Hartstog op Hartenbos. Trish Goosen
en Rheebok se liggies vaagweg agter die mis teen die hoogte aan haar linkerkant, dan Klein-Brakrivier en net so ’n bietjie verder ry sy onder die mis uit. Aha! Sy’s uiteindelik by haar bestemming. Hartenbos Heuwels se koppie lê voor haar. Die woonbuurt het heelwat uitgebrei vandat sy elf jaar gelede hier uit die Tuinroete weg is. Sy kan nie onthou dat die plek só toegebou was nie.
Die nag lê skielik oop en skoon voor haar. Bo die helder verligte kop hang ’n enorme amper-volmaan, met net so ’n happie aan die een kant uit. Sy verkyk haar aan die Melkweg se wasige spoor oor die oneindige swart hemeltrans terwyl sy by die verkeerslig in Louis Fourieweg wag. Sy was nog nooit iemand wat belang gestel het in sterrewiggelary nie, maar soms wonder sy tog. Miskien is haar toekoms, haar lot, haar geluk regtig in die sterre opgeskryf. As hulle maar net kon praat … as hulle maar net vir haar kon sê dat sy oukei gaan wees …
Die verkeerslig word groen en sy draai links in Kaap de Goede Hooplaan, ou Hartenbos se kant toe.
Amper daar.
Karien is dankbaar toe sy voor die imposante hek en die hoë mure in Bloedrivierstraat stilhou. Die gastehuis is ongelukkig nie by die see nie, maar Shaun het verlede jaar hier gebly toe hy die grond kom koop het. Hy was baie beïndruk met die diens en fasiliteite.
Sy bekyk die plek. Die kenmerkende spits dakkies en komvensters wat sy in die donker so effens bokant die ringmuur kan uitmaak, herinner haar aan ’n Victoriaanse huis. Tog kan mens sien die argitek het ’n moderne benadering tot dié tipe boustyl. Die gastehuis lyk nie soos die ander tipiese Hartenboshuise in die straat nie, seker een van die ouer huise wat die mense laat restoureer het. Stunning!
Hmm … Miskien moet sy haar Marokkaans geïnspireerde konsep vir die hotel heroorweeg.
Karien voel hoe haar mondhoek aan die een kant begin opkrul. Dis nou só tipies van die Engelsman om dié gastehuis tussen al die ander beskeie plekkies te kom uitsnuffel.
Sy kan nou nog nie kleinkry wat hom besiel het om grond op hierdie dorpie te kom koop nie. Sy het gedink Shaun sal Hartenbos hopeloos te plebejies vind. Sy kan hom nie regtig by die plaaslike mense sien inpas nie. Verbeel jou, Shaun skoffel in een van die ATKV se sale saam met plesierige Afrikaners! Sy slaan die stuurwiel toe ’n senuweeagtige laggie ontsnap. Genade, gaan die Hartenbosstorie ooit werk? Dalk moet Shaun eerder die grond verkoop.
Sy is lankal ook nie meer die meisie wat hier saam met haar ma in ’n tuinwoonstelletjie agter op iemand se erf oorleef het nie. Daardie plekkie was so groot soos die instapkas in haar huis in Kampsbaai. Sy gaan mos nie hier aard nie, en Shaun nog minder.
Mosselbaai se woonbuurte waar old money fluister, is dalk eerder sy spreekwoordelike hoogs Engelse koppie tee. Knysna self, beslis. Maar Hartenbos? Hy is ’n ou wat hou van weelde, vyfsterrestaurante met fyn kos, en rondcruise deur Kampsbaai in sy rooi Porsche Boxster, kappie afgeslaan, wind in sy pragtige dik haardos met die sonstrepies.
As dit nie vir daardie hare van hom was nie, was hulle dalk nie vandag saam nie. Sy onthou hulle eerste gesprek of dit gister was. Sy hare het haar aandag getrek en die ys gebreek. Sy moes hom eenvoudig net vra waar hy sy sonstrepies laat insit, en hy het haar na Ciska verwys. Karien raak weer bewus van die kuif wat in haar oë hang. Blêddie Ciska! Die hare word weer met mening uit haar gesig gevee terwyl sy die knoppie druk om haar ruit te laat sak.
Die vogtige naglug is yskoud teen haar vel toe sy uitleun om die interkom se knoppie te druk. Die swaar hek kreun en skuif moeisaam oop.
’n Halfuur later ry Karien weer by die hek uit. Sy voel stukke beter nadat sy onder die stort was. Haar gemoed het ook so ’n bietjie oopgetrek. Bay View is glad nie ver nie. As sy nie so ’n sissie was wat die koue betref nie, het sy sommer soontoe gestap. Sy ry weer terug soos sy gekom het en draai see se kant toe in Kaap de Goedehooplaan.
Aan die ander kant van die Fortuner se ruite lê die vreemde en tog bekende dorp. Hier en daar is ’n huis gemoderniseer, ’n woonstelblok oorgeverf, maar meestal lyk Hartenbos soos sy dit kan onthou. Hoe nader sy aan die water kom, hoe bedrywiger raak die straat. Paartjies stap hand aan hand, kinders jaag mekaar op die sypaadjie rond, tieners staan en gesels met handdoeke oor hulle skouers, seker op pad na die warm swembad toe.
Daardie ysige winter toe hulle in matriek was, het sy en Malan omtrent elke aand kamma by mekaar gaan huiswerk doen, maar eintlik het hulle skelmpies gaan swem. In die louwarm water het hulle gelê tot hulle verrimpelde oumensvingers gekry het, tót die kwaai ou opsigter gedreig het om hulle toe te sluit as hulle nie nóú dadelik uitklim nie.
Sy was smoorverlief … Die passie tussen haar en Malan was onblusbaar. Daardie einste koue aand, ná hulle swemsessie, het sy haar op die strand vir Malan gegee. Dit was hulle albei se eerste ervaring. Haar hart was alreeds volkome syne, maar in daardie vurige oomblik het nié net haar lyf aan hom behoort nie, maar haar siel het ook heeltemal verstrengel geraak met syne. Die ervaring was op ’n manier onskuldig, so ongelooflik opreg en bitter mooi. Sy onthou nog so goed hoe hulle onseker na mekaar in die donker getas het, sy deinsende borskas teen haar lyf, sy hart wat jaag asof vir ’n prys. Sý was die prys. Sjoe, wat ’n mooi herinnering.
Maar wat het skeefgeloop? Sy het miskien maar net grootgeword. Malan wou nie dieselfde dinge as sy hê nie. Hy sou in die pad van haar toekomsplanne staan. En net só was alles verby. Fluit-fluit, hulle kys was uit. Dit was in elk geval ’n skoolliefde, en almal weet tog skoolliefdes hou nie.
Haar oog vang vir ’n oomblik die swembad se gebou langs die stampvol parkeerterrein. Sy sug en trek haar skouers op voor sy regs draai in Paardekraallaan wat haar na Nooitgedagtlaan neem. Dan is sy in Bay View, ’n heelwat nuwer woonbuurt met groter huise.
Karien vind die groot wit dubbelverdiepinghuis sonder moeite en parkeer die Fortuner in die breë, geplaveide oprit. Sy slaan haar baadjie se kraag op om haar nek teen die koue te beskerm en draf fyntjies op haar ontwerpershakke na die tuinhek regs van die huis. ’n Ouerige vrou loer vanuit die venster op die boonste verdieping en pluk die gordyn dan toe. Die hek langs die huis is nie op knip nie. Sy laat haar in en klop saggies aan die glasskuifdeur. Sy kan ’n televisie binne-in die woonstel hoor raas – klink soos die nuus – maar hoor nie vir Lize aankom nie.
Sy klop heelwat harder.
“Ek kom,” kom Lize se diep stem gedemp van agter die glas.
“Maak gou, ek kry koud!”
Voetstappe.
Lize trek die pienk gordyn weg, vroetel aan die slot en sleep die skuifdeur met moeite oop. Selle ou Lize van ouds, net ’n paar kurwes bygekry. En die bril is ook nuut. Haar donker hare is lossies in ’n bolla op haar kop vasgemaak, en sy het ’n swart kamerjas aan wat styf om haar middel geknoop is.
“ ‘Skuus man, ek was net gou in die klein kamertjie, en Inge vry seker weer met die boyfriend op die foon. Kom in, kom in.”
Karien gaan binne. Hulle gee mekaar ’n onbeholpe druk met stywe arms voor Lize die deur weer toetrek.
“Kom sit. Ek sal vir ons iets kry om te drink.” Lize tik liggies teen die gestoffeerde rugleuning van ’n pragtige donkerbruin rusbank.
“Koffie, asseblief. Melk, geen suiker nie,” bestel Karien. Sy hoor Lize se pantoffels oor die teëls na die kombuisie slof toe sy haar sitvlak fyntjies op die bank neersit. Sy vou haar bene netjies oormekaar en laat haar vingers oor die gladde materiaal van die armleuning gly. Nes sy vermoed het. Dis kunsleer, daardie gemors wat hulle pleather noem. Sy het nogal gedink ’n meisie wat in só piepklein plekkie bly, sal vir seker nie ’n leerbank kan bekostig nie. Dis nou regtig jammer, want die bank sit lekker, en as dit the real thing was, sou sy Lize gevra het waar sy dit gekoop het. Sou mooi gelyk het in die hotelkamers.
Lize verskyn met twee wynglase, amper vol gegooi. Die goudgeel vloeistof stort amper oor die rand toe sy ’n glas na Karien uithou.
“Dè! Dit is iets teen die koue.”
“Wat issit dié? Waar’s die koffie?” Karien staar verstom na die reuseglas soetwyn toe sy dit uit Lize se hand neem.
Lize val neer in ’n ou swart leunstoel wat glad nie by die mooi rusbank pas nie. Sy