Middernagmusiek. Amelia Strydom

Middernagmusiek - Amelia Strydom


Скачать книгу

      

      Middernagmusiek

      Amelia Strydom

      Satyn

      1

      Miskien stuur hy nie vanjaar blomme nie.

      Isolde stap na die balkondeur. Sy slaan haar arms om haarself, druk haar voorkop teen die koue ruit en tuur ondertoe. Die kleinerige dorpsplein is grou en verlate. Miswolke kom oor die blink teerstraat aangerol. Die geur van reën en koffiebone tart haar neusvleuels.

      As sy nie bankrot was nie, het sy ’n latte by die winkeltjie hier onder gaan koop. Die vrolike barista en knetterende kaggelvuur in die hoek verrig altyd wondere vir haar gemoed.

      Vir die soveelste keer kyk sy na die muurhorlosie. Kwart oor elf. ’n Vlammetjie hoop flikker in haar. Die ruiker was nog nooit laat nie. Dalk het Reghardt aanbeweeg, en kan sy eindelik haar lewe hervat?

      Haar gedagte is skaars koud, toe die klop van kneukels teen hout die fantasie versplinter. Dêmmit! Sy sleepvoet deur toe, bring haar oog na die loergaatjie en kyk vas in die gebruiklike gerf blomme. Gipskruid, lelies en vyftien aronskelke. Sy hoef nie te tel nie, sy wéét.

      Die rangskikking is ’n kloon van die bruidsruiker wat sy ses jaar gelede om elfuur by die klipkerkie ingedra het en ná die diens op die tafel neergelê het terwyl sy die huweliksregister teken. As sy toe maar geweet het wat sy alles wegteken. Haar vryheid. Die luukse om snags met albei oë toe te slaap. By ’n vriendin langs te ry sonder kommer dat Reghardt die ekstra kilo’s op die afstandmeter as bewys van haar ontrouheid gaan vertolk.

      Haar vingers sukkel met die Yale-slot, maar ná ’n klein ewigheid klik dit tog oop.

      “Aflewering vir Isolde Harmse?” ’n Donkerkopmeisie hou die ruiker na haar uit. Haar naam, Mart, is onder die plaaslike bloemiste se logo op haar toppie geborduur.

      Vat weg, wil Isolde sê. Smyt dit in die asblik, neem dit vir jou, gee dit vir die ouetehuis. Solank ek nie daarna hoef te kyk nie.

      “Is u Isolde Harmse?”

      Sy knik gelate. Jok sal nie help nie; die bordjie wat haar dienste adverteer, pryk lewensgroot op die deur. Sellofaan girts onder haar vingerpunte toe sy die ruiker vat. Die geluid laat haar sidder.

      “Ons moes die lelies spesiaal bestel,” vertel die meisie, haar stem dromerig. Sy beduie waar Isolde vir ontvangs moet teken. “Die meneer was baie spesifiek, hy het glad ’n foto gemail van hoe die ruiker moes lyk.”

      “Glo my, dis nie so romanties soos dit klink nie.” Isolde krabbel haar handtekening en gee die knipbord terug.

      Mart lyk teleurgesteld. Foei tog, sy kan nie ouer as agtien of negentien wees nie. Isolde voel soos die skurk.

      “Dan gaan ek maar, mevrou. Gelukkige huweliksherdenking.”

      Nie juis nie. “Mevrou” is sy lankal nie meer nie en al wat sy vandag gedenk, is die fout van haar lewe. Sy mompel ’n groet en stoot die deur met haar skoenpunt toe. Sy gooi die ruiker op die tafel neer en maak die koevert met bewende hande oop. Die papier is dik en roomkleurig, die woorde – soos altyd – netjies gevorm met die vulpen waarop Reghardt so trots is.

      Gelukkige huweliksherdenking, my vrou. Wil jy nie maar terugkom nie? Jou plek in die bed is leeg en jou vals stemmetjie in die stort stil. Wanneer gaan jy besef ons hoort saam? Jy is myne, vir altyd.

      Aargh!

      Dit verg elke greintjie selfbeheer om die kaartjie nie fyn en flenters te skeur nie. Dis ’n bewysstuk, moet sy haar herinner, iets konkreets om na die polisie te neem. ’n Dreigement. ’n Versluierde verwysing na die holruggeryde begrafnisversie: Haar plek is leeg, haar stem is stil . . . Haar kopvel krimp, span ’n oomblik stywer om haar skedel.

      Hoe het hy haar opgespoor? Dié keer was sy oortuig sy het haar spore uitgewis.

      Sy druk haar vingerpunte teen haar lippe.

      Sy behoort seker nie verbaas te wees nie. Reghardt is ’n professionele jagter – spoorsny is in sy bloed. Dink net hoe hy hierdie kat-en-muis-speletjie geniet.

      ’n Deur klap iewers in die gebou. Haar hart mis ’n slag. Sy gryp die ruiker, storm uit op die balkon en slinger die blomme ver weg.

      “Hei! Waddehel dink jy doen jy?” ’n Manstem laat die asem in haar keel stol. Ontspan, paai sy haar flenter senuwees, dis nie hý nie. ’n Vreemdeling staan onder op die dorpsplein, amper op die koffiewinkel se drempel. Sy swart pet is bestrooi met gipskruid, en aronskelke lê gekneus by sy voete.

      Hy gluur op na haar.

      Dêmmit, hoekom het sy nie gekyk nie? Vir al wat sy weet, sit Reghardt met sy verkyker in een van die motors of spioeneer hy op haar vanuit die hotel oorkant die straat.

      “Hei!” Die man plant sy hande op sy heupe.

      “Jammer, dit was ’n ongeluk.” Sy wuif verskonend, vlug by die balkondeur in en trek die swaar gordyne dig.

      Sy is keelvol – nee, gatvol – vir beneukte mans. Magtag, om darem só vies te raak . . .

      Sy vee haar handpalms aan haar langbroek af, tap ’n glas vol water en sluk ’n valeriaanpilletjie. Ontspan tog net, Isolde, netnou daag hier ’n kliënt op. ’n Masseerterapeut met die ritteltit gaan nie veel vertroue inboesem nie.

      ’n Kliënt? Haar binnestem skater. Voor sy hierheen gekom het, het sy gelees die dorpie is vir diegene wat graag “off the beaten track” reis. Die bus het egter skaars stilgehou, toe besef sy hierdie kastige juweeltjie op die Tuinroete is nog toetentaal onontdek. Die gastehuise langs die hoofstraat staan leeg. Die permanente inwoners is oorwegend pensioenarisse sonder geld vir luukses soos masserings.

      Sy blaas ’n lang sug uit. Hoekom, hoekom, hóékom het sy gedink die platteland is ’n goeie idee? Dit sou soveel makliker gewees het om in ’n groot, onpersoonlike stad weg te raak. Haar afspraakboek sou ook vir bleddie seker voller gewees het met mense wat beter ingelig oor haar terapie is.

      Tot dusver was dit meestal hoopvolle omies met snorre en oopknooptruie wat kom navraag doen het. Sommige het met ’n ompad uitgevis, die dapperes het prontuit gevra of die massering ’n “gelukkige einde” het. Geen wonder die predikant het verplig gevoel om huisbesoek te doen nie. Hy het haar gister kom uitnooi na die erediens – gemeen sy sou sy preek oor “die okkultiese oorsprong van alternatiewe geneeskunde” interessant vind.

      Sy versteen toe iemand weer klop. O vrek, het sy ooit gesluit ná die blomme afgelewer is? Voor sy kan beweeg, swaai die deur oop.

      ’n Lang manslyf staan die kosyn vol.

      “Awê. Weet ek het nie ’n afspraak nie, maar ek het jou bordjie gesien en . . .” Hy deins verbaas terug. “Jý?” Verdwaalde blomblaartjies kleef nog soos confetti aan sy skouers.

      “Jy kan nie net hier instorm nie,” raas sy sommer. “Sê nou ek was met ’n kliënt besig?”

      “Moenie vir my sê jý is die massage chick nie?”

      “Ek is g’n ‘massage chick’ nie, ek’s ’n masseerterapeut.” Hoeveel keer moet sy haar professie nog teen sulke onkunde verdedig? “Gekwalifiseer en geregistreer by die Allied Health Professions Council. So, as jy ’n pasellatjie met ’n gelukkige einde soek omdat my blomme jou per ongeluk getref het, kan jy dit op jou maag skryf en met jou T-hemp afvee.” Sy pluk aan die toppie van haar donkerblou linne-uniform. “Ek werk ook nie in my bikini nie, ingeval dit jou volgende vraag is.”

      “’n Gelukkige einde?” Duiweltjies dans in ’n paar oë wat eintlik té blou is. Jimmel, as sy hierdie mansmens op ’n foto gesien het, het sy gedink die kleur is gedokter. So gepraat van foto’s, hy lyk bekend. Staalbande sluit om haar borskas.

      “Wie is jy?”

      “Aa-tiesjoe!” Hy vee met die agterkant van sy hand oor sy oë. “Great, nou’t jou dêm blomme my hooikoors gegee.”

      “Ek het mos gesê ek’s jammer. Ek wou net daarvan ontslae raak.”

      “So dringend dat jy dit van die balkon moes afblik- . . . smyt?” Hy stap tot voor haar


Скачать книгу