Hartstog op Hartenbos. Trish Goosen
Hartstog op Hartenbos
Trish Goosen
Satyn
1
Karien loer bekommerd oor die rugleuning van die sitplek voor haar. Haar oë volg die rye koppe tot voor in die binneruim van die vliegtuig waar ’n skraal, blonde vrou in ’n uniform vir haar terugglimlag. Karien erken die gebaar met ’n klein kopknik en vryf haar hande senuweeagtig teen mekaar. Daar is nog geen teken van Shaun nie. Die onsteltenis wil-wil na die oppervlak borrel, maar sy probeer dit in toom hou. Hy kom dalk nog …
Nog vyf minute gaan verby. Die lugwaardin wys ’n laat passasier na sy sitplek. Dit is nie Shaun nie.
Waar bly die Engelsman? Daar moes iets gebeur het. Maar hoekom laat weet hy nie? Sal sy hom nog een keer probeer bel?
Karien maak haar veiligheidsgordel los en haal haar handsak gou uit die bagasieruim bokant haar kop. Geen boodskappe op haar selfoon nie. Sy vererg haar sommer en druk die skakelknoppie ergerlik. Dié slag antwoord Shaun op die eerste lui.
“Honey?” Hy klink verbasend kalm vir iemand wat sy vlug gaan mis.
“Waar is jy? Die vliegtuig gaan opstyg. Jy het my belowe jy gaan betyds wees!”
Twee oë in die opening tussen die sitplekke voor haar gluur verontwaardig agtertoe. Ai, sy het seker weer te hard gepraat.
“Relax, my dearest.”
“Shaun Morris! Moenie vir my sê ek moet relax nie. Jy weet ek haat dit.”
“Karien?” Hy klink steeds ontspanne ondanks haar driftige stemtoon. Nie dat dit haar verras nie. Sy ken hom nie as iemand met vreeslik baie emosionele uiterstes nie. Soms wil sy net so graag hê hy moet terugbaklei wanneer sy hom invlieg.
“Karien?”
“Hmm …?” is al wat sy kan uitkry. Sy voel hoe haar lippe saampers van spanning. Slegte nuus, sy weet sommer.
“Breathe … Are you sitting down?”
“Nee, ek is van plan om te staan en vlieg. Moenie my so aan ’n lyntjie hou nie, Shaun. Jy gaan nie kom nie, nè?”
Die oë is weg maar sy hoor die persoon aan wie hulle behoort, aansitterig hoes aan die ander kant van die sitplek. Sy sal daarop moet let om die desibels van nou af laer te hou.
“Nè?” fluister sy weer toe hy nie antwoord nie.
“I’m so sorry to do this to you, honey, but I have fantastic news. Nelson Jantjies is in my office as we speak. He brought the big bucks, finally.”
Haar witgoudarmbande rinkel toe sy uit pure frustrasie met haar vuis op die armleuning slaan.
“I said, isn’t that great news?”
“Ja, seker maar,” antwoord sy bot.
“I have to see this through. Will you be okay on your own?”
“Ou Nelson moet ’n besluit neem. Hy moet die hotel koop, of dit los. Ek kan dit nie meer hou nie.”
“I’m pretty sure it’s happening today.”
“Ek hoop regtig so.” Karien is maar skepties. Dié Nelson Jantjies kon die afgelope jaar nog nie ’n besluit oor die hotel neem nie.
“I’ll let you know as soon as the deal is sealed. And then we shall celebrate when you get back.”
“Maar kan ons dit nie al sommer dié naweek vier nie? Jy kan mos môre vlieg – nadat julle die saak afgehandel het?”
“I’m playing golf with him tomorrow to benefit some charity thing. You know I have to do this.”
Die laaste bietjie drif kwyn en word ’n dowwe pyn in Karien se bors. Die jeukerigheid wat in haar neus opslaan, kielie haar traankliere.
“Are you okay?” wil hy weet toe sy nie dadelik antwoord nie.
Sy haal diep asem in ’n poging om tot bedaring te kom voor sy antwoord. “Ja, Shaun ek’s hier.” Karien doen haar bes om ongeërg te klink. Sy wil nie hê hy moet weet sy is so na aan trane nie. “En ja, ek weet. Natuurlik moet jy saam met Nelson gholf speel.”
Karien vryf met haar hand oor die materiaal van die leë sitplek langs haar. Die brandpyn skiet weer deur haar bors.
“You knew something like this could happen. I told you not to book that ticket.”
Sy wil dit nie erken nie, maar sy weet hy is reg. Shaun vat nie grond nie. Hy is onder geweldige stres by die werk. Om een van die beste hotelle in Kampsbaai te bestuur is nie ’n grap nie. En ja, hy het hard gewerk om Nelson Jantjies en sy tjekboek te beïndruk. Shaun het belangrike sake wat hy vanmiddag moet afhandel, en nou kla en kerm sy soos ’n ou vrou. En hulle is nog nie eens getroud nie. Sy wil tog nie een van daardie vroue word wat hulle mans doodneul nie. Sy sal dit maar net moet aanvaar: Shaun kom nie saam nie, en dis al. As die hotel eers verkoop is, sal dinge beter gaan. Dit moet net. Sy het voor haar siel geweet sy waag toe sy vroeër in die week vir hom ook ’n vliegkaartjie gekoop het. Sy was oorhaastig, maar sy is deesdae net só ontsettend uitgehonger vir sy aandag.
Sy sug weer hard genoeg sodat hy dit moet hoor. “Ek weet, jy het my gesê,” erken sy dapper. “Ek het regtig net daarna uitgesien om bietjie bederf te word en op die strand te gaan stap. Net ek en jy vir ’n verandering.”
“Ek sal opmaak, ek beloof.”
Die Engelsman praat net Afrikaans wanneer sy vir hom kwaad is.
“Ja, oukei, ek moet gaan,” antwoord sy aspris kortaf, al het sy hom min of meer vergewe.
Maar daardie “opmaak” waarvan hy praat, sal ordentlik moet wees. Hy sal deeglik moet vergoed. Want so seker soos die Kaap Hollands is, só seker gaan hy moet uithaal en wys. Sy is nou net mooi keelvol daarvan om so afgeskeep te word.
“So are you ready for your big meeting tomorrow?”
“Ek sou meer gereed gewees het as jy by was,” skimp sy ’n laaste keer.
“Don’t worry, honey, you’ll be fine. This is your project. I have complete faith in you.”
“Dankie, Engelsman, maar ek is sommer aspris met jou. Ek is meer as reg vir môre se samesprekings, en jy weet dit.”
“That’s the spirit. I love you.”
“Hmm … Ek seker maar vir jou ook. Baai.” Hy moet wéét sy is nog kwaad vir hom.
Karien se gemoed is swaar toe sy haar selfoon weer in haar handsak bêre. Sy hou haar handspieëltjie voor haar en vee die slierte van haar blonde kuif geïrriteerd uit haar oë. Ciska het gesê die haarstyl sal haar groen oë laat “pop”, maar sy is nie mal oor die kuif nie. Karien laat haar gesig doelbewus ontspan toe sy die frons op haar voorkop opmerk. Sy sal moet ophou om haar so te ontstel. Dit gaan haar plooie gee. Sy haal haar lipstiffie uit en laat gly ’n bloedrooi laag nuwe krag oor haar vol lippe. Daar’s hy. Dit voel sommer klaar beter.
Sy is net klaar toe sy die lugwaardin in die gangetjie hoor. “Please, buckle up, Ma’am. We’re taking off.”
Karien klik die gespes gehoorsaam toe en trek die gordel stywer teen haar lyf vas.
Nou tuur sy by die venstertjie uit. Vyf passasiervliegtuie staan voor die lughaweterminaal. Die reusagtige, blink, aërodinamiese lywe gooi lang skaduwees oor die vaal betonoppervlak waar werkers mobiele trappe en bagasie rondstoot.
Háár projek. Net hare …
Ja, Shaun het presies geweet hoe om haar om te praat, al was sy skepties oor die “wonderlike winskopie” wat hy op ’n veiling losgeslaan het. In die kontrei van Mosselbaai van alle plekke! Die louter vermetelheid. Hulle het dan saam besluit dat Knysna die ideale plek vir hulle nuwe boetiekhotel gaan wees. Dit is daardie asemrowende foto’s van sy nuwe eiendom teen die Hartenbosrivier wat egter haar hart gesteel het. En toe Shaun haar op die plek projekbestuurder én hoofontwerper gemaak het, kon sy natuurlik nie nee sê nie.
Die hotel gaan ongelooflik mooi wees. Sy weet sommer.