Hartstog op Hartenbos. Trish Goosen
“Wie sê?”
“Etiket sê.”
Lize kyk haar emosieloos aan. Sy sê niks. Dan vat sy nog ’n sluk en klap haar lippe aspris van lekkerte. Die voetstoel skiet uit toe sy haar rug teen die rugleuning teruggooi. Dan skop sy haar pantoffels uit en wriemel haar tone in gestreepte blou sokkies voor sy antwoord.
“Etiket, sê jy? Wie’s hy? Hy bly seker nie op Hartenbos nie, want ek ken hom nie. En glo my, ek ken álmal hier. En ás hy hier gebly het, sou hy not a tiekie vir my vertel het hoe ek my wyn moet drink nie.”
Karien voel hoe haar lagspiere begin kielie, en trek dan los. Dit is nie lank voor Lize aansteek en saam begin lag nie. Die ys is gebreek. Dankie tog. Sy het al vergeet hoe snaaks Lize kan wees.
Karien bedaar en vat uiteindelik ’n sluk van haar hanepoot. Nektar uit die hemel. Nog ’n sluk. Haar koue lyf voel sommer al klaar warmer.
“Jammer ek lag so, maar ek is eintlik maar vrek senuweeagtig,” erken Karien.
“Waaroor nogal?”
“Oor jou?”
“Wat bedoel jy?”
“Wel, ek het nie gedink ek gaan ná al die jare iets hê om vir jou te sê nie.”
“Wraggies? Die socialite van Kampsbaai kan ook senuweeagtig raak. En dít nogal in my ou kommin plekkie. Wie sou dit nou kon dink?”
Lize lyk in haar noppies. Daar is ’n onhebbelike glimlag op haar gesig.
“Dis darem nou nie nodig om só lekker te kry nie,” sê Karien kamma verontwaardig.
“Ek kry net ’n bietjie lekker. Ek is bly om te sien onder al daai makeup en fancy klere is jy darem nog mens.”
“Nou wat het jy miskien gedink, is ek? ’n Robot?”
“As die skoen pas?” Lize knipoog vir haar en bring die glas weer na haar lippe. Dan sê sy ernstig: “Wel, ek het eintlik ’n teorie oor ruimtewesens en supermodelle. G’n mens kan van nature só beeldskoon en maer wees nie. Is jy dalk een van hulle?”
Karien is nie seker of dit ’n kompliment of ’n belediging is nie. Tog maak dit so effens seer. “Sies, jy’s lelik met my. Ek het ook ’n hart,” skerts sy onseker terug.
Lize kyk haar deur. “Jy het lekker maer geraak vandat ek jou laas gesien het. Wat’s jou geheim?”
“Ag, ek leef maar net gesond en gaan stap so af en toe. Niks ernstigs nie,” lieg Karien. Twee ure se bloedsweet in die gim elke dag, bokkos, liters water, gestoomde groente en soms ’n stukkie hoender as sy haar gedra het. In die sosiale sirkels waarin sy beweeg, praat mens nooit die waarheid oor wat jy doen om die vetjies weg te hou nie.
Lize knik haar kop stadig op en af, skeptiese vraagtekens in haar groot donker oë.
“Hmm, jy’s lucky. Ek moet my doodwerk om gewig te verloor. So ek het besluit: life’s too short. As ’n man my nie wil hê soos ek is nie … good riddance!”
“Dis die regte houding daai. Kom ons drink daarop!” sê Karien en leun oor die rusbank se armleuning met haar glas na Lize, wat verbaas lyk toe sy haar wynglas teen Karien s’n klink.
“Is dit ’n stukkie van Vlam wat ek nou net bespeur het?” Lize trek haar oë op skrefies van die lekkerkry.
“Nee, man, ek is maar net iemand wat die onafhanklikheid van vroue aanmoedig. En, asseblief, ek haat daai naam.” Karien voel hoe haar wange begin gloei. Van skaamte of van die wyn? Genade, sy sal moet hokaai met die hanepoot. Haar gewone glasie merlot saans doen niks aan haar nie. Dié soetgoed gaan sommer direk kop toe. As Vlam regtig haar verskyning wil maak … Dit sal ’n ramp wees.
Haar voete jeuk skielik, asof hulle lus is vir dans. Dis ’n slegte teken. Ag, nee man, gaan lê, Vlam. Gaan lê.
Sy moet huis toe te gaan. Haar liggaam is nie gewoond aan hanepoot nie, veral nie ’n onbeskofte groot glas vol nie.
“Waaraan dink jy so diep?” vra Lize toe Karien nie verder praat nie.
“Ag, ek wonder sommer maar oor iets.”
“Hmm?” Lize se ondersoekende blik verlaat haar nie. Dan verander sy die onderwerp. “So, ek verstaan jy is deesdae ’n big shot, ’n hotelbaas daar in Kampsbaai. Wat issit nou weer wat jy presies doen?”
“Wel, ek het my mos maar in die gasvryheidsbedryf opgewerk en deesdae is ek die bestuurder van die Abalone Box-boetiekhotel, my verloofde se plek. Hy besit ’n ander hotel in Mosambiek ook.”
Lize frons effens.
“Ek weet wat jy dink, maar nee, ek was al ’n jaar bestuurder voor ons begin uitgaan het. Voorheen het ek by ’n hotel in Port Elizabeth gewerk.”
“Nee, is reg. Ek glo jou. Maar vertel my nou eers van jou liefie. Ek hoor hy is aangewys as die mees eligible bachelor in Kaapstad. Dit moet awesome wees.”
Karien se bors swel van die trots. “Ja, dit was so twee jaar gelede. Sedertdien moes ek die vroumense van sy lyf af weghou,” terg Karien.
“Dis nie goed nie,” merk Lize op.
“Ag, ek spot sommer. Hy is getrou aan my.”
’n Ongemaklike stilte. Toe vra Karien: “En jy? Wat maak jy deesdae met jouself?”
“Ek swot.”
“O, rêrig? Wat swot jy?”
“Onderwys, grondslagfase. As alles volgens plan verloop, maak ek uiteindelik dié jaar klaar.”
“Unisa?”
“Ja.”
“En dan is jy ’n juffrou?”
“Jip. Ek kan nou nog nie glo ek het só ver gekom nie.”
“Baie geluk. Ek weet sommer jy gaan ’n oulike onderwyseres wees.”
“Dankie.”
Lize leun vooroor uit haar stoel en neem ’n sliert van Karien se blonde hare tussen haar vingers. “Jy lyk nogal mooi as ’n blondine,” sê sy. “Maar ek moet bieg ek was ’n groter fan van jou mooi, rooi krulle. Sjoe, maar daai bos hare van jou was darem benydenswaardig. Of wat sê ek?”
“Dankie, maar ek is lankal nie meer ’n rooikop nie. Jy weet mos wat hulle sê: blondes have more fun.”
“Seker maar. Tog het ek altyd gedink jy was superpret met daai rooi kop van jou. Vlam was on fire.” Sy byt haar lip, en haar oë flits vir ’n oomblik opwaarts toe sy die naam sê. “ ’Skuus, sal nie weer nie. In elk geval wou ons almal soos jy wees: bang vir niks; sê nooit nee vir ’n dare nie. Beeldskoon, slim, die wêreld aan jou voete. Jy was darem lekker stout op jou dag, maar dis waarom ek so lief was vir jou en nog steeds is. En ek het altyd geweet jy gaan iets van jou lewe maak, jy is bestem vir groot dinge. En hier is jy nou in lewende lywe. You did it. Ek is trots op jou.”
Regtig? Is dit hoe Lize haar sien? Dat sy ’n groot sukses van haar lewe gemaak het? Dis nou alles goed en wel, maar Karien is op verre na nie tevrede nie. Daar is nog so baie wat sy wil vermag voordat sy vir haarself sal kan sê: I did it!
Tog maak Lize se verklaring haar skoon betraand en krapperig in die keel. Nou voel sy éérs skuldig. “Ek’s jammer, Lize.”
“Waarom nogal?”
“Jy weet waarom. Ek was die afgelope ruk nie ’n goeie vriendin nie. Ek verdien jou nie.”
“Moenie sleg voel nie, want ek voel nie sleg nie. Daar het baie water in die see geloop.” Lize staar na haar gestreepte voete.
Karien merk op dit is die eerste keer dat sy nie oogkontak maak nie. “Waar’s Inge? Gaan sy nie kom groet nie?” vra sy in ’n poging om oor iets anders te praat.
“Inge, Karien is hier! Los nou daai selfoon