Middernagmusiek. Amelia Strydom
sy dreigemente gehoor.”
“Aag, ek dink ek’s mans genoeg vir hom.”
“Jy ken hom nie.”
“Ek ken sy soort.” Hy lig sy gladgeskeerde ken en glimlag gerusstellend. “Meer bek as binnegoed. Grootmeneer voor girls, maar nes hy met ’n ander ou te doen kry, verander hy tjop-tjop sy tune.”
Tussen die duiwel en die diep blou see, dink Isolde. Haar jaloerse eks aan die een kant – ’n kletsrymer met minstens een tatoeëermerk plus ’n oorbel aan die ander. Die stereotiepe stout seun oor wie tienermeisies droom, hul ma’s warm gloede kry, en hul pa’s snags wakker lê. Die soort ou wat op hierdie oomblik haar kuit teen syne laat smelt soos kokosolie in ’n hittegolf.
Sy loer onderlangs na hom. Sy weet nie wat hy het nie, maar hy het iets. Meer selfversekerdheid as ’n Amerikaanse president, genoeg energie om die Eskom-krisis op te los. Hy is moeilikheid met ’n hoofletter M, maar as sy tussen hom en Reghardt moet kies? Voor die hand liggend.
“Wat sê jy?” jaag hy haar aan. “Het ons ’n deal? Jy vryf my seer nek in ruil vir ’n lift en ’n lyfwag?”
Nie ’n slegte ooreenkoms nie, maar kan sy hom vertrou? Nee. Die vraag is net: Waarheen anders kan sy gaan? Nie na haar ma-hulle toe nie – Reghardt sal heel eerste daar soek. Buitendien wil sy nie onnodige spanning op haar ouers laai nie. Pa het verlede jaar ’n hartomleiding gehad; Ma se artritis keil haar op.
’n Vriendin sou die logiese keuse gewees het, maar haar skoolpelle het haar lankal afgeskryf. Reghardt het horries gekry wanneer sy wou bel of gaan kuier, seker geglo dis ’n rookskerm vir haar kastige affairs. Ná die egskeiding, toe sy kollege toe is, het sy haar sosiale lewe oppervlakkig gehou. Sy wou nie aandag trek nie.
Wat bly oor? ’n Plek van veiligheid? Haar derms draai.
“Ons ken mekaar nie,” protesteer sy halfhartig.
“Relax, ek’s nie ’n serial killer nie. Die media sou lankal die lyke uitgesnuffel het.”
Dêmmit, die media! Hoe kon sy van hulle vergeet het? Sy skud haar kop beslis. “Dit gaan nie werk nie. Ek vlieg juis so laag moontlik onder die radar.”
“Jammer om dit uit te spel, bokkie, maar dit lyk nie of daai strategie uitwerk nie.”
No shit, Sherlock.
“Hoekom probeer jy nie die teenoorgestelde nie?” Hy frons, staar ’n paar sekondes na die plafon, en klap dan sy vingers. “Ek weet! Ons maak of ons saam is.”
’n Skynverhouding?
“Ons gaan groot, gee ’n onderhoud of twee.” Hy sit orent en praat al vinniger. “Hou handjies vas, kyk diep in mekaar se oë. Dít sal vir hom die thrill of the chase bederf, as jy die uitdrukking sal verskoon.”
“Maar . . .” Haar hart spartel soos ’n wildsbok in ’n strik. Sy maak haar hare weer vas, dié keer losser, sommer om iets te doen. “Ek kan nie dink wat jy –”
“Daaruit kry nie? Publisiteit. Ek het pas ’n nuwe CD vrygestel. ’n Beautiful girl soos jy sal my op die voorblaaie kry en verkope ’n moerse boost gee.”
“Hoekom kry jy nie vir jou ’n regte meisie nie?”
“Strings attached.” Hy maak asof hy ’n onsigbare marionet manipuleer. Hy het kunstenaarshande, merk sy op. Lang, soepel vingers. Haar kop teken vanself prentjies: Hugo in ’n halfdonker kamer, kitaar op sy skoot, met ’n enkele sonstraal wat deur die venster val. Hugo op die verhoog, mikrofoon in die hand onder flikkerende ligte wat soos ’n trapsuutjies verkleur. Hugo in die oggendskemer, gestut op een elmboog, terwyl sy vingers haar lyf ontdek . . .
“Aarde na Isolde?”
Blikskottel, wat ’n verbeeldingsvlug.
“Ek hoor jou,” sê sy haastig. “No strings attached pas my uitstekend.” Kan iemand seblief net vir haar hormone ’n e-pos stuur? Sy bring haar gedagtes terug na die realiteit. Maklik genoeg – die gemors met Reghardt is die emosionele ekwivalent van ’n yskoue stort.
“Jy kan nie verloor nie,” redeneer Hugo.
“En as dit petrol op sy vuur is?”
“Dan moet hy by my verbykom om jou te pla.”
“Dis ’n besonder, um, ridderlike aanbod. Veral nadat ek jou met ’n ruiker gegooi het.”
“Gelukkig het ek dit nie gevang nie.” Hy vee kastig die sweet van sy voorkop af. “Trou is nie in my tienjaarplan nie. ’n Vuurwarm date vir vanaand is ’n ander storie. Die show is by my hoërskoolreünie.”
“Jy sien seker daarna uit.”
“Omtrent soveel soos na blindedermontsteking.” Hy klem sy hande, wat ’n oomblik gelede entoesiasties saamgesels het, in vuiste. Sy kneukels verbleek en die spiere in sy voorarm span onder die musieknote wat kunstig daarop getatoeëer is.
“Hoekom gaan jy dan?”
“Want vanaand betaal die boggers om my te hoor sing.”
“Aha.” Skool was seker nie prettig vir so ’n rebel nie. Sy kan dink die onnies en jocks het min ooghare vir hom gehad. Die meisies aan die ander kant . . . wel, sy sal haar laaste paar rand wed dat hy allesbehalwe ongewild onder húlle was. “Nou wil jy jou sukses onder almal se neuse gaan vryf?”
“Sweet revenge, baby. Veral as jy saamgaan.”
Eish. Sy sal die “baby” laat verbygaan, die één keer.
“Ek’s maar ’n verroeste plus-een, hoor. Ek’s op twintig met my skoolliefde getroud.”
Hy is ordentlik genoeg om te swyg oor die naïewe keuse. “Aag, dis soos fietsry, man. Jy trek sexy aan, jy smile, ons dans vas.” Hy lig een skouer kamma ongeërg. “Sal gaaf wees as jy so bietjie aan my kan hang.” Hugo knyp ’n paar sentimeter lug tussen sy duim en voorvinger vas. “Ne-et so bietjie.”
Is sy desperaat genoeg om arm candy te speel? Vir ’n kletsrymer met ’n pornakteur-naam van alle mense?
Engele kom in vreemde gestaltes, sê haar ma altyd. Hugo Barnard is dalk die antwoord op haar gebede.
“Goed, dankie. Ek sal saamkom. Vanaand én Kaap toe.”
“Yesss!” Hy pomp ’n vuis in die lug. “Ons gaan daai jol aan die brand steek, ek en jy.”
“Wag eers, hoe moet ons aantrek?” Sy besit niks wat eens naastenby kan deurgaan as aanddrag nie. “Ek reis lig.” Klink beter as om te sê sy lewe uit ’n tas. Altyd gepak, net ingeval.
“Enigiets, solank dit bling is. Dis die ‘tema’.” Sy mondhoeke krul grimmig saam met sy voorvingers. “Hoofmeisie het nie die memo gekry dat ons nie meer agtien is nie.”
“Bling kan ek doen.” Haar goue toppie en valletjiesromp is so goed soos nuut. Sy het dit vir ’n Oujaarsdans op Bakwena gekoop, maar Reghardt het haar teruggestuur om “iets ordentliks” te gaan aantrek. Sy het nooit weer ’n geleentheid gehad om dit te dra nie, tog swerf dit saam in haar tas – ’n tasbare simbool van haar vryheid.
“Komaan dan.” Hy kom stywerig orent en hou sy hand uit om haar op te trek.
“Sal ek eers na jou nek kyk?”
“Nee wat, jy kan dit by die lodge regsien.”
2
Met Hugo se hulp word haar aardse besittings binne ’n japtrap gepak en agter in sy sonneblomgeel Jeep Wrangler gelaai. Hy hou die passasiersdeur oop sodat sy kan inklim. “Sit jy, ek gaan koffie koop.”
“Wag,” keer Isolde voor hy die deur kan toemaak. “Ek kom saam.”
“Sit.” Hy plant een hand op haar skouer en druk haar terug in die kajuit.
Isolde se mond val oop en sy skud sy hand af.