwerp af, oorbewus van haar ontdekking van flussies én dat Bets kort-kort in hul rigting kyk van waar sy by die kostafel staan.
“Hmm. Ek verkies die hitte bó die donderstorm wat ek beleef het toe ek laas hier was. Dit was hoogs aanskoulik, maar een keer was genoeg. Jy kan nie dink hoe nietig voor die Skepper dit my laat voel het nie.”
“Het dit gereën ook?”
“Gegiet, asof dit met emmers van bo kom.”
“Was jy nie bang jy reën vas nie?”
“Dit het gelukkig net so vinnig as wat dit losgebars het, weer opgehou. Maar die pad wás sleg verspoel. Ek moes op party plekke eers klippe in die gate rol om te kon oor.”
Toe sy Bets na hulle toe aangestap sien kom, staan sy vinnig op. “Jy kan hier op my stoel sit. Ek het klaar geëet, so ek gaan nou eers tent toe om my bed op te maak.”
“Jy’t dan amper niks geëet nie,” sê Peet.
“Ek is nie honger nie.” Dis waar, dink sy toe sy wegloop om die oorskiet in die vullissak uit te krap. Daar is geen lus vir kos in haar nie.
Kort ná ontbyt slaan almal weer ’n koers in. Sy besluit om saam met Jan-hulle te gaan visvang. Maar later die oggend begin dit haar verveel en toe Peet en Bets ook daar aankom, gebruik sy weer ’n hoofpyn as verskoning om terug te gaan kamp toe.
“Het jy nie ’n hoofpynpil vir haar by jou nie, Peet?” wil Jan weet.
“Nee, ongelukkig nie. Maar ek sal saam met haar stap en vir haar iets gaan gee.”
“Dis nie nodig nie,” keer sy onthuts. “Ek hét hoofpynpille in die tent.”
“Drink sommer twee pille,” sê Jan.
As ’n mens ’n pil kon kry wat jou liefde vir ’n man in die kiem kon smoor, sou sy ’n bottel vol daarvan gedrink het, dink sy wrang toe sy vinnig van hulle af wegloop. Ongelukkig bestaan daar nie so iets nie, dus sal sy dit self moet doen: oombliklik haar liefde vir hom soos ’n vuur blus voor dit opvlam en haar hele menswees verskroei.
By die tent aangekom, trek sy haar swemklere aan en stap terug na die swemgat. Maar die koelheid van die water kan nie haar hart binnedring nie. Ook nie haar skuldgevoel teenoor Bets wegvat nie. Hoekom wou Bets haar nie vertel wat sy in haar slaap gemompel het nie? Het sy nie dalk Peet se naam genoem nie? Iets verklap van die ongeluk nie? Bets is nie dom nie, en sy was al voorheen suspisieus. Sy sal maklik twee en twee bymekaar kan tel.
Die ergste is om nie te weet hoe Peet oor haar voel nie. Soms wil sy glo hy het vir haar ook ’n dieper gevoel. Dat dít die rede is hoekom hy met haar oor dinge gesels waarvan Bets nie weet nie. Maar dit mag ook wees dat hy net besef het sy het ’n gewillige oor vir ontboeseming. Dis nog glad nie te sê hy is nie lief vir Bets nie.
“Hoe gaan dit met die hoofpyn?”
Sy’t hom nooit sien kom nie, en skrik haar lam toe sy hom op die oewer sien sit. Kouende aan ’n grassprietjie, asof hy al lank daar sit. “Dis beter, dankie.”
“Hoe lank is jy al in die water?”
“’n Hele rukkie. Hoekom?”
“Klim uit en kom sit hier langs my. Ons moet praat.”
Haar hart mis ’n slag. “Waaroor?”
“Oor ons twee en die toekoms.”
Haar hart mis twee slae. “Wat is daar om te sê?”
“Dis nie iets om oor ligtelik te wees nie. Ek is ernstig. Klim uit dat ons gesels.”
“Jy hoef nie bang te wees ek sal vir Bets sê jy was al voorheen hier nie, of vir haar van die ongeluk vertel nie,” stamel sy oorstuurs.
“Dis nie waaroor ek met jou wil praat nie. Kom, klim nou uit.”
“Jy moet liewer loop. Netnou maar sien sy jou hier, en dan …”
“Goed, as jy nie wil uitklim nie, kom ek na jou toe.”
Haar hart gee ’n ruk toe hy die daad by die woord voeg en met klere en al in die water spring, tot by haar kom en albei haar hande in syne neem. “So ja, nou kan jy nie weer vir my weghardloop nie. Moenie jou kop wegdraai nie, Alet. Kyk vir my.”
Hy klink so ernstig dat sy nie anders kan as om te gehoorsaam nie. “Wat wil jy sê?”
“Weet jy nie?”
Haar kop duisel van die intensiteit in sy oë. Sy skud haar kop ontkennend, want haar stem, weet sy, is weg.
“Ek het gedink my verbeelding speel my parte daar in die bokwagtershut. Maar jou optrede agterna het my daarvan oortuig dat jy nie onverskillig teenoor my staan nie. Net soos wat ek ook nie onverskillig teenoor jou staan nie.”
Sy maak haar blik moeisaam los uit syne. “Dit mag nie.”
“Hoekom nie?”
“Omdat … Bets jou baie liefhet. Ek sien nie kans om haar seer te maak nie.”
“Bets sal nie ’n enkele traan stort nie. Jy bekommer jou verniet oor haar.”
“Jy’s verkeerd. Sy was nog nooit so erg oor ’n man soos oor jou nie. Ek weet, want ek moet elke dag hoor hoe lief sy jou het.”
“Werklik?”
“Dis nie nodig om skepties te klink nie. Jy weet net so goed soos ek sy’t jou lief.”
“En as ek aan jou bewys dat sy my nie liefhet nie?”
“Hoe gaan jy dít regkry?”
Hy kyk oor haar skouer en gee ’n suggie. “Ons gaan nie langer alleen wees nie. Kom ons gaan gesels op ’n ander plek.”
Sy skrik, maar toe sy omkyk sien sy dis gelukkig nie Bets nie, maar van die ander kampeerders wat in aantog is.
“Kom,” sê Peet, en help haar uit die water. “Ons gaan klim sommer daardie kop uit. Hopelik sal niemand ons daar bo op die kruin kom pla nie.”
Maar die ander is toe juis op soek na Peet. “Jy sal moet kom help,” sê Jaco. “Mary-Ann het ’n lelike sny op haar been opgedoen. Sy sal steke moet kry.”
Peet kyk na haar. “Ons gesels weer later.”
Sy knik net haar kop en drentel stadig agterna toe die ander hulle terughaas kampeerterrein toe. Haar kop voel lig en vry, want Peet hét ’n gevoel vir haar. Dis net die feit dat Bets gaan seerkry wat haar vreugde vertroebel.
Peet is nog besig om Mary-Ann se been te dokter toe Bets-hulle terugkom. Dit maak dat hulle nie verder kan gesels nie, want Bets kom met twee rakette en ’n balletjie te voorskyn, en sy kan nie weier toe sy gevra word om saam met haar te speel nie. En toe hulle moeg gespeel onder die boom wil gaan sit, kom roep Jan hulle om te kom help met die was van Peet se motor.
“Ben het van sy kop af geraak,” kla hy. “Hy wil nou skielik hê al die voertuie moet gewas word, want hulle lyk kwansuis soos iets wat op ’n skrootwerf hoort. Wat sal dit help ons was hulle? Hier’s nie teerpaaie in die Richtersveld nie. Twee dae, en hulle gaan weer net so vuil wees.”
“Hou op kerm, Jan,” sê Bets. “Ben is reg. Die goed lyk aaklig.”
Alet het self ook al gewonder of hulle nie die voertuie ’n slag kan was nie. Al gaan hulle nie vir lank skoon bly nie, sal dit darem verhoed dat die stof nóg dikker op hulle aanpak. Daar word soveel opmerkings en kwinkslae kwytgeraak toe almal aan die werk spring, dat dit spoedig in ’n aangename speletjie ontaard. Toe sy op ’n keer met ’n emmer rivier toe wil draf om skoon water te gaan haal, neem Peet onverwags die emmer uit haar hand. “Gee vir my, ek sal gaan skep. My toekomstige vrou