Middernagmusiek. Amelia Strydom

Middernagmusiek - Amelia Strydom


Скачать книгу
hom nié jammer kry nie. Sy weier volstrek, want dan moet sy hom vergewe en hom nog ’n kans gee en sy weet mos al hoe mans met mens kan mors en . . .

      Dit help nie. Haar mond gaan oop en die medelye stroom uit. “Dis nie ongewoon nie. Fisieke en emosionele trauma veroorsaak dikwels geheueverlies.”

      Fantasties, wil sy nie sommer sy hand vat en aanbied om sy neus vir hom te snuit nie? As sy ’n groter softie was, was sy ’n pienk malvalekker.

      “Die dokters het so gesê, ja.” Hy klap die sonskerm bo sy kop ’n paar maal sonder rede oop en toe. “Die laaste wat ek onthou, is toe ons by die plaashek uitgery het. Ek het nie ’n clue wat gebeur het nie, maar ek het die bakkie omgegooi. So ’n kilo van die huis af, op die grondpad.”

      Sy woordkeuse pluk aan haar ribbes. Nie “die bakkie het gerol” nie – “ek het die bakkie omgegooi”.

      Vir die soveelste keer vandat sy gekwalifiseer het, is sy dankbaar haar opleiding het basiese berading ingesluit. “Jy voel skuldig,” gee sy die emosie ’n naam.

      “Hoe anders? Ek het bestuur.”

      “Wat’s die volgende ding wat jy onthou?”

      “Die paramedics het met my gepraat en ’n stut om my nek gesit. Maar dis ’n blur. Ek het eers in die hospitaal behoorlik bygekom. Ek het die suster gevra hoe dit met my pa gaan, en sy het gesê hy is . . . hy’t dit nie gemaak nie.”

      Wat sê mens? Berading 101 het haar nie op seer soos dié voorberei nie. Woorde voel nutteloos. Buitendien is sy eerder ’n aanraker as ’n prater. Kan sy nie maar sy hand ’n drukkie gee nie? Hemel weet, sy wíl hom op ’n afstand hou – sy is nie onnosel nie. Hy is net te onvoorspelbaar, te intens en te . . . te veel van ’n man.

      “Ek kon nie begrafnis toe gaan nie,” voeg hy by. “My been was in traksie.”

      Oukei, genoeg is genoeg. Sy is ’n masseerterapeut, nie ’n reptiel nie. Sy skuif nader aan hom en laat rus haar kop teen sy skouer.

      “Sorry,” sug hy. “Partykeer vang dit my nog.”

      “Moenie jammer wees nie. Jy móét daaroor praat, opgekropte gevoelens maak mens siek.”

      Diepweefselmassering sal vir sy emosionele pyn ook help. Herinneringe word nie net in die brein gestoor nie, dit word ook in jou selle begrawe. Massering neig om dit na die oppervlak te bring sodat jy kan laat gaan.

      Toe hy sy hand op die koppelaar sit, weet sy hy beskou die gesprek as afgehandel. Langtand skuif sy eenkant toe.

      “Is jy seker ek moenie bestuur nie?”

      “Ek’s nou weer reg. Hou jy net jou seat belt vas.”

      Kan niks vandag eenvoudig wees nie? Dis ’n gesukkel om die lodge te kry. Tipies man hou Hugo eers vol dat hy daar sál uitkom, sonder die GPS. Toe hy oplaas brom-brom die koördinate insleutel, kom hulle agter hulle het al twee keer verbygery. Geen wonder nie: As dit nie vir die blikkerige “destination on left” was nie, het hulle wéér nie die minuskule naambordjie raakgesien nie.

      “Ek weet nie so mooi hiervan nie,” sê Hugo toe hulle voor die verroeste plaashek stilhou.

      “Dalk lyk dit binne beter.”

      “Moenie jou hartjie daarop sit nie, sonskyn. Ek sien nie ’n interkom nie en daai hek lyk nie vir my elektronies nie.”

      “Dit reën nie meer nie, ek sal oop- . . . ” begin Isolde, maar hy het reeds uitgeklim en drafstap hek toe. Hy steek sy hand na die hek uit, spring dan eenkant toe.

      Isolde word yskoud. Haar veg-of-vlugrespons skop in, en sy moet net keer of sy duik agter die stuur in en jaag weg.

      Sy dwing haar om uit te klim. Die grond is sponserig onder haar skoensole. Iets val op haar wang, en sy ruk haar kop agtertoe. Vies klik sy haar tong. Dis net druppels wat op die blare bokant haar gehuiwer het.

      “Wat’s fout?” roep sy.

      Hy wink haar nader.

      Sy stap tot agter hom en loer om sy bolyf. ’n Beweging vang haar oog. Tussen twee hekpale hang ’n groot, geel spinnekop. Die briesie wieg haar web liggies heen en weer soos ’n hangmat.

      “Moenie vir my sê jy’s bang vir spinnekoppe nie?”

      “Waar’s my bleddie foon?” Hy dop sy broeksakke om soos hy soek.

      “Sy sal jou niks maak nie, man.”

      “Ja, sure, en sy’s banger vir my as ek vir haar. Spaar jou rympie, ek vat nie aan hierdie hek nie. Hulle kan iemand stuur om te kom oopmaak.”

      “Dis nie nodig nie.” Isolde haak die ketting oor die paaltjie. Die hek se skarniere kerm toe sy dit oopstoot. “Toe, bring die kar.”

      Hy laat hom nie twee keer nooi nie. Hy vlieg om, rek sy treë tot by die Wrangler en klap die deur onnodig hard toe.

      Jimmel, dis snaaks! Hoekom sy lekker kry oor sy lawwe fobie, weet sy nie. Dalk laat dit haar vrese minder pateties voel. Sy hou die hek oop terwyl hy deur ry en die Jeep op ’n veilige afstand parkeer.

      “Indrukwekkende lyfwag wat jy is,” terg sy toe sy weer langs hom inklouter.

      “Baie mense hou nie van spinnekoppe nie, oukei?”

      “Dan’s jy by die verkeerde lodge. Ek het die brosjure op pad hiernatoe gelees. Die eienaars is Boeddhiste en leef in harmonie met die natuur. Hulle vra mooi dat gaste die goggas nie doodmaak nie.”

      “Bogger dit, ek draai sommer om en gaan koop ’n blik Doom.”

      “Toemaar, ek sal jou beskerm. Ek’s bang vir ’n klomp goeters, maar spinnekoppe is nie een van hulle nie.”

      Hy parkeer die Jeep voor Ontvangs. “Ek weet dis nie rasioneel nie – dís hoekom hulle dit ’n fobie noem. Ek’s nie trots daarop nie, oukei?”

      “Jou geheim is veilig by my.” Sy draai ’n denkbeeldige sleutel in haar mond en gooi dit oor haar skouer.

      “Dis nie ’n geheim nie. Maar dankie, anyway.”

      Hulle volg die tuinpaadjie na die turkoois deur waarop Ontvangs staan. ’n Swartbord in ’n houtraam is tussen die struike staangemaak. Isolde se oë gly oor wit krytletters: Welkom, Matrieks van 2005. WELKOM, ADONIS. Nie net is sy verwelkoming in hoofletters nie, dis dubbel so groot geskryf.

      “Kyk.” Sy pomp hom in die ribbes. “’n Voorsmakie van jou soete wraak.”

      Sy wag vir ’n kwinkslag – of minstens ’n selfvoldane grinnik – maar Hugo het soos ’n donkie vasgesteek.

      “Nog ’n spinnekop?” Isolde ondersoek die deurkosyn.

      “Ek moes nooit gekom het nie.” Hy haal die motorsleutels uit sy sak en kyk verlangend na sy geel viertrek.

      “Komaan, jy kan nie nou kop uittrek nie. Dit sal orraait wees, wat’s die ergste wat kan gebeur?”

      Hy kyk af na haar, maar dis of hy haar nie regtig sien nie. “Dis complicated. Ek kon nie weggebly het nie, maar dis die heel laaste plek waar ek wil wees.”

      Sjoe, hy het régtig niks van skool gehou nie. Is hy dalk geboelie?

      “Luister, ek ken nou nie jou geskiedenis nie, maar dinge het verander. Jy’s nie meer magteloos nie, jy’s ’n suksesvolle kunstenaar en almal – ek bedoel álmal – gaan met nuwe oë na jou kyk.” Sy sit haar hand tussen sy blaaie en druk hom vorentoe. “Komaan, gaan doen jou ding. Bewys hulle verkeerd.”

      Hy haal diep asem en sy rugspiere ontspan ’n raps. “Jy’s toe nie heeltemal so onsimpatiek nie. Ek laaik jou nogal, ek dink ek gaan jou hou.”

      “Net tot in Kaapstad.”

      Ag tog, van alle domonnosel goed om te sê! Wat moet hy nou dink . . . dat sy ondankbaar is? Hy doen háár ’n guns, al maak hy of dit wedersyds is. Boonop weet hulle presies waar hulle


Скачать книгу