Elza Rademeyer Omnibus 8. Elza Rademeyer
Haar ingewande ruk van skok. “Tog seker nie opsetlik nie?”
“Nee, nie opsetlik nie. Maar deur nalatigheid.”
“Tydens ’n operasie?”
“Nee. Ek het oor haar gery met my motor.”
“Het sy voor jou ingeloop?”
“Nee.”
“Wat het dan gebeur?”
“Ek het by vriende op hul plaas gaan kuier. Die middag by hulle geëet. Daarna het ek in my motor geklim en weggetrek …”
Sy wens sy kon haar hand na hom toe uitsteek. Dit oor syne lê. “Jy’t nie geweet sy is voor die motor nie?”
Hy skud sy kop. “Nee. Nee, ek het nie geweet nie.”
“Waar was haar ouers?”
“Hulle het my op die stoep afgesien en weer die huis binnegegaan. Ek moes klop, en vir hulle gaan sê …”
“Was sy op slag dood?”
“Ja.”
“Hoe oud was sy?”
“Twee jaar.” Dis lank stil voor hy weer praat. “Kan jy jou indink hoe dit gevoel het om vir my vriende te sê ek het hul enigste kind doodgery? ’n Kind vir wie hulle nege jaar lank gewag het. Die enigste wat hulle sou kon hê.”
“Nee, ek kan my dit nie indink nie,” sê sy sag. “Maar wat ek wel weet, is dat hulle ook agtelosig was. ’n Mens laat nie ’n tweejarige kind toe om alleen buite te speel as jy weet daar is ’n voertuig op die werf wat gaan ry nie.”
“Hulle het my aangekla van strafbare manslag. Volgens hulle sal ek altyd die moordenaar van hul kind wees.”
“Dis ook nie reg nie. Hoe lank terug het dit gebeur?”
Hy lig sy skouers effens. “Drie jaar gelede. Ek kan myself nie verskoon nie, Alet. Ek moes om die motor geloop het, gekyk het of dit veilig was om weg te trek.”
“Wie van ons doen dit ooit?”
“Ek het geweet daar is ’n kind in die huis. Sy het minute vantevore nog op my skoot gesit en met die penne in my hempsak gespeel.”
“Haar ouers het nie geweet sy’s buitentoe nie. Hoe moes jy dit geweet het? Dit was ’n ongeluk, Peet.”
“Dit was die hof se bevinding, ’n ongeluk … nalatigheid … Almal sê dit was ’n ongeluk. Maar …”
Toe hy ineens opstaan en met lang treë en geboë hoof op die bome afpyl, lê sy ’n paar oomblikke besluiteloos op die kombers. Maar dan vlieg sy op. Sy kan hom nie só los nie. Nie met soveel hartseer en pyn in hom nie.
Sy kry hom tussen die bome, op sy hurke met sy rug teen ’n boomstam. Haar hande steun op sy knieë toe sy voor hom kniel. “Peet …? Ek is jammer.”
Dit neem ’n rukkie voordat hy sy kop lig. Toe steek hy sy hand uit en streel saggies oor haar wang. “Dankie dat jy geluister het.”
“Ek is jammer dat ek die storie uit jou getrek het.”
“Moenie jammer wees nie. Dis goed dat dit gebeur het. Ek kon nog nooit met iemand daaroor praat nie.”
Sy raak eensklaps bewus van sy hand teen haar wang, en van haar hande op sy knieë. “Voel jy ’n bietjie beter?”
Hy glimlag skeef. “Ek voel beter, ja.”
Sy trek haar hande terug en kom orent. “Wil jy nog ’n rukkie hier bly?”
Sy kop knik. “Ja.”
“Goed. Dan … dan loop ek nou maar.”
Veel later trek sy die boek weer nader. Maar sy kan nie konsentreer nie. Hy’t gesê hy het nog met niemand daaroor gepraat nie. Ook nie met Bets nie? Hoekom nie? Was hy bang sy sal hom veroordeel? Teen hierdie tyd moet hy haar mos goed genoeg ken om te weet sy sal nie so iets doen nie. Of is hy bang sy sou dit te ligtelik opneem en nie verstaan watter teer saak dit vir hom is nie? Hoeveel fasette is daar nóg in sy lewe waarvan sy niks weet nie?
6
Die aand langs die kampvuur het sy moeite om haar blik van hom af weg te hou. Hy lyk weer soos iemand wie se gedagtes op ’n ver plek is. Kan drie jaar gelede se dinge nou nog so ’n invloed op hom hê dat hy sukkel om dit te bowe te kom? Dit was tog nie regtig sy skuld nie. Sý loop nie elke keer om haar motor om te sien of daar iets voor of agter is nie. Aan die ander kant, as dit sy was wat ’n kind doodgery het … Die blote gedagte stuur ’n koue rilling teen haar rug af. Nee, sy kan verstaan dat dit ’n prentjie is wat hom vir die res van sy lewe voor oë sal bly.
Hulle het dan ook kwalik klaar geëet, of sy verdwyn ongemerk tent toe. Sy kan eenvoudig nie in die ander se pret deel nie. Nie ná sy belydenis teenoor haar nie. Sou Bets weet dat hy voorheen hier in die Richtersveld was? Of het hy dit ook nie teenoor haar laat val nie? Hoekom het hy sy hart vir háár oopgemaak?
Sy weet nie hoe laat Bets kom slaap het nie. Toe sy wakker skrik is dit al dag buite, en is daar groot bedrywighede buite om die kostafel. Dit laat haar onthou dat Jan en twee van die ander mans die vorige aand aangebied het om vir almal ontbyt te maak. ’n Groot taak, as jy in ag neem dat dit twintig mae is wat hulle moet voed. Sommige kampeerders is reeds aan die smul. Haar blik val op Peet waar hy ook met ’n bord in die hand staan, en sy steek vas. Dit raak skielik stil in haar. ’n Snaakse lighoofdige stilte. Sy staar hom verstar aan. Haar hart gee ’n ruk. En nog ’n keer toe die verblindende wete haar tref dat sy hom liefhet. Dat haar gevoel vir hom veel meer as net fisieke aangetrokkenheid is. Sy wil by hom wees, deur dik en dun, deur storms en stilte, vir altyd en altyd …
Hy kyk plotseling op, sien haar staan en kom reguit na haar toe aangestap. Sy staan vasgenael, haar bene te lam om hom te probeer ontwyk.
“Goeiemôre. Het jy lekker geslaap?”
“Ja …” Haar stem is so hees dat sy eers moet keelskoonmaak. “Ja, dankie. En jy?”
“Baie lekker. Kan ek vir jou iets gaan inskep?”
“Ek kan self …”
“Dit sal vir my lekker wees om iets vir jou te doen,” onderbreek hy haar sin. “Sit hier op die stoel, ek bring vir jou ’n bord kos.”
Haar bene sou haar in elk geval nie tot by die tafel kon dra nie. Toe hy omdraai en wegstap, neem sy verward en ontsteld op die stoel plaas. Sy’t geweet sy speel met vuur. Dat daar iets met haar aan die gebeur is wat nie mag nie. Tog het sy gedink sy sal dit kan keer. Dat daar iets sou gebeur wat sal verhoed dat sy haar hart verloor …
“Haai, hoekom het jy my nie wakker gemaak toe jy opgestaan het nie?”
Sy sukkel half om Bets in fokus te kry, al staan sy reg voor haar. “Jy’t nie gesê ek moet jou wakker maak nie.”
“Nee, natuurlik nie. Of verwag jy ek moes vir jou gesê het: haai, maak my wakker, sodat ek jou kan vra om my wakker te maak? Ek mompel nie in my slaap soos jy nie.”
“Wat het ek gemompel?” vra sy bekommerd. “Kon jy hoor wat ek gesê het?”
“Ja, maar dis dalk beter as jy nie weet wat ek gehoor het nie. O, hier kom Peet aangestap met twee borde in sy hande. Lyk my hy’t solank vir ons gaan kos haal.”
“Môre, Bets,” groet Peet toe hy by hulle kom. “Jy beter vinnig vir jou gaan skep as jy wil eet, want daar is nie meer baie kos oor nie.” En tot Alet: “Hier, ek hoop jy eet lekker. Ek mis net my mieliepap vanoggend.”
“Bets is nou vies,” sê sy toe sy sien hoe dié opgeruk van hulle af wegloop.
“Waaroor?”
“Oor jou houding. Sy’t gedink jy bring vir haar ook kos.”
“Ek het mos nie geweet sy gaan hier wees nie. En in elk geval