Ena Murray Keur 6. Ena Murray
was vir Deidre ’n pynlike proses om weer te begin lewe. Hóé pynlik, het net sy geweet. En tog moes dokter Beneke in hierdie dae stil verbaas toekyk hoe ’n nuwe Deidre gebore word, en in stilswyende bewondering moes hy opnuut besef hoeveel smart die menslike gees werklik kan verduur. Vir hom was dit net ’n wonderwerk dat Deidre uit hierdie vuurproef kon tree sonder dat haar gees onherroeplik beskadig is, en tog het dit begin blyk, soos die dae verbygegaan het, dat sy bo die pyn en teleurstelling sal uitstyg.
Ook Deidre moes in hierdie dae, nes dokter Beneke, ou waarhede opnuut leer ken. Sy moes opnuut tot die ontdekking kom dat die wêreld nie gaan stilstaan oor die smart en teleurstelling van een mens nie, al is dit ook die smart en teleurstelling van een van die grootste sangeresse van haar land. Sy moes ook leer dat die wêreld ’n kort geheue het, en dat die mensdom baie gou vergeet. Wel was die hele land diep geskok deur die gebeure. Die blyke van meegevoel van bekendes en onbekendes wat sy ontvang het, getuig van hul simpatie. Maar nou, ná weke, nadat hulle hul simpatie klaar betuig het, is sy alleen gelaat om self uit die ruïnes van gister ’n nuwe lewe op te bou. Haar ster het verskiet, vinnig, onverwags, op wrede wyse, en niks en niemand sal dit ooit weer aan die firmament kan terugplaas nie.
Sy is nie eens toegelaat om ’n flentertjie van gister te behou nie. Saam met haar sangstem het haar verloofde ook in die niet verdwyn. Weliswaar kom besoek hy haar nog gereeld, al is dit net ’n paar minute, maar sy weet dis uit plig en nie uit liefde nie. Sy het reeds die terugtrekking in hom gewaar. Die manier waarop sy oë altyd haar direkte blik ontwyk, spreek boekdele. Intuïtief weet sy dat Norman Zietsman geen deel aan die nuwe, leë toekoms wat voor haar uitstrek, sal hê nie.
Toe Norman dan ook weer een middag sy opwagting maak, besluit sy dat vandag net so goed soos enige ander dag sal wees om sake tussen hulle tot ’n punt te bring.
Hy lyk vanmiddag rusteloser as die ander besoekdae, en ná ’n rukkie vra sy reguit: “Wat is dit, Norman? Ek kan sien daar is iets wat jou hinder.”
’n Ruk gaan deur hom asof hy nie verwag het dat sy hom so ’n reguit vraag sal vra nie, en Deidre vervolg gelykmatig: “Ek kan lankal sien daar is iets wat jou pla. Het jy jou ring kom terugvra?”
Hierdie keer betrap sy hom heeltemal onverhoeds en hul oë ontmoet mekaar die eerste keer direk. Stadig maar doelbewus trek sy die verloofring van haar vinger af en hou dit na hom uit. “Dis nie nodig om so ongemaklik te lyk nie, Norman,” gaan die egalige, hees stemmetjie voort. “Ek dink dis die beste. Daar is niks meer wat ons bind nie.”
Hy wend darem ’n poging tot verweer aan.
“Maar … is jy seker jy wil dit so hê, Deidre? Ek gee nog baie vir jou om, meisie.”
“Ja, ek glo dit, maar dis nie liefde nie, Norman.” Sy hou haar hand omhoog toe hy wil protesteer. “Ons het dit van die begin af geweet, Norman. Dit sou miskien nie soveel saak gemaak het as alles verloop het soos ons dit beplan het nie. My sang sou ons aan mekaar gebind het en mettertyd sou daar miskien ’n sterker band van gevoel tussen ons gegroei het. Maar nou … Ek gee ook baie vir jou om, my vriend, en ek is baie dank aan jou verskuldig vir wat jy die afgelope twee jaar vir my gedoen en beteken het.”
Norman is die eerste keer in jare rooi van verleentheid.
“Is dit nodig om sarkasties te wees, Deidre? Ek weet ek is die oorsaak dat jy …”
“Nee, Norman. Asseblief, ek wil nie hê dat jy jou hieroor moet verwyt nie. Ek het net soveel skuld aan wat gebeur het. Ek moes jou eerlik vertel het dat ek nog ellendig en siek gevoel het.”
“Deidre, ek kan sweer dat ek regtig gedink het jy voel nie meer so sleg nie en dat jy sal kan sing,” laat hy dringend hoor, en sy glimlag gerusstellend.
“Ek weet, Norman. Ek het eerlik geen verwyt in my hart teenoor jou nie.” Sy sê dit met oortuiging omdat dit werklik die waarheid is. In die eerste bitter dae het sy hom verwyt. Maar nie meer nie. Sy kan op hierdie oomblik na hom kyk met ’n onpersoonlike gevoel in haar hart. Norman Zietsman was deel van ’n sekere fase in haar lewe. Daardie fase is nou afgesluit en sy het geen gevoel oorgehou nie – nie van haat nie, nog minder van verwyt of hartseer teenoor hom. Juis omdat dit so is, weet sy dat sy hierdie man nooit liefgehad het nie. Dit was dankbaarheid en afhanklikheid wat haar toegelaat het om aan hom verloof te raak.
“Wat … wat is jou planne?” vra hy toe hy eindelik die ring by haar neem en in sy baadjiesak laat glip.
’n Oomblik stoot die ou bitterheid weer in haar op en haar mond trek wrang.
“Ek het geen planne nie.” Dan ruk sy haar reg en sê met die gelatenheid wat die afgelope tyd van haar besit geneem het: “Ek sal wel weer vir my ’n plekkie in die son vind. Jy hoef jou nie oor my te bekommer nie, Norman. Wat is jóú planne?”
“Ek …” Hy lyk weer ongemaklik, en Deidre besef dat hierdie man reeds nuwe planne begin smee het, planne wat sy baie seker is haar nie insluit nie. Maar dit kan haar nie ontstel nie. “Elsa Grünewaldt is toe daardie aand gekies en … en sy het my gevra …”
“Maar dis wonderlik, Norman. Ek het verwag sy sou gekies word. Sy het daardie aand pragtig gesing. Sy het mos net voor my opgetree. Jy moet vir haar baie geluk sê namens my, hoor? Jy, met jou ervaring, sal vir haar van onskatbare waarde wees. Wanneer vertrek julle na Milaan?”
“Oor ’n week.”
Toe hy oomblikke later haar kamerdeur agter hom toetrek, weet Deidre dat Norman Zietsman vir goed uit haar lewe stap en sy sou nie menslik wees as daar nie ’n mate van verbittering in haar opstoot nie. Niks het werklik vir Norman verander nie. Die oorspronklike planne wat hy gehad het, is nog dieselfde. Die een meisie is net vervang deur ’n ander. Maar vir haar … vir haar het alles so onherkenbaar verander. Vanuit die stof sal sy ’n nuwe lewe vir haar moet opbou.
En skielik voel sy die drang om so gou moontlik weg te kom, weg van al die simpatieke oë, ver weg waar niemand haar ken en miskien die rou en seer wat sy so diep in haar hart weggesluit het, sal sien nie. Sy wil soos ’n hond wat eenkant gaan om sy wonde te lek, wegkom van alles en almal wat bekend is en wat haar gedurig aan haar ou lewe sal herinner.
Twee jaar lank het sy in die kollig gestaan, was sy die middelpunt van bewondering. Nou sidder sy as sy daaraan dink dat sy weer in die openbaar sal moet verskyn, herken word, en die bejammerende blikke wat sy sal moet verduur.
Nee! ’n Honderd maal nee! Êrens, êrens in hierdie pragtige land moet daar ’n plekkie wees waar sy sal kan gaan wegkruip. Die eerste keer in twee maande het Deidre Retief weer ’n doel voor oë, iets om voor te lewe, ’n beweegrede om gesond te word en uit hierdie hospitaal te stap. Dis ’n tragiese doel, maar nietemin ’n doel – om ’n wegkruipplekkie te gaan soek.
Terwyl sy nog hieraan lê en dink en die vasbeslotenheid om so ’n plekkie te vind al sterker in haar word, is daar ’n klop aan die deur. Sonder veel belangstelling kyk sy op en ’n oomblik is daar geen herkenning in haar oë toe die man sy verskyning maak en stadig nader stap nie. Dan verander die uitdrukking in die blou oë en stadig vul hulle met blink, helder trane, terwyl die hees stemmetjie vol ongeloof fluister:
“Oom Alwyn! Is dit werklik oom?”
5
Met die grootste teerheid en ’n hart wat van innige medelye binne-in hom saamkrimp, druk Alwyn Bruwer die maer lyfie teen hom vas en luister na die snikke teen sy skouer.
“My kind … my kind!” is al wat hy met tussenpose uitkry. Eindelik lig Deidre haar traanbenatte gesig omhoog en die blou oë skitter die eerste keer vol vreugde in syne op.
“O, oom Alwyn, ek besef nou eers hoe verskriklik ek die afgelope twee jaar na julle almal verlang het!”
Hy knik en sy sak weer terug teen die kussings, maar die maer hande hou syne styf vas.
“Ons het ook baie verlang, Deidre.” Sy oë kyk vas in hare. “Soms het dit vir ons gevoel jy het ons heeltemal vergeet, jy het heeltemal van ons weggedrywe.”
’n Ligte rooi blos spoel oor die bleek wange en haar hees